Wednesday, December 9, 2009

Poepies die Verskriklike

 
Posted by Picasa

Poepies en die muise

Ons het 'n Jack Russel met die aardige naam "Poepies". Die kordaat brakkie is so genoem deur die eienaar, Willie, wat die troetelnaampie uit sy kleinkinderjare onthou. Ek het die kinders albei Poepies Nongena genoem as hulle besonders oulik was.

Poepies se geskiedenis is nogal interessant. Toe ons dogter, Rachel, se troudag bepaal is, het haar bekommernis oor haar ouboet wat alleen moet agterbly (!) begin. Telkens het sy vir my gesê dat sy nie weet wat Willie sonder haar sal doen nie. Op daardie stadium was albei weer by ons tuis. Willie na 8 jaar van alleenbly, en Rachel na 4 jaar op universiteit. (Ek hoef nie te sê dat hulle baie na aan mekaar is en baie goed oor die weg kom nie)

Elk geval, Rachel moes planne beraam, en Mamma moes maar troos, en beloof om in te staan in Bieta se ellende van alleen-by-die-huis wees. Dit nou nadat dieselfde sussie 'n paar jaar gelede nie kon wag dat Boetie universiteit toe gaan en sy haar beurt as "enigste kind" kan kry nie. Volgens haar tiener-redenasie was Boetie mos vir daai amper drie jaar voor haar geboorte, die enigste kind. So onregverdig!! Gelukkig kom die gelykmaker vir ons almal: sê nie hoe en wanneer nie.

Die oplossing kom toe in die gedaante van 'n troeteldier. Willie sou dan 'n afhanklike hê, wat sommer ook geselskap in die eensame ure kon wees. Pappa was aanvanklik nie so gediend met hierdie plan nie, want ons het al vele troeteldiere gehad, wat op die ou end maar Pa en Ma se verantwoordelikheid was. Ons het inderdaad met ons terugkeer uit Namibië besluit om nie weer troeteldiere aan te hou nie. "Famous last words"

Met Valentynsdag van 2006, twee maande voor Rachel se troue, kry Willie toe die geskenkie - dit was die idee. Wat toe gebeur het, was dat Rachel op pad met die nuwe hondjie van George af, haar aandag aan die hondjie gee in plaas van die draai in die pad, en haar motor rol. Kar is afgeskryf, maar gelukkig het Rachel en die hondjie ongedeerd daarvan afgekom.

Willie kry die hondjie toe by die hospitaal waarheen hy (sussie het hom eerste gebel na die ongeluk) haar geneem het vir 'n ondersoek ingeval van 'n besering.

So word die hondjie toe baie kosbaar, en al Wille se maats neem Poepies as deel van die vriendekring aan. Van kerkbazaar tot piekniek by Leani-kwekery of verjaardagpartytjies, is Poepies getrou saam met Willie. Amper soos Obelix en Dogmatix. (Willie was darem nie so groot nie, maar die verskil tussen sy grootte en diè van die hondjie was wel beduidend)

Met Willie se vertrek na Taiwan, bly Poepies toe weer agter (hoe dan anders?), en neem Wederhelfte se hele hart in besit. Poepies is nou sy skaduwee, sy bakkiewag, sy slangvanger in die veld, en sy smulmaat saans voor die TV. As Willem dit eet, Poepies ook. As Willem dit kan drink, Poepies ook. As Willem TV kyk, Poepies ook - veral dokkies met diere daarin: dan gaan staan sy sommer kiertsregop teen die TV-kas om beter te kan sien, en te blaf wanneer nodig.

Nou en dan kan Poepies nie saam wanneer ons die pad vat nie, en moet sy by Kuierbos gaan bly. Dit het weer verlede week gebeur toe ons Kaapstad toe, en na Rachel toe is. Poepies geniet die plaaslewe, want daar kan sy weer jag - van muise, molle, my hoendertjies, slange en selfs 'n muskeljaatkat het al deurgeloop onder die skerp tandjies.

Gister hewt Willem haar gaan haal, want vandag moet sy saam met hom en Natalie, sy "article-landmeter", Willowmore toe vir 'n opmeting. Selfs ek het na Poepies verlang.

By die huis aangekom, het Poepies geen erg aan my nie, en begin sy dadelik in die spens rondsnuffel. Sy het 'n paar weke terug op 'n werpsel baba-streepmuisies in 'n opgerolde mat agter die spensdeur afgekom, en van hulle ontslae geraak.

Gelukkig was daar nie weer baba-muisies in die spens nie, maar Poepies kom nie tot ruste nie. Sy soek en snuffel in die kombuis, agter die yskas, oral. Na 'n ruk kom daar sowaar 'n muis agter die yskas uit en maak dit vir die agterdeur. Die muis was egter stadiger as Poepies.

Ek glo nie dit was Ouma Tiela se mak muis nie, maar ek is ook nie seker oor die gemiddelde lewensverwagting van 'n veldmuis nie.

Tydens 'n kuiertjie so 'n paar jaar gelede, ook in Desember, ook tydens 'n droogte, het Ouma Tiela en die Muis vriende gemaak. Dit was vir Ouma Tiela te oulik dat die muis nie vir haar bang was nie, en ek glo die muis was net so verbaas dat Ouma Tiela nie vir haar bang was nie. Ellke oggend het Ouma Tiela die muis van 'n bietjie oorskietpap voorsien, en ewe getrou het die muis dit elke oggend kom opeet.

Toe 'n werpsel klein muisies onder die TV-kas verskyn, het ons besef ouma se Muis was 'n meisie-muis. Die kleintjies is in die veldjie 'n entjie van die huis af gelos. Mamma Muis is op die ou einde in 'n emmer gevang en buitentoe geneem na 'n lang en moeisame en ampertjies tevergeefse stryd. Ons was baie mense, want Rachel se skoonfamilie uit Namibië en JC se Ouma van Keimoes was ook hier. Me Muis was egter uitgeslape en baie vinniger as ons. Duidelik was dit voor Poepies se bewind.

Na haar suksesvolle jagtog gisteraand, was die JAGTER in Poepies duidelik wakker. Die hele nag deur het sy gesoek en gesoek - tot binne-in Willem se klerekas het sy gaan snuffel en soek na oortreders in haar gebied. Tot ons groot verligting en haar teleurstelling was daar egter nie nog indringers nie, en kon sy vanoggend met 'n geruste hart haar plek agter op die bakkie inneem vir die blaftog Willowmore toe. Ja, die hele dorp weet wanneer Poepies op reis is, want sy groet alles en almal uitbundig.

Sunday, November 29, 2009

Kersfeesgedagtes

Dit is vandag Sondag. 'n Dag waarop ek graag in die kerk sou wou wees om God te loof en te prys. Ons is mos in die aanloop na Kersfees - die tyd van die jaar waarop ons naas Paasfees, die meeste aan God se liefde en genade herinner word.

Kersfees, of dan die wêreldse weergawe daarvan, is oral om ons. In die winkels, op advertensieborde, oor die radio en televisie. 'n Mens kan skaars jou oë oopmaak of jy word daaraan herinner dat daar nog net x dae oor is voor Kersfees, en dat die beste winskopies besig is om te vlieg. Die boodskap is: "Maak gou, Sussie, of jy's te laat om jou kersinkopies te doen!" Intussen het die pryse hier aan die kus reeds gestyg in afwagting op die vakansiegangers se bultende beursies.

Ek weet hierdie debat is so oud soos die jaartal, maar is dit regtig waaroor dit vir ons mense gaan tydens Kersfees? Ek glo met my hele hart dat dit nie die hele prentjie is nie. Ons gee immers geskenkies uit waardering vir die Groot Geskenk wat ons uit God se Liefderyke Hand ontvang het op die eerste Kersdag. Dat Hy homself verneder het deur as 'n swakke babatjie na die aarde te kom, om in 'n stal tussen diere gebore te word in 'n tyd toe Herodus die klein seuntjies laat doodmaak het.

So 'n gebaar gebeur nie sommer net nie. Dit verg oneindige liefde en welwillendheid. Te meer as mens in aanmerking neem dat God ons ondankbaarheid en geneigdheid om na die verkeerde kant te dwaal al te goed ken. Hy weet immers van elke gedagte voordat ons daarvan bewus word.

Op Kersdag, so het ons grootgeword, is die tradisie dat kinders en kleinkinders na die oudste direkte familielid gaan, en dat elkeen 'n bydrae maak tot die Kers-ete, wat dan gewoonlik 'n feesmaal van formaat (epidermiese proporsies, soos Oom Oubaas sou sê) was. Net die beste is voorberei en voorgesit. Die tafel kreun onder al die geregte, van warm Europese resepte tot lekker koue kosse wat meer by ons klimaat pas. Kersdag is dan ook die dag waarop kinders maar met nagereg vir ontbyt kan begin. Alles van die mooiste, die beste en die lekkerste! Almal kom op hierdie dag met al die ander oor die weg. Daar word gelag en geskerts dat die berge antwoord gee, want gisteraand se Kersboodskap en die geskenkies wat uitgedeel is, is nog vars in ons geheue.

Ek dink dis goed so. Dis goed dat ons die Liefde van God moet uitdra na ons huis (familie), ons bure (gemeenskap) en dan na die uithoeke van die aarde.

Ek dink egter daar is reeds mense met 'n beter gewoonte! Hulle wat 'n bietjie van die oorvloedigheid van hul eie Kersfees met diesulkes wat nie het nie, deel. Sou die Blye Boodskap nie verder gekom het as ons almal in plaas van 'n ete wat onvermydeklik na die Nuwejaarsvoorneme om gewig te verloor moet lei, liewer 'n lekker, feestelike maal (binne perke) geniet het en dan die oorvloed onder die armes versprei nie? Ons almal ken immers armes wat nader as 'n klipgooi ver van ons af woon en voortworstel.

Moet ons nie in hierdie tyd van wêreldwye resessie en wydverspreide swaarkry, in tye van ongekende natuurverskynsels, storms en droogtes, liewer 'n geskenk uit die hart - selfs tuisgemaak - gee, en die geld liewer aanwend om iemand in nood te help nie?

Kersversierings. Almal van ons het Kersversierings iewers in 'n kas of laai wat wag om gebruik te word. Vanjaar skryf die mode egter nuwe, nie-tradisionele versierings voor: swart en pienk met silwer. Gaan ons die kinders besig hou met die maak van nuwe Kersversierings, of gaan ons winkel toe om nuwes te koop? Gaan ons self saam met ons kinders sit en ontwerp, beplan en saamwerk aan geskenkies en versierings terwyl ons hierdie onkoopbare samesyn geniet, of gee ons vir die kinders geld om te gaan fliek of iets terwyl ons "ongesteurd" wil inkopies doen?

Sien verbygangers ons liefde vir ons medemens en ons dankbaarheid teenoor ons Saligmaker in ons feesvieringe, of sien hulle ons rykdom, goeie smaak en oorvloed?

Hoe kyk die armes na ons? Sien hulle mense wat omgee, wat 'n effense afskynsel van Jesus in hul lewens het, of sien hulle iemand wat alles gee vir meer en blinker besittings en groter bankrekeninge? Is ons geloof sigbaar in ons handelinge, of moet ons vir almal vertel dat ons Christene is? Ek stem met Jakobus saam dat geloof sonder dade nie veel beteken nie.

Hoe sien ons die Kerk van God? Is dit oop vir almal, en probeer ons om ons medemens te laat deel in die vreugde en vryheid van Kindskap van God, of probeer ons om die kerk so eksklusief moontlik te hou waar net die beste en die "heiligste" onder ons welkom is? Besluit ons dalk te maklik dat so-en-so nie in die hemel kan kom nie, omdat hulle dit en dat anders doen as ons? Wat doen ons aan die saak? Getuig ons van Sy Onvoorwaardelike Liefde en Genade vir ons, die sondaars, of veroordeel ons die "ander" - die ouens wat dinge anders doen as ons, wat nie met ons tradisies en gewoontes saamstem en daarby inval nie? Verbied os sekere mense om na ons kerk te kom? Stoot ons kliekerigheid soekendes af, sodat hulle nooit tuis voel in die huis van ons Vader nie?

Van watter god getuig ons lewens: die god van die eie-ek, of die Almagtige God van hemel en aarde, die God wat Liefde is, wat vrylik handel met sy Genade, wat dit wat eers skarlakenrooi was, witter as sneeu kan was.

Kan ons saam met die tollenaar en die prostituut pleit om vergifnis, of word ons daarvan weerhou deur ons ego's en aardse status?

Kom ons vier hierdie jaar Kersfees soos kindertjies aan die voete van Jesus. Kom ons sing met dankbaarheid van sy onverklaarbare liefde en genade, kom ons bid vir vergifnis van ons sondes, en kom ons bely en deel hierdie wonderlike geskenk met ons medemens. Kom ons maak dit vanjaar 'n Christusfees.

Tuesday, October 27, 2009

Die "redo KVO"

Ek het 'n tydjie gelede begin valerig voel. Energievlakke bietjie laer, entoesiasme bietjie minder, behoefte aan rus 'n bietjie meer, en so aan. Op 'n dag besluit ek toe om myself te bederf met een van Mossie se lekker facials. Te lekker. Miskien sal dit my weer laat opflikker...









Dit is toe ook 'n lekker bederf, soos net Mossie kan. Terwyl ek nog so lekker op die masseertafel lê, (Mossie se facial sluit 'n lekker nek- en skouermassering in) kry ek toe 'n pyn op die bors - kompleet 'n angina-aanval. Ek kan dit nie glo nie, ek het dan 9 jaar gelede 'n 4-vat omleiding gehad. Alles moet mos nou reg wees?









Mossie en haar ma wil my met mag en mening huis toe neem, maar nee, wat, ek's O.K., en sal self huis toe ry. By Manlief se kantoor voel ek rêrig goor, en bel hom om my asseblief huis toe te neem. Hy skrik hom byna morsdood. Die huis is net meer as 'n kilometer van die kantoor af. Maak nie sin nie.









Tuis besluit hy toe sommer dis nou tyd om die kardioloog weer te sien. Kardioloog stem in om my sommer in die hospitaal te sien. Dan moet ek ook sommer 'n angiogram laat doen, sodat ons kan vasstel wat presies verkeerd is. OK, probleem is net, dit was 12 Augustus 2009, en Willie sou op 13 Augustus op George Lughawe arriveer vir sy kuiertjie uit Taiwan. 10 dae... Watter ma wil dan in die hospitaal lê? Beslis nie hierdie een nie!







Ek is wel in die hospitaal opgeneem, in die hoë sorg eenheid vir waarneming. Teen my sin, maar nie teen my beterwete nie. Nadat hulle op George geland het, kom loer Willie by my in. Beslis nie die verwelkoming wat hy verwag het nie! Hy't 'n vriend uit Taiwan saamgebring. Peter verstaan glad nie wat nou aangaan nie. Hy verstaan darem bietjie Engels, maar weet g'n snars van ons gebruike, gewoontes of eienaardighede nie. Arme mens!





Ek besluit om huis toe te gaan - sonder angiogram. Die ma in my is baie sterker as die pasiënt in my. Ek verduidelik mooi aan die kardioloog waarom ek so angstig is om huis toe te gaan, en hy gee toestemming nadat ek belowe het om na die kuier weer in te kom sodat ons die sakie kan afhandel. Jippie!!



Die angiogram is toe die voorloper vir 'n tweede vatomleidings-operasie, 'n "Redo-KVO". Die vorige omleidings van 9 jaar gelede (amper op die dag) is nie meer oop nie. Die bloed moet omtrent leopard-crawl om die hart met suurstof en wat nog te bedien. Die situasie vra duidelik vir 'n verdere KVO. Dokter verduidelik dat die risiko's nou heelwat meer is as wat dit 9 jaar gelede was: Ek het 'n derde rugoperasie gehad, my nek by C2 gebreek in 'n motorongeluk, 'n dubbele mastektomie en rekonstruksie-operasies gehad, is nog op anti esterogeenbehandeling vir borskanker, en het ook helaas, 9 jaar ouer geword. Overgezet synde: die herstelperiode mag dalk langer en moeiliker wees as laaskeer.



Vandag is dit 6 weke later. Alles het wonderlik goed afgeloop. Ek het 3 dae langer in die hospitaal gebly, maar ek hou by met die stappery, en geniet dit oor 'n honderd. Aanvanklik het die rugpyne my gefolter. Snags kon ek nie lekker slaap nie, want die geraamte het gestry teen die rugslapery (borsbene moet vasgroei, en sy-slaap is uit!), en natuurlik teen die gestap. Lank voordat ek naby asem uit kon kom, het die gebeentes gekners en gekraak vir 'n plek in die eerste span. Hinkepink, sonder my getroue kierie (mag nie op die arms druk nie, en die kierie maak die versoeking baie groot) het dit maar broekskeur gegaan.


Gelukkig het 'n baie bekwame rumatoloog in ons area kom woon, en hy is op die hoogte van die heel nuutste navorsing oor pyn, chroniese pyn en pynverligting en -bestuur. Ek het van hom te hore gekom, en 'n afspraak gemaak. 'n Deeglike konsultasie en vier inspuitings later werk my hande weer loslitlekker, en stap ek soos enige ander mens. Die pyn is nie heeltemal weg nie, maar ek kan dit uitstaan. Oor 'n week gaan ek vir die opvolgkonsultasie: skielik het ek bewus geword van ander pynplekkies en kwinte en kwale wat voorheen in die skadu van die erge pyn was. Nou raak ek gulsig. Dalkies kan hierdie ongemaklikheidjies ook koers kry.......



Pa waarsku dat ek nie die pyn moet ignoreer nie. Pyn is waarskuwings wat sê daar's iewers fout, en dis nou tyd om versigtig te leef en te dink oor elke beweging. Dis alles waar, maar ek het mos nou al die waarskuwings gekry, ter harte geneem, daarvolgens geleef (nou nie dat mens dit kwaliteit-lewe kan noem nie) en nou wil ek met groter gemak en genot deur die lewe gaan. Ek sal hopelik nie onverantwoordelik met die nuutgevonde beweeglikheid omgaan nie. Ek weet ek is nie 'n gimnas, 'n ballerina of 'n langafstand atleet nie, maar Boetie, nou's dit lekker om drie kilometer per dag te kan stap, en te kan weet dat hierdie plesier glad nie eens 'n beweging op die sondeskaal veroorsaak nie. Bonus op bonus.



Ai, is ons nie gelukkig om 'n Vader te hê wat ons in hierdie wêreld geplaas het tussen mense wat Hy met allerhande gawes geseën het nie. Dokters, professore en verpleegsters, beraders en terapeute en wonderlike vriende wat die lewe met ons deel, die donker plekkies verhelder en glimlaggies of skaterlagte na ons gesigte bring.



Dis lekker om te lewe, o ja dit is! Ek het nie geweet my hart pla weer nie, maar nou kan ek duidelik 'n verskil voel. Ek is weer lus vir die lewe, en sien kans vir elke dag se uitdagings. Dis wonderlik - ouer of te not, ek juig oor die lewe!

Wednesday, September 2, 2009

Mousse-koek

Die Verjaarsdag “mousse-koek”

Tydsberekening: Nogal ‘n term wat baie belangrik is in ons Westerse samelewing. Ons leef mos hoofsaaklik gehoorsaam aan ons horlosies. Hoe anders kon dit nie wees nie….

Ten tyde van ons verblyf in Namibië, was daar ‘n belangrike vergadering om die verskaffing van broodnodige behuising in die Caprivi te fasiliteer. Die prinse (tradisionele leiers / stamhoofde) is lank vooraf kennis gegee, en uitgenooi na die vergadering, met breedvoerige verduideliking waarom hul bydraes by hierdie vergadering vir hul mense sooo belangrik was.

Op die betrokke oggend trek die afvaardiging uit Windhoek douvoordag weg met ‘n klein vliegtuigie. In die volksmond is hierdie vliegtuigies herdoop na “kotskoetse” omdat hulle so maklik deur wind en lugstrome rondgeskommel word met voorspelbare uitwerking op die passasiers.

10 uur het gekom en gegaan, met slegs die Windhoekers by die afgespreekte terrein. Hier van 12 uur se kant af het die prinse en hul gevolge drupsgewys begin arriver. Teen 3 uur die middag was nagenoeg almal daar.

So tussen die opening van die vergadering deur kon een Windhoeker dit nie meer hou nie, en hy sê toe iets soos: “You people don’t have time.” Die probleem was dat die vliegtuigie nie te laat weer kon opstyg nie, want Eros Lughawe lê binne in ‘n woongebied, omring deur berge, en landings na donker is baie gevaarlik, en word daarom nie toegelaat nie.

Een van die oudstes reageer toe met iets soos:”No, my Friend, you don’t understand. We have time – you people don’t have time, you have watches.” Hoe waar is dit nie…

So was my tydsberekening met Willie se kuier uit Taiwan ook maar swak. Twee dae voordat hy en ‘n Sjinese vriend sou arriver, word ek in die hospitaal opgeneem met onstabiele angina. Die laaste plek waar ek wou wees – en dit nogal in die hoë sorgeenheid waar besoekers beperk word.

Ek’s toe darem net een dag na sy aankoms voorwaardelik ontslaan, en was tuis vir ons verjaardae.

Toe wil ek ‘n koek bak vir my eie verjaardag. Willem se verjaarsdag het ons met Willie se plaaslike vriende by die Kuierbos gevier.

Die aand voor my verjaarsdag bak ek toe die deftige sjokoladekoek. Ek het mos van daai fênsie flip-floppanne met patroontjies. My koek sou soos ‘n roos lyk, en die versiersuiker wat ek daaroor sou strooi, sou al te pragtig lyk.

Die koek kom toe pragtig, en die toetspen kom skoon uit en als. Ek is egter te moeg om te wag totdat die koek afgekoel het, en laat staan dit toe om die volgende oggend (my verjaarsdag) uitgegooi en “versier” te word.

So gemaak, en koek se kind lyk baie aptytlik. Dit word kantoor toe geneem, want ons werknemers en kollega voel soos familie, en ons vriende loer ook gedurig daar in. Willie help hoeka om kaartjies te ontwerp, en Peter (die Sjinees) hou alles fyn dop.

Sekretaresse maak tee, en die koek word gesny. Wat ‘n verleentheid. Die koek is nie heeltemal gaar nie. Plek-plek is die deeg nog sommer slap – soos gesmelte sjokolade.

Vriend Johann wil weet of dit ‘n flop is, (watter verwagtinge koester diè wat my ken tog nie?) en of dit so moes wees. Catrien, my lojale vriendin help hom reg. “Nee, man Johann, dis ‘n sjokolade-mousse koek.”

Johann weet egter van eetgoed, soos meeste manne, en kap terug met: “O, hy mousse so wees.

Rou of gaar, skaars soos my gebak is, is daai hele sjokolade mousse-nie koek opgeëet, en wou die haarkapster van langsaan sommer die resep ook nog hê.

Volgende keer sal ek betyds begin bak en seker maak my gebak is, wel, geBAK.

Die stomme sjinese vriend dink seker ons eet alles maar so halfgebak…

Wednesday, August 5, 2009

Familiefoto's

Terwyl ek nou-die-dag soek na grafika vir 'n kaartjie, kom ek toe af op hierdie klompie ou foto's wat Swaer Theo skandeer en met ons gedeel het. Die foto's het my skoon nostalgies gemaak, en laat verlang na mense wat ek nie geken het nie, maar wel baie van gehoor het.
Destyds was daar nog tyd om gemoedelik te verkeer, en het die alledaagse dinge nog groot betekenis gehad. Die lewe was nie so erg gejaagd as vandag nie. Daar was nog tyd vir 'n kombersie oopgooi en piekniek hou, vir kitaar speel en poseer vir foto's op daai ou bokskameratjies wat vir ewig gevat het om te fokus, en dan was die glimlag al in sement gegiet, maar foto's is geneem.
Met Skoonma & -pa se troue, moes die blomme met die trein gestuur word - dit was in 1944. Die blomme het nie betyds opgedaag nie, en die dag se foto's is sonder die madonna-lelies geneem. 'n Paar weke later is die amptelike foto's - met blomme en al - geneem. Op die foto hier bo is net die geraamte van die bruidsruiker in haar hande. Dit het egter nie saak gemaak nie, want die twee is vandag nog steeds getroud! Wil gedoen word!!!
Op die foto regs bo sit Skoonma en haar oudste suster, Tannie Kitty. Twee mooie mense was hulle gewis. Language-meisies van Kennedy's Vale. Jane is eers heelwat later gebore, en ek dink nie sy is op een van die foto's nie. Ouma Baby, wat 97 jaar oud geword het, is wel saam met die huwelikspaartjie op die foto net onder die troufoto. Sy staan links langs Skoonpa Willem.
Lekker tye, en nog beter herinneringe.
Posted by Picasa

Tuesday, July 28, 2009

Hoendertjies

Kyk hoe werk die lewe! Ek kan my geluk en my ore byna nie glo nie. Kort nadat die otter my van my kapokhoendertjies ontneem het, en homself seker pokkelpens gevreet het, kom vriendin Elsabè vra of ons nog hoendertjies soek. Sy het drie kapokkies (nog te jonk om die geslag maklik te bepaal, wat 'n nuwe huis soek. Haar bure kla, en hul honde eet ook graag hoendervleis.

Hier begin ek alweer. Pa se raad is om die slaaphok vir die hoenders op te hang (hoenders kan vlieg en ottergediertes nie). Ek's so dankbaar, en SO-O-O-O opgewonde.

Viva la Boerdery (in die kleinste kleine)!!!!!!