Ons was vir 'n naweek op toer deur ons pragtige streek. Die plan was om die Baviaanskloof en die Langkloof te verken, en daarna sommer deur te skiet Graaff Reinet toe vir 'n week se produktiewe tydsbesteding.
Die vierstuks van ons, Manlief, ekke, Sophie en Herklaas die Gesiene Man, trek toe hier weg. Gewapen met genoeg padkos vir 'n week, braaigoed vir 'n maand en drinkgoed vir die woestyn, was ons gereed vir alles!
Die eerste dag se trek deur die Langkloof was mooi, tenspyte van die droogte en 'n onlangse vuur wat van die boorde verniel het. Ons was al almal tevore in die Langkloof, en dit was dus meer 'n kwessie van 'n blye weersiens as van 'n ontdekkingsreis. Ons eerste nag se rus was 'n sprokie in die lemoenboorde by Kudu Kaya. Hoewel die lemoene nog effens groen was, het ons met ons gasvrou se seën, tog 'n paar van die geler lemoene in die een boord uitprobeer, of ge-"test drive". Die lemoene was verrassend lekker. Glad nie so suur soos ons verwag het nie.
Ons het ons bedenkinge gehad oor die moontlikheid van 'n goeie nagrus, aangesien hierdie streek nie verniet baie naby aan die Baviaanskloof is nie, en die bobbejane 'n lekker vrug ken as hulle hom sien. As voorsorgmaatreël het ons al ons eetbare bagasie dus binne in die chalet toegemaak, en probeer om die braaiplek so bobbejaanproef as moontlik te laat toe ons gaan slaap.
Ons het heerlik gekuier met die boer wat kom inloer het om die border-kollie, wat ons tot nou toe begelei het, huis toe te neem. Ai, niemand kan darem kuier soos ons ou boerevolkie nie. Maak nie saak of ons al voorheen die oë op mekaar geslaan het nie, as ons net eers die "start"-knoppie kry, is daar byna geen keer aan ons gesels en staaltjies uitruilery nie. Ek wens soms dat mens sulke gewoontetjies in 'n museum kon bewaar vir die nageslag. Lekker bly lekker. Geborge bly geborge. Kuier bly koning!
Kort nadat ons gaan inkruip het, en my man se legendariese vermoë om vas te slaap voordat sy kop op die kussing beland, ons weer eens verbaas het, hoor ek hoe Herklaas vir Sophie gerusstel: "Ons hoef ons nie oor die bobbejane te bekommer nie, ou Willem se gesnork sal hulle ver weghou." As daar nou een eienskap is wat Willem se vermoë om gou aan die slaap te raak in die skadu stel, dan is dit sy luide en onverpoosde snorke. (Ek kan glad nie meer aan die slaap raak sonder "agtergrondsgeluide" nie). In ons Namibiese dae het die landmetersassistente altyd baie ordentlik gewag tot laaste om hul tente by kampeerplekke staan te maak. Hulle het dan behoorlik gekyk na die omgewing, hul berekeninge gemaak, en hul eie tente so ver as moontlik van Willem s'n opgeslaan - net om darem 'n oog opmekaar te kan hê voor die volgende dag se werk.
Herklaas was reg met sy voorspelling. Daar was nie eers een bobbejaanspoor naby ons blyplekkie vir die nag nie.
Die volgende oggend is ons redelik vroeg uit die vere om die Baviaanskloof (almal vir die eerste keer) te beleef. Wat 'n belewenis!!! Die natuurskoon het ons om elke draai opnuut met verwondering laat uitroep "Hoe wonderlik is ons God en Skepper tog nie!" Ons woorde is te min om te beskryf hoe die berge, klippe, plantegroei, die lug, wilde diere, waterstrome en droë dele, hoe alles verruklik mooi en groots is.
Ons het ook 'n bietjie respek vir motorvervaardigers bygekry, want waar ons gery het, wil ek tog nie loop nie.
Ek en Sophie het by sommige van ons stilhouplekke my kierie gedeel. Hoewel ek amptelik die krok in die groep is, was party dele se klim van so 'n aard dat klipspringer Sophie ook nuttig van die kierie kon gebruik maak. Met 'n afdraende help hy briek, en teen 'n opte uit, trek mens jouself so half en half teen die kierie op. Dit hou die gekreun en gesteun ook sommer in toom.
Ons was so in verrukking, dat ons almal vergeet het om foto's te neem. Ons het mekaar daarna vertroos met die feit dat geen amateurfoto reg kon laat geskied aan dit wat ons met ons oë aanskou en met ons wesens beleef het nie.
Herklaas (die bestuurder) het naderhand begin vrees dat ons nie ons slaapplek in Makkedaatsgrot voor donker sou bereik vir die nag nie. Ons het dit gemaak met 'n vinger sonlig te spaar!
Die aand om die kampvuur is daar gesels asof ons mekaar sopas ontmoet het, en nie meer as twintig jaar ken nie. Daar is wel nog nuwe staaltjies. Sien, ons was vir ongeveer 10 jaar nie in dieselfde dorp of selfs in dieselfde land woonagtig nie. In hierdie tyd het Herklaas en Sophie vir 'n paar jaar met hul motor-home getoer. Dis nuwe staaltjies vir my en Willem.
Met die vertellery het Herklaas se "gesienendheid" ook nuwe betekenis gekry. Op 'n slag was hulle twee aan't toere teen die Weskus langs. Hulle doen toe ook by Vredendal aan, en aangesien hulle al gehoor het van die streek se lekker soet druiwe en goeie wyn, soek hulle na 'n spesifieke kelder waarvan hulle gehoor het. Vreemd soos die plek nou maar vir 'n mens is met jou eerste besoek, kon hulle die kelder nie gou genoeg kry nie, maar Herklaas gewaar toe 'n drankwinkel waar die produk van die betrokke kelder geadverteer word. 'n Besluit word toe geneem dat dit seker net so goed sal smaak as 'n bottel wat by die kelder gekoop word.
Die "motor-home" word baie sekuur voor die drankwinkel se deur parkeer, en Herklaas klim uit om, pure gentleman, Sophie se deur vir haar oop te maak. Sy was egter redelik gretig om uit te klim, en haar deur was reeds oop, haar voet geswik en sy op pad grond toe toe hy om die voertuig kom. Herklaas probeer haar toe optel, of ten minste keer dat sy nie te hard val nie, en sy probeer om glad nie te val nie....
Herklaas probeer haar arms bykom, en sy gryp na Herklaas se broekspype - dis wat sy kon bykom. Soos dit toe moes wees, was daardie dag een van die dae dat hy 'n kortbroek met 'n rek bo-aan aangehad het. Die Weskus is mos warm as dit warm is!!
So kom dit toe dat Sophie op die sypaadjie lê met Herklaas se broek in haar hande, terwyl Herklaas bo-oor haar staan met reikende hande wat nie raakvat nie, en 'n broek wat ook nie meer bedek wat hy behoort toe te hou nie.
Na 'n kort gesprek tussen die twee, waar opdragte onder andere uitgeruil is, kom Sophie toe darem redelik ongeskonde weer op die voete, en Herklaas in sy broek. Sophie is dankbaar dat sy onderbroeke darem altyd heel is....
In die drankwinkel begroet 'n doodse stilte die tweetjies. Hulle is van kant tot kant deur die winkel om te soek wat hulle wou hê, terwyl die twee meisies wat daar werk, nie op of af, links of regs of na mekaar kyk nie.
Toe ons twee gryskopvriende buite kom, kon die twee winkelklerke nie meer nie, en het dit weergalm soos hulle lag.
Dit lyk mos vir my of dit nou 'n duidelike voorbeeld is van gesienendheid.
Die grotslapery is 'n storie op sy eie. Almal is nie ewe dapper om die nagtelike draaitjie te loop nie, almal slaap nie ewe vas nie, en 'n plankplafon wat sommer die volgende verdieping se vloer is, is ook nie klankdig nie. Rotsmure is nie net hard nie, maar as dit skielik teen jou slaapdowwe lyf kom, is dit deksels koud.
Ek sal net nog sê dat ons dik gelag, verkwik en in goeie luim op Hopewell aangekom het - gereed vir ons produktiewe week.
Groete van grot tot grot.