Showing posts with label Karoodinge. Show all posts
Showing posts with label Karoodinge. Show all posts

Monday, May 24, 2010

Duidelik gesien!

Ons was vir 'n naweek op toer deur ons pragtige streek. Die plan was om die Baviaanskloof en die Langkloof te verken, en daarna sommer deur te skiet Graaff Reinet toe vir 'n week se produktiewe tydsbesteding.

Die vierstuks van ons, Manlief, ekke, Sophie en Herklaas die Gesiene Man, trek toe hier weg. Gewapen met genoeg padkos vir 'n week, braaigoed vir 'n maand en drinkgoed vir die woestyn, was ons gereed vir alles!

Die eerste dag se trek deur die Langkloof was mooi, tenspyte van die droogte en 'n onlangse vuur wat van die boorde verniel het. Ons was al almal tevore in die Langkloof, en dit was dus meer 'n kwessie van 'n blye weersiens as van 'n ontdekkingsreis. Ons eerste nag se rus was 'n sprokie in die lemoenboorde by Kudu Kaya. Hoewel die lemoene nog effens groen was, het ons met ons gasvrou se seën, tog 'n paar van die geler lemoene in die een boord uitprobeer, of ge-"test drive". Die lemoene was verrassend lekker. Glad nie so suur soos ons verwag het nie.

Ons het ons bedenkinge gehad oor die moontlikheid van 'n goeie nagrus, aangesien hierdie streek nie verniet baie naby aan die Baviaanskloof is nie, en die bobbejane 'n lekker vrug ken as hulle hom sien. As voorsorgmaatreël het ons al ons eetbare bagasie dus binne in die chalet toegemaak, en probeer om die braaiplek so bobbejaanproef as moontlik te laat toe ons gaan slaap.

Ons het heerlik gekuier met die boer wat kom inloer het om die border-kollie, wat ons tot nou toe begelei het, huis toe te neem. Ai, niemand kan darem kuier soos ons ou boerevolkie nie. Maak nie saak of ons al voorheen die oë op mekaar geslaan het nie, as ons net eers die "start"-knoppie kry, is daar byna geen keer aan ons gesels en staaltjies uitruilery nie. Ek wens soms dat mens sulke gewoontetjies in 'n museum kon bewaar vir die nageslag. Lekker bly lekker. Geborge bly geborge. Kuier bly koning!

Kort nadat ons gaan inkruip het, en my man se legendariese vermoë om vas te slaap voordat sy kop op die kussing beland, ons weer eens verbaas het, hoor ek hoe Herklaas vir Sophie gerusstel: "Ons hoef ons nie oor die bobbejane te bekommer nie, ou Willem se gesnork sal hulle ver weghou." As daar nou een eienskap is wat Willem se vermoë om gou aan die slaap te raak in die skadu stel, dan is dit sy luide en onverpoosde snorke. (Ek kan glad nie meer aan die slaap raak sonder "agtergrondsgeluide" nie). In ons Namibiese dae het die landmetersassistente altyd baie ordentlik gewag tot laaste om hul tente by kampeerplekke staan te maak. Hulle het dan behoorlik gekyk na die omgewing, hul berekeninge gemaak, en hul eie tente so ver as moontlik van Willem s'n opgeslaan - net om darem 'n oog opmekaar te kan hê voor die volgende dag se werk.

Herklaas was reg met sy voorspelling. Daar was nie eers een bobbejaanspoor naby ons blyplekkie vir die nag nie.

Die volgende oggend is ons redelik vroeg uit die vere om die Baviaanskloof (almal vir die eerste keer) te beleef. Wat 'n belewenis!!! Die natuurskoon het ons om elke draai opnuut met verwondering laat uitroep "Hoe wonderlik is ons God en Skepper tog nie!" Ons woorde is te min om te beskryf hoe die berge, klippe, plantegroei, die lug, wilde diere, waterstrome en droë dele, hoe alles verruklik mooi en groots is.

Ons het ook 'n bietjie respek vir motorvervaardigers bygekry, want waar ons gery het, wil ek tog nie loop nie.

Ek en Sophie het by sommige van ons stilhouplekke my kierie gedeel. Hoewel ek amptelik die krok in die groep is, was party dele se klim van so 'n aard dat klipspringer Sophie ook nuttig van die kierie kon gebruik maak. Met 'n afdraende help hy briek, en teen 'n opte uit, trek mens jouself so half en half teen die kierie op. Dit hou die gekreun en gesteun ook sommer in toom.

Ons was so in verrukking, dat ons almal vergeet het om foto's te neem. Ons het mekaar daarna vertroos met die feit dat geen amateurfoto reg kon laat geskied aan dit wat ons met ons oë aanskou en met ons wesens beleef het nie.

Herklaas (die bestuurder) het naderhand begin vrees dat ons nie ons slaapplek in Makkedaatsgrot voor donker sou bereik vir die nag nie. Ons het dit gemaak met 'n vinger sonlig te spaar!

Die aand om die kampvuur is daar gesels asof ons mekaar sopas ontmoet het, en nie meer as twintig jaar ken nie. Daar is wel nog nuwe staaltjies. Sien, ons was vir ongeveer 10 jaar nie in dieselfde dorp of selfs in dieselfde land woonagtig nie. In hierdie tyd het Herklaas en Sophie vir 'n paar jaar met hul motor-home getoer. Dis nuwe staaltjies vir my en Willem.

Met die vertellery het Herklaas se "gesienendheid" ook nuwe betekenis gekry. Op 'n slag was hulle twee aan't toere teen die Weskus langs. Hulle doen toe ook by Vredendal aan, en aangesien hulle al gehoor het van die streek se lekker soet druiwe en goeie wyn, soek hulle na 'n spesifieke kelder waarvan hulle gehoor het. Vreemd soos die plek nou maar vir 'n mens is met jou eerste besoek, kon hulle die kelder nie gou genoeg kry nie, maar Herklaas gewaar toe 'n drankwinkel waar die produk van die betrokke kelder geadverteer word. 'n Besluit word toe geneem dat dit seker net so goed sal smaak as 'n bottel wat by die kelder gekoop word.

Die "motor-home" word baie sekuur voor die drankwinkel se deur parkeer, en Herklaas klim uit om, pure gentleman, Sophie se deur vir haar oop te maak. Sy was egter redelik gretig om uit te klim, en haar deur was reeds oop, haar voet geswik en sy op pad grond toe toe hy om die voertuig kom. Herklaas probeer haar toe optel, of ten minste keer dat sy nie te hard val nie, en sy probeer om glad nie te val nie....

Herklaas probeer haar arms bykom, en sy gryp na Herklaas se broekspype - dis wat sy kon bykom. Soos dit toe moes wees, was daardie dag een van die dae dat hy 'n kortbroek met 'n rek bo-aan aangehad het. Die Weskus is mos warm as dit warm is!!

So kom dit toe dat Sophie op die sypaadjie lê met Herklaas se broek in haar hande, terwyl Herklaas bo-oor haar staan met reikende hande wat nie raakvat nie, en 'n broek wat ook nie meer bedek wat hy behoort toe te hou nie.

Na 'n kort gesprek tussen die twee, waar opdragte onder andere uitgeruil is, kom Sophie toe darem redelik ongeskonde weer op die voete, en Herklaas in sy broek. Sophie is dankbaar dat sy onderbroeke darem altyd heel is....

In die drankwinkel begroet 'n doodse stilte die tweetjies. Hulle is van kant tot kant deur die winkel om te soek wat hulle wou hê, terwyl die twee meisies wat daar werk, nie op of af, links of regs of na mekaar kyk nie.

Toe ons twee gryskopvriende buite kom, kon die twee winkelklerke nie meer nie, en het dit weergalm soos hulle lag.

Dit lyk mos vir my of dit nou 'n duidelike voorbeeld is van gesienendheid.

Die grotslapery is 'n storie op sy eie. Almal is nie ewe dapper om die nagtelike draaitjie te loop nie, almal slaap nie ewe vas nie, en 'n plankplafon wat sommer die volgende verdieping se vloer is, is ook nie klankdig nie. Rotsmure is nie net hard nie, maar as dit skielik teen jou slaapdowwe lyf kom, is dit deksels koud.

Ek sal net nog sê dat ons dik gelag, verkwik en in goeie luim op Hopewell aangekom het - gereed vir ons produktiewe week.

Groete van grot tot grot.

Tuesday, February 9, 2010

Hittedrome

Dis warm. Dis rêrig warm - sommer baie warm hier in die Suidkaap. In ons geweste is temperature bo 30'C heel ongehoord. Vandag styg die kwik sommer tot by 38. Ons is nie hieraan gewoond nie, en dit help ook nie eers om te weet dat dit anderkant die berg, by Oudtshoorn, nog warmer is nie.

As hier kraaie was, het hulle nie net gegaap nie, maar van hul sitplekke afgeval, want hulle sou vas slaap. Ek dink hoeka hulle kruip iewers koel weg.

Sal ons dan altyd kla - oor dit en oor dat of oor die ander ding? Altyd kry ons iets wat nou nie juis 100% in ons kraal val nie. Ja-nee, geen salf te smere aan ons ondankbare lot nie.

Het hom! Daar's baie dinge waaroor ek op hierdie dag bly is. Ek's bly ek is nie swanger nie. Daardie laaste paar weke in die hitte is mos nou glad nie vir fyne brose ou mensies nie. Nee, daai tyd wys die staalonderbou van elke nuwe mamma se mondering sy volle sterkte.

Ek is bly dat ek nie 'n Karooboer is wat daar in Graaf Reinet se wêreld vandag in 46'C op 'n trekker of agter die skaap moet dapper wees nie. Broer Gert is een van hulle. Ai, die man is 'n boer in murg en been. Vir hom is daar niks mooier as groen landerye, en niks lekkerder as plant en ploeg nie. Nou nie dat mens in die Karoo vreeslike gesaaides aantref nie, maar kleinvee het ook 'n gewoonte om te eet, en lusern groei nie sommer wild nie - veral nie as dit so droog is nie.

Nog 'n rede om op jou trekker te wees, is daardie brak kolle op die plaas. Vir kinders lyk dit na die feëtjies se dansplekke, maar vir 'n boer lyk dit na 'n vermorsing van goeie spasie. Plan: Breek die grond,(waar die feëtjies laas gedans het), wag vir die reën, voeg 'n suur by (daai kolle is nou vir jou brak, hoor! Feëtjies se voete sweet alkalies) en plant iets wat bruikbaar is.

Dit hou mens produktief besig in hierdie tye van droogte en hitte. Dit hou Boere naby aan hul Skepper, want sonder Sy ingrype en reën, help alles net mooi niks nie.

Maar mens! As daardie eerste swaar druppels val - dan verander alles in 'n sprokiesland. Vooraf kom die geur van nat grond mos so op die windjie aangedryf. Daar is nog nie parfuum wat soveel emosies en verwondering kan vasvang as daardie eerste reënruik nie. Die ruik van reën maak die deure van die geheue wyd oop. Kleintydse ervarings en verwondering neem weer besit van jou grootmens-wese. Onthou spoel oor jou met die lafenis van ervaring van vorige droogtes wat gebreek is, en die lekkerkry van die nuwe spriete wat asof uit die niet verskyn.

Intussen het die gedreun van die weer ook weer die wete van God se almag kom inskerp. Wie kan onverskillig staan as die weer se magtige dreuning oor die dorre aarde rol? Wie raak nie effens bang as daar al baie water geval het, en die weer steeds dreun nie? Wie kan met eerlikheid sê 'n opregte Hoëveldse donderslag het hom nog nie laat wip van die skrik nie?

En dan die simfonie van reëndruppels op 'n sinkdak. Die ritme, die nuanses van die veranderende volume, nou sag... dan harder... weer sagter... gerusstellend die verskillende note van reën op verskillende oppervlakke. 'n Sinkdak het mos die manier om die reën luidkeels te verkondig.

Die geluid van hael is weer heel anders. Hard, kortaf, dreigend! Die wolke wat aanrol met daai groengrys kleur sorg vir bangheid. As daar nog sterk wind ook by is, weet mens al klaar - die skade gaan groot wees! Soms gaan die storm met geringe skade verby, en sak die sagte reën uit soos balsem. Ander kere bly die littekens van die storm vir seisoene sit.

Waarop word ons in hierdie hittegolf voorberei? Vir seker sal die huidige temperature nie net so onverpoos kan voortduur nie? Daar moet mos 'n verandering kom. Gaan dit reën wees? 'n Windstorm? Koue front? Dis die wonder van menswees. Daar is 'n ritme in alles, daar is altyd verandering, daar is oral verrassings, daar is genade.

Monday, July 6, 2009

SLAG IN DIE KAROO

Winter is tradisioneel slagtyd. Vleis moet dan bewerk en verwerk word sodat dit vir 'n redelike tyd bruikbaar sal wees.

Na etlike jare van stadslewe het ons weer verlede week op die ou manier vleis bewerk. Die hele familie, Oupa en Ouma, Ooms en Tantes, en die kinders wie kon, het kom saamkuier en saamwerk.

Die weer was reg - yskoud, met sneeu op die berge naby Graaff Reinet. Die karkasse het lekker koud geword. Langverlang se tyd het dit laas so gelyk - 2 beeste, 1 vark, 1 skaap, 19 springbokke aan die hake. Die slagkamer en inloopyskas moes ingewy word. Wat 'n lekkerte.

Die proses om die karkasse tot huisvrou-vriendelike snitte, maalvleis, wors, biltong en droë wors om te tower, het die hele week geneem.

Die jagters moes ook handjie bysit. Stefan (16) en Philip (12) het vir 11 springbokke gesorg. Philip moes ook sy inisiering deurgaan, en moes sy eerste springbok se "peertjies" rou eet. Hy kon dit nou wel nie binne hou nie, maar die gebaar is gemaak. Mooi so, Phil!

So tussen die werkery deur is daar lekker gekuier. Dis mos 'n ander soort van besig wees as die waaraan ons gewoond geraak het. Die gedagtes kan maar gaan, en spitsvondighede en onthou-staaltjies word heerlik uitgeruil sonder dat die werk skade ly. So was dit eers, en die nostalgie het nie agtergebly nie. Hoewel ons toerusting baie meer modern en gevorderd is, was die samesyn en die rustigheid waarmee gewerk is, tog vir ons almal 'n lafenis.

Dit is wel 'n groot proses om skaapderms skoon te spoel en gereed te kry vir die worsstoppers, maar selfs met seer rûe en gevriesde vingers is dit steeds waar: 'n Verandering is so goed soos 'n vakansie.

Die skaapafval het ook 'n groot uitdaging gebied. Die jonger kinders weet nie meer van die proses om daardie een kooksel gereed vir die pot te kry nie. Die kuns van afval skoonmaak is aan die uitsterf. Mens kan ook nie afval sommer by enige een eet nie. Nee, daar moet doodseker gemaak word dat die oorsprong van die afval darem bo verdenking is. Die graad van witheid van die afval voordat die kerrie bygevoeg is, is ook van die uiterste belang. Een hele dag het dit my en my ma besig gehou. Die pense moes skoon, die kop en pote moes onthaar word, en tussen die kloutjies moet al die kliere en wat nog weggesny word. Vir die krappery het ons Minora-lemmetjies by een van die skaapwagters oorgekoop - nog toe in die pakkie. Ek wonder of hy daarmee skeer, en of hy geweet het hy kan daarmee handel dryf.

Ek het nie 'n enkele vingernael oor nie, maar dit maak glad nie saak nie. Almal loop met kwesplekke waar die mes skerper was as wat ons gedink het, en die vel geraps het. Hegpleister is kwistig gebruik, want ons wil nie graag mensbloed in die vleis hê nie. Asyn en sout in so 'n snyplek laat mens ook lekker les opsê.
Saans is daar 'n drankie voor die kaggel geniet terwyl die lewe stadig maar seker weer terugvloei in die yskoue ledemate. Daardie behaaglikheid kan nie beskryf word nie. Ons 3 skoonsusters het beurtgemaak met die kos se voorbereiding. Ons het heerlik gesmul, en gekuier totdat dit tyd was om die kragopwekker af te skakel, en dit dan amptelik en in die ware sin van die woord, "ligte uit" was.

Die kinders wat nie verlof kon kry om die slagweek mee te maak nie, het voorwaar 'n ervaring duisend misgeloop. Die niggietjies wat gedink het dis "boring" om met vleis te werk, is aan die einde van die week armer, en kan nie saamgesels as hierdie herinneringe deur die res van die jaar herkou word nie. Maar miskien volgende jaar....