Showing posts with label 'n Naweek om te onthou. Show all posts
Showing posts with label 'n Naweek om te onthou. Show all posts

Wednesday, March 31, 2010

Die gesiene man en die buffel

Ons het 'n goeie en groot vriend. Kom ons noem hom maar Herklaas. Hy spot altyd dat hy 'n gesiene man in die dorp is, en dus nie allerhande lawwighede of onbetaamlikhede kan aanvang nie. Sy vrou, Sophie, is weer die teenoorgestelde. Sy sal enige iets doen vir die pret. Selfs op 65-jarige ouderdom met net haar onderklere aan in 'n rotspoeletjie by die see gaan sit, omdat sy warm kry, en nie haar baaibroek byderhand het nie.

Maklik om te sien dat 'n naweek saam met hierdie twee mense tot baie pret en plesier kan lei. Om van binnepret nie eens te praat nie!

Sowat twee weke gelede, is ons klompie dan ook na die vakansieplaas by Gouritzmond om bietjie te ontlaai. Heerlik.

Ons is so rustig as wat ons in jare nie was nie - soveel so, dat die manne sommer bereid is om lawwe gunsies vir ons te doen. Almal wat al onder stresvolle omstandighede soos in die nadraai van 'n resessie, geleef het, sal weet dat mans nie gewoonlik gou so ontspanne raak nie. Nouja, Manlief en Herklaas het onderneem om vir Sophie 'n mooi bossie dekriet (in saad) te pluk. Sy wil dit in 'n pot sit vir versiering. Die mooiste dekriet groei natuurlik in die wildkamp....

Ons twee dames verwyl die rustige oggend op die stoep - al turende oor die see, terwyl ons tussendeur sorg dat daar 'n eetdingetjie sal wees wanneer die mans terugkom uit die veld.

Min het ons geweet dat ons nie net uitgerus sou wees na die naweek nie, maar totaal vernuwe - sonder die bossie dekriet.

Met etenstyd het die manne kom aansit, en ewe doodluiters begin Herklaas te vertel van sy ondervinding in die veld. Hy en Manlief het besluit om aan weerskante van die pad te soek vir mooi dekriet. Elkeen aan sy eie kant, terwyl die bakkie in die pad bly staan - hulle was darem nou nie van plan om sommer in een dag fiks te raak ook nie! Wyl hy nou so aan die een kant van die pad na al die plante kyk, en soek vir die perfekte pol dekriet, het hy al hoe verder van die bakkie af beweeg. Toe hy weer om 'n bossie kom en opkyk, kyk hy vas in die groot 'gesig' van een van die twee buffelbulle op die plaas.

Herklaas sê dat hy besluit het om om te draai, en terug te stap bakkie toe. Wanneer 'n man so naby aan 'n buffel kom, is daar glo so 'n klein mannetjie in sy binneste wat sê dat dit nou tyd is om te gaan. Herklaas sê dat hy so in die wegbeweeg 'n keer of wat opgekyk het, en gesien het dat die bakkie nou darem baie vinnig nader kom. Nie dat hy eintlik bedoel het om te hardloop nie....

Manlief se weergawe strook toe ook goed hiermee. Toe hy so 'n keer rondkyk, sien hy net hoe Herklaas met redelike spoed op die bakkie afpeil. Onbewus van die teenwoordigheid van Mnr. Buffel, kon hy nou nie raai wat vir Herklaas so op hol het nie, en besluit toe maar om self haastig terug te keer bakkie toe. Mnr. Buffel het glad nie so 'n klein mannetjie wat hom aanspoor tot wegbeweeg nie, en het blykbaar rustig aanhou herkou. Seker ook maar gewonder oor die snaakse gedrag van die tweebeen-spesie.

Terug aan tafel, besluit ons vier toe dat 'n man eers 'n gesiene man is as jy op kort afstand deur 'n buffel 'gesien is'. Dit doen wondere vir 'n man se selfbeeld en hy sien vir baie meer dinge in die lewe kans na so 'n ontmoeting.

Toe ek en Sophie later die middag met die vullis na die munisipale asgate toe ry (daar is nie vullisverwydering op plase nie), was ons erg verstom toe Herklaas ewe doodluiters agter op die bakkie klim ('n gewone gesiene man doen dit NOOIT nie) om saam te ry. Op ons verbaasde navraag na die rede vir hierdie ongewone optrede, was sy kalm antwoord dat ons tog seker nie gedink het dat ons self die vullis kan aflaai nie.

Ek is seker hierdie insident sal nog nes kry in die verhale wat aan kleinkinders oorvertel sal word. Die spoed sal miskien met tyd bietjie groter word, en die afstand tussen Oupa en die Buffel sal seker bietjie kleiner word - so in die gees van visvang- en ander vertellinge.

Ek en Sophie kan nie genoeg kry van die geleenthede om die grootmenswêreld so 'n bietjie opsy te skuif en die lewe weer deur baie jong oë te aanskou nie. Wie't nou gedink dat ouer word noodwendig met minder pret gepaard gaan? Die beeld van twee groot manne op vol spoed, sal in ons gedagtes altyd 'n glimlag, en soms selfs 'n skaterlag optower!

Monday, February 23, 2009

'n Naweek om te onthou!



'n Ma is mos van die spesie wat alewig na die een of ander kind of kraai verlang. As sy nie verlang nie, is sy bekommerd, of soos meestal die geval is, sommer albei gelyk. Kom dit toe so dat ek my die laaste drie maande (dis reg, 3 maande) doodverlang na my enigste ou ooilammetjie en haar man in die Kaap. Hulle kom net nie hier by ons uit nie, want hul kar is nie lekker nie. Om die een of ander duistere rede val daar gedurig iets voor as ons wil gaan kuier. Ek voel genoeg is genoeg. Dis nou of nooit. Al buig die bottel en al bars die boom, nou moet ons Kaap toe gaan!



Gelukkig is die heelal 'n plek waar balans baie belangrik is, en toe kom dit mos nou so dat Willem vreesik graag skyfskiet, en dat daar 'n Bisley-klub in die Kaap is. Goeie vrou wat ek is, moedig ek hom aan om die oefensessies en ander klubbyeenkomste te begin bywoon. "All work and no play makes Jack a dull boy" redenasie aan die werk. Die skietgogga het gebyt, en ons gaan kuier by die kinders. Rachel se kar se stuurmeganisme is boonop na my mening tans gevaarlik, en moet herstel word. Sy het die kar elke dag nodig, en so kom daar niks van die herstelwerk nie. Die plan is nou dat ons Willie (wat in Taiwan is) se kar by haar gaan los om mee te ry terwyl ons haar kar gebruik om huis toe te kom, en dan te laat herstel. Meer motivering vir hierdie kuier is seker nie nodig nie.



Ek het so 'n diep "under cover" verlange na my "Visbon" wat in Taiwan werk, ook, maar die plan om iets daaraan te doen, het hom nog nie voorgedoen nie.



Maar mens, het ons lekker gekuier! JC is by al sy ander talente, ook 'n bobaas-kok. Dat skoonma moet gewig verloor, bring hom nie van stryk nie, en ek is maar bly daaroor. Vrydagaand trakteer hy en Rachel ons toe op 'n heerlike braai met net die regte en net genoeg bykosse om ons tone te laat omkrul van die lekkerkry (sonder dat ek my polse hoef te sny van skuldgevoelens oor die dieet, darem). Dit lag en gesels dat die biesies bewe, en die hele woonstelblok se inwoners besluit om elkeen sy eie partytjie ook te hou. Lekker bly maar lekker.



Saterdag vaar ma en dogter die winkels in vir daai broodnodige paar stukkies klere, en as dit kan nog 'n paar skoene of wat ook. Ma stap mos deesdae met 'n kierie, en ek was naderhand seer, en half lam van die moeg, maar die lekker bly lekker.



Pa en skoonseun is elk op sy eie missie. Pa het gaan skiet, met 'n jaarvergadering na die skietoefening - ook nie te vrot gevaar met die skietery nie - darem 'n voltal geskiet op die 500m. JC moes 'n kliënt help wat uit nood dokumente uit Johannesburg laat koerier het vir my skoonseun se aandag (ai, ek's trots op hom). So is ons almal lekker besig en lekker tevrede.



Saterdagaand word ons weer bederf met 'n pizza uit 'n ander wêreld. JC het die voorbereiding gedoen, en Rachel (self nie verlore agter die kospotte nie) het die konstruksie waargeneem. Sy is mos hoeka projek-administreerder by 'n konstruksiemaatskappy. Ons het gesmul. Soos mense wat baie lank laas lekker geëet het, al is dit ver van die werklikheid. Ons ou volkie het sekerlik volk-alleen die kuns om kos te geniet, vervolmaak!



Na 'n lekker ontbyt by 'n plekkie in Tyger Vallei, word die karre omgeruil, en val ons in die pad.



Ons moet nog op die plaas by Gouritz aan om Poepies te gaan haal. Sy het die naweek daar gekuier, en sewe muise gevang. (Poepies is ons bedorwe Jack Russel)



Skaars verby Albertinia hoor ons 'n snaakse geluid. Willem sê dis 'n band. Die agterband het toe inderdaad gebars. Ongelukkig is die spaarband ook pap. Gelukkig is Gouritzmond vol wonderlike mense, en Gertjie Marx, die nutsman van die dorp daag soos 'n ridder met sy Genny en 'n pomp op, en kort voor lank is ons weer op pad.



Vanoggend is Willem met die kar op pad na Franz vir die regmaakslag. Ongelukkig is daar 'n nuwe spoedbeperking in Kwanonqaba waarvan hy nie weet nie, en hy kry 'n spoedboete. Baie ongelukkig trek hy daar weg, en woeps, daar gaan die spaarband. Dis nou gelukkig dat ons die naweek so geniet het - anders het ons nie krag gehad vir hierdie Maandag nie. Nog gelukkiger is dit dat hierdie oepsies nie met Rachel gebeur het terwyl sy in die verkeer op pad werk toe of terug, is nie.



Balans. Geluk by die ongeluk. Na lekker lag kom lekker huil. Daar's iets te sê vir al ons spreekwoorde. Bowenal is daar Iemand wat ons in die holte van sy hand hou.