Ella (Elsje) was my sussie en 'n hemelkind tot op haar sterfdag op 7 September 2006, toe sy skaars 34 jaar oud was. Wat ons van haar geleer het, is te veel vir 'n blog-inskrywing, maar een van die dinge wat uitstaan, was dat sy altyd na die vreugde en die plesier en die grappies in die lewe gesoek het. Haar vingertjies het al krom getrek van artristis, maar sy het die tweede prys gewen met haar naaldwerk, en sy was HOOG TROTS en dankbaar vir die prys. Die lekkerkry het al die ander dinge wat daardie dag meegebring het, oorskadu.
Kon ons ook maar so sonder inhibisie net bly wees om te lewe, en met elke greintjie energie wat ons het, die beste maak van dit wat ons ontvang het. Ella het geweet om "wees altyd deur bly" uit te leef. Die Blydskap was in haar, en daarom kon sy dit om haar ook raaksien en geniet.
Omdat sy Bly was, kon sy die deugde van liefde, verdraagsaamheid, geduld en vreugde soos sterstof om haar uitstraal. Selfs in die hospitaal het sy ons, haar bemoedigers, die dokters en verpleegpersoneel sowel as predikante en pastore wat haar besoek het, nooit laat weggaan sonder dat sy vir elkeen gesê het dat sy hom/haar liefhet, en 'n soentjie op die hand, of 'n skelm glimlaggie saamgegee het huis toe nie. Haar laaste asem is ook met 'n glimlag en 'n soentjie op die lippe uitgeblaas. DIS HOE 'n LEWE (en sterwe) MOET LYK. Waar sy nou is, kan sy die hele tyd juig en jubel en God loof sonder enige hindernisse of stremminge.
Kom ons probeer om in 2009 ook so 'n bietjie soos Ella te leef. As sy genoeg stof tot dankbaarheid kon kry terwyl sy nie mooi kon praat nie, nie kon lees nie, baie pyn verduur het, baie keer met ongeduldige mense te make gekry het, en selde haar sê in geselskap kon sê, hoeveel te meer kan ons nie - of is ons baie voorregte ook ons stremminge? Het ons vermoeëns en ons middele ons hindernisse geword? Kom ons begin oor en maak van ons seëninge middele om tot seën te wees vir ander. Ek gaan beslis probeer!
No comments:
Post a Comment