Showing posts with label Merkwaardige mense. Show all posts
Showing posts with label Merkwaardige mense. Show all posts

Friday, April 8, 2011

Magog - Skinderstorie oor 'n dooie

Magog was sy bynaam. Dit was 'n baie gepaste bynaam, verseker sy familie my.

Magog het gestam uit 'n gewone ordentlike Afrikaanse familie met die tradisionele Christelike waardestelsel en beginsels. Magog se "andersheid" het juis in sy oortuigings gelê.

Magog het hom min gesteur aan reëls en regulasies, wette en ordonansies, protokol en etiket. Om die waarheid te sê, hy het elkeen van die bogenoemde as 'n uitdaging gesien.

Sy naasbestaandes vertel dat hulle nie juis kan sê watter van die wette, reëls of beginsels Magog nie gebreek het nie. Hulle kon definitief nie aan iets wat vir hom onaantasbaar sou wees, dink nie.

Daar was volgens sy eie oortuiging net twee goed wat 'n mens moes doen - die res was opsioneel. Die twee moete in sy lewe was dat hy moes eet, en dat hy dan weer van die oortollige moes ontslae raak. So maklik soos dit.

Hy was nie juis 'n gereelde gas by familiebyeenkomste nie, en het nie as 'n reël by spesiale familiedae en ander funksies uitgekom nie. Dit was mos opsioneel. Wanneer hy egter wel by sulke geleenthede sou opdaag, was dit opspraakwekkend!

Hoewel Magog miskien glad nie op die hoogte was van gebeure en so aan in sy familie nie, het gerugte en stories betreffende Magog se doen en late baie gereeld by sy mense uitgekom. Hulle het kopgeskud, gewonder na wie hy sou aard, heimlik gewonder of die soort lewe dalk so aanloklik kon wees as wat dit soms lyk, en dankbaar saamgestem dat daar darem net een Magog in die familie was.

Hoe sy stomme ouers alles sou verwerk, was 'n hartseer saak, en daarom was almal maar dankbaar-tevrede dat die twee reeds "vooruitgegaan" het.

Op 'n dag kom daar 'n berig deur dat Magog oorlede is, en uit die kerk in die klein boeregemeenskappie begrawe sou word. 'n Wonderwerk, maar ook effe ongelooflik.

Dis dan ook geen wonder dat Magog se begrafnis 'n grote, en baie goed bygewoon, was nie. Almal wou net kom seker maak.....

Toe die gerug die rondte begin doen dat Magog se laaste woorde was dat hy gereed en tevrede is om te gaan, was almal meer as verstom en verbaas!

Hulle wou, maar kon nie glo wat hulle hoor nie, en die ergste was, dat hulle nie kon uitwerk hoe en op watter manier Magog by daardie tevrede oorgawe uitgekom het nie. Daar is gefluister en gewonder, en vraend rondgekyk, maar almal moes maar wag vir dominee.

Dominee se afskeid van Magog was 'n roerende een - vol lof aan die Here en danksegging daarby! Want sien, in sy laaste dae het Magog, so op sy eentjie, met miskien 'n paar insette van 'n gewaardeerde vertroueling, of meer waarskynlik: direkte ingreep van Bo, tot die besef gekom dat sy lewenskeuses toe nie enduit so lekker gewerk het nie. Magog het opreg berou gekry oor die wandade waaraan hy regtig skuldig was; oor die snaakse dinge wat sy reputasie andersins in goeie mense se gedagtes laat kruip het; oor die moontlike onskuldiges wat deur sy reputasie, wat in elk geval meters groter was as hyself, op 'n dwaalweg gelei is. Hy is met die dominee se medewete, met 'n afgelosde skuldlas begrawe - daarom die vreedsaamheid in sy gemoed.

Die vraag bly egter. Wat het met Magog gebeur dat hy so drasties omgedraai het? Niemand weet nie. Almal wat regtig vir hom omgegee het, of vir sy gesinslede, is egter nederig dankbaar.

Soos Magog se lewe vol vrae was, is hy ook weg met baie vrae. Die verskil is net dat die vrae nou andersom is. As Magog besef het die wye pad lei na nêrens, moet dit die moeite werd wees om op smalle weg te bly....

Magog se grafsteen pryk met sy doopname - die Magog van die aarde het net hier gebly. Toe hy 'n ontmoeting met Jesus gehad het, was hy weer gereed om opnuut gebore te word....

Wednesday, January 5, 2011

Huldeblyk aan Oupa Lou

Ons dank, lof en eer aan God ons Hemelse Vader wat ons geseën het met die lewe van ons man, pa en oupa, LOURENS ANDRIES STEPHANUS VAN ASWEGEN, vir 79 jaar, 4 maande en 25 dae. Vir ons is dit betekenisvol dat hy juis op Kersdag teruggeroep is Huis toe.

Ralie , die kinders en kleinkinders

Oupa Lou

Hoe begin mens om Oupa Lou in woorde vas te vat? Lourens Andries Stephanus van Aswegen is op 31 Julie 1931 in Vereeniging distrik gebore. Hier het hy ook grootgeword, en later op Potchefstroom sy skoolopleiding in Engels afgesluit. Na skool het hy eers as betaalmeester by Yskor gewerk, maar die boerdery het hom geroep. In sy wese en sy hart was hy eintlik heeltyd 'n boer.

Boerdery het hom na Hekpoort geneem, waar hy en Ma met draadspan en huisbou begin het. Later jare het die droogte hom verdryf, en het hy vir 'n klomp jare by die Harbeeshoek Radioruimte-navorsingstasie gewerk, en baie vinnig opgang gemaak. Ons kinders het gedink dat alle pa's wat ander werk as boer ook doen, deur NASA betaal word, en volksvreemde kollegas huis toe bring wat wonderlike stories kan vertel. Ons het ook gedink alle pa's studeer wanneer hulle nie werk nie, en dat alle ma's mens met 'n "Sjuut, Pappa Leer" groet as jy luidrugtig van die skool af kom.

Nadat die SA Poskantoor die satelietstasie oorgeneem het in die 70's, is Pa en Ma Vryheid toe. Hier het hulle met beeste geboer, en baie goed gedoen. So met die tyd het pa 'n hele aantal plase daar besit. Rassespanning het begin kop uitsteek, en Pa en Ma het toe in 1988 Suid-Kaap toe gekom, waar hulle weer 'n "rou plaas" gekoop, dit Fynboskruin gedoop, en begin verbeter het. Pa se droom was om hierdie plaas te ontwikkel in 'n aanwins vir die Suid-Kaap, maar hy kon nie toestemming daarvoor kry nie. Die plaas is toe goed verkoop, en Pa en Ma het Rodgerstraat, dorp toe getrek.

In die dorpshuis het Pa baie aandag aan sy sakebedrywighede gegee, maar nie van boerdery afgesien nie. Die plase Hopewell by Graaff-Reinet en Rietvlei by Gouritzmond getuig van sy liefde vir die grond.

Pa was self 'n man met baie interessante stories, en hy kon in elke geselskap aanpas, en onderhou-dend en boeiend gesels. Hy het belanggestel in elkeen se storie – van die bedelaar wat sy gediggies saambring, die boer wat gis oor die oesskatting, tot die professionele konsultant, die predikant en die musikant. Hy het 'n onblusbare nuuskierigheid gehad – nie net oppervlakkig nie, in detail wou hy van alles weet.

Mense sê dat Pa respek afgedwing het wanneer hy met sy twee krukke in 'n vertrek instap. Sy gesag het soos 'n mantel om hom gehang.

Hy en Ma was 'n onverskrokke en onverdeelbare span. Selfs in die dae toe hulle deur die polisie in hulle eie huis opgepas moes word omdat hulle doodsdreigemente ontvang het, het hulle die humor in die situasie raakgesien, en was dìt waar die klem met die oorvertelling geval het.

Op sy kleinkinders was hy erg trots. Hoewel hy baie streng met hulle was, en hulle niks oorgesien het nie, sodat dit soms maar moeilik was om aan hom verwant te wees, was die bedoeling altyd suiwer tot voordeel van die kind. Willie se gedigte en filosofiese stukke en oorsese werk, Rachel se vasberadenheid, haar ysere wil en haar raakvat, Lou se handigheid en hardwerkendheid, Maxie se akademiese mylpale en openheid, Mari se koorsang en haar welsprekendheid, Stefan se skool- en sportprestasies en Philip se ondeundheid en agterplaasboerdery was vir Oupa ewe belangrik. Hy het egter baie klem op akademiese prestasie geplaas, en elkeen se heel beste van hom/haar verwag.

Pa het homself as 'n sakeman beskryf, maar hy was veel meer as dit. Vir Ma was hy die rotsvaste man wat alle situasies kon hanteer en ten goede kon omkeer, vir ons kinders was hy oral, en het hy van alles geweet . Vir die kleinkinders was hy 'n bron van humor, 'n kwaai sedebewaarder en beskermer van morele waardes, en 'n helpende hand in tyd van nood. Vir diegene wat nie geweet het van sy harde werk, deeglike navorsing oor elke ding, en intense insette nie, het hy die "Midas-touch" gehad.

Vir vriende was hy 'n gesellige maat, vir die gemeenskap 'n weldoener. Hy en Ma het sonder om enige iets terug te verwag, gesorg vir die oprigting van Huis Elsjé (vir Alzheimerlyers) hier by Heiderand en ook 'n Liefdadigheidstrust geskep waaruit ander gehelp kan word. Hieruit is 'n paar ouerlose kinders gehelp om te studeer, voedingsprogramme finansieel bygestaan, 'n versorgingsoord aangekoop om Huis Elsjé aan te vul, en 'n kleuterskool gehelp om te kan voortbestaan. Vir almal wat hom geken het was hy 'n vergestalting van eerbaarheid en nederigheid.

Voor die Here was hy nederig en afhanklik, maar terdeë bewus van sy eie onvolmaaktheid en naaktheid voor God. Hy het nie met sy geloof te koop geloop nie, maar in enige ernstige gesprek het sy totale afhanklikheid en gehoorsaamheid aan die Here God baie duidelik na vore getree.

Vir die dood was hy gereed. Hy het met die ontvangs van die diagnose vir ons gesê dat dit nou tyd is vir hom om te gaan, en dat hy gereed was. Hy het nie onafgehandelde sake nagelaat nie.


 

Van Maxie : (Skoondogter)

Dankie. Woorde kan nie my dankbaarheid beskryf, maar al wat ek kan sê is dankie dat ek die voorreg gehad het om vir Lou van Aswegen as my skoonpa te kon gehad het, dit was 'n ware voorreg om deel van sy lewe te kon wees.

Om hom te beskryf is nie moeilik nie: gefokus, gedetermineerd en geweldig belese en 'n ysere wil. Ja, hy het presies geweet wat hy wil hê, geweet waarheen hy oppad was, en ook geweet hoe om dit te realiseer, en het dit met 'n uiterse selfdissipline afgehandel. Hy het niks aan die toeval oorgelaat nie, en kon met 'n suiwer enkel beweging enige saak saamvat en finaliseer. Hy het my telkemale verstom met sy onuitputbare energie wat hy tot op die einde gehad het.

Pa, dankie vir die waardevolle lewenslesse wat jy aan my oorgedra het, jou onberispelike voorbeeld van familie liefde en sorgsaamheid. Jy was 'n wonderlike skoonpa vir my en liefdevolle oupa. Mag die Vader nou vir Pa in Sy arms toevou en bewaar op pad na sy nuwe avontuur en hemelse reis wat pa nou aangepak het.

Pa, ek gaan jou geweldig mis…. Liefde groete, Maxie


 

Van Willie uit Taiwan:

"Wat verwag jy van die lewe?" het Oupa my gevra. "Niks," was my antwoord, "die

lewe skuld my niks." Ons het nie destyds mekaar verstaan nie. Maar, gelukkug

het ek die kans gehad om voor hom 'n man te word - en om, met sy bystand, wye

paaie van menswees te verken. Selfs hier, aan die anderkant van die planeet,

wys sy voorbeeld en woorde my steeds wat dit beteken om na waarde te lewe. Met

ons laaste kuier, in sy kamer, het ek en Oupa kans gehad om 'n sirkel te

voltooi: "Wat verwag jy van die lewe?" Ek wens almal kon hierdie Oupa ken...

die Oupa Lou wat met sagte oë in my siel kon sien - en aanvaar het wat hy daar

gevind het. "Liefde en trou," was my antwoord - en ons het albei verstaan.


 


 

Van Rachel :

Die eienskap van Oupa wat vir my uitstaan, is sy liefde vir die lewe en vir sy familie. Hoewel hy dit soms agtetr kwaaiheid of grappies weggesteek het, was dit altyd daar. Alles wat hy aangepak en gedoen het, het hy met die langetrmynplan gedoen om vir sy nageslag die dinge in die toekoms makliker of beter te maak. Oupa en Ouma het soms dinge ontbeer ter wille van hul toekomsdroom vir ons, die nageslag. Oupa was altyd 'n vooruitdenkende man.

Die ander ding van Oupa, was dat hy altyd 'n plan gehad het. Hy was altyd besig met een of ander idee, en sy brein het oortyd gewerk. Hy het nooit loop en spog met dit wat hy bereik het nie, maar het baie dinge "teen sy bors" gehou. Hy was plat op die aarde en ongemaklik met te veel aandag van enige aard.

Die mooiste herinnering wat ek het, is aan die verhouding tussen Oupa en Ouma. Hulle was ongelooflik lief vir mekaar – onafskeidbaar. Oupa was vir ewig besig om Ouma se siel uit te trek, en sy mond het oorgeloop van die mooi en die goed en die snaaks in haar. Selfs in stresvolle situasies, soos wanneer hulle vir 'n hofsaak voorberei het, kon Oupa nie help om te spog met Ouma se "oog wat 'n bars kan kyk en selfs die skelmste ou laat struikel oor sy leuens nie."

Wanneer Oupa ontspan het, en begin "konverseer" het, was dit as klein dogtertjie die heel lekkerste tye. Dan het Oupa stories en staaltjies vertel en grappies gemaak dat ons naderhand seermaag is van al die lag.

Ek sal sy hardwerkendheid, sy kwinkslae, sy oplettendheid, sy geselligheid, sy behoefte om te help, en sy skewe glimlag altyd onthou.


 

Van Lou:

Respek is die eerste ding wat in my kop kom as ek aan Oupa Lou dink. Ek het Oupa gesien as die generaal van 'n familie wat sukses bereik het met die ondersteuning, wysheid en leiding van 'n liefdevolle vader en Oupa.

Oupa het my altyd opgebou om 'n beter mens te wees en om liefde en meegevoel vir ander te hê. Daar is dinge wat 'n kleinseun net by sy oupa kan leer, en ek het die beste gehad.

Oupa, dankie vir al die mooi stories en herinneringe wat ek met oupa deur die jare kon opbou. Ek gaan Oupa baie verlang en altyd in my hart dra. Lief vir Oupa


 

Van Maxie: (Kleindogter)

Liewe Oupa, ek kan net dankie sê dat ek deel kon wees van jou lewe, dat ek die voorreg gehad het om soveel wyshede van jou te kon leer, en wanneer ons vashaak met die skeinat en wiskunde het jy gehelp om dit uit te redeneer.

Jou lag en vlymskerp sêgoed kan ons nooit vergeet nie. Jy was vir ons 'n ware voorbeeld gewees en 'n liefdevolle oupa waarop elke kleinkind kan trots wees.

Oupa, ek gaan jou baie mis. Jy laat 'n groot leemte na.

Liefde,

Maxie


 

Van Mari:

Oupa

Daar is soveel dinge wat oupa al vir my vertel en geleer het. Al sal ek altyd die lesse en stories onthou is daar een aspek van oupa wat ek die meeste gaan mis en elke dag aan dink. Dit is die manier hoe Oupa altyd vol luiefde en uit die hart en maag gelag het. Oupa was, is, en sal altyd die persoon wees wat my en enige iemand kan laat beter voel deur net te glimlag.

Oupa het gelag net soos Oupa geleef het, Voluit!

Elke ete om die tafel sonder Oupa se gebed en geselskap voel leeg en sinneloos, maar ek sal Oupa elke keer daar sien en hoor al is Oupa nie daar nie.

Oupa was ons skeinat- en strooipraat koning en elke omblik wat ek saam met oupa kan onthou, goed en sleg, sal my altyd bybly.

Oupa se diep stem sal altyd my hart warm hou en my veilig laat voel. Dankie

Liefde, Oupa se Engel.


 


 


 

Van Stefan:

Anderste as die feit dat hy die mees gerespekteerde persoon is wat in my famielie is oftewel wat ek ken, is daar 'n klomp verskeie goed wat ek van dié oupa onthou. Vir watter rede ek nie weet nie is die dag toe hy my leer gholf speel het die ding wat ek die meeste kan onthou. Ek was maar nog net 'n tjokkertjie en ons het nog in Vryheid gebly. Ek dink ek was so 8 of 9. Ons het een Desember vakansie by my oupa hulle gaan kuier op hulle plaas in Sedgefield. Hy het my geleer gholf speel en voordat ek kon weet het ek perongeluk 'n groot gat in sy kop geslaan. Hy was toe glad nie kwaad vir my nie en hy het verstaan dat dit net 'n ongeluk was. Dit was ook een van die dae wat ek die grootste geskrik het in my lewe. Nog 'n ding wat ek kan onthou is die stories wat hy vertel het elke keer as ons vir hom gaan kuier het.


 

Van Philip:

Dit is maklik, sy stories. Ek onthou nog die laaste storie wat hy ons vertel het. Dit gan oor Jag. Die jagter was sy broer, oom Gert. Oupa wou vir ons die plek wys waar dit plaas gevind het. Daar was n krip met water in, en daar was n klipwal gebou langs die krip. Oom Gert het by die wal aangelê. Ek weet nie wat se geweer of bok hy gejag het nie maar hy het 5 patrone gehad. Toe kom die bok by die krip aan, toe skiet hy sy eerste skoot en die bok hardloop. Hy skiet weer en die bok draai om en hardloop na hom toe. Toe skiet hy al sy patrone op en die bok bly na hom toe hardloop. Toe vat hy 'n klip en gooi die bok se horings mors af en die bok val net daar voor hom dood. Dit is wat ek die meeste kan onthou van Oupa Lou.

Saturday, November 13, 2010

Antoinette se Beroerte

Ons hier in Danabaai is omtrent almal so regs van veertig.  Nee, laat ek maar eerlik wees, so regs van vyftig jaar oud.


Dit is mos nou maar so dat mens op hierdie leeftyd al meer in die omgewing van brille en pille rondbeweeg.  Die groot maandelikse uitdaging is om die kruideniersrekening en die apteekrekening teen mekaar op te weeg. Na elke verhoging in die brandstofprys, is die kruideniersware duurder, en kos dit mooi beplan om die apteker te betaal. Nader aan die einde van die jaar, is die mediese fonds uitgeput, en moet ons weer van die kosrekening afknyp om vir doktersbesoeke en medisyne te betaal. Niemand wil willens en wetens in die Feestyd siek word, of erger nog, in die hospitaal beland nie. Hoe dan gemaak met die kleinkinders, die kinders, ander familie en vriende wat wil kom kuier?


So kom en gaan die seisoene en so leef ons hier teen die Suidkus met al die getye van die lewe saam.  Soms hoogwater, soms laagwater, en so aan.


Antoinette woon ook hier, en moet ook maar soos ons almal rekening hou met die getye en seisoene. Wat haar besonders maak, is dat sy haar naam, wat "Beyond Praise" beteken, waardig is op al die terreine van die alledaagse bestaan. So sing sy in die koor, dien op die kerkraad, neem deel aan ons eie konserte, maak kos en bak koekies, werk vir die sopkombuis, en is sy boonop 'n regte platjie en vol omgee vir haar medemens.


Een Sondag, voor die diens in die konsistorie, voel Antoinette so 'n bietjie dronkerig...duiselig, maar sy steur haar nie te veel daaraan nie. Neem net kennis daarvan. Hier in die regterkantste jare raak mens mos meer bekommerd as jy NIKS makeer nie, want dan moet jy mooi om jou rondkyk voordat jy seker is of jy maar kan ontspan.


Toe Dominee begin preek, raak sy meer bekommerd, want sy kom toe agter dat haar oë nie lekker fokus nie. Sy sien twee predikante, en altwee ewe dof...


Sy besef dat dit 'n beroerte kan wees.  Beroerte! Sy moet hier uit! Sy moet by 'n dokter kom! Die hospitaal! Hoe om van voor in die kerk tot agter by die deur te kom, skep 'n probleem. Die alternatief is om verby die preekstoel en deur die konsistorie uit te gaan - dis hoe sy ingekom het.


Tertius. Op 'n manier moet sy haar man,Tertius, se aandag op haar dilemma en haar toestand vestig. Hoe? Dink, Antoinette, dink. Sy wil nie die hele diens ontwrig nie, en Tertius luister aandagtig na die preek. Sy is nogal bang om alleen te probeer opstaan. Sy begin sweet.


Langs haar sit die seun wat by hulle loseer. Hy kom naderhand agter dat iets aan Antoinette 'n bietjie snaaks is, en probeer om haar aandag te trek. Onopsigtelik, natuurlik.


Antoinette is in haar eie dilemma vasgevang, en nie so oplettend soos altyd nie. Sy het ook nie veel aan die diens nie, want haar gedagtes is verstrengel in 'n stryd om oorlewing.


Uiteindelik dring dit asof van ver af tot haar deur dat iemand aan haar stamp. Dis die loseerder: "Tannie, wat is fout met Tannie se bril?"


Haar bril? Antoinette haal die bril af - dit het net een lens!


As elke beroertepasiënt maar so vinnig kon herstel.


As die ekonomie maar so vinnig uit die resessie kon kom.


As is verbrande hout, maar ons kan darem 'n bietjie hitte put uit die lekkerte van die oorvertel en die lag wanneer ons dit weer herkou en rustig nabetragting hou.


Viva! regs van vyftig, Viva! Viva, vele nuanses, Viva!

Monday, December 14, 2009

Daar word in die bos gekap...

Ons was vanoggend, 14 Desember 2009, by 'n begrafnis. 'n Goeie vriendin se gawe man het baie skielik gegaan. Sowat 'n week gelede het hy begin olik voel, en is met kanker gediagnoseer, ge-opereer, en oorlede. Wat 'n skok om weer eens te besef hoe stoflik ons is en hoe tydelik ons aardse verblyf is.

Omtrent 'n maand gelede was Attie nog hier by ons om sy opwinding te deel oor die voorgenome toer wat hulle na Namibië, en meer spesifiek Hentiesbaai, toe wou aanpak. Attie was 'n ywerige hengelaar, en het selfs die voorblad van 'n hengeltydskrif gehaal met een van sy vangste!

Na sy aftrede het Attie aanhou huise bou vir mense in die omgewing. Attie Cowley se huise was altyd iets besonders. Goed gebou, en geen moeite is ontsien om die eienaar se wense te verwesenlik nie.

Vir Attie was dit nie altyd maklik om vreemde versoeke te verstaan nie, en soms kon die voornemende huisbewoner nie mooi verstaan as hy die nadele van 'n voorstel aan hulle probeer verduidelik nie. Hy was egter een van daardie mense wat nie ophou soek het na die goue middeweg tussen die kliënt se droom en die konkrete moontlikheid nie. Dit het hom baie ure en "buite-die-boks-denke" gekos, maar sy kliënte is altyd tevrede gestel. Hoeveel bouers is daar wat lewenslange vriendskappe met hul kliënte sluit?

Sy weduwee, Bettie, was sy lewe. Op haar beurt is sy weer die moederfiguur vir elke verdwaalde, elke verwerpte, en elke eensame op die lewenspad. Sy was geborge in hul huwelik, en uit hierdie posisie kon sy na elke hartseer verhaal luister, en vir elke hongere was daar altyd hulp - maak nie saak of dit fisiese of geestelike honger was nie.

Dit is seker van die redes waarom daar vanoggend byna meer mense by die begrafnis was as wat Sondae in die kerk is.

Nog redes is dat Danabaai se mense besondere mense is. Hier word daar tyd gemaak om by mekaar uit te kom, en om mekaar se laste te help dra. Soos Hennie (seun van Bettie en wyle Attie) gesê het: hy het daadwerklike christenliefde hier gesien.

In die Feestyd is dit baie hartseer om afskeid te neem van 'n sterk boom in die bos. Ons sal sy koelte mis, maar die herinnering sal bly vassteek. Die anderkant van hierdie gemis, is die geleentheid wat ons as gemeenskap kry om ons geloof en liefde uit te leef. Dankie aan ons hemelse Vader wat weet dat ons nie net nodig het om versorg te word nie, maar soms ook nodig het om ander te versorg. Dankie dat ons soveel Liefde ontvang dat ons genees word wanneer ons daardie Liefde kan uitdeel.

Tuesday, June 23, 2009

OM OUD TE WORD - IS REGTIG NIE VIR SISSIES NIE!

Ons kom so pas terug van 'n besoek aan my skoonouers en ander familie in Limpopo.

Oupa en ouma is regtig van die dapperste onder die dapperes. Oupa is 'n volle 92 jaar oud (tot September) en ouma had op 19 Junie 86 jaar agter die blad. Rype ouderdom; geseënde jare; eer -jou-vader-en-jou-moeder-sodat-jy-lank-mag-lewe jare; goeie jare en slegte jare; besige jare en stil jare; vol jare en eensame jare; jare van lag en kuier, en jare van nabetragting en afsondering.

Ek wonder: Hoe en wanneer besef mens dat jy nou oud is. Klaar oud, en nie meer besig om oud te word nie. Dit lyk vir my of dit nie so eenvoudig is nie. 'n Mens besef mos op 'n dag dat jy nou groot is, al voel dit nie heeltemal so nie. Besluite en verantwoordelikhede is nou jou eie, en kan nie meer ontduik word nie. Hoe kom die besef dat dit alles weer verander het deur? Wanneer hou 'n ouer op om hom oor sy kinders, van wie sommiges al self oupas en oumas is, te bekommer? Wanneer hou 'n ouer op om te wonder of sy kind alle opsies oorweeg het voordat sekere besluite geneem is?

Hoe gebeur dit dat besluite wat jouself raak, nou deur kinders geneem word? Hoe ervaar en aanvaar 'n mens die omkering van rolle? As die wêreld dan so radikaal verander het soos in die laaste eeu, is dit seker nog moeiliker. In hul leeftyd het vervoermiddels van ossewaens, perdekarre verander na vliegtuie, gevorderde motors en ruimtetuie. Kommunikasie het verander van 'n hardloper met 'n briefie (gewoonlik om 'n sterfte aan te kondig) na selfone, sms'e, e-pos en Skype. Ernstige boodskappe, grappies en beelde vlieg ewe gemaklik, en met dieselfde graad van belangrikheid deur die kuberruimte, 'n "Dimensie" wat tot onlangs heel onbekend was.

Op alle terreine van die lewe het die nuwe en vreemde manier oorgeneem. Selfs dokters en medisyne is anders en vreemd.

Ek dink die grootste omwenteling is op die terrein van die beroepslewe. Waar al die wysheid en kennis toendertyd in die gryskrag van die ouer mense gesetel was, loop vandag se "kinders" met die tegnologiese vaardighede rond. Laerskoolkinders hanteer die rekenaar met gemak, en gebruik moeilike rekenaarterme sonder om daaroor na te dink. Fisieke krag is nie meer so belangrik nie. Dis ook nie al nie, tegniese mense soos loodgieters en elektrisiëns verdien maklik meer geld as gegradueerde persone. Die ou manier van dink en doen het verander......

Ek dink mens voel asof jy in "Topsy Turvy Land" of erger beland het.

Hoe gemaak as die verwysingsraamwerk wat oor dekades opgebou is, in jou doofheid nie meer kan help om die draad van 'n storie te volg en agter die kap van die byl te kom nie?

Die meeste ontwikkeling in die kombuis word met ope arms ontvang, want dis regtig arbeidsbesparend. Dit raak moeiliker as die resepte wat van geslag tot geslag oorgedra is, nou uitgedien raak, en die ou lekker kosse as "ongesond" bestempel word. Snelbevrore groente word as gesonder beskou as die gebergde of ingemaakte groente uit eie tuin waar die seisoen en die droogte tog so 'n groot rol speel. Gaste kom smul nie meer aan die ryk en lekker boerekos nie, maar verkies rou slaaie met maer sousies. Die meeste gesinne eet nie meer drie maaltye om 'n tafel nie, omdat dit weens elkeen se daaglikse program onprakties geraak het. Gelukkig is die gesin wat darem nog een maaltyd per dag om die tafel kan sit en eet.

Baie van die veranderinge is ten goede, maar die vreemdheid bly maar daar. Wanneer ouer mense meer en meer in die verlede begin leef, word die skeur tussen toe en nou, tussen bekend en onbekend, tussen sien en verstaan, al hoe groter.

Met tyd wat so belangrik in ons dolle gejaag is, kan mens vra of ons genoeg tyd spandeer om regtig te verstaan waardeur bejaardes gaan wanneer hulle "moeilik" raak. Hoe sal ons dit hanteer wanneer dit ons beurt is?

Thursday, June 11, 2009

MERKWAARDIGE MENSE OP MY LEWENSPAD

Elke mens word mos maar gevorm en omvorm deur jou verhouding met en tot ander mense - dis nou naas jou verhouding met jou Skepper en jouself.

Daar is 'n hele kaboedel mense wie in groot invloed in my vorming gehad het, en steeds het. My ouers is vanselfsprekend bo aan die lys. My gedagtes het egter nog nooit volgens lysies gewerk nie. Hulle dwaal en drentel soos op 'n vlooimark na willekeur tussen die herinneringe en belewenisse deur.

Vandag het ek vasgemeer by die hawe van herinneringe aan Oupa Gert en Ouma Ella van Aswegen.

My ma was baie siek aan rumatiekkoors toe ek gebore is. Vir die eerste drie maande of so, het ek en Pa dus by Oupa en Ouma gebly. Volgens oorlewering (grootliks oordryf, glo ek) was ek baie bederf deur die twee grootouers. Hoe kan dit dan nou anders? Ek meen ek was seker toe al 'n oulike babatjie, so afhanklik en als. Enige grootouer hou mos van bederf!

Dat ek nie eintlik mooi genoeg was om aan babawedstryde deel te neem nie, is waar. Ondanks die feit dat dit nie in ons voorfamilie se Calvinistiese aard was om met die uiterlike op loop te gaan nie, was dit darem vir Ouma nodig om my wilde wenkbroue met Vaseline te probeer tem, en om my bakore met Elastoplast te probeer rehabiliteer. Die yslike groot lint in die hare het darem baie van die onvolmaatheidjies verbloem.

Oupa het my op sy knie laat grootword, en my so vroeg as moontlik met sy intellek begin lei. Ek onthou dat hy maar van altyd af besig was om my die een of ander baie belangrike aspek van die lewe te leer. So onthou ek dat ek op 4-jarige leeftyd vir hom die koerant gelees het. Oupa het baie gesukkel met sy oë, en het sulke dik brillense gehad - sy oë het soos pierings agter die lense gelyk. Gelukkig was hulle sag. Net na lees, het somme gekom. Dit was lekker! 'n Mens kan onmeetlik baie goed met somme uitwerk en verstaan. Die grote, wye wêreld begin sommer minder skrikwekkend te lyk as mens agterkom dat somme baie goed kan verduidelik. Oupa was 'n slimme man...

Op sy dag, nou wel voor my geboorte, was hy 'n raadgewer vir Genl. Jan Smuts, en hy het die prokureur altyd bygestaan as dit oor Watersake gegaan het. Met kontrakte was hy ook 'n boffin.

Oupa kon ook Engels praat! Gedurende die Anglo-Boere-oorlog, was hy as penkop ook 'n spioen, omdat hy die taal kon verstaan. Hy kon ook lekker vinnig hardloop, en het vir voornemende delwers kleims afgehardloop. Nogal iets om op trots te wees!

Wat Oupa nou nie gehad het nie, is tegniese vaardigheid. Hy kon die werking van enige iets verstaan, maar hy kon nie vir Ouma 'n kastroldeksel met 'n nuwe knop voorsien nie. Daai klas goed moes iemand anders maar doen. Handig was hy nie!

Verdraagsaam was hy wel. Oupa was 'n Bloedsap, en Ouma het uit 'n familie van Regsgesinde rebelle gekom. Tog was daar nooit huweliksonmin oor politiek nie. Daar is trouens NOOIT politiek in die familie gepraat nie. Wanneer Ouma na 'n regsse vergadering gegaan het, het Oupa haar by haar mense gaan aflaai, en wanneer Oupa na Genl. Smuts toe is, het Ouma tuis gebly, of gaan kuier. Hulle het ooreengekom om op die gebied maar te verskil - al was die verskil redelik drasties.

Waaroor hulle saamgestem het, was hul Godsdiens, eerlikheid en voorbeeldigheid. Oupa was 'n ernstige mens, en sewentien jaar ouer as Ouma (sy tweede vrou). Ouma was 'n platjie, ondeund sonder om enige perke te oorskry. Sy was ook musikaal, en geseën met 'n baie helder sopraan- stem. En lief vir tuinmaak. Ouma het meermale gesê dat ons die Sondeval nie voor Eva se deur alleen kan lê nie, want Ouma sou self ook nie die verbode vrug kon weerstaan nie. Niks so lekker as 'n vars vrug van die boom af nie.

Op sy oudag het Oupa baie vreugde daaruit geput om my die familiegeskiedenis, met kaart en transport ter stawing, te leer. Ek het al die plase se nommers en beskrywings geken - lank voordat ek kon droom dat ek eendag 'n landmeter se vrou sou wees. Oupa het my ook slag vir slag deur die Engelse oorlog begelei. Feite en minder bekende feite of staaltjies is so verweef dat ek tot vandag toe nog glo dat sy weergawe van alles die egte reine waarheid was.

Ek was in St 7 (graad 9) toe Oupa aan longkanker oorlede is. Sy wens was om nie behandeling vir die kanker te ontvang nie, maar om, soos hy dit gestel het, "met waardigheid" te sterf. Sy grootste vrees was dat hy beheer oor sy liggaamsfunksies sou verloor. Hy het nie.

Ouma was op 64-jarige leeftyd 'n weduwee. Jonk van gees. Sy het die helfte van elke jaar by ons gebly. 'n Fees was dit voorwaar vir hierdie tienerdogter! Ek en Ouma het 'n kamer gedeel, en snags tot wie weet hoe laat gelê en gesels oor alles en alles en nog wat. Geen onderwerp was vir hierdie naggesprekke taboe nie. Ek het baie by haar geleer, soos: "Meidjie, die Here het die man die hoof van die huis gemaak. Omdat Hy alwetend en goed is, het Hy 'n vrou gemaak om die man te help, en die nek te wees wat hom stuur sodat hy in die regte rigting kan kyk." Met die eerste aanhoor klink dit nogal ligsinnig (een van Oupa se woorde), maar as mens daaroor sou nadink, kom die wysheid daaragter na vore. So was Ouma. Vol pret, maar ver van 'n intellektuele of morele liggewig af!

Sy was ook handig. By Ouma het ek leer naaldwerk doen, leer brei (nou wel regsom, al is ek links) hekel en kosmaak. En planne maak. 'n Gunsteling gesegde was dat 'n mens niks kan doen as jy nie 'n plan kan maak, kan improviseer, of bietjie kan "kroek" om jou projek te laat slaag nie.

Ouma het Oupa se kar geëerf, maar nie sy bestuurslisensie nie. Die vaardigheid was ook 'n bietjie moeilik om aan te leer met onwillige leermeesters (my pa, veral). So het ons ons nie laat afskrik nie, en wanneer die Groot Kuier ons beetgepak het, veral in vrugtetyd, het ek (sonder lisensie, maar met die wêreld se selfvertroue) die motor bestuur. Ons het dan 'n houer in die kattebak gelaai - net vir ingeval iemand dalk vir ons van hul heerlike vrugte wou saamgee. Dan het ons darem 'n houer, en hoef hulle nie die ook nog te voorsien nie. Bedagsaam was ons middelnaam.

As Pa 'n aanmaning van die polisie af kry omdat ek onwettig op die pad is, het Ouma met mooipraat en haar eie logika, elke keer die situasie (en my bas) gered. Ek het eenkeer die kar gestamp - my laaste ongeluk in "reverse". Ouma het opgedok vir die skade, en besluit om alleen te leer ry. Toe beland sy met die kar bo-op die rotstuin vasgehaak, en moes Pa haar die aand afhelp. Hierna was ek weer chauffeur, maar vir lang pad, het ons bestuurders onder die jong manne van die omgewing (met rybewyse) gewerf. Ouma het ook 'n nuwe kar gekoop. So 'n rooi Dasun sportrige 160Y met 'n wit dak. As mens wil ry, en jy het jou eie kar, hoef jy net 'n bestuurder te soek, en voel jy nie so afhanklik van ander se genade nie, was haar redenasie.

Ouma is my Universiteitsloopbaan, met al die vakke, vakansietye saans en snags saam met my deur. Ons het elke teorie en elke rare sielkundige verskynsel bespreek en ontleed en fyngetrap. Ek glo dis een van die faktore wat gehelp het dat ek elke jaar, selfs my "gipsjaar" geslaag het. Ouma het uit haar lewenservaring 'n voorbeeld vir elke verskynsel of probleem gehad waarmee ek kon identifiseer, en so is my studies lewendig gehou. Sy kon ook baie goed luister, entussen die reëls lees.

Willem se verskyning was vir Ouma net so opwindend as vir my. Die aand toe hy laat en onverwags kom kuier het, en Pa hom met die geweer voorgelê het, was een so 'n aand waar Ouma saam ge-panick, en later saamgelag het. Dis egter 'n ander storie.

Willem en Ouma was hegte vriende toe ons getroud is. Soos ek, verlang hy net so dikwels na hierdie besondere vrou. Ons is egter baie bewus van die groot voorreg wat dit was om haar te kon ken.

Haar grootste erflating was egter haar liefde vir die Here. My eerste liedjie het ek by Ouma geleer: Open julle mond, eis van My blymoedig. Al wat jul begeer, gee Ek jul en meer - mildelik en oorvloedig!

Wanneer slaap haar om die een of ander rede (bekommernis) ontwyk het, het sy teruggeveg deur kliphard en sonder selfbewustheid in sang uit te bars en die Here te loof en te prys! Ek weet nie van een nag wat sy die hele nag moes sing nie. Die onrus of pyn, of wat ookal, het elke keer voor hierdie aanslag van oorgawe aan God die knie gebuig. Wat 'n voorbeeld was dit nie vir ons nie!

Hierdie singery het ook gehelp wanneer die nagmaalwyn bietjie warm gemaak het, soos met my aanneming en voorstelling in ons gemeente, en die ete daarna. Vriendin Marietjie 9toe nog Steenekemp)was ook hier, en onthou dit tot vandag toe. Die lied was: "O denk aan dat huis, ver van hier...."

Dis jammer dat my kinders te laat gebore is om haar te kan onthou. Sy het hulle darem geken. My kinders het egter hul eie Oumas en Oupas om te onthou, en moet hul eie herinneringe bymekaarmaak.

Louisa Mafutha

Een van my eerste hartroerende sake as maatskaplike werker, was die van 'n vondelingetjie wat in 1977 digby Marabastad, Noord van Pretoria, gevind is. Die onlangs-gebore babadogtertjie is onder 'n doringbos gevind waar die miere al aan haar begin vreet het. Sy is na die destydse H.F. Verwoerdhospitaal geneem, vanwaar ons (die welsyn) van die saak in kennis gestel is.



Ek was destyds 'n jong maatskaplike werker in my eerste pos by Kindersorg, in hul Eersterust-kantoor gestasioneer. Daar is nogal baie administratiewe en wetlike sake in die geval van vondelinge wat moet aandag kry. Destyds baie meer as nou, want ons moes eerstens vasstel tot watter ras hierdie baba geklassifiseer moes word voordat daar enigsins verder na haar toekoms gekyk kon word.



Uit die aard van die saak is die herkoms van 'n vondelingetjie mos nie bekend nie. Die bedoeling van die ma was dan juis dat iemand anders die kindjie moet vind en grootmaak en sy (die ma)onbekend moet bly, of dat die kindjie sou sterf sonder dat iemand ooit van haar bestaan sou uitvind. Hierdie ma het anders as Moses se ma, nie 'n spioen gestuur om uit te vind wat van die baba sou word nie, en is sover ek weet nooit gevind nie.



By die hospitaal is die baba versorg, en gevoed totdat dit veilig sou wees om haar te ontslaan. Met ontslag moes ek oorneem. Ek onthou dat ek die dag nogal baie deftig aangetrek was vir die taak - met hoëhak-skoene en als. Ek het nie besef hoe ver ek sou moes stap nie.



Soos ek dit gehad het, was my eerste taak om die geboorte/vonds van die baba by Binnelandse Sake te gaan registreer. Gewapen met 'n bottel melk (komplimente van die hospitaal), 'n skoon doek, die baba, baie entoesiasme en my geleerdheid, is ek na Binnelandse Sake toe.



By die toonbank kon niemand my help nie, want ek het geen inligting gehad nie. Na lang verduidelikings (toe ek uiteindelik die voorkant van die ry bereik het) is ek verwys na van die senior manne in een van daai boonste kantore van die hoë gebou. Met te min hande, onbekendheid, 'n vermoë om in die biblioteek te verdwaal, en hysbakke wat nie op alle vloere stop nie, soek ek die kantoor.



Na 'n gesukkel en 'n paar skietgebedjies, kom ek toe by die paneel uit. Die klompie omies moes vasstel uit watter rassegroep die baba afkomstig was. Ek het naïef geglo dat daar die een of ander soort toets was wat sou bepaal wie die baba was. Toe nie.

Die manne bekyk my en die baba, en gesels asof oor 'n koppie tee, terwyl ek al meer met die baba identifiseer en haar saak darem met erns bejeën sou wou sien. Elkeen het 'n ander gedagte, maar die ooms voel ek moet haar as swart registreer. Hulle kyk nie eers behoorlik na haar nie.

Ek durf teëpraat, en probeer hulle oortuig dat sy net sowel van gemengde afkoms, d.w.s. 'n Kleurling kan wees. Na my mening het sy dalk 'n kans op 'n beter lewe as ek haar by 'n Kleurling-gesin kan plaas, want die aanneemouers waartoe ek toegang gehad het, sou in al haar behoeftes kon voorsien, en die politieke aansien van Kleurlinge het dit ook makliker gemaak om as Kleurlingkind op te groei.



No such luck. Nee, Juffrou, jy's nog jonk en onervare. Gaan na Bantoesake, en registreer haar daar.



Waar is Bantoesake se kantore? Net mooi aan die ander kant van die stad. So, hier gaan ons. Die bottel gaan nie die hele dag hou nie, en die doek ook nie, maar die baba moet geregistreer word!



Parkeerplek is ook nie so eenvoudig nie - nie eers in 1977 nie. Ek kry 'n veilige staanplek (sonder parkeermeter, want wie kan nou 'n boete ook nog betaal?) en stap. Myle voel dit vir my in my hoë skoene. Die deftigheid het niks gehelp by die span ooms van Binnelandse Sake nie.



Ek loop vir Willie Snyman, een van my matriek klasmaats raak. Hy kan nie verstaan hoe ek nou met 'n gekleurde baba kan straat-af stap nie. Ek het nie genoeg tyd om te verduidelik nie, want sê-nou die kantore maak toe.



Bantoesake. Die diens is nie waffers nie - eintlik glad nie waffers nie. Ek is baie bewus van my bevoorregte status bloot op grond van my velkleur. Naderhand kom ek by die regte toonbank uit (hoop ek). My voete is af. My deftigheid rem aan my. My oë knip-knip, en my professionaliteit is nerfdun.



Plak die skoene op die toonbank neer, en lê die baba langsaan neer. My arms begin naalde en spelde maak van ongeoefende baba-dra. Ek verduidelik my missie. Ja, ek is op die regte plek.

"Wat is die baba se herkoms?"
Ek weet nie, het ek dan nie goed verduidelik nie?


"Goed, wat is die baba se van?" Moedeloosheid neem besit van my.
Ek weet nie, daar was nie 'n briefie by die baba nie.

"Kies dan 'n van."
Hoe? Ek ken nie swart vanne nie, en ek wil darem nie hê die arme baba moet met 'n belaglike van opgeskeep sit nie. Wat is 'n normale van? Sy is naby Marabastad opgetel.


'n Dik register met baie inskrywings kom onder die toonbank uit.
Marabastad. Daar's omtrent 7,684,275 verskillende vanne. Ag toggie,toggie. My voete!


Hoe klink Mafutha? vra ek.

"Dit kan werk. M A F U T H A"

"Geboortedatum?"
Nie seker nie, skat maar ......

Ek is so moeg, ek is bereid om alles te raai.

"Naam/name?"
Nou's ek vas. Swartmense het mos gewoonlik 'n naam wat in hulle taal iets beteken, en dan 'n Christen-naam ook vir ons onthalwe.
"Louisa," hoor ek myself sê. Ek ken nie 'n Luoisa nie, behalwe miskien 'n agterkleinniggie van my pa ...

"L O U I S A"


"Goed Juffrou, hier's die sertifikaat."


Volgende probleem. Louisa Mafutha is nou swart, en ek werk met Kleurlinge. Ek moet die kleine bondeltjie mens, wat op my begin groei, nou verwys na of die Mamelodi-werker, of die Atteridgeville-werker.


Ek kan nie onthou waarheen Louisa Mafutha verwys is nie. Ek het geen terugvoer gekry nie, en weet nie of sy na 'n kinderhuis is, of sy in pleegsorg geplaas is en of sy vir aanneming gegee is nie.

Ek kan maar net hoop dat sy tog volgens haar eie tradisies grootgemaak is, en dat sy iewers 'n gelukkige lewe lei.


Louisa Mafutha weet nie van my bestaan nie, maar dit maak nie saak nie. Ek wens haar 'n wonderlike lewe toe. Die wiel van die lewe het gedraai, en miskien was die ooms van Binnelandse Sake tog reg met Luoisa se klassifikasie - ek hoop so, en ek bid vir Louisa Mafutha.

Tuesday, December 30, 2008

Sy lag, want sy kan!

Ella (Elsje) was my sussie en 'n hemelkind tot op haar sterfdag op 7 September 2006, toe sy skaars 34 jaar oud was. Wat ons van haar geleer het, is te veel vir 'n blog-inskrywing, maar een van die dinge wat uitstaan, was dat sy altyd na die vreugde en die plesier en die grappies in die lewe gesoek het. Haar vingertjies het al krom getrek van artristis, maar sy het die tweede prys gewen met haar naaldwerk, en sy was HOOG TROTS en dankbaar vir die prys. Die lekkerkry het al die ander dinge wat daardie dag meegebring het, oorskadu.

Kon ons ook maar so sonder inhibisie net bly wees om te lewe, en met elke greintjie energie wat ons het, die beste maak van dit wat ons ontvang het. Ella het geweet om "wees altyd deur bly" uit te leef. Die Blydskap was in haar, en daarom kon sy dit om haar ook raaksien en geniet.

Omdat sy Bly was, kon sy die deugde van liefde, verdraagsaamheid, geduld en vreugde soos sterstof om haar uitstraal. Selfs in die hospitaal het sy ons, haar bemoedigers, die dokters en verpleegpersoneel sowel as predikante en pastore wat haar besoek het, nooit laat weggaan sonder dat sy vir elkeen gesê het dat sy hom/haar liefhet, en 'n soentjie op die hand, of 'n skelm glimlaggie saamgegee het huis toe nie. Haar laaste asem is ook met 'n glimlag en 'n soentjie op die lippe uitgeblaas. DIS HOE 'n LEWE (en sterwe) MOET LYK. Waar sy nou is, kan sy die hele tyd juig en jubel en God loof sonder enige hindernisse of stremminge.

Kom ons probeer om in 2009 ook so 'n bietjie soos Ella te leef. As sy genoeg stof tot dankbaarheid kon kry terwyl sy nie mooi kon praat nie, nie kon lees nie, baie pyn verduur het, baie keer met ongeduldige mense te make gekry het, en selde haar sê in geselskap kon sê, hoeveel te meer kan ons nie - of is ons baie voorregte ook ons stremminge? Het ons vermoeëns en ons middele ons hindernisse geword? Kom ons begin oor en maak van ons seëninge middele om tot seën te wees vir ander. Ek gaan beslis probeer!
Posted by Picasa