Huis Elsje. Die plek wat my hart van dankbaarheid laat jubel, en van hartseer en deernis laat krimp - alles gelyk. Hoe kan dit dan wees?
Die dankbaarheid kom vanweë die feit dat die projek van die grond af gekom het, en dat die gebou daar staan om huisvesting en versorging aan Alzheimer-lyers te bied.
Ek is dankbaar vir Elsje se lewe, wat die ispirasie vir die Huis was. Ek is dankbaar vir 'n ouerpaar wat hul hartseer en leed kon verwerk deur vir ander van hulp te wees. Ek is dankbaar dat die Here so voorsien het dat die fondse vir die oprigting van die huis beskikbaar was.
Ek is dankbaar dat die ACVV oor die perseel beskik het waarop die Huis gebou kon werd. Ek is dankbaar vir die mense wat by Huis Elsje werk - dat hulle getrou is, dat hulle elke werksdag met deernis in hul harte en 'n houding wat liefde en geduld weerspieël opdaag om die inwoners te versorg, te voed, te stimuleer, te bemoedig en te kalmeer as hulle ongelukkig raak.
Ek is dankbaar dat die familielede 'n warm welkom ervaar wanneer hulle kom kuier. Ek is dankbaar dat ek welkom is wanneer ek besoek aflê.
Deernis en weekheid bekruip my as ek sien hoe 'n eens mooi, knap dame nou met verweesdheid en verdwaaldheid om haar rondkyk, en nooit seker is van haarself of haar omgewing nie - bloot omdat sy aan die siekte wat deur Dr. Alzheimer beskryf is, ly. Ek is hartseer wanneer die eens forse en gesiene man, wat sy sakeonderneming met trots en vaardigheid bedryf het, nou wag vir 'n kansie om met sy inkopiesakkie vir 'n aktetas by die deur uit te glip om "die vergadering" te gaan bywoon.
Ek is baie hartseer as die geliefde kind, man, vrou of vriend wat kom kuier, skielik 'n totale vreemdeling is.
Ek wonder soms wat agter die geslotenheid van die inwoners se gesigte broei. Besef hulle soms dat hulle effe ontuis voel in die hede? Weet hulle dat hul gedrag soms "anders" is, dat daar soms 'n hele paar bladsye uit die boek weg is, en die verhaal nie meer sin maak nie? Onthou hulle van God en sy liefdevolle genade?
Antwoorde is daar nie. Wat egter soos 'n paal bo water staan, is dat niemand wat 'n geliefde het of gehad het wat deur Alzheimer se Siekte geraak is, ooit weer daarvan kan vergeet nie.
Dan wil ek net sê: BAIE DANKIE aan elke vrywilliger wat 'n los uurtjie, of 'n paar ekstra sente aan hierdie juweelmense afstaan. Elke vriendelike woord, elke glimlag, elke lekker vrug, bordjie eetgoed, oefensessie, of wat ookal, is vir die oomblik wat dit duur die Alzheimer-lyer se hele bestaan. Dit verlig sy gemoed, en al duur dit nie lank nie, is dit balsem vir die gewer se siel om iets te kan gee of beteken. Die kosbaarste wat ons kan gee, is en bly maar ons tyd en ons harte - dieselfde tyd waarmee ons so suinig en soms onoordeelkundig omgaan en dieselfde harte wat soms soos klippe in ons binneste lê.
1 comment:
Dis baie mooi Muxi. My hart trek sommer op 'n punt terug.
Post a Comment