Ons kry warm in die Tuinroete.
Dis moeilik om vrolik, verdraagsaam en positief te wees as die temperatuur buite so hoog bly. Hier in die matigste deel van ons land is ons nie meer gewoond aan hittegolwe wat langer as twee-drie dae duur nie. Die huidige een kom al 'n paar weke!!! Intussen brand die Kaap af, en vrot ons riviere op. Die reën bly ook weg - val net in die noordelike dele. Hoe warmer dit word, hoe groter is die verdamping, en hoe meer gekonsentreerd raak die oepsies in die water - wat 'n toestand! Voeg by hierdie situasie nog 'n wêreldwye ekonomiese dilemma, 'n stygende persentasie werklose mense wat logieserwys naderhand tot misdaad gedryf word ter wille van oorlewing, en die eindproduk raak maklik uiterste, swartste, diepste depressie.
Wat 'n geleentheid vir die politici wat voorbrand maak vir die naderende verkiesing! In die huidige omstandighede is dit maklik om mense te verlei met beloftes van 'n beter toekoms. Op die oomblik voel dit dat enige iets net beter kan wees as die status quo!
Ek het eenmaal 'n boek gelees - so 'n regte speurverhaal-cum-riller -met die naam HEATWAVE. Dit het gehandel oor 'n reeksmoordenaar (hoe dan anders?) wie se graad van geweld saam met die temperatuur geklim het. Om die skrywer die geleentheid te gee om baie grafies in sy beskrywings te raak, het die verhaal hom in 'n kusdorp afgespeel. Die skamele kleredrag van die meisies wat so warm kry, het ons boef verder aangespoor tot geweld. Ek kan nou nog nie verstaan waar sy energie vandaan gekom het nie. As ek so warm kry, en glo my die hittegolf saam met die "gloede" is 'n erge kombinasie, het ek geen energie nie. Op die meeste kan ek een of twee vingers op 'n slag roer om die sleutelbord te hanteer. As die rekenaar-muis nie geverg het dat ek my arm moet uitsteek het nie, sou dit waarskynlik makliker gewerk het as die getikkery. Om dan uit te gaan (in die son) en iemand te agtervolg en te wag vir die beste geleentheid is al erg genoeg. Om genoeg energie bymekaar te skraap om die slagoffer te lyf te gaan op die een of ander manier, is vir my bietjie te veel gevra.
Ek verstaan die Mexikane se houding van "manjana, manjana" baie beter. 'n Yskoue drinkdingetjie, 'n yslike groot sombrero en so min beweging as moontlik is myns insiens die resep vir oorlewing.
Kom ek vanmiddag by ons huisdokter se spreekkamer en Babsie, die ontvangsdame, sê dat sy altyd met seisoenswisseling, soos nou, erge sinusprobleme ondervind. Hoewel ek simpatie met haar het in haar foltering, laat die gedagte aan seisoenwisseling my moedskep. As die seisoen verander, sal dit koeler en later koud word. Dit laat my onthou dat alles verbygaan. Geen probleem kan vir ewig voortduur nie. Die ou spreekwoord wat sê: "Van lekker lag kom lekker huil" kan ook omgedraai word. Na elke depressie, resessie of wat mens die swaarkry ook wil noem, moet daar weer 'n oplewing kom. Dis deel van ons wonderlike skepping. Die natuur, die mens se gemoed, die mensgemaakte ekonomie, die lewe self verloop met 'n afwisselende reeks van hoogte- en laagtepunte. As jy onder is, kan die volgende rigting net boontoe wees. Dit mag wel afgesaag wees, maar dit bly waar dat selfs die donkerste nag opgevolg word deur 'n nuwe dag.
Ek gaan my sombrero opsit, in my eie koelte sit en lemonade drink, en voorberei vir die dag wat gaan breek. Wanneer die lig in die tonnel nie meer 'n aankomende trein is nie, sal ek gereed wees om vrolik na elke nuwe geleentheid te gryp.
2 comments:
Hallo Tannie Marietjie, ek geniet jou blog vreeslik! Corne
Ek's bly iemand lees darem my gerammel! Groete daar aan jou kant.
Post a Comment