Friday, March 27, 2009

MASTEKTOMIE EN VERWANTE OPERASIES AAN LIGGAAM EN SIEL





Die res van my lewe, na die borskanker-diagnose, begin toe mos met 'n mastektomie. Van gesprekke oor so 'n operasie skram mens gewoonlik sover moontlik weg. Ons weet nie hoe ander daaroor voel, of hulle enige ervaring in die verband het, en indien wel, hoe hulle dit beleef (het) nie.


Nou-ja, ek was ook maar skrikkerig. Ek het eenkeer 'n aangetroude familielid gehuisves na haar mastektomie toe sy bestraling moes kry. Ek onthou dat Heleen baie dapper was, en dat sy haar wond vir my gewys het, en gesê het dat die platkant vir haar mooier is as die ander kant. Ek het nie verstaan nie, maar ook darem nie gestry nie.

Ek was nou op pad om uit te vind waarom ons so koetserig is vir hierdie siekte. Pajamas en bederfies ingepak, opname by die hospitaal gisteraand sommer telefonies gedoen. Ek het geen ander bekommernis as om net op te daag nie. Selfs hiervoor word daar deur die familie gesorg.


By die hospitaal word ek in 'n pragtige privaatkamer "ingeboek". Ek verdien dit glo. Nie dat ek in die minste omgee nie, dis net onverwags. Die hospitaalpersoneel is besonder hulpvaardig en vriendelik. Die narkotiseur en die sjirurg kom wys oë en berei my voor op die operasie. Ek is bietjie op 'n ander planeet.


My selfoon lui aanmekaar. Vriendinne, familielede, ander kankerlyers en "-survivors" bel om goeie wense oor te dra. Ek verseker almal ek's reg vir die ding. Uiteindelik gaan ek vinnig gewig verloor. Ek skat so ongeveer 500gram vir die oggend.

'n Vrywilliger van "Reik na Herstel" kom maak 'n draai. Die bedagsame sjirurg het hulle ingelig. Sy het self 'n mastektomie gehad, en dra nou 'n prostese. Sy't vir my 'n "kous" saamgebring. Geraai watter grootte, sodat ek dit kan dra wanneer ek huis toe gaan. Die stopseltjie lyk maar aardigrig, maar sy verseker my dat dit die doel dien. Mens sit dit in jou bra, en daar gaan jy. Mens kan dit met 'n speldjie vassteek as jy bang is dit peul uit. Sy't ook 'n skouersakkie gebring vir die dreineringsakkie wat vir eers my metgesel sal wees. So stadigaan begin die werklikheid van die situasie tot my deurdring.

Ek word net daar uitgenooi om by die groep aan te sluit. My agtergrond as maatskaplike werker kan baie goed benut word, en sy is eintlik lankal gereed om voorsitterskap af te gee. Opleiding word ook verskaf. Te veel inligting, te gou vir my.

Teen slaaptyd, nadat almal weg is, en dit stil raak, aanvaar ek die slaappilletjie met dank. Ek wonder hoe dit sal wees om net een bors te hê. Die tweede mastektomie sal gelyk met die rekonstruksie gedoen word. Daar is met ander woorde 'n ruk wat ek ongebalanseerd sal wees. Ek troos my daaraan dat my lyf nog my hele lewe lank skeef is as gevolg van skoliose - nog 'n asimmetriese faset kan seker nie so erg wees nie.

Jesaja. "Hy laat sy lammerooie saggies wei." So raak ek aan die slaap.

Vroegoggend teater toe. Geen tyd vir bekommernis, omdraai of weghol nie. My vertroue in die spesifieke teaterspan is so groot as hul geloof in my God. Ek weet hulle almal plaas hulself elke dag in Sy hande, en daarom voel ek tevrede, veilig en gerus in hul hande.

Na die operasie beland ek in 'n dubbelkamer. My kamermaat het hartomleidings gehad. Sy is 'n dame met 'n lekker sin vir humor. Saam lag en spot ons die pyn en die verlies tot in 'n klein hoekie vas. Sy het 'n pad vol struikelblokke voor - sy's 'n strawwe roker, en haar kardiotorakale sjirurg (hoekom het hulle sulke moeilike name?) se vyand nommer een is Die Sigaret. Sy's hoeka so lus vir 'n skyf, dat sy haar lag nie kan hou nie.


Ek dink my eie dinke. Watter behandeling lê voor? Ek is op 'n vreemde pad, en weet nie watter draaie, opdraendes en steiltes lê voor nie. Al troos op hierdie oomblik is Ds. Johan Serfontein van Windhoek se beeld van die kronkelpad deur die kloof. Mens sien nie die bestemming terwyl jy in die draaie is nie. Dan moet jy maar net die padreëls navolg, glo, en vorentoe gaan. Sodra jy om die draai is, ontvou die vista voor jou, en kan jy weer ver sien.

My skoonsus bel om te hoor hoeveel gewig ek verloor het. Ek skat so 500gram, en my kamermaat bulder dit uit van die lag. Met traanbesmeerde gesigte (van die lag) begroet ons die grootste bos lelies in my eie blompot wat die kamer inkom. Agter die lelies is Willie, my seun. Hy't gou kom inloer. Die bos blomme bring lewe in die vertrek. Die geur van lelies kan mens mos nie wegsteek, ignoreer of verbloem nie - dis wonderlik. Ek dink ons gebede in die goue wierookkom van Openbaring moet naastenby so ruik vir God.

Alles het goed afgeloop, maar ek is so toegeplak met 'n yslike groot pleister, dat ek steeds nie weet hoe dit voel sonder 'n bors nie. Daar's wel 'n dreineringspyp onder my arm wat nogal lastig is. Ek hoor hy sal geruime tyd daar wees. Totdat die wondvog nie meer as 40ml per dag is nie. Ek moet dit meet, en leegmaak.

Huis toe. My mense is wonderlik. Ek loop skeef. Daai bors was seker swaarder as 500gram, want my regterskouer trek op, en die linkerskouer trek af. Ek loop ook vooroor. Hoekom? Die blessidste sakkie is lastig, en trek aan die wond waar hy uitkom. Die "kous" is glad nie my idee van styl nie. Die affêre peul heeltyd boontoe uit. My selfvertroue is beter sonder die "kous" as met hom.


My gedagtes is 'n warboel. My moed verlaat my nie, maar ek kom terdeë agter dat hierdie nie 'n grappie is nie. Dis soos oudword - nie vir sissies nie. Mens het al die hulp en vriendskap wat jou kant toe kom, nodig. Ek waardeer gewone dingetjies ook baie meer as voorheen. Alles het meteens groter betekenis. Elke oomblik is 'n toegif, 'n gawe, 'n onverdiende geskenk!

Ek verstaan Heleen se gehegtheid aan haar plat kant. Dis 'n teken van die geveg teen kanker wat nou in al sy felheid woed. Die siekte gaan nie wen nie. Sien, sy broeiplek is weggesny. So sal alle oorblyfsels ook nog uitgewis word. Ek is nie skaam vir my geskondenheid nie - dis my rang in die weermag teen kanker!

Ek kry die besonderhede van 'n plaaslike prostetis (nog een van daai woorde) by die wonderlike sjirurg. Ek kan 'n regte prostese hê voor Kersfees. Die goed is nogal duur, maar het dieselfde gewig as 'n normale bors, en is gevorm na jou lyf - skuif nie rond nie. Die mediese fonds betaal ook grootliks daarvoor. Mnr. die Prostetis eis sommer self. Mooi!!

So word dit vir my nodig om oor hierdie verandering aan my lyf te kan spot. Spot en grappe maak die genesingsproses baie meer leefbaar. Ek het skielik baie "boesem-buddies" wat gedurig inspirerende boodskappies stuur. Ek hoor van vroue met kanker waar ek dit nooit sou verwag nie. Almal voel soos eie familie, en almal wil net uithelp, en raadgee, en grappies uitdeel.

Ek vind dat ek my gesinsmense moet opbeur. Hulle ly onder my siekte. So begin ons gesels oor La Petite (Afrikaanse betekenis), ry ek soms wanneer dit so warm is in die kar, met my bors op my skoot. Nie elke vrou kan dit doen nie. Ek is ook nie suinig as iemand wil "voel" nie. So word dit amper normaal om 'n verwyderbare bors te hê. Amper, maar glad nie stamper nie.

Ses weke later is ek gereed vir rekonstruksie. Ek's baie opgewonde, miskien omdat ek nie mooi besef watter proses dit gaan agfgee nie.


Die sjirurg wat die mastektomie gedoen het, assisteer vir die plastiese sjirurg. Dis nogal 'n groter operasie, want dit is weer 'n mastektomie, en dan 'n bilaterale rekonstruksie.

Met die wakkerwordslag besef ek hoe pleisters nou eintlik kan lyk. Kyk, ek is beplak dat dit naar lyk. Seer ook. Daar waar niks meer was nie, moet velle nou oor hierdie nuwe "borste" rek. Gelukkig kan dit. Daar's swelling ook. Ek het geen idee hoe die eindproduk gaan lyk nie.

Die kronkelpad deur die kloof kom ook aan 'n einde. Die pleisters kom af. Dit lyk vir my of een bors effens groter is as die ander een, maar "so what?" Dokter verseker my dat dit die swelling is. Die eerste mastektomie se wonde is al genees, en daarom lyk die tweede een anders. Logies.

Volgende stap: areola's en tepels. Daar is twee opsies. Mens kan die areola's op die borste tatoeer, of ons kan vel uit die lieste gebruik om areola's te vorm, en dan tepels van die borsvel maak. Dokter beduie, en ek wil-wil amper begin verstaan wat hy gaan doen. Soek inligting op die internet, en kry weer meer as wat ek kan hanteer. Spookstories verskyn ook op televisie. 'n Dame uit Engeland kom na vore met haar riller. Na haar areola-rekonstruksie het sy nou soveel borshare dat haar hele selfbeeld in sy peetjie is. Haar liefdeslewe ook.

Die tatoeer-storie klink vir my seer. Met 'n operasie kry ek darem narkose, en ek dink dis meer natuurlik. (Nou nie juis as mens dink jy gaan nou met jou lieste op jou bors pryk nie, maar toemaar.) Die plastiese sjirurg besweer my borshaar-vrese met die oplossing van hoe hy die hele proses hanteer. Ondervinding het hy baie- ek niks.

Suster, praat van seer! Hierdie lieste is die ergste. Ronde lappies is uitgesny, en reguit toegewerk. Die velle rek. Myne is hoeka nie meer so elasties nie. Probeer nou 'n pleister daar hou! Dis nie 'n maklike storie nie - more likely heel onmoontlik. My pleisters het nie die eerste badkamer-sessie oorleef nie.


Die borste lyk aardig. Sulke geel "patty pans" bo-op. Dokter sê hy't my voorberei, maar ek onthou dit nie. Ek dink dit was 'n geval van "systems overload" of iets. Die patty pans moet nou 'n ruk aanbly. Dis styf vasgedruk, want die wonde moet genees, en bloedtoevoer is nodig om die lieslappies te laat aangroei.

In die wagtyd skeur my lieswonde gemiddeld twee maal per week oop. Elke keer terug spreekkamer toe vir nuwe steke. Die inspuiting vir lokale verdowing is erg ongemaklik. Die skaamte om elke keer soos Flenterkatryn voor die dokter te kom staan, is egter erger. Al verseker hy my dis sy werk, en hy is so bekend met my lyf of hy my man kon wees, bly ek maar ongemaklik. Gelukkig kan ons hier ook grappies maak om oor die verleentheid te kom. Ek dink 'n goeie skoot humor moet by elke mediese fakulteit verpligtend aangebied word. Ons dokters hier by Mosselbaai het gelukkig almal hul "humor" ge-cum.


Nou, twee en 'n halwe jaar later, kan ek net met dankbaarheid terugkyk. Alles het goed afgeloop. Ek het ligte littekens oor my borste wat my aan hierdie tyd herinner, maar die seer, die onsekerheid, die ongemaklikheid en die vrees het plek gemaak vir aanvaarding. Ek gebruik nog medikasie, en is nou halfpad met die regte kankerbehandeling, maar ek sê dankie vir vandag. Ek ly nog onder die newe-effekte van die Tamoksifien wat ek daagliks moet drink, maar 'n mens kan by wonderlike dinge aanpas. Ek lewe! Ek sien weer kans vir nuwe uitdagings!


Wat is die grootste verandering in my lewe? Ek heg baie meer waarde aan ewigheidsdinge. My mense is vir my baie belangriker as ooit tevore. My familie en vriende hul gewig in goud (of olie?) werd. My talente behoort aan die Here, en is tot Sy beskikking. Die dood is 'n poort na die nuwe, heel, volmaakte, ewige LEWE.

3 comments:

brood&jem said...

Hallo Marietjie
Ek het jou inskrywing gelees, en wonder of ek jou daaruit kan aanhaal vir 'n artikel vir Rooi Rose vir Oktober?
Salome Delport - 021-976-5301

(Jy skryf heerlik!)

Krappies said...

Marietjie, jou humor gee my hoop... Eintlik het ek op die blog afgekom op soek na 'n dokter vir my Ma wat ook in Danabaai woon. My Ouma is so twee maande terug oorlede en daar was 'n klomp goed rondom haar afsterwe wat veroorsaak dat ou moeder dit baie sleg verwerk. Ek wil so bittergraag by haar wees, maar ek kan nie. Ek woon in Mafikeng. Ag... eintlik weet ek nou nie hoekom ek vir jou skryf nie... miskien kan jy haar 'n luitjie gee en vir 'n koffie gaan... Miskien het God jou briefie oor my pad gestuur vandag vir 'n goeie rede. Wie weet... God is groot en ons is bitter klein. In elk geval... sterkte met jou dinge daar, en moet nooit jou humor verloor nie. Dit is 'n "means of survival" en soo bitter kosbaar vir jou en die mense om jou.
Carin Brits
Ma: Bets Burger 084 555 2116.
Dit is bitter erg dat ek 'n wildvreemde persoon vra om my Ma te gaan ondersteun, maar sy beteken die wêreld vir my en ek sal enigiets doen om haar beter te laat voel.

Anonymous said...

baie interessant, dankie