Showing posts with label Gesondheidsake. Show all posts
Showing posts with label Gesondheidsake. Show all posts

Friday, November 20, 2015

KANKER: STEEDS IS'T HET EINDE NIET

Ek het in November 2006 uitgevind dat ek borskanker het.  Dié is onmiddellik aangespreek, en na 'n bilaterale mastektomie, rekonstruksie, en tamoksifien-behandeling, is die kanker in remissie.  Met die laaste opvolgkonsultasie in Oktober 2014, is ek steeds skoon! Wonderlike nuus!

In Maart 2015, net na Ouma Tiela (my Skoonma) se begrafnis, ontwikkel 'n swelsel onder my linkerkakebeen wat nie op antibiotika reageer nie.  'n Biopsie en 'n naaldbiopsie, en elke ander toets in die boek later, kry die ongewenste groeisel 'n naam.  Plaveisel Karsinoom.  Op die PET-scan flikker daar 'n liggie op my skiledklier en een in my lewer ook.  Die primêre sondebok bly onbekend, maar die onkoloë reken dat dit iewers in die osophagus-area gesetel moet wees.  Hierdie afleiding word gemaak na aanleiding van die gedrag van die onding.

Nog toetse, by drie verskillende hospitale in Kaapstad, en 'n radikale nekdisseksie later, meld ek weer by die Outeniqua Onkologie-eenheid aan vir behandeling.  Die behandelingsplan sluit dertig hoë dosis bestralingsessies, asook drie chemo-terapiesessies in.  Ons hoop dat die kanker betyds gediagnoseer is, en dat die behandeling hom op die neus gaan slaan.

Vir ses weke lank word daar elke dag George toe gery vanaf Mosselbaai vir die bestraling.  Manlief word nogals erg verontrief, want hy wil opsluit self by wees.  Ek is ook maar bly vir sy ondersteuning.

Sien, my ma is in Huis Elsjé waar sy versorg word omdat sy aan Alzheimer se siekte ly, en ek haar nie meer alleen kan versorg nie.  Ek het vir haar gejok oor die operasie aan my keel, want ek wou nie hê dat sy haar ontstel oor 'n saak waaroor sy geen beheer het nie.  Ek het vir haar gesê dat hulle my mangels uitgehaal het.. Sy het dit gesluk, hoewel die operasiewonde met die skeefgetrekte mond en die geswel onder my keel maar baie onwaarskynlik moes lyk. Haar enigste vraag was: "En hulle los jou so lelik?"  Ek mis dit om met my ma te kan gesels oor my eie bekommernisse, maar dis mos maar hoe die lewe is....

Twee van die chemo-terapiesessies realiseer, maar aangesien ek so sukkel om te sluk, en ontwater  besluit die onkoloog dat dit onnodig wreed sal wees om met die derde sessie voort te gaan.  Ek ontvang vloeistof binne-aars om die ontwatering teë te werk.

Die etery werk nie uit nie.  In Week 4 van die bestraling kom besoek Ian en Kim die onkologie-eenheig uit Johannesburg.  Hulle kom ons van hul ondersteuningsgroep vir Kop- en Nekkanker vertel.

Hierdie sessie is baie leersaam en insiggewend.  Ons leer dat die eetprobleem en die uitdaging om vloeistof in te neem, algemeen is by hierdie soort kanker.  Ons besluit om 'n eie ondersteunngsgroep by Outeniqua te begin sodra ek sterker is, en al die administrasie daaromheen gedoen is.  Willem is ook baie opgewonde oor die moontlikheid van bewusmaking en saamdra aan mekaar se laste.  Op die ou einde het die pasiënt en sy/haar primêre versorger baie raad en wenke oor hoe om ook hierdie stryd draagliker te maak.  Elke ou hoef nie noodwendig die wiel van voor af te ontwerp nie.

Sonder dat ek wil, verloor ek gewig.  Gelukkig is ek met 'n "dankbare gees" geseën (vriendin Rihetta Swart se opmerking), en bly ons positief.

Daar bly egter so 'n klein stukkie kommer iewers krap.  Wat van daai dingetjie in my lewer?  Daar was sprake dat hy sommer tydens die nekdisseksie "gezap" of "ge-nuke" of ge-iets sou word, maar dit het nie gebeur nie omdat die operasie te lank geneem het.

Uiteindelik is die  behandeling verby, tyd is gegun vir herstel, en nou gaan ons weer 'n CT-scan doen om die lewere te evalueer.

Skok der skokke!  Waar die een liggie ons laas met sy teenwoordigheid getart het, sit daar nou drie menere.  9mm, 10mm en 13mm groot.  Hoe kan dit wees?  My kop wil dit nie verwerk nie.  Ek wil dit nie aanvaar nie.

Is hierdie drie nou van dieselfde stoffasie as die plaveiselkarsinoom in my keel? Is daar plaveisel in 'n mens se lewer? Sit daar nog êrens 'n primêre duiwel wat sy wilde hawer rondstrooi en van my liggaam 'n bose saailand maak? Baie vrae, min antwoorde.

Wat ek wel in die proses geleer het, is dat ek nie regtig gereed is om nou al dood te gaan nie.  Daar is nog te veel dinge wat ek wil doen, plekke wat ek wil sien, geure wat ek wil ruik, smake wat ek wil proe.  Ek is nog lank nie moeg vir die lewe nie.  Ek wil nog baie drome met my kinders droom, simpel dinge aanvang, goeie dade verrig.

As dit vir my gegun word, sal ek weer gaan vir behandeling. Ek sal weer die wapenrusting aantrek en blinkpoets.  Ek sal doen wat die onkoloë en kenners voorstel, ek sal veg vir genesing, ek sal werk vir groter bewusmaking, vir navorsing. En as my beker dan leeg is, hoop ek om met 'n tevrede hart na my Maker terug te keer.

Tuesday, August 11, 2015

Die Tweede Kankerdiagnose

Daar is 'n (ou) Afrikaanse gesegde wat lui: "Die tweede dwaling is erger as die eerste." Ek reken dit dui daarop dat 'n mens die tweede keer in dieselfde strik trap as jy nie genoeg uit die eerste valslag geleer het nie.

Dis hoe ek voel oor die Tweede Diagnose.  Ek het dit nie verwag nie.  'n Mens is seker nooit gereed vir so iets nie, maar ek het gedink my beurt was verby.

Ek is in November 2006 met borskanker gediagnoseer, en het toe die bilaterale mastektomie, die rekonstruksie en die behandeling ondergaan.  Vir vyf jaar het ek die ou simpel pilletjie wat my so siek gemaak het, gedrink. En toe: Vryheid.

Oktober 2014 was die laaste datum vir my jaarlikse opvolgkonsultasie met die onkoloog. Wonderlik.  Ek is skoon - kanker is in remissie.  Hiep hiep hoera!

Gedurende einde Maart 2015 ontwikkel ek 'n geswelde klier onder my keel - daar waar kinders gewoonlik pampoentjies kry. Ek het nog my mangels, en reken dat dit maar net ontsteking is, en sal oorwaai.  In Meimaand dwing Manlief my dokter toe.  Hierdie ontsteking hou nou te lank aan.

Die huisdokter skryf sterk antibiotika voor, en waarsku dat ek 'n sjirurg sal moet gaan sien as die ontsteking nie opklaar nie.  Raai wat? Die eier bly ewe gerieflik sit.

Die sjirurg stuur my eers vir 'n sonar en naaldbiopsie.  Posititef vir plaveisel-karsinoom. Wat 'n slag! Hierdie karsinoom is nie familie van die eerste een nie.  Dis 'n nuwe duiwel.

Ek weet nie watse ding die plaveisel karsinoom is nie, en vra oral waar ek kom, en google die besigheid ook sommer.  Ek leer dat plaveisel karsinoom op die vel of weefsel wat in aanraking kan kom met suurstof, kan ontwikkel.  Daai borsklanker was nie so nie.  So, nou moet die oorsprong, die primêre kanker opgespoor word.  Dit kan in die lugweë, die slukderm, die mond of die anus wees. Jig.

Die onwelkome eier word verwyder, en weer gestuur vir ontleding.  Plaveisel karsinoom. Die probleem is dat daar nog van hierdie gewasse in my sagte nekweefsel sit.  Hoeveel verraad kan daar dan  in een liggaam wees?

Ek het oor kanker gedink: "Been there, done that, got the scars to show". Toe nie so maklik nie.

Hier sit ek nou weer.  'n Verdere operasie en elke toets in die boek (sommiges meer as een maal) is gedoen.  Nog 36 kliere, gewasse, goeters is verwyder.  Vier van hulle is kwaadaardig.  

Een van die toetse (PET scan)  se liggies gaan ook aan in my skildklier, en in my lewer. Hieraan is daar op hierdie stadium nog niks gedoen nie.  Die operasiewonde moet nou herstel, en daarna sal ek bestraling en chemoterapie moet kry.  Die detail van hierdie behandeling sal ek DV Vrydagmiddag hoor. Van nou af tot Vrydag, sal daar so 'n klein knaagdiertjie hier in my binneste rondskarrel, want ek kon nog nooit met grasie wag nie.

Intussen is my linkerskouer (voorheen my sterk skouer) nou oorbelas.  Sien, die lekker sterk neksening hier aan die linkerkant, het met die snoeiery van die gewasse in die slag gebly. Die skouerspiere moet nou oorpresteer.

Ek het ook nou 'n Popeye-glimlag.  'n Senuweetjie hier aan die onderkant van my gesig het tydens die operasie seergekry, en nou trek my mond skeef.  

Manlief sê ek's nou reg vir so 'n lekker kromsteelpyp - nie dat ek (of hy) al ooit gerook het nie. 

Vir myself lyk ek nou bietjie vreemd, maar almal om my probeer dit miskyk totdat ek iets daaroor sê, en dan sien hulle skielik 'n verbetering.  Ek skat hulle is erg ordentlik, of hulle raak die skewe mond gewoond.  Hoe dit ookal sy, ek was nog altyd meer as 'n senuwee, 'n klier of 'n gesigsuitdrukking.  Ek hoop om so voort te gaan.

Dis net saans, wanneer ek vir die donker skewebek trek, dat ek aan myself erken dat ek bang is vir die behandeling wat voorlê.  Ek het al erge stories, eintlik rillers, gehoor oor bestraling, en ook oor chemoterapie. Sal ek hierdie behandeling met waardigheid kan deurstaan? Sal ek dit hoegenaamd kan oorleef? Is ek sterk genoeg?

Dit is dan wanneer ek dankbaar is vir my familie, al my vriende, almal wat my liefhet, almal wat in my belangstel. almal wat vir my bid, wat moeite doen om vir my te sê ek lyk nog nes altyd.  Dit maak nie saak as hulle bietjie jok nie - dis die gedagte wat tel.

Dis dan, in die klein uurtjies van die nag, dat ek salig aan die slaap kan raak met die wete dat dit glad nie saak maak hoe ek presteer of hoe ek hierdeur gaan kom of nie gaan kom nie.  Wat wel saakmaak is dat ek veilig en geborge is in my Saligmaker se liefdevolle en almagtige hande.  Ek beleef dan ook die rustigheid in die wete dat Hy ook vir Manlief en my kinders daar sal wees wanneer hulle my dalk sou mis. Dan besef ek weer: aan iets moet ons almal doodgaan. Dit kan seker net sowel kanker as enige iets anders wees.  

Wanneer tyd nie meer tel nie, sal ons ook die antwoorde op die raaisels van hierdie lewe, waaronder  vigs, Alzheimer se siekte, depressie, kanker, armoede, misdaad en alle ander ellendes hê. (Ek weet nie of ons ooit politici sal kan verstaan nie, maar dit sal nie meer saakmaak nie.)

Tot dan sal ek vasbyt, aanhou bid, aanhou glo, aanhou wees. 





Tuesday, June 28, 2011

Ontwaking - eerste oggend na 'n nag sonder sweet.

Goeiemôre wêreld!
Vanogend lyk die dag so mooi en skoon. Die see lê blou en kalm deur my studeerkamer se venster. Alles het meer kleur, die lug ruik vars, ek voel mens.

Ek besef dat ek die laaste klompie maande so op die rand van 'n baie diep en donker gat rondgesteier het. Dit was net die mense om my wat gekeer het dat ek heeltemal intuimel. Ek self het dit nie heeltmal besef tot vanoggend toe nie.

Die behandeling teen borskanker, wat uit mastektomieë en tamoksifien bestaan het, was suksesvol, maar moeilik. Die newe-effekte van die pille het my sleg getref. Ek hoor dat dit nie vir almal ewe erg is nie, maar ek was een van die ongelukkiges.

Net meer as 'n week terug het ek die groen lig gekry dat dit OK is dat ek die pille al in Januarie uit my eie gestaak het. Die gloede en strome van sweet het egter voortgeduur. Hoewel die gereeldheid van die gloede afgeneem het, het die intensiteit toegeneem, en het een van my personeellede gesê dat ek reën. Dit het behoorlik so gelyk. Ek het opgradeer van 'n handwaaiertjie a la ouwêreldse edelvrou, na 'n hoop snesies, na 'n rol kombuispapier in my (Groot) handsak, na 'n opgerolde gesighanddoekie in dieselfde handsak. Hare en vel se versorging het heeltemal agterweë gebly.

Verlede nag het ek nou wel baie laat aan die slaap geraak, maar ek het nie gesweet nie! Ek voel vanogend soos 'n nuwe mens. Ek is sekerlik nou 'n hele paar treë van die gat af. My gemoedsbesoedeling is beter! Sommer baie beter. Ek sien weer kans vir alles wat die toekoms kan bring - ook die groot rugoperasie wat voorlê.

Dankie, dankie, dankie!

Tuesday, October 27, 2009

Die "redo KVO"

Ek het 'n tydjie gelede begin valerig voel. Energievlakke bietjie laer, entoesiasme bietjie minder, behoefte aan rus 'n bietjie meer, en so aan. Op 'n dag besluit ek toe om myself te bederf met een van Mossie se lekker facials. Te lekker. Miskien sal dit my weer laat opflikker...









Dit is toe ook 'n lekker bederf, soos net Mossie kan. Terwyl ek nog so lekker op die masseertafel lê, (Mossie se facial sluit 'n lekker nek- en skouermassering in) kry ek toe 'n pyn op die bors - kompleet 'n angina-aanval. Ek kan dit nie glo nie, ek het dan 9 jaar gelede 'n 4-vat omleiding gehad. Alles moet mos nou reg wees?









Mossie en haar ma wil my met mag en mening huis toe neem, maar nee, wat, ek's O.K., en sal self huis toe ry. By Manlief se kantoor voel ek rêrig goor, en bel hom om my asseblief huis toe te neem. Hy skrik hom byna morsdood. Die huis is net meer as 'n kilometer van die kantoor af. Maak nie sin nie.









Tuis besluit hy toe sommer dis nou tyd om die kardioloog weer te sien. Kardioloog stem in om my sommer in die hospitaal te sien. Dan moet ek ook sommer 'n angiogram laat doen, sodat ons kan vasstel wat presies verkeerd is. OK, probleem is net, dit was 12 Augustus 2009, en Willie sou op 13 Augustus op George Lughawe arriveer vir sy kuiertjie uit Taiwan. 10 dae... Watter ma wil dan in die hospitaal lê? Beslis nie hierdie een nie!







Ek is wel in die hospitaal opgeneem, in die hoë sorg eenheid vir waarneming. Teen my sin, maar nie teen my beterwete nie. Nadat hulle op George geland het, kom loer Willie by my in. Beslis nie die verwelkoming wat hy verwag het nie! Hy't 'n vriend uit Taiwan saamgebring. Peter verstaan glad nie wat nou aangaan nie. Hy verstaan darem bietjie Engels, maar weet g'n snars van ons gebruike, gewoontes of eienaardighede nie. Arme mens!





Ek besluit om huis toe te gaan - sonder angiogram. Die ma in my is baie sterker as die pasiënt in my. Ek verduidelik mooi aan die kardioloog waarom ek so angstig is om huis toe te gaan, en hy gee toestemming nadat ek belowe het om na die kuier weer in te kom sodat ons die sakie kan afhandel. Jippie!!



Die angiogram is toe die voorloper vir 'n tweede vatomleidings-operasie, 'n "Redo-KVO". Die vorige omleidings van 9 jaar gelede (amper op die dag) is nie meer oop nie. Die bloed moet omtrent leopard-crawl om die hart met suurstof en wat nog te bedien. Die situasie vra duidelik vir 'n verdere KVO. Dokter verduidelik dat die risiko's nou heelwat meer is as wat dit 9 jaar gelede was: Ek het 'n derde rugoperasie gehad, my nek by C2 gebreek in 'n motorongeluk, 'n dubbele mastektomie en rekonstruksie-operasies gehad, is nog op anti esterogeenbehandeling vir borskanker, en het ook helaas, 9 jaar ouer geword. Overgezet synde: die herstelperiode mag dalk langer en moeiliker wees as laaskeer.



Vandag is dit 6 weke later. Alles het wonderlik goed afgeloop. Ek het 3 dae langer in die hospitaal gebly, maar ek hou by met die stappery, en geniet dit oor 'n honderd. Aanvanklik het die rugpyne my gefolter. Snags kon ek nie lekker slaap nie, want die geraamte het gestry teen die rugslapery (borsbene moet vasgroei, en sy-slaap is uit!), en natuurlik teen die gestap. Lank voordat ek naby asem uit kon kom, het die gebeentes gekners en gekraak vir 'n plek in die eerste span. Hinkepink, sonder my getroue kierie (mag nie op die arms druk nie, en die kierie maak die versoeking baie groot) het dit maar broekskeur gegaan.


Gelukkig het 'n baie bekwame rumatoloog in ons area kom woon, en hy is op die hoogte van die heel nuutste navorsing oor pyn, chroniese pyn en pynverligting en -bestuur. Ek het van hom te hore gekom, en 'n afspraak gemaak. 'n Deeglike konsultasie en vier inspuitings later werk my hande weer loslitlekker, en stap ek soos enige ander mens. Die pyn is nie heeltemal weg nie, maar ek kan dit uitstaan. Oor 'n week gaan ek vir die opvolgkonsultasie: skielik het ek bewus geword van ander pynplekkies en kwinte en kwale wat voorheen in die skadu van die erge pyn was. Nou raak ek gulsig. Dalkies kan hierdie ongemaklikheidjies ook koers kry.......



Pa waarsku dat ek nie die pyn moet ignoreer nie. Pyn is waarskuwings wat sê daar's iewers fout, en dis nou tyd om versigtig te leef en te dink oor elke beweging. Dis alles waar, maar ek het mos nou al die waarskuwings gekry, ter harte geneem, daarvolgens geleef (nou nie dat mens dit kwaliteit-lewe kan noem nie) en nou wil ek met groter gemak en genot deur die lewe gaan. Ek sal hopelik nie onverantwoordelik met die nuutgevonde beweeglikheid omgaan nie. Ek weet ek is nie 'n gimnas, 'n ballerina of 'n langafstand atleet nie, maar Boetie, nou's dit lekker om drie kilometer per dag te kan stap, en te kan weet dat hierdie plesier glad nie eens 'n beweging op die sondeskaal veroorsaak nie. Bonus op bonus.



Ai, is ons nie gelukkig om 'n Vader te hê wat ons in hierdie wêreld geplaas het tussen mense wat Hy met allerhande gawes geseën het nie. Dokters, professore en verpleegsters, beraders en terapeute en wonderlike vriende wat die lewe met ons deel, die donker plekkies verhelder en glimlaggies of skaterlagte na ons gesigte bring.



Dis lekker om te lewe, o ja dit is! Ek het nie geweet my hart pla weer nie, maar nou kan ek duidelik 'n verskil voel. Ek is weer lus vir die lewe, en sien kans vir elke dag se uitdagings. Dis wonderlik - ouer of te not, ek juig oor die lewe!

Friday, March 27, 2009

MASTEKTOMIE EN VERWANTE OPERASIES AAN LIGGAAM EN SIEL





Die res van my lewe, na die borskanker-diagnose, begin toe mos met 'n mastektomie. Van gesprekke oor so 'n operasie skram mens gewoonlik sover moontlik weg. Ons weet nie hoe ander daaroor voel, of hulle enige ervaring in die verband het, en indien wel, hoe hulle dit beleef (het) nie.


Nou-ja, ek was ook maar skrikkerig. Ek het eenkeer 'n aangetroude familielid gehuisves na haar mastektomie toe sy bestraling moes kry. Ek onthou dat Heleen baie dapper was, en dat sy haar wond vir my gewys het, en gesê het dat die platkant vir haar mooier is as die ander kant. Ek het nie verstaan nie, maar ook darem nie gestry nie.

Ek was nou op pad om uit te vind waarom ons so koetserig is vir hierdie siekte. Pajamas en bederfies ingepak, opname by die hospitaal gisteraand sommer telefonies gedoen. Ek het geen ander bekommernis as om net op te daag nie. Selfs hiervoor word daar deur die familie gesorg.


By die hospitaal word ek in 'n pragtige privaatkamer "ingeboek". Ek verdien dit glo. Nie dat ek in die minste omgee nie, dis net onverwags. Die hospitaalpersoneel is besonder hulpvaardig en vriendelik. Die narkotiseur en die sjirurg kom wys oë en berei my voor op die operasie. Ek is bietjie op 'n ander planeet.


My selfoon lui aanmekaar. Vriendinne, familielede, ander kankerlyers en "-survivors" bel om goeie wense oor te dra. Ek verseker almal ek's reg vir die ding. Uiteindelik gaan ek vinnig gewig verloor. Ek skat so ongeveer 500gram vir die oggend.

'n Vrywilliger van "Reik na Herstel" kom maak 'n draai. Die bedagsame sjirurg het hulle ingelig. Sy het self 'n mastektomie gehad, en dra nou 'n prostese. Sy't vir my 'n "kous" saamgebring. Geraai watter grootte, sodat ek dit kan dra wanneer ek huis toe gaan. Die stopseltjie lyk maar aardigrig, maar sy verseker my dat dit die doel dien. Mens sit dit in jou bra, en daar gaan jy. Mens kan dit met 'n speldjie vassteek as jy bang is dit peul uit. Sy't ook 'n skouersakkie gebring vir die dreineringsakkie wat vir eers my metgesel sal wees. So stadigaan begin die werklikheid van die situasie tot my deurdring.

Ek word net daar uitgenooi om by die groep aan te sluit. My agtergrond as maatskaplike werker kan baie goed benut word, en sy is eintlik lankal gereed om voorsitterskap af te gee. Opleiding word ook verskaf. Te veel inligting, te gou vir my.

Teen slaaptyd, nadat almal weg is, en dit stil raak, aanvaar ek die slaappilletjie met dank. Ek wonder hoe dit sal wees om net een bors te hê. Die tweede mastektomie sal gelyk met die rekonstruksie gedoen word. Daar is met ander woorde 'n ruk wat ek ongebalanseerd sal wees. Ek troos my daaraan dat my lyf nog my hele lewe lank skeef is as gevolg van skoliose - nog 'n asimmetriese faset kan seker nie so erg wees nie.

Jesaja. "Hy laat sy lammerooie saggies wei." So raak ek aan die slaap.

Vroegoggend teater toe. Geen tyd vir bekommernis, omdraai of weghol nie. My vertroue in die spesifieke teaterspan is so groot as hul geloof in my God. Ek weet hulle almal plaas hulself elke dag in Sy hande, en daarom voel ek tevrede, veilig en gerus in hul hande.

Na die operasie beland ek in 'n dubbelkamer. My kamermaat het hartomleidings gehad. Sy is 'n dame met 'n lekker sin vir humor. Saam lag en spot ons die pyn en die verlies tot in 'n klein hoekie vas. Sy het 'n pad vol struikelblokke voor - sy's 'n strawwe roker, en haar kardiotorakale sjirurg (hoekom het hulle sulke moeilike name?) se vyand nommer een is Die Sigaret. Sy's hoeka so lus vir 'n skyf, dat sy haar lag nie kan hou nie.


Ek dink my eie dinke. Watter behandeling lê voor? Ek is op 'n vreemde pad, en weet nie watter draaie, opdraendes en steiltes lê voor nie. Al troos op hierdie oomblik is Ds. Johan Serfontein van Windhoek se beeld van die kronkelpad deur die kloof. Mens sien nie die bestemming terwyl jy in die draaie is nie. Dan moet jy maar net die padreëls navolg, glo, en vorentoe gaan. Sodra jy om die draai is, ontvou die vista voor jou, en kan jy weer ver sien.

My skoonsus bel om te hoor hoeveel gewig ek verloor het. Ek skat so 500gram, en my kamermaat bulder dit uit van die lag. Met traanbesmeerde gesigte (van die lag) begroet ons die grootste bos lelies in my eie blompot wat die kamer inkom. Agter die lelies is Willie, my seun. Hy't gou kom inloer. Die bos blomme bring lewe in die vertrek. Die geur van lelies kan mens mos nie wegsteek, ignoreer of verbloem nie - dis wonderlik. Ek dink ons gebede in die goue wierookkom van Openbaring moet naastenby so ruik vir God.

Alles het goed afgeloop, maar ek is so toegeplak met 'n yslike groot pleister, dat ek steeds nie weet hoe dit voel sonder 'n bors nie. Daar's wel 'n dreineringspyp onder my arm wat nogal lastig is. Ek hoor hy sal geruime tyd daar wees. Totdat die wondvog nie meer as 40ml per dag is nie. Ek moet dit meet, en leegmaak.

Huis toe. My mense is wonderlik. Ek loop skeef. Daai bors was seker swaarder as 500gram, want my regterskouer trek op, en die linkerskouer trek af. Ek loop ook vooroor. Hoekom? Die blessidste sakkie is lastig, en trek aan die wond waar hy uitkom. Die "kous" is glad nie my idee van styl nie. Die affêre peul heeltyd boontoe uit. My selfvertroue is beter sonder die "kous" as met hom.


My gedagtes is 'n warboel. My moed verlaat my nie, maar ek kom terdeë agter dat hierdie nie 'n grappie is nie. Dis soos oudword - nie vir sissies nie. Mens het al die hulp en vriendskap wat jou kant toe kom, nodig. Ek waardeer gewone dingetjies ook baie meer as voorheen. Alles het meteens groter betekenis. Elke oomblik is 'n toegif, 'n gawe, 'n onverdiende geskenk!

Ek verstaan Heleen se gehegtheid aan haar plat kant. Dis 'n teken van die geveg teen kanker wat nou in al sy felheid woed. Die siekte gaan nie wen nie. Sien, sy broeiplek is weggesny. So sal alle oorblyfsels ook nog uitgewis word. Ek is nie skaam vir my geskondenheid nie - dis my rang in die weermag teen kanker!

Ek kry die besonderhede van 'n plaaslike prostetis (nog een van daai woorde) by die wonderlike sjirurg. Ek kan 'n regte prostese hê voor Kersfees. Die goed is nogal duur, maar het dieselfde gewig as 'n normale bors, en is gevorm na jou lyf - skuif nie rond nie. Die mediese fonds betaal ook grootliks daarvoor. Mnr. die Prostetis eis sommer self. Mooi!!

So word dit vir my nodig om oor hierdie verandering aan my lyf te kan spot. Spot en grappe maak die genesingsproses baie meer leefbaar. Ek het skielik baie "boesem-buddies" wat gedurig inspirerende boodskappies stuur. Ek hoor van vroue met kanker waar ek dit nooit sou verwag nie. Almal voel soos eie familie, en almal wil net uithelp, en raadgee, en grappies uitdeel.

Ek vind dat ek my gesinsmense moet opbeur. Hulle ly onder my siekte. So begin ons gesels oor La Petite (Afrikaanse betekenis), ry ek soms wanneer dit so warm is in die kar, met my bors op my skoot. Nie elke vrou kan dit doen nie. Ek is ook nie suinig as iemand wil "voel" nie. So word dit amper normaal om 'n verwyderbare bors te hê. Amper, maar glad nie stamper nie.

Ses weke later is ek gereed vir rekonstruksie. Ek's baie opgewonde, miskien omdat ek nie mooi besef watter proses dit gaan agfgee nie.


Die sjirurg wat die mastektomie gedoen het, assisteer vir die plastiese sjirurg. Dis nogal 'n groter operasie, want dit is weer 'n mastektomie, en dan 'n bilaterale rekonstruksie.

Met die wakkerwordslag besef ek hoe pleisters nou eintlik kan lyk. Kyk, ek is beplak dat dit naar lyk. Seer ook. Daar waar niks meer was nie, moet velle nou oor hierdie nuwe "borste" rek. Gelukkig kan dit. Daar's swelling ook. Ek het geen idee hoe die eindproduk gaan lyk nie.

Die kronkelpad deur die kloof kom ook aan 'n einde. Die pleisters kom af. Dit lyk vir my of een bors effens groter is as die ander een, maar "so what?" Dokter verseker my dat dit die swelling is. Die eerste mastektomie se wonde is al genees, en daarom lyk die tweede een anders. Logies.

Volgende stap: areola's en tepels. Daar is twee opsies. Mens kan die areola's op die borste tatoeer, of ons kan vel uit die lieste gebruik om areola's te vorm, en dan tepels van die borsvel maak. Dokter beduie, en ek wil-wil amper begin verstaan wat hy gaan doen. Soek inligting op die internet, en kry weer meer as wat ek kan hanteer. Spookstories verskyn ook op televisie. 'n Dame uit Engeland kom na vore met haar riller. Na haar areola-rekonstruksie het sy nou soveel borshare dat haar hele selfbeeld in sy peetjie is. Haar liefdeslewe ook.

Die tatoeer-storie klink vir my seer. Met 'n operasie kry ek darem narkose, en ek dink dis meer natuurlik. (Nou nie juis as mens dink jy gaan nou met jou lieste op jou bors pryk nie, maar toemaar.) Die plastiese sjirurg besweer my borshaar-vrese met die oplossing van hoe hy die hele proses hanteer. Ondervinding het hy baie- ek niks.

Suster, praat van seer! Hierdie lieste is die ergste. Ronde lappies is uitgesny, en reguit toegewerk. Die velle rek. Myne is hoeka nie meer so elasties nie. Probeer nou 'n pleister daar hou! Dis nie 'n maklike storie nie - more likely heel onmoontlik. My pleisters het nie die eerste badkamer-sessie oorleef nie.


Die borste lyk aardig. Sulke geel "patty pans" bo-op. Dokter sê hy't my voorberei, maar ek onthou dit nie. Ek dink dit was 'n geval van "systems overload" of iets. Die patty pans moet nou 'n ruk aanbly. Dis styf vasgedruk, want die wonde moet genees, en bloedtoevoer is nodig om die lieslappies te laat aangroei.

In die wagtyd skeur my lieswonde gemiddeld twee maal per week oop. Elke keer terug spreekkamer toe vir nuwe steke. Die inspuiting vir lokale verdowing is erg ongemaklik. Die skaamte om elke keer soos Flenterkatryn voor die dokter te kom staan, is egter erger. Al verseker hy my dis sy werk, en hy is so bekend met my lyf of hy my man kon wees, bly ek maar ongemaklik. Gelukkig kan ons hier ook grappies maak om oor die verleentheid te kom. Ek dink 'n goeie skoot humor moet by elke mediese fakulteit verpligtend aangebied word. Ons dokters hier by Mosselbaai het gelukkig almal hul "humor" ge-cum.


Nou, twee en 'n halwe jaar later, kan ek net met dankbaarheid terugkyk. Alles het goed afgeloop. Ek het ligte littekens oor my borste wat my aan hierdie tyd herinner, maar die seer, die onsekerheid, die ongemaklikheid en die vrees het plek gemaak vir aanvaarding. Ek gebruik nog medikasie, en is nou halfpad met die regte kankerbehandeling, maar ek sê dankie vir vandag. Ek ly nog onder die newe-effekte van die Tamoksifien wat ek daagliks moet drink, maar 'n mens kan by wonderlike dinge aanpas. Ek lewe! Ek sien weer kans vir nuwe uitdagings!


Wat is die grootste verandering in my lewe? Ek heg baie meer waarde aan ewigheidsdinge. My mense is vir my baie belangriker as ooit tevore. My familie en vriende hul gewig in goud (of olie?) werd. My talente behoort aan die Here, en is tot Sy beskikking. Die dood is 'n poort na die nuwe, heel, volmaakte, ewige LEWE.

Thursday, March 26, 2009

DIE DAG TOE EK MET KANKER GEDIAGNOSEER IS

Die dag het soos enige ander oggend begin - totdat ek gaan stort het. In die stort voel ek 'n knop aan my regterbors. 'n Knop wat dadelik vreemd en onwelkom is. Kliphard, en 'n bietjie groter as 'n gesonde ertjie. Reg onder my tepel. As ek vroeër in die spieël gekyk het, sou ek gesien het dat my bors se hele vorm oornag verander het. Maar ek het nie. My oorgewig het veroorsaak dat ek so min moontlik van myself wou sien. Veral op my nugtermaag, en veral sonder klere aan my lyf!

Wat nou? Stort maar klaar, en gaan Progrow toe. Willem was reeds daar, en ek wou mos ten alle koste die besigheid laat werk. Die bors-gedoente moet eers simmereer sodat ek kan weet hoe ek daaroor voel.

Vir die eerste uur of twee het ek normaalweg met die dringendste takies aangegaan, en toe ek en Willem albei gereed was vir 'n koffiebreuk, het ek hom vertel dat ek 'n knop aan my bors ontdek het. Hy het my eers onbegrypend aangestaar - toe laat ek hom voel. Sy hele gesig het versomber, en ek kon die ongeloof wat ek beleef het, in sy gesig sien. Dit kan mos nie wees nie!!!

Ons het besluit dat ek maar so spoedig moontlik by 'n dokter moes uitkom. Ek het ons huisdokter geskakel - die ontvangsdame het aanbeveel dat ek sommer dadelik vir 'n mammogram gaan - dis tog wat Dokter sou voorstel. 'n Afspraak is gemaak, en die gewag het begin.

Later die oggend het my ouers 'n draai by die fabriek kom maak, en ek het my ma vertel - ook my seun, wie sy besigheid ook uit dieselfde gebou bedryf het. Dit was 'n Woensdag, en ek kon eers die Maandag plek kry by die radioloë vir die mammogram. So moes ek my dogter per telefoon hiervan vertel. Sy was erg geskok, en baie jammer vir my.

Die naweek was maar lank. My ouers het kom kuier, my broers het geskakel. Dit was uiteraard maar 'n gedempte storie. Hulle het my probeer verseker dat dit niks ernstigs kon wees nie. Skoonsus ('n verpleegkundige) sê dis baie kere net 'n verdikking in die melkkliere, of 'n infeksie. Skadeloos. My mond het saamgepraat, maar diep binne het ek geweet dat dit nie so eenvoudig is nie. Ek het al voorheen ontsteking in die melkbuise gehad - dit was heeltemal anders.

Maandag. Ek is op die bepaalde tyd na die hospitaal vir die mammogram. Ek hou nie van die besigheid nie, maar dit moet gedoen word! Na die tyd, toe ek in die aantrekkamer wag, groei my oortuiging dat hierdie storie "bad news" is. Die vorms wat ek moet invul help nie eintlik om die gevoel van verdoemenis op te hef nie. Ek begin dink aan familielede en voorsate. Nee, net Pa se een suster, Tant Sussie, het borskanker gehad. Dit moet mos eintlik van Ma se kant van die familie af kom as ek dit geërf het? Ons weet te min van die deel van die familie - Ouma aan moederskant is oorlede toe ma nog 'n kleuter was. Nee, die nagmerrie sal oorwaai.

Nog later word ek geroep. Die radioloog wil 'n sonar neem. O, Nee! Hier kom dit nou.

Ek wag op 'n bedjie voor 'n rekenaarskerm. Die baie gawe man kom in, en wys my op die skerm hoe die knop nou eintlik lyk. Dis rond, redelik duidelik afgebaken, en bietjie dieper as wat die omtrek daarvan is. OK, wat nou?

Ek moet maar rustig wees, hulle gaan nog 'n biopsie ook doen. Dis 'n baie lang naald - dik ook, en peperduur vertel hulle my - word ingevoer van Australië af, of iets. Ek is gelukkig nie bang vir naalde nie. Die personeel gesels met my oor allerhande ligte sakies. Eintlik heel aangenaam - behalwe vir die donker wolk van afwagting. As ek nou nie so snaaks geklee hier op die bedjie gelê het, en die dokter se hande besig was nie, kon ons gesellig sit en kuier het. Ek besef weer dat ek glad nie kan gedy met onsekerheid nie. Liewer die waarheid hoor, al is dit slegte nuus.

Hierna kan ek weer gaan wag. Ek mag maar aantrek, die ondersoek is afgehandel.

Met die verslag in die hand is ons huis toe - spreekkamer langs. Die verslag het ons eers gelees, hoewel ons nie alles verstaan het nie. Ons het wel verstaan van karsinoom en maligne. Die dokter is reeds weg. Ek laat die koevert by ontvangs. Dokter sal my bel.

Pa en Ma maak weer 'n draai. As dit kwaadaardig is, sal hulle help met die mediese kostes. In die geval van 'n mastektomie, moet ek gaan vir rekonstruksie ook - hulle sal help.

Ek het 'n wonderlike familie.

Dinsdag - werk toe. Wat sal ek by die huis doen om die wagtyd om te kry? Dis moeilik om te konsentreer. Die foon lui nie. Die gewag raak heeltemal te veel vir ons almal. Ek besluit om maar spreekkamer toe te bel, en te hoor wat al die groot woorde finaal beteken.

Die ontvangsdame skakel my dadelik deur na die dokter. Hy "Hmmm en ahhh". O gatta!

Dokter weet nie mooi hoe om die saak aan te voor nie, want hy't my nie eers vooraf gesien nie - ek's mos dadelik Radiografie toe. Dis vir hom baie moeilik, maar hy verduidelik van die karsinoom (klas 2) en gee nog inligting. Ek wil net weet wat nou moet gebeur. Die inligting gaan nie meer in nie.

Ek moet 'n sjirurg kies, en dan soontoe gaan. Ek kies die een wie se naam ek al vroeër gehoor het. Later word die afspraak vir die volgende dag bevestig.

Woensdag. 'n Week het verbygegaan, en my bors het 'n vreemde aanhangsel geword wat my toekoms bedreig. Ek wil dit nie meer aan my lyf hê nie. Ek voel verraai deur my eie liggaam.

Ek vertrou op die Here om my ook deur hierdie dal van doodskaduwee te lei. Ek onthou hoe ek 22 jaar tevore na my eerste hartaanval in die Noord Natalse boendoes, by Hom gesmeek het om my lewe te spaar totdat Rachel met matriek klaar is. Sy is nou sewe maande getroud.

Ek onthou hoe hy my genees het toe my nek twee jaar tevore in 'n motorongeluk gebreek het. Ek onthou al die ander gebede wat verhoor is: dat ek steeds kan loop met gekrokte rug en sy spul nagevolge en al. Ek voel weer die gevoel van geborgenheid wat ek in Namibië beleef het as ek soggens op die vreemde plek wakker word - alleen in die huis, omdat Willem iewers besig is met 'n opmeting, Willie en Rachel reeds uit die huis en besig met hul eie lewens. Soggens het ek wakkergeword met die gevoel dat ek soos 'n klein voëltjie snoesig in 'n nessie met vere uitgevoer, bewaak word. Die Here hou my in sy hand vas, en ek het moed vir wat ookal voorlê.

Dokter Sjirurg is baie gaaf, vriendelik en toeganklik. Hy vertel my dat daar in my spesifieke geval nie 'n ander uitweg as 'n volledige mastektomie is nie. Hy waarsku dat borskanker 'n groot emosionele impak op die pasiënt en haar gesin en geliefdes het. Ek stel hom gerus: Ek is nie baie emosioneel van aard nie. Hoe kan hy weet dat ek die mastektomie sal verwelkom? Ek wil die bors nie meer hê nie, want dit bedreig my en die mense wat vir my belangrik is, se gemoedsrus.

Ek vertel hom dat ek so gou as moontlik wil gaan vir rekonstruksie, want ek wil nie onnodig lank herinner word aan die kanker nie. Mense kan die woord nie eers hardop sê nie. Ek dinstansieer myself van 'n lewe as 'n kanker-(of enige ander)pasiënt. Ek sal die tyd wat ek oorhet: miskien 5, miskien 10 jaar, of wie weet hoe lank, as myself leef. Ek wil nie deur 'n siekte gedefinieer word nie. Die siekte met sy simptome en newe-effekte is daar om oorwin te word.

Nou lê die besoek aan die plastiese sjirurg voor. Ek is skaam oor my lyf, en vol vertwyfeling, maar deur hierdie besoek moet ek ook!

Die personeel is baie normaal, vriendelik en gaaf. Ag, hoe lekker om soos 'n mens tussen mense te voel, en nie soos 'n "geval" nie. Ek word nie aangestaar en bejammer oor my ordinêre 50+voorkoms nie. My vooroordele oor plastiese sjirurgie word sommer hier in die wagkamer al die nek ingeslaan.

Prostese moet gekies word. Willem is by. Bitter moeilik vir hom, maar hy hou by sy belofte van bystand deur die botter EN die wors. Ons is nou definitief by die wors.

Grootte is belangrik, vorm en posisie ook. Skoonheid lê in simmetrie. Ja-ja, dit is so, maar ek's nie meer 20 nie, en in 'n bikini of enige swembroek sien jy my nooit weer nie. Ek wil net (met klere aan) goed lyk. Ek probeer hierdie gesprek uitrek, want ek's bang vir dit wat moet volg. Ek trek tevergeefs kleinkoppie vir die volgende stap....

Ondersoekkamer toe. Dokter sit op sy hurke voor my - ek sit op die bed. Kaal bolyf. Hy kyk, korrel en meet. Ek sit soos 'n lam ter slagting. Die klem het nou verskuif van die siekte, na die lewe daarna. Van die wetenskaplike na die estetiese. Van medies wenslik na sosiaal aanvaarbaar.

"Ek moet jou waarsku. Ek kan nie weer vir jou so 'n hangbors gee nie. Die nuwe bors gaan anders lyk as jou linkerbors."

Ek's uit die veld geslaan. Het 'n meer somber, teoretiese opmerking verwag. Voor ek my kom kry, sê ek: "Ek sou so hoop! Anders sal jy nie baie pasiënte hê nie. Ek wil nie weer hangborste hê nie, en die linkerbors moet ook waai - sommer nou al. Ek soek nie later weer probleme nie."

So begin die operasies en die behandeling en die res van my lewe toe.

Ek het nog nie by "Reik na Herstel" aangesluit nie, hoewel ek nou gereed is daarvoor. Ek is egter alweer redelik besig met ander projekte soos Kuierbos Plaasvakansies, die Loural Liefdadigheidstrust, Huis Elsje vir die versorging van persone wat aan Alzheimer se siekte ly, en die Danabaai Dienssentrum.

Soms, veral as die gloede (newe-effwek van chemopilletjies) my teister, onthou ek dat ek kanker het, maar meestal is ek te besig met die lewe om veel tyd aan siektestorietjies af te staan.

My Nuwejaarsvoorneme vir 2009 is om elke dag iets te kry waaroor ek regtig lekker en uitbundig kan lag, en as dit moontlik is, om dit met iemand anders te deel.

My nuwe lewensfilosofie is om elke dag so te leef dat ek nooit hoef te sê ek's jammer ek het 'n dag gemors op onbelangrike dinge nie. Wat belangrik is, is om te LEEF, om God se wonderlike liefde uit te straal, en om iets vir my medemens te beteken. En dis belangrik om te onthou dat ek hierdie pad net eenmaal stap.

My resep om ook die moeilike dele van die pad te bemeester: "Just do it!" (gesteel by Nike)

Tuesday, December 30, 2008

30 Desember 2008 - Willie se eerste sober verjaarsdag! Wat 'n dankbaarheid om dit te kan sê. Hoewel hy ver in Taiwan is, kan ons gereeld met Skype kommunikeer, en dis een groot voorreg en fees. 'n Ouer vra mos niks meer as dat dit goed moet gaan met sy kinders nie - op alle gebiede. Soberheid is 'n goeie en groot begin! Dankie, dankie, dankie!