Dit is vandag Sondag. 'n Dag waarop ek graag in die kerk sou wou wees om God te loof en te prys. Ons is mos in die aanloop na Kersfees - die tyd van die jaar waarop ons naas Paasfees, die meeste aan God se liefde en genade herinner word.
Kersfees, of dan die wêreldse weergawe daarvan, is oral om ons. In die winkels, op advertensieborde, oor die radio en televisie. 'n Mens kan skaars jou oë oopmaak of jy word daaraan herinner dat daar nog net x dae oor is voor Kersfees, en dat die beste winskopies besig is om te vlieg. Die boodskap is: "Maak gou, Sussie, of jy's te laat om jou kersinkopies te doen!" Intussen het die pryse hier aan die kus reeds gestyg in afwagting op die vakansiegangers se bultende beursies.
Ek weet hierdie debat is so oud soos die jaartal, maar is dit regtig waaroor dit vir ons mense gaan tydens Kersfees? Ek glo met my hele hart dat dit nie die hele prentjie is nie. Ons gee immers geskenkies uit waardering vir die Groot Geskenk wat ons uit God se Liefderyke Hand ontvang het op die eerste Kersdag. Dat Hy homself verneder het deur as 'n swakke babatjie na die aarde te kom, om in 'n stal tussen diere gebore te word in 'n tyd toe Herodus die klein seuntjies laat doodmaak het.
So 'n gebaar gebeur nie sommer net nie. Dit verg oneindige liefde en welwillendheid. Te meer as mens in aanmerking neem dat God ons ondankbaarheid en geneigdheid om na die verkeerde kant te dwaal al te goed ken. Hy weet immers van elke gedagte voordat ons daarvan bewus word.
Op Kersdag, so het ons grootgeword, is die tradisie dat kinders en kleinkinders na die oudste direkte familielid gaan, en dat elkeen 'n bydrae maak tot die Kers-ete, wat dan gewoonlik 'n feesmaal van formaat (epidermiese proporsies, soos Oom Oubaas sou sê) was. Net die beste is voorberei en voorgesit. Die tafel kreun onder al die geregte, van warm Europese resepte tot lekker koue kosse wat meer by ons klimaat pas. Kersdag is dan ook die dag waarop kinders maar met nagereg vir ontbyt kan begin. Alles van die mooiste, die beste en die lekkerste! Almal kom op hierdie dag met al die ander oor die weg. Daar word gelag en geskerts dat die berge antwoord gee, want gisteraand se Kersboodskap en die geskenkies wat uitgedeel is, is nog vars in ons geheue.
Ek dink dis goed so. Dis goed dat ons die Liefde van God moet uitdra na ons huis (familie), ons bure (gemeenskap) en dan na die uithoeke van die aarde.
Ek dink egter daar is reeds mense met 'n beter gewoonte! Hulle wat 'n bietjie van die oorvloedigheid van hul eie Kersfees met diesulkes wat nie het nie, deel. Sou die Blye Boodskap nie verder gekom het as ons almal in plaas van 'n ete wat onvermydeklik na die Nuwejaarsvoorneme om gewig te verloor moet lei, liewer 'n lekker, feestelike maal (binne perke) geniet het en dan die oorvloed onder die armes versprei nie? Ons almal ken immers armes wat nader as 'n klipgooi ver van ons af woon en voortworstel.
Moet ons nie in hierdie tyd van wêreldwye resessie en wydverspreide swaarkry, in tye van ongekende natuurverskynsels, storms en droogtes, liewer 'n geskenk uit die hart - selfs tuisgemaak - gee, en die geld liewer aanwend om iemand in nood te help nie?
Kersversierings. Almal van ons het Kersversierings iewers in 'n kas of laai wat wag om gebruik te word. Vanjaar skryf die mode egter nuwe, nie-tradisionele versierings voor: swart en pienk met silwer. Gaan ons die kinders besig hou met die maak van nuwe Kersversierings, of gaan ons winkel toe om nuwes te koop? Gaan ons self saam met ons kinders sit en ontwerp, beplan en saamwerk aan geskenkies en versierings terwyl ons hierdie onkoopbare samesyn geniet, of gee ons vir die kinders geld om te gaan fliek of iets terwyl ons "ongesteurd" wil inkopies doen?
Sien verbygangers ons liefde vir ons medemens en ons dankbaarheid teenoor ons Saligmaker in ons feesvieringe, of sien hulle ons rykdom, goeie smaak en oorvloed?
Hoe kyk die armes na ons? Sien hulle mense wat omgee, wat 'n effense afskynsel van Jesus in hul lewens het, of sien hulle iemand wat alles gee vir meer en blinker besittings en groter bankrekeninge? Is ons geloof sigbaar in ons handelinge, of moet ons vir almal vertel dat ons Christene is? Ek stem met Jakobus saam dat geloof sonder dade nie veel beteken nie.
Hoe sien ons die Kerk van God? Is dit oop vir almal, en probeer ons om ons medemens te laat deel in die vreugde en vryheid van Kindskap van God, of probeer ons om die kerk so eksklusief moontlik te hou waar net die beste en die "heiligste" onder ons welkom is? Besluit ons dalk te maklik dat so-en-so nie in die hemel kan kom nie, omdat hulle dit en dat anders doen as ons? Wat doen ons aan die saak? Getuig ons van Sy Onvoorwaardelike Liefde en Genade vir ons, die sondaars, of veroordeel ons die "ander" - die ouens wat dinge anders doen as ons, wat nie met ons tradisies en gewoontes saamstem en daarby inval nie? Verbied os sekere mense om na ons kerk te kom? Stoot ons kliekerigheid soekendes af, sodat hulle nooit tuis voel in die huis van ons Vader nie?
Van watter god getuig ons lewens: die god van die eie-ek, of die Almagtige God van hemel en aarde, die God wat Liefde is, wat vrylik handel met sy Genade, wat dit wat eers skarlakenrooi was, witter as sneeu kan was.
Kan ons saam met die tollenaar en die prostituut pleit om vergifnis, of word ons daarvan weerhou deur ons ego's en aardse status?
Kom ons vier hierdie jaar Kersfees soos kindertjies aan die voete van Jesus. Kom ons sing met dankbaarheid van sy onverklaarbare liefde en genade, kom ons bid vir vergifnis van ons sondes, en kom ons bely en deel hierdie wonderlike geskenk met ons medemens. Kom ons maak dit vanjaar 'n Christusfees.
No comments:
Post a Comment