Showing posts with label Essensies. Show all posts
Showing posts with label Essensies. Show all posts

Thursday, October 20, 2011

Spore in die sand




Ek dink almal weet hoe rustig en kalmerend, praat nie van gesond dit is om laatmiddag, wanneer die skaduwees so l-a-n-k word, op die strand te stap. Dis mos of mens se siel dan weer die geleentheid kry om saam met die ou liggaam 'n slag diep asem te skep, en te voel hoe die vars seebries al die spinnerakke en ander onsuiwerhede laat verdwyn. Die muwwerigheid wat maar met die tyd in jou gemoed opgebou het, word verdryf, en 'n sprankelende nuwe varsheid kom oor jou.




Sien ek die skulpspoortjies wat so liggies oor die sand lê, besef ek weer dat selfs die kleinste gebaartjie en gedagtetjie 'n merk laat. Hierdie merk kan deur die hoogwater van verootmoediging skoongespoel word, of, as die hart verhard is, soos 'n fossiel in my binneste versteen en later alles wat sag en funksioneel behoort te wees, oorneem en vereelt.


As ek regtig genoeg tyd het, kan ek die voetspore in die sand lees, en verstaan hoe wonderlik die gawe van tweede kanse regtig is.  Waar hierdie diep spore nou lê, sal daar na hoogwater weer 'n skoon stuk strand wees.  Vir my is dit soos gebed en vergifnis saamwerk om elke nuwe dag vir my weer sprankelend en skoon aan te bied. Al wat ek moet doen is om elke dag daardie spiksplinternuwe geleenthede so te benut dat die spore wat ek agterlaat 'n mooi storie van Waarheid vertel totdat hoogwater weer aanbreek om skoon te maak.

As ek omkyk, kan ek my eie spore sien, en dan lê die lang skaduwees agter my.  Voor my sien ek die goud van die ondergaande son. Al die beloftes van rus wat voorlê is daarin opgesluit. So ook die belofte van môre se nuwe begin.

Friday, April 15, 2011

40 JAAR GETROUD: PLAGIAAT

Hierdie brief het my vriendin se man vir haar op hul veertigste huweliksherdenking gegee. Dit sê alles oor die resep vir 'n goeie lewe....

AAN MY VROU, MA VAN MY KINDERS EN OUMA VAN MY KLEINKINDERS.

Dit is 40 Jaar! Nou waar het dit eintlik begin - op die plaas Merino in die Heilbron distrik, op Vereeniging stasie, of in die inry "The sound of music" met cepacol keelseer "sweets"? Waar dit begin het is nie van belang nie. Wat wel van belang is, is die gevolg daarvan. Dit het gebeur in die klipkerk op Heidelberg.

Die familie het die badkamer beset, en ek het nie gebad nie, maar dit is ook nie van belang nie, want jy het dit nie eers agtergekom nie. Met Oom Jordaan se Chev Constantia het ek dit byna nie gemaak nie. Daar was die belofte gemaak wat vandag nog vars en nuut is. Die gevolg hiervan kan bladsye se skryf beslaan.

Met die vertrek na die wittebrood het ek darem R7-00 in my sak gehad. Daarna moes ek nagdiens, en jy in die dag werk, maar dit het nie die uitbreiding van die gesin laat skade ly nie. Dikwels was daar halwe brode gekoop, en ander luukshede was daar maar min. Die Volkswagen (kewer) het ook nie altyd saamgewerk nie, en moes daar gereeld geloop of gestoot word.

Van die woonstel in Heidelberg tot in die huis sonder deure op Kinross - maar ons het oorleef. 'n Druiwemandjie vol avokadopere was op 'n keer ons hoofgereg (3 maaltye). Die geyser het gebars, en ek moes dit self regmaak - val deur die plafon tot in die bad. Daarna moes die Volkswagen se masjien oorgedoen word en die enigste plek was in die kombuis, waarmee jy natuurlik nie saamgestem het nie. Jy kan nie stry nie, dit was die moeite werd.

Nou het die dae maande geword, en die maande jare. In November word Dollie gebore en nou was ons drie. Twee jaar later kom Hantie en is ons toe vier. Nie ver agter haar nie, kom Karen. Daarvandaan is dit na die spookhuis op Goedemoed waar dit heelwat beter gegaan het met die goedkoop vleis, groente en melk. Op 'n koue dag in Aliwal Noord word Daleen gebore. Sy was nommer vier, en nou is ons ses, en ons het besef dat hef-aan lê voor.

Die maan het nie elke nag geskyn nie, en geld vir rose was daar ook nie, alhoewel ek seker was dat daar meer maanskyn-aande was as donkermaan. Dit het met ons baie goed gegaan, maar ons het dit nie elke dag besef nie en het dit soms as vanselfsprekend aanvaar. Deur hierdie tye het ons aan die belofte in die klipkerk vasgehou. Jy was en is nog dieselfde meisie wat ek op die stasie gaan haal het.

Ons het van mekaar verskil, maar op die regte manier, en liefde was altyd die werkwoord. Groot besluite het ons geneem, maar eers nadat ons Leiding gevra het. Ons is geseën met die mooiste en liefdevolste dogters, en al wou ek graag 'n seun gehad het, sal ek nie een van hulle verruil nie.

Vandag het die veertigste jaar verbygevlieg, en ek weet nie hoeveel daar oor is nie. Dankie vir al jou liefde, geduld en verdraagsaamheid, maar die een wat uitstaan is die liefde. Ook vir die wonderlike ouma wat jy is.

Mag die eerste sonsopkoms van die een-en-veertigste jaar en jare wat voorlê die voortsetting wees van 'n tyd vol liefde, gesondheid en geluk. Ek bid en vertrou dat ons soos in die verlede in die toekoms net soveel onverdiende Genade van die Here sal ontvang.

Liefde is die grootste geskenk wat jy kan ontvang en daarom bevestig ek dit op hierdie VIERDE DAG VAN MAART TWEE DUISEND EN SEWE.

LIEFDE

(EK KAN NIKS HIERBY BYVOEG NIE, BEHALWE: WAT 'N VOORREG OM VRIENDE SOOS DIE GESIENE MAN EN SY BEKWAME VROU TE KAN Hê. VIVA DIE HUWELIK EN VRIENDSKAPPE!!!)

Wednesday, November 24, 2010

Kleintyd aangeleer

Wie was nog nooit stomgeslaan deur 'n kleinding se vindingrykheid nie?

Gister het ons ons Bybelstudie vir die jaar afgesluit.  Selfs aan ons kant van vyftig geld die skoolvakansies nog steeds. Miskien selfs meer as voorheen, want nou is dit ons hoogtepunt wanneer ou kennisse, en veral nuwe nasate kom kuier.  Maande vooraf word die spyskaart reeds uitgewerk, en alles wat vooraf gedoen kan word, word vooraf gedoen.  Teen die tyd dat die gaste opdaag, is ons stokflou, maar dan kan ons KUIER.

Die ou klein mensies neem ons heeltemal oor.  Daar hoef nie eers 'n bloedband te wees nie. Ons is mal oor kindertjies. Gee ons 'n halwe kans om van hulle te vertel, en jy kry ons nie weer stil nie!

Bettie moes gister se Bybelstudie open.  Sy lees toe vir ons 'n handgeskrewe boekie, die handewerk van haar 8-jarige kleindogter voor. Die hele Kersverhaal soos wat sy dit verstaan. Dit was kosbaar.
Die engel het aan Maria verskyn terwyl sy besig was om appels te pluk.  Elke gedagte is met prentjies toegelig.
Die ster het eers bokant Herodus se paleis gaan stilstaan, en dis hoe die wyse manne by hom uitgekom het. Hy het hulle toe na Bethlehem gestuur. Josef en Maria het getrou, en toe Maria die nag na Jesus se geboorte in die stal by die Kindjie wakkergebly het, het Josef gaan slaap.

Dit wys dat kinders van kleins af meer oplettend is as wat ons soms besef of verwag.

Klein Philip, Catrien se 5-jarige klein Vrystatertjie, het onlangs saam met sy ouers na 'n nuwe dorp verhuis. Die bure is uiteraard almal vreemd.

Toe daar 'n sjinese oom aan die deur kom klop, het Philip aangeneem dis een van die nuwe bure. Die oom vra toe kos, en Philip sê hy moet net so 'n bietjie wag, hy gaan gou-gou sy ma roep.

Ongelukkig kon hy haar toe nie in die hande kry nie, en toe hy weer buite kom, is die oom besig om in die vullissakke rond te krap op soek na kos.
Philip klim toe maar oor die tuinmuur, en help die oom om in al die sakke vir kos te soek - hy kry dan nie sy ma sodat sy die oom kan help nie.

Die tuinman het Philip daar kom wegneem en gesê dat hy nie met vreemde mense in die sakke kan rondkrap nie, want vreemde mense kan hom kwaad aandoen.

Hiervan wou die klein mannetjie net niks weet nie, want die oom is honger, en hy het hom net gehelp om kos te soek.

'n Mens hoef nie heldersiende te wees om te weet dat Bettie se kinders hul doopgelofte van die begin af nakom en hul kinders in die Here se weë grootmaak, of dat Catrien se dogter altyd kos en tyd het vir honger mense wat haar pad sou kruis nie.

Leef ons almal elke dag so dat die kindertjies maar ons voorbeeld kan volg?

Friday, February 5, 2010

Kom ons lewe

Ons ou klompie hier in Danabaai het in die laaste tydjie onder swaarkry deurgeloop. Nie net ek en Manlief nie, maar in ons hele vriendekring het sake skeefgeloop. Geliefdes is weggeneem, ongenooide siektes het hul verskyning gemaak, die ekonomie knyp, die Suidklaap is 'n droogterampgebied.......

So kan ek aangaan, maar dis nie my doel vir vandag nie. Vandag wil ek God se liefde en sy Almag deel. Hy sê "Julle het nie, omdat julle nie vra nie." en "Julle vra en julle kry nie, omdat julle verkeerd vra".

Is ons skuldig aan kinderagtige "Ek sal self"-gedrag? Ja, ons is, want ons wil nie afhanklik wees en ons nietigheid erken nie. Magteloosheid is mos 'n aanklag teen ons menswaardigheid, en eie belangrikheid. Tog staan ons meestal magteloos wanneer wanneer ons swaarkry. Ons het geen verweer nie. Ons het geen antwoord by die sterfbed, die graf, die droefheid van 'n naasbestaande, of die siekbed van 'n baba nie. Ons kyk met stomme hulpeloosheid na mekaar, en kan in ons menswees slegs onsself en ons gebede vir mekaar aanbied.

God kan genees. Hy kan heelmaak. Hy ken die hoekoms en die waaroms, die verlede, die hede en die toekoms is vir Hom geen geheim soos vir ons nie. Hy word nie vasgevang binne die grense van tyd en plek nie. Hoe kan ons Hom dan bevraagteken?

Hy weet hoe lank hierdie droogte sal duur. Hy weet wat die uiteinde daarvan sal wees. Ons het 17% water in die dam wat ons dorp van water moet voorsien. Ons probeer water bespaar, maar hoeveel kan ons bespaar? Hoeveel liters word daagliks deur verdamping verloor? Hoe lank kan ons die ou watertjie rek? Nie lank genoeg nie.


Dan verootmoedig ons onsself weer voor God. Ons kom weer tot die insig dat ons regtig net maaksels van die Grote en Ware God is, en dat daar niks van ons planne, berekeninge, voornemens, skure-bou en watter plannetjies ookal kan kom as Hy dit nie eerste gewil het nie.

Ons mense laat my dink aan 'n spannetjie kuikens wat ewe vernaam oor die werf rondstap en kossies soek. Wanneer daar egter 'n vreemde geluid of 'n skaduwee oor hulle val, hol hulle vir 'n vale om onder die beskerming van Moeder Hen se vlerke te kom. Nie lank nie, of hulle peul weer ewe manmoedig uit om hul eie paadjie te probeer loop.

Dis mos ook so met klein kindertjies. In 'n vreemde winkelsentrum het Ma al haar dae om Kleinboet onder oë te hou. Om vir hom te sê sy's bang hy raak weg, maak geen indruk nie. Hy weet mos waar hy is... Hier. As hy egter die gedagte kry dat Mamma dalk weggeraak het, is dit 'n ander storie. Hy verander ook vinnig van plan en rigting as hy self agterkom dat hy nie presies op bekende terrein beweeg nie, of as 'n vreemde mens te na aan hom kom. Dan is Ma se bene 'n veilige vashouplek.

Ons maak ook so met God. Ons kom lekker op ons eie reg terwyl ons eintlik weet Hy's daar, eintlik naby, maar sodra ons iets vreemds gewaar, besef ons eers ons het alweer weggedwaal. Dan breek ons amper ons bene om vinnig genoeg weer in sy Skuilte te kan kom.

Ons is neergeboë voor ons God. Ons word platgedruk deur ons skuld en sondebesef. Ons raak weer nederig. Dan neem iemand 'n foto met haar selfoon, en in die hemelruim is die beeld van 'n herder met iets soos 'n lam in sy arms. Is dit 'n teken, is dit net 'n spel van lug en lig op die oog? Is die foto gedokter? Maak dit saak as die uiteinde van die bespiegeling daarop neerkom dat God Homself met ons bemoei?

Hy is nie afhanklik van reën nie, Hy het ons gebede nie nodig nie, as ons swyg kan Hy selfs die klippe laat uitroep - Is Hy dan nie ook in staat om die lug te buig en 'n Beeld vir ons op film vas te lê nie? Kan Hy nie soos van ouds 'n wolk so groot soos 'n man se hand laat verskyn en die droogte totaal breek nie?

Hoe gemaak wanneer ons verbruikers nie meer vir ons diens kan betaal nie, wanneer uitstaande debiteure net meer en meer word, en krediteure in dieselfde situasie as onsself net harder brom en ongeduldiger eis? Gee, gee, gee, en nogmaals gee. Wat kan God in hierdie mensgemaakte krisisse doen?

Hy kan ALLES doen. Geen depressie, resessie of val van markte kan Hom van stryk bring nie. Voordat daar markte en ekonomieë bestaan het, was Hy daar, en het Hy die hele Skepping gemaak - uit niks. Ook ons heilige ou geldjies en die begrip van geld, armoede, rykdom, ekonomie en volhoubaarheid ken Hy deur en deur. Soos Hy die natuur-elemente bestuur, en dit net Hy is wat weet presies wanneer, waar en hoeveel dit gaan reën, so bestuur Hy ook ons ou wêreldjie se ekonomieë, ons wêreldleiers se denkrigtings, ons uitvindings en die aanwending daarvan.

Kom laat ons nie moedeloos raak nie, maar laat ons hoër kyk as ons eie strukture - kom ons slaan ons oë op - hoër as die berge, na waar ons hulp is. Ons hulp is by Hom te vinde wat so magtig is dat Hy ons sonnestelsel tussen sy vingers kan vashou, maar ook 'n verkluimde kuikentjie se gepiep kan hoor, en selfs die getal van die hare op ons kop ken. Hy ken die DNS van elke virus, maar Hy ken ook die omvang van Sy hele skepping. Sal Hy dan nie weet wat die beste vir ons is nie?

Hy ken ons skelmste begeertes - so ook ons grootste behoeftes. Hy ken ons swakheid en ons valsheid, maar ook ons angstigheid en ons nederigheid voor Hom. Hy weet dat ons ons vaskyk teen die konkrete, die hier en die nou; dat ons kan terugkyk om uit die verlede te probeer leer, maar dat ons insig ver te kort skiet. Hy ken ons edele voornemens, maar Hy is ook totaal bewus van ons swakheid as dit by die uitvoer daarvan kom. Hy hoor ons boetedoening, ons smekinge, ons dankgebede en ons intrede vir mekaar. Hy kan sekerlik vir ons lag, maar, glo dit maar, HY HET ONS LIEF.

So lief, dat Hy keer op keer weer neerbuig om ons te red van ons eie vooruitgang en ons eie slimheid en belangrikheid. Hy kom deur sy Woord om ons te leer om net op Hom te vertrou, om alles wat ons nodig het van Hom te vra, om net maar sy gebooie te onderhou en lief te wees vir Hom en vir mekaar. Sien dis die Geheim van die Lewe.

Geen wonderfontein van ewige jeugwatertjies of moeti om elke siekte te oorwin nie. Geen belegging wat ongelooflike dividende lewer nie, geen bemagtigingsaksie wat armoede van die planeet af gaan wegvee nie, geen geleerdheid wat jou in staat sal stel om die heelal te regeer of te verstaan nie. Net kinderlike geloof in God, 'n vaste geloof in sy Teenwoordigheid ook in my lewe, hoop op 'n hereniging met Hom en die wie se tyd voor myne verbygegaan het in die Hiernamaals, en onvoorwaardelike Liefde vir my Skepper, my medemens, en die hele skepping. Respek vir elke atoompie se plek in hierdie wonderlike Skepping. Dis die Geheim van die Lewe.

Kom ons lewe! Dis nie so moeilik nie, dit vra net dat ons met die oë en ore van die geloof kyk, en dat ons die liefdesgebod as maatstaf vir ons doen en late gebruik, en dat ons ons Hoop in alles op die Here van alles plaas.

Sunday, November 29, 2009

Kersfeesgedagtes

Dit is vandag Sondag. 'n Dag waarop ek graag in die kerk sou wou wees om God te loof en te prys. Ons is mos in die aanloop na Kersfees - die tyd van die jaar waarop ons naas Paasfees, die meeste aan God se liefde en genade herinner word.

Kersfees, of dan die wêreldse weergawe daarvan, is oral om ons. In die winkels, op advertensieborde, oor die radio en televisie. 'n Mens kan skaars jou oë oopmaak of jy word daaraan herinner dat daar nog net x dae oor is voor Kersfees, en dat die beste winskopies besig is om te vlieg. Die boodskap is: "Maak gou, Sussie, of jy's te laat om jou kersinkopies te doen!" Intussen het die pryse hier aan die kus reeds gestyg in afwagting op die vakansiegangers se bultende beursies.

Ek weet hierdie debat is so oud soos die jaartal, maar is dit regtig waaroor dit vir ons mense gaan tydens Kersfees? Ek glo met my hele hart dat dit nie die hele prentjie is nie. Ons gee immers geskenkies uit waardering vir die Groot Geskenk wat ons uit God se Liefderyke Hand ontvang het op die eerste Kersdag. Dat Hy homself verneder het deur as 'n swakke babatjie na die aarde te kom, om in 'n stal tussen diere gebore te word in 'n tyd toe Herodus die klein seuntjies laat doodmaak het.

So 'n gebaar gebeur nie sommer net nie. Dit verg oneindige liefde en welwillendheid. Te meer as mens in aanmerking neem dat God ons ondankbaarheid en geneigdheid om na die verkeerde kant te dwaal al te goed ken. Hy weet immers van elke gedagte voordat ons daarvan bewus word.

Op Kersdag, so het ons grootgeword, is die tradisie dat kinders en kleinkinders na die oudste direkte familielid gaan, en dat elkeen 'n bydrae maak tot die Kers-ete, wat dan gewoonlik 'n feesmaal van formaat (epidermiese proporsies, soos Oom Oubaas sou sê) was. Net die beste is voorberei en voorgesit. Die tafel kreun onder al die geregte, van warm Europese resepte tot lekker koue kosse wat meer by ons klimaat pas. Kersdag is dan ook die dag waarop kinders maar met nagereg vir ontbyt kan begin. Alles van die mooiste, die beste en die lekkerste! Almal kom op hierdie dag met al die ander oor die weg. Daar word gelag en geskerts dat die berge antwoord gee, want gisteraand se Kersboodskap en die geskenkies wat uitgedeel is, is nog vars in ons geheue.

Ek dink dis goed so. Dis goed dat ons die Liefde van God moet uitdra na ons huis (familie), ons bure (gemeenskap) en dan na die uithoeke van die aarde.

Ek dink egter daar is reeds mense met 'n beter gewoonte! Hulle wat 'n bietjie van die oorvloedigheid van hul eie Kersfees met diesulkes wat nie het nie, deel. Sou die Blye Boodskap nie verder gekom het as ons almal in plaas van 'n ete wat onvermydeklik na die Nuwejaarsvoorneme om gewig te verloor moet lei, liewer 'n lekker, feestelike maal (binne perke) geniet het en dan die oorvloed onder die armes versprei nie? Ons almal ken immers armes wat nader as 'n klipgooi ver van ons af woon en voortworstel.

Moet ons nie in hierdie tyd van wêreldwye resessie en wydverspreide swaarkry, in tye van ongekende natuurverskynsels, storms en droogtes, liewer 'n geskenk uit die hart - selfs tuisgemaak - gee, en die geld liewer aanwend om iemand in nood te help nie?

Kersversierings. Almal van ons het Kersversierings iewers in 'n kas of laai wat wag om gebruik te word. Vanjaar skryf die mode egter nuwe, nie-tradisionele versierings voor: swart en pienk met silwer. Gaan ons die kinders besig hou met die maak van nuwe Kersversierings, of gaan ons winkel toe om nuwes te koop? Gaan ons self saam met ons kinders sit en ontwerp, beplan en saamwerk aan geskenkies en versierings terwyl ons hierdie onkoopbare samesyn geniet, of gee ons vir die kinders geld om te gaan fliek of iets terwyl ons "ongesteurd" wil inkopies doen?

Sien verbygangers ons liefde vir ons medemens en ons dankbaarheid teenoor ons Saligmaker in ons feesvieringe, of sien hulle ons rykdom, goeie smaak en oorvloed?

Hoe kyk die armes na ons? Sien hulle mense wat omgee, wat 'n effense afskynsel van Jesus in hul lewens het, of sien hulle iemand wat alles gee vir meer en blinker besittings en groter bankrekeninge? Is ons geloof sigbaar in ons handelinge, of moet ons vir almal vertel dat ons Christene is? Ek stem met Jakobus saam dat geloof sonder dade nie veel beteken nie.

Hoe sien ons die Kerk van God? Is dit oop vir almal, en probeer ons om ons medemens te laat deel in die vreugde en vryheid van Kindskap van God, of probeer ons om die kerk so eksklusief moontlik te hou waar net die beste en die "heiligste" onder ons welkom is? Besluit ons dalk te maklik dat so-en-so nie in die hemel kan kom nie, omdat hulle dit en dat anders doen as ons? Wat doen ons aan die saak? Getuig ons van Sy Onvoorwaardelike Liefde en Genade vir ons, die sondaars, of veroordeel ons die "ander" - die ouens wat dinge anders doen as ons, wat nie met ons tradisies en gewoontes saamstem en daarby inval nie? Verbied os sekere mense om na ons kerk te kom? Stoot ons kliekerigheid soekendes af, sodat hulle nooit tuis voel in die huis van ons Vader nie?

Van watter god getuig ons lewens: die god van die eie-ek, of die Almagtige God van hemel en aarde, die God wat Liefde is, wat vrylik handel met sy Genade, wat dit wat eers skarlakenrooi was, witter as sneeu kan was.

Kan ons saam met die tollenaar en die prostituut pleit om vergifnis, of word ons daarvan weerhou deur ons ego's en aardse status?

Kom ons vier hierdie jaar Kersfees soos kindertjies aan die voete van Jesus. Kom ons sing met dankbaarheid van sy onverklaarbare liefde en genade, kom ons bid vir vergifnis van ons sondes, en kom ons bely en deel hierdie wonderlike geskenk met ons medemens. Kom ons maak dit vanjaar 'n Christusfees.