Thursday, October 20, 2011

Spore in die sand




Ek dink almal weet hoe rustig en kalmerend, praat nie van gesond dit is om laatmiddag, wanneer die skaduwees so l-a-n-k word, op die strand te stap. Dis mos of mens se siel dan weer die geleentheid kry om saam met die ou liggaam 'n slag diep asem te skep, en te voel hoe die vars seebries al die spinnerakke en ander onsuiwerhede laat verdwyn. Die muwwerigheid wat maar met die tyd in jou gemoed opgebou het, word verdryf, en 'n sprankelende nuwe varsheid kom oor jou.




Sien ek die skulpspoortjies wat so liggies oor die sand lê, besef ek weer dat selfs die kleinste gebaartjie en gedagtetjie 'n merk laat. Hierdie merk kan deur die hoogwater van verootmoediging skoongespoel word, of, as die hart verhard is, soos 'n fossiel in my binneste versteen en later alles wat sag en funksioneel behoort te wees, oorneem en vereelt.


As ek regtig genoeg tyd het, kan ek die voetspore in die sand lees, en verstaan hoe wonderlik die gawe van tweede kanse regtig is.  Waar hierdie diep spore nou lê, sal daar na hoogwater weer 'n skoon stuk strand wees.  Vir my is dit soos gebed en vergifnis saamwerk om elke nuwe dag vir my weer sprankelend en skoon aan te bied. Al wat ek moet doen is om elke dag daardie spiksplinternuwe geleenthede so te benut dat die spore wat ek agterlaat 'n mooi storie van Waarheid vertel totdat hoogwater weer aanbreek om skoon te maak.

As ek omkyk, kan ek my eie spore sien, en dan lê die lang skaduwees agter my.  Voor my sien ek die goud van die ondergaande son. Al die beloftes van rus wat voorlê is daarin opgesluit. So ook die belofte van môre se nuwe begin.

1 comment:

Anonymous said...

The story and blog you have published is very interesting as well as informatics, Thanks for sharing such type of informatics thing.
Media Transfer App