Showing posts with label Oud en dapper. Show all posts
Showing posts with label Oud en dapper. Show all posts

Wednesday, August 5, 2009

Familiefoto's

Terwyl ek nou-die-dag soek na grafika vir 'n kaartjie, kom ek toe af op hierdie klompie ou foto's wat Swaer Theo skandeer en met ons gedeel het. Die foto's het my skoon nostalgies gemaak, en laat verlang na mense wat ek nie geken het nie, maar wel baie van gehoor het.
Destyds was daar nog tyd om gemoedelik te verkeer, en het die alledaagse dinge nog groot betekenis gehad. Die lewe was nie so erg gejaagd as vandag nie. Daar was nog tyd vir 'n kombersie oopgooi en piekniek hou, vir kitaar speel en poseer vir foto's op daai ou bokskameratjies wat vir ewig gevat het om te fokus, en dan was die glimlag al in sement gegiet, maar foto's is geneem.
Met Skoonma & -pa se troue, moes die blomme met die trein gestuur word - dit was in 1944. Die blomme het nie betyds opgedaag nie, en die dag se foto's is sonder die madonna-lelies geneem. 'n Paar weke later is die amptelike foto's - met blomme en al - geneem. Op die foto hier bo is net die geraamte van die bruidsruiker in haar hande. Dit het egter nie saak gemaak nie, want die twee is vandag nog steeds getroud! Wil gedoen word!!!
Op die foto regs bo sit Skoonma en haar oudste suster, Tannie Kitty. Twee mooie mense was hulle gewis. Language-meisies van Kennedy's Vale. Jane is eers heelwat later gebore, en ek dink nie sy is op een van die foto's nie. Ouma Baby, wat 97 jaar oud geword het, is wel saam met die huwelikspaartjie op die foto net onder die troufoto. Sy staan links langs Skoonpa Willem.
Lekker tye, en nog beter herinneringe.
Posted by Picasa

Tuesday, July 21, 2009

VIR PA

Hierdie blog is gewy aan ouerwordende mense wat diep en ver dink....

My man (Willem)het hierdie brief aan sy broer geskryf en gevra dat dit vir sy pa van amper 93 gelees word na 'n diep gesprek tussen pa en seun tydens ons kuier in Limpopo (sien oudword is nie vir sissies nie).


VIR PA

Pa vra my nou die dag: “Wat gebeur as ons doodgaan?”

Ek sit met my mond vol tande en wonder wat om te sê. Probeer moed in praat vir die laaste skof, want pa is al verby twee en negentig. Kry dit egter nie bevredigend reg nie. Hy sukkel ook om my te hoor en my hart is seer.

By die huis soek ek na antwoorde, maar dit bly my ontwyk.

Vanoggend in die bybelstudie kry ek die antwoord in verskeie samestellings.

In Maleagi 3:16 – 4:3 staan:
“Toe het die mense wat eerbied vir die Here het, onder mekaar geredeneer, en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan.
………………………………..
Hulle sal vir My ‘n kosbare besitting wees die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige.

Ek sal goed wees vir hulle, soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk.
………………………………..
Maar vir julle wat eerbied het vir My Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.
………………………………..”

Dit laat my dink aan die verhaal waar die dokter die baie siek oom in sy spreekkamer ondersoek en die oom sê vir hom hom.
Dokter, ek is bang om dood te gaan! Vertel my wat wag aan die anderkant.
Die dokter antwoord sag:
Ek weet nie oom.
Die oom antwoord:
Jy weet nie, en jy noem jouself ‘n christen!
Op daardie oomblik is daar ‘n gekrap aan die deur, Die dokter staan op en maak die deur oop. Sy hond spring teen hom op, baie bly om hom te sien. Hy draai om na die oom toe en sê vir hom:
Het oom my hond gesien? Hy was nog nooit in hierdie vertrek nie en het ook nie geweet wat hierbinne aangaan nie.
Hy het niks geweet behalwe dat ek hier is nie, maar toe die deur oopgaan het hy sonder vrees ingespring.
Oom vra my wat gebeur. Al wat ek weet is dat my Meester daar vir my wag, en dit is genoeg.

Verder lees ek in Efesiërs 2:8-10
“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op himself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Dankie pa dat pa vir my die pad gewys het!

Willem Knoetze
21 Julie 2009

Tuesday, July 7, 2009