Wednesday, November 24, 2010
Kleintyd aangeleer
Gister het ons ons Bybelstudie vir die jaar afgesluit. Selfs aan ons kant van vyftig geld die skoolvakansies nog steeds. Miskien selfs meer as voorheen, want nou is dit ons hoogtepunt wanneer ou kennisse, en veral nuwe nasate kom kuier. Maande vooraf word die spyskaart reeds uitgewerk, en alles wat vooraf gedoen kan word, word vooraf gedoen. Teen die tyd dat die gaste opdaag, is ons stokflou, maar dan kan ons KUIER.
Die ou klein mensies neem ons heeltemal oor. Daar hoef nie eers 'n bloedband te wees nie. Ons is mal oor kindertjies. Gee ons 'n halwe kans om van hulle te vertel, en jy kry ons nie weer stil nie!
Bettie moes gister se Bybelstudie open. Sy lees toe vir ons 'n handgeskrewe boekie, die handewerk van haar 8-jarige kleindogter voor. Die hele Kersverhaal soos wat sy dit verstaan. Dit was kosbaar.
Die engel het aan Maria verskyn terwyl sy besig was om appels te pluk. Elke gedagte is met prentjies toegelig.
Die ster het eers bokant Herodus se paleis gaan stilstaan, en dis hoe die wyse manne by hom uitgekom het. Hy het hulle toe na Bethlehem gestuur. Josef en Maria het getrou, en toe Maria die nag na Jesus se geboorte in die stal by die Kindjie wakkergebly het, het Josef gaan slaap.
Dit wys dat kinders van kleins af meer oplettend is as wat ons soms besef of verwag.
Klein Philip, Catrien se 5-jarige klein Vrystatertjie, het onlangs saam met sy ouers na 'n nuwe dorp verhuis. Die bure is uiteraard almal vreemd.
Toe daar 'n sjinese oom aan die deur kom klop, het Philip aangeneem dis een van die nuwe bure. Die oom vra toe kos, en Philip sê hy moet net so 'n bietjie wag, hy gaan gou-gou sy ma roep.
Ongelukkig kon hy haar toe nie in die hande kry nie, en toe hy weer buite kom, is die oom besig om in die vullissakke rond te krap op soek na kos.
Philip klim toe maar oor die tuinmuur, en help die oom om in al die sakke vir kos te soek - hy kry dan nie sy ma sodat sy die oom kan help nie.
Die tuinman het Philip daar kom wegneem en gesê dat hy nie met vreemde mense in die sakke kan rondkrap nie, want vreemde mense kan hom kwaad aandoen.
Hiervan wou die klein mannetjie net niks weet nie, want die oom is honger, en hy het hom net gehelp om kos te soek.
'n Mens hoef nie heldersiende te wees om te weet dat Bettie se kinders hul doopgelofte van die begin af nakom en hul kinders in die Here se weë grootmaak, of dat Catrien se dogter altyd kos en tyd het vir honger mense wat haar pad sou kruis nie.
Leef ons almal elke dag so dat die kindertjies maar ons voorbeeld kan volg?
Saturday, November 13, 2010
Antoinette se Beroerte
Dit is mos nou maar so dat mens op hierdie leeftyd al meer in die omgewing van brille en pille rondbeweeg. Die groot maandelikse uitdaging is om die kruideniersrekening en die apteekrekening teen mekaar op te weeg. Na elke verhoging in die brandstofprys, is die kruideniersware duurder, en kos dit mooi beplan om die apteker te betaal. Nader aan die einde van die jaar, is die mediese fonds uitgeput, en moet ons weer van die kosrekening afknyp om vir doktersbesoeke en medisyne te betaal. Niemand wil willens en wetens in die Feestyd siek word, of erger nog, in die hospitaal beland nie. Hoe dan gemaak met die kleinkinders, die kinders, ander familie en vriende wat wil kom kuier?
So kom en gaan die seisoene en so leef ons hier teen die Suidkus met al die getye van die lewe saam. Soms hoogwater, soms laagwater, en so aan.
Antoinette woon ook hier, en moet ook maar soos ons almal rekening hou met die getye en seisoene. Wat haar besonders maak, is dat sy haar naam, wat "Beyond Praise" beteken, waardig is op al die terreine van die alledaagse bestaan. So sing sy in die koor, dien op die kerkraad, neem deel aan ons eie konserte, maak kos en bak koekies, werk vir die sopkombuis, en is sy boonop 'n regte platjie en vol omgee vir haar medemens.
Een Sondag, voor die diens in die konsistorie, voel Antoinette so 'n bietjie dronkerig...duiselig, maar sy steur haar nie te veel daaraan nie. Neem net kennis daarvan. Hier in die regterkantste jare raak mens mos meer bekommerd as jy NIKS makeer nie, want dan moet jy mooi om jou rondkyk voordat jy seker is of jy maar kan ontspan.
Toe Dominee begin preek, raak sy meer bekommerd, want sy kom toe agter dat haar oë nie lekker fokus nie. Sy sien twee predikante, en altwee ewe dof...
Sy besef dat dit 'n beroerte kan wees. Beroerte! Sy moet hier uit! Sy moet by 'n dokter kom! Die hospitaal! Hoe om van voor in die kerk tot agter by die deur te kom, skep 'n probleem. Die alternatief is om verby die preekstoel en deur die konsistorie uit te gaan - dis hoe sy ingekom het.
Tertius. Op 'n manier moet sy haar man,Tertius, se aandag op haar dilemma en haar toestand vestig. Hoe? Dink, Antoinette, dink. Sy wil nie die hele diens ontwrig nie, en Tertius luister aandagtig na die preek. Sy is nogal bang om alleen te probeer opstaan. Sy begin sweet.
Langs haar sit die seun wat by hulle loseer. Hy kom naderhand agter dat iets aan Antoinette 'n bietjie snaaks is, en probeer om haar aandag te trek. Onopsigtelik, natuurlik.
Antoinette is in haar eie dilemma vasgevang, en nie so oplettend soos altyd nie. Sy het ook nie veel aan die diens nie, want haar gedagtes is verstrengel in 'n stryd om oorlewing.
Uiteindelik dring dit asof van ver af tot haar deur dat iemand aan haar stamp. Dis die loseerder: "Tannie, wat is fout met Tannie se bril?"
Haar bril? Antoinette haal die bril af - dit het net een lens!
As elke beroertepasiënt maar so vinnig kon herstel.
As die ekonomie maar so vinnig uit die resessie kon kom.
As is verbrande hout, maar ons kan darem 'n bietjie hitte put uit die lekkerte van die oorvertel en die lag wanneer ons dit weer herkou en rustig nabetragting hou.
Viva! regs van vyftig, Viva! Viva, vele nuanses, Viva!
Saturday, November 6, 2010
Briewe van Ester 2
My geliefde Rachel,
Dit is vandag so 'n mooi sonskyndag, dat ek my verlustig aan die geure en klanke en kleure wat van die straat af opstyg na my sitplek hier op die daktuin waar ek die meeste van my dae deurbring. Ek voel regtig geseën om dit te kan beleef.
Daar was egter ook tye wat nie so rustig was nie. Ek het mos in my vorige brief laat deurskemer dat Mordegai se ore wawyd oop was ten tye van my voorbereiding om die koning te ontmoet. Hy was baie besorg oor sy kleine Hadassa (dis my Joodse naam), wat hy naby sy hart grootgemaak het. Ek dink sy vaderlike instink is die rede waarom hy die dreigende onderstrominge onder die poortwagte raakgehoor het.
Wat hy gehoor het, was dat Bigtan en Teres, albei poortwagte en paleisamptenare, onder mekaar begin mor het dat hulle darem nie na waarde geskat word nie. Hulle het ontevrede geraak met die posisie wat hulle in die hiërargie van amptenare beklee het, en het mekaar so aangepraat dat hul bitterheid die oorhand gekry het. Dag na dag het hulle vir mekaar vertel tot watter mate hulle onderskat en ondergewaardeer word deur die koning. Volgens hulle was die koning nie net sy rykdom nie, maar sy hele bestaan aan hulle te danke. Hulle was op stuk van sake die manne wat verhoed het dat die vyand deur die poorte beweeg om die koning leed aan te doen. Dit was hulle wat hul eie lewe en gemak opgeoffer het tot voordeel van die koning. En wat kry hulle daarvoor? Nee, die toedrag van sake was onaanvaarbaar – totaal onaanvaarbaar. Hulle was ook ontevrede met die lot van koningin Vasti.
Ai, dit is ongelukkig nog deur al die eeue so dat (vermeende) veronregting nie ongestraf wil bly nie. Of daar nou meriete in die gevoel van veronregting is of nie, maak nie saak nie. Die gevoel van ontevredenheid gedy onder aanmoediging, en later is daar net 'n kleine vonkie nodig om 'n grote vuur aan die brand te steek.
So het Mordegai gehoor hoe die twee begin saamsweer om die koning te vermoor. Hulle kon geen ander uitweg uit hul situasie sien as om van die koning ontslae te raak nie. Soos in baie gevalle, het hulle ook nie die saak verder deurdink nie. Hulle was onverbiddelik daarop uit om van die onmiddellike bron van hul frustrasie, die koning, ontslae te raak. Net 'n moord, en niks anders nie, sou hulle tevrede stel. Daagliks het hul frustrasie hoër en hoër opgevlam onder die wind van hul eie negatiewe gedagtes en gemor.
Mordegai, altyd die vader, was doodbekommerd oor die gevolg wat so 'n daad op my toekoms sou hê. Onthou, my volksverband was nog steeds, op Mordegai se aandrang, 'n geheim. As die koning nou onraad vermoed, en agterkom dat sy lewe deur sy eie amptenare bedreig word, en my geheim ook nog moet uitkom, kan niemand voorspel wat die koning se reaksie sou wees nie. Ek bedoel, Vasti se oortreding was slegs dat sy nie voor die feesgangers wou paradeer nie, en sy is haar koninginstatus kwyt.
Arme, bekommerde Mordegai het hierdie dinge met my gedeel, en my aangeraai om die koning daarvan te vertel. Dit sou my posisie geen kwaad doen as die koning se lewe deur my toedoen gespaar sou word nie. En ek het mos nou guns in die koning se oë gehad – die bekendmaking sou eerder ter harte geneem word as dit van my af kom, as wanneer Mordegai, wat nog onbekend was aan die koning, self sou probeer om die koning te waarsku. Daar kon dalk meer samesweerders wees, en hulle sou die saak so kon verdraai dat Mordegai se bedoelinge dalk in twyfel getrek kon word. Niemand sou die koning kon kwalik neem as hy sou dink dat Mordegai net witvoetjie soek by die koning nie, en dat hy om eie belang stories aandra nie.
Ek was intussen nog steeds gehoorsaam aan Mordegai, selfs al was ek nou in so 'n bevoorregte posisie.
Ek het die berig aan die koning oorgedra, en ook gesê dat my voog, Mordegai, dit eerstehands in die stadspoort gehoor het.
Soos jy jou kan voorstel, was dit nie vir die koning maklik om so iets van sy poortwagte, wat tog aangestel is ter wille van sy veiligheid, te glo nie. Hy het die gerug egter nie net afgemaak as 'n storie nie, en ondersoek na die saak laat instel. Dit was 'n gespanne tyd vir Mordegai, wie se geloofwaardigheid op die spel was, en vir my ook.
Die ondersoek het aan die lig gebring dat die berig waar was, en die twee samesweerders is skuldig bevind, en aan die galg opgehang. So het dit dan gekom dat Mordegai die koning se lewe gered het.
Al hierdie dinge is in die annale van die koninkryk neergeskryf, en sou vir ewig daar geskryf staan. Die koning was self teenwoordig by die opskryf van hierdie storie, en sou dit onthou.
Dit was gelukkig vir myself en vir Mordegai dat hierdie saak so afgeloop het, want daar was nog 'n slang in die gras….
Haman,die seun van Hammedata, 'n Agagiet, was ook onder die paleisamptenare. Hy was 'n baie ambisieuse man, en sou enige iets doen om homself en sy eie belangrikheid te bevorder.
Ja, jy herken sy naam. Dit is inderdaad dieselfde Haman wie se huis nou my huis is. Hy het ook baie kere op hierdie selfde dak gesit en sy oë oor die stad laat gly. Anders as ekself, was hy egter nie tevrede met sy plek in die lewe nie, en het hy met mag en mening altyd hoër en hoër gebeur. Hy kon net nooit tevrede voel met sy posisie in die koninklike huishouding nie.
Vandag is dit nog net so. Daar is baie mense wat voel dat hulle nie na waarde geskat word nie, dat hulle misgekyk word, dat hul talente en hul bydraes tot die samelewing geringgeskat word. Sulke gedagtes is 'n vrugbare teelaarde vir jaloesie, nyd, en soos met Bigtan en Teres, selfs moordgedagtes….
Nou is my goeie bui van vanogend sommer daarmee heen. Ek het heeltemal in die verlede verstrengel geraak. Ek moet nou eers weer iets aktiefs doen om my eie gedagtes te suiwer, en sal op 'n volgende keer meer uitbrei oor die weg wat Haman geneem het om homself en sy eie eer te bevorder.
Ek dink ek gaan 'n paar vye pluk, en myself met die soet heerlikheid bederf.
Ek onthou 'n ou seën wat oor die gehoorsames aan die Here uitgespreek is. Dit is opgeteken in Deuteronomium28:1 – 8. Ek wil dit graag met jou deel.
"As jy goed luister na die Here jou God en jy gehoorsaam al sy gebooie wat ek jou vandag gee, en jy lewe daarvolgens,sal die Here jou God jou oor al die nasies van die aarde stel.
As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.
Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld.
Jou nageslag sal geseën wees, en die opbrengs van jou lande en die aanteel van jou diere, jou kalweroes en jou lammeroes.
Jou oesmandjie en jou knieskottel sal geseën wees.
Jy sal geseën wees waar jy ook gaan.
Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.
Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy jou gee."
Jou mede-begenadigde
Ester
Thursday, October 21, 2010
Briewe van Ester aan Rachel 1
My liewe Rachel,
Ja, ek het 'n baie opwindende en buitengewone lewe. Hier sit ek nou op die dak van my "eg koninklike huis" en terugdink aan my jare hier in die dorp Susan. Hierdie huis was vroeër mos die eiendom van Haman…..
Ek kan skaars glo dis my lewe wat deur my herinneringe voor my geestesoog afspeel. Ek dink daar sal nog dikwels sprokies oor hierdie soort lewe geskryf word. Die verskil is net, my storie is die waarheid.
Ek was mos 'n weeskind. My ouers is dood toe ek nog baie klein was, en ek is toe,volgens ons Joodse gebruik, deur my neef, Mordegai, wat baie ouer as ek was, as sy eie kind aangeneem en grootgemaak. Ek was baie gelukkig in Mordegai se huis, en hy was baie goed vir my. Die mense was almal gaande oor my skoonheid – ja, ek was 'n baie mooi meisie, en mense het maklik van my gehou. Ek was ook gehoorsaam aan Mordegai.
Mordegai was die seun van Jaïr, my pa (Abigajil) se broer. Jaïr was weer die seun van Simi, my oupa, en hy was 'n seun van Kis uit die stam van Benjamin. Dis hier waar ons verwantskap sy oorsprong het. Jy is vernoem na jou oergrootjie, die skone Rachel, wat Jakob se vrou en die moeder van Josef en Benjamin was.
My grootste avontuur het begin toe ek in die koninklike paleis hier in Susan kom woon het. Alles in Koning Ahasveros se paleis was eg koninklik. Elke enkele item moes net die beste, die mooiste en van die hoogste gehalte wees. Ook reg so, want hy was op stuk van sake 'n baie groot en belangrike koning. Sy word was wet, en sy geringste begeerte was 'n bevel.
Maar, laat ek eers vertel hoe ek onder die koning se aandag (en oë) gekom het. Dis al klaar soos 'n sprokie…
Die koning het 'n groot fees gehou om sy grootheid ten toon te stel. Dit was in die derde jaar van sy bewind, en al sy hoë amptenare en ander in sy diens is na die fees genooi. Nou moet jy onthou dat Koning Ahasveros oor eenhonderd sewe en twintig provinsies regeer het. Sy koninkryk het gestrek vanaf Indië in die Ooste tot by Kus in Afrika. Julle moderne mense sal seker praat van Ethiopië. Die land het ook op 'n tyd as Nubië, en Abbisinië bekend gestaan. Die mense van Kus was swart van kleur, en het van die vroegste tye as akrobate die monde laat oophang. Hulle was baie gewild by die feeste wat deur die farao's gehou is waar hulle vermaaklikheid verskaf het. Ek dink hul vermoeëns is deur sommiges as towery beskou….
Ek val myself alweer in die rede. Vergeef tog Rachel, want ek is oud, en my gedagtes dwaal maklik.,
O ja, die partytjie! Dit was 'n fees der feeste! Geen geld of moeite is ontsien om die koning se mag en rykdom ten toon te stel nie. Elke belangrike persoon was daar – 'n regte "who's who" geleentheid. Van die leëroffisiere van Medië en Persië af was al die hooggeplaastes teenwordig.
Eers is al die rykdom uitgestal vir almal om te bewonder – 'n hele ses maande lank!! Daarna is 'n onthaal vir 'n week lank in die paleistuin gehou en almal, groot en klein, was welkom. Oe, dit was 'n feestelikheid soos jy jou nie kan indink nie. Daar was behangsels van wit en bloedrooi linnedoeke wat met pers linnetoue deur silwerringe aan marmerpilare vasgemaak. Silwer- en goue rusbanke het oral op 'n plaveisel van vier soorte kosbare klip rondgestaan. Wyn is bedien in goue bekers van verskillende ontwerpe, en daar was 'n oorvloed van kos en koninklike wyn – soos 'n mens van so 'n vername koning kon verwag.
Die koning se opdrag was dat niemand gedwing moes word om te drink nie, maar die paleisbediendes moes aan elkeen bedien waarvan hy gehou het.
Intussen het Koningin Vasti die vroue in die paleis onthaal. Hier het dit net so spoggerig gegaan. Jy weet mos dat ons nie gemengde partytjies gehou het nie. Die vroue het die beeldskone koningin bewonder, oor hul mans, kinders en bediendes gesels,'n bietjie geskinder, en daar was selfs hier en daar 'n venynigheidjie te bespeur. Alles baie feestelik, en baie beskaafd!
Nou-ja, soos dit met sulke feeste gaan, bly die moeilikheid mos ook nie weg nie. Op die sewende dag, toe die koning al baie vrolik was van die wyn, wou hy nog meer spog. Hy wou met die skoonheid van Koiningin Vasti ook spog, en het sy sewe paleisbeamptes geroep, en hulle beveel om die koningin, met haar kroon en al die fyn klere en juwele aan, te bring sodat hy vir al sy amptenare kon wys hoe mooi sy is.
Koningin Vasti het geweier. Sy sou nie soos 'n besitting uitgestal word nie – en veral nie op die sewende dag as omtrent almal al te veel gedrink het nie.
Die koning was woedend en verneder. Hoe durf Vasti dit waag om sy bevel te verontagsaam, en dit nogal voor al sy hoë amptenare? 'n Dronk man aanvaar nie vernedering nie, en 'n magtige dronk man se vergelding het nie perke nie. Wat toe gebeur het is dat hy sy adviseurs gevra het wat hy nou moes doen. Hierdie adviseurs was regsgeleerders en ander hoës (ook getroude mans).
Die adviseurs, wat verteenwoordigend van die provinsies was, het toe gekoukus en tot die slotsom gekom dat hulle vrouens nou ook respek gaan verloor vir hulle, en koningin Vasti se voorbeeld gaan volg, en dat hulle dan in die oë van hulle onderdane ook bespotlik gemaak sou word. Dit sou nie deug nie – 'n voorbeeld sou van Vasti gemaak moes word…
Hulle het toe vir die koning aanbeveel dat koninging Vasti nooit weer voor die koning mag verskyn nie, en dat die koning haar as koninging vervang deur iemand wat haar beter sou gedra. Hulle het verder aanbeveel dat hierdie bevel 'n onherroeplike wet van Medië en Persië sou word.
Dit is toe ook so gedoen. Briewe is na al die provinsies gestuur, na elke provinsie in sy eie skrif en na elke volk in sy eie taal. In hierdie briewe het gestaan dat elke man moet baas wees in sy eie huis en moet optree volgens die gebruik van sy volk.
Die koning se woede het later, heelwat later, afgekoel, en hy het na koningin Vasti verlang. Hy het weer sy amptenare bymekaar geroep en hierdie keer was hul raad dat hy vir hom al die mooi meisies moet laat soek. Uit elke provinsie moes die amptenare die mooiste meisies na die vestingstad, Susan, stuur. Hier sou Hegai, die paleisbeampte oor die koning se vrouens, oor hulle toesig hou. Hierdie meisies moes dan skoonheidsbehandeling ontvang waarna die koning vir hom 'n nuwe koningin moes uitsoek.
Die koning het gedink dis 'n baie goeie plan en so 'n bevel uitgevaardig. 'n Groot klomp meisies het in die stad Susan bymekaar gekom en is onder die sorg van Hegai geplaas. Ek self is ook na die paleis toe.
Hegai het baie van my gehou en ek was vir hom mooi. Hy het my sommer dadelik die nodige skoonheidsbehandeling laat kry en die regte dieet laat volg. Ja, daar is geen steen onaangeroer gelaat om ons op ons mooiste en beste te laat vertoon nie. 'n Totale "make-over" was elke kandidaad se beloning.
Ek is ook na die beste deel van die vroue kwartiere verskuif, en het die sewe beste kamerpersoneellede tot my beskikking gehad.
Ek het vir niemand vertel dat ek 'n Jood is nie omdat Mordegai my verbied het om dit te doen. Mordegai, my besorgde voog, het elke dag op en af gestap voor die vroue kwartiere om uit te vind hoe dit met my gaan en vas te stel wat met my gaan gebeur.
Hierdie skoonheidsbehandeling het 'n jaar geduur! Ja, regtig: ses maande met mire-olie en die ander ses maande met aromatiese kruie en ander skoonheidsmiddels. Ons is ook opgelei in die etiket en protokol van die tyd. Dit sou nie deug dat die nuwe koningin ook 'n verleentheid vir die koning kon wees nie. Nee, daar is seker gemaak dat ons presies sou weet hoe om ons in enige situasie te gedra. Om 'n koningin te wees, is nie net glans en plesier nie, hoor! Ons moes ook iets van die politiek en die koning se regeerstyl weet, sodat ons kon saampraat.
Na afloop van die jaar het elke meisie 'n beurt gekry om voor die koning te verskyn. Wanneer dit haar beurt is om na die koning se paleis toe te gaan, kon elke meisie alles saamvat wat sy wou. Elke meisie is in die aand na die paleis, en die volgende oggend na die tweede stel vrouekwartiere waar Saäsgas die toesighouer oor die byvrouens was. As sy eers hier was, kon 'n meisie nie weer voor die koning verskyn, behalwe as hy haar ontbied het nie. As jy by Saäsgas se groepie uitgekom het, moes jy weet jy't nie die eerste prys – om die volgende koningin te word - gewen nie.
Toe dit my beurt was om voor die koning te verskyn, het Hegai my voorgesê wat ek van die koning kon vra. (Ek was mos sy gunsteling onder die meisies, en hy het my spesiaal goed voorberei op my onderhoud met die koning.) Ek het niks meer gevra as wat hy voorgestel het nie.
My verskyning voor die koning was in die maand Tebet, die tiende maand van die sewende regeringsjaar van koning Ahasveros. Die koning het meer van my gehou as van enige van die ander meisies, en het my gekroon as koningin in die plek van Vasti.
Ons het weer fees gehou – hierdie keer om my as nuwe koningin te vereer. Al die amptenare en onderdane se verpligtinge is verminder en die koning het geskenke uitgedeel met koninklike vrygewigheid. Die hele koninkryk was in feestelike vakansiestemming, en het na hartelus meegedoen aan die verrigtinge!
Ek kan nie vir jou beskryf hoe dit gevoel het om skielik so belangrik en so gesog te wees en so op die hande gedra te word nie. Dit was byna te goed om waar te wees. Ek het egter onthou hoe en waarom die "vakature" vir koningin ontstaan het, en het die hele tyd geweet dat my nuwe posisie van die koning se goedgesindheid en tevredenheid afhanklik was. Dan was daar ook nog my geheim – ja, my Joodskap was steeds geheim.
Dit is hoe ek in die paleis beland het.
Dit is egter nie al wat in daardie jaar gebeur het nie. In my volgende brief sal ek vertel wat Mordegai agtergekom het terwyl hy so begaan was oor my welstand, en voor die paleis gewaak het.
Aangesien hy elke dag in die omgewing van die vrouekwartiere was om 'n ogie oor my te probeer hou, het hy baie grepe van gesprekke en brokkies nuus te hore gekom.
Nou gaan ek eers rus, wanr ek het nie tred gehou met die tyd nie. Ek was so verdiep in my eie gedagtes, dat die dag onder my uitgeglip het.
Mag dit met jou goed gaan, en mag die Here jou pad gelyk maak.
Ester (Hadassa).
Thursday, August 19, 2010
Kommissievergadering
Met die terugkeer, slaap ons op 'n klein dorpie oor. Vir aandete gaan ons saam met die familie na die plaaslike gastehuis waar ons tydens 'n vorige besoek al baie familiêr geraak het met die eienaars - sulke gawe mense.
Met die intrapslag - dit was 'n baie koue Hoëveldse aand - mik ons geselskappie sommer dadelik vir die deel van die restaurant waar die kagel heerlik brand. Die snoesigheid van die kaggelvuur, en die gedagte aan 'n lekker glasie sjerrie om die bloed warm te kry voor 'n heerlike ete laat die bewerige lywe amper gloei van lekkerte.
Net voordat ons die deure oopstoot om in te gaan na waar 'n redelike groot groep mense gesellig sit met glasies "verwarmers", kom twee van die manne uit om ons voor te keer.
"Ons is jammer, maar julle kan nie vanaand hier inkom nie, ons hou vergadering", sê Nommer Een. Ek is al klaar tuis, en neem aan Meneer maak 'n grappie, en daarom bied ek ewe luimig aan om die notule te hou. Tot my verbasing lyk dit asof die man nie mooi verstaan wat nou met my aangaan nie.
Dis toe regtig 'n vergadering wat 'n aanvang neem.
Die ander tafels is in die koue, want daar moet mos vir die somer ook voorsiening gemaak word. DILEMMA.
Na 'n bietjie boere-onderhandeling word ons tot die warm vertrek toegelaat op voorwaarde dat ons nie sal kla as ons nou die besprekings ter ore kom nie. Ons kry ons eie tafel, en aanvaar alle voorwaardes. Niemand het gesê dat ons nie gehoor mag word nie...
Met verloop van tyd kom ons agter dat hierdie 'n kommissievergadering is van die plaaslike gemeente. Die kommissie moet geld insamel om die kerkterrein op te knap. Daar was ook 'n veldbrand wat die terrein nog meer onvriendelik maak vir die be-oogde potjiekoskompetisie.
Sonder dat ons dit so bedoel het, word ons toe deel van die kommissievergadering - veral toe 'n neef van Willem ook later daar aankom met planne en bydraes.
Eerste om in te val was de manne in ons geselskap. Elkeen kan 'n bydrae lewer, of 'n plan ondersteun.
Ek moet nou bely: ek was lank op verskeie kerkrade as diaken, en later ook as ouderling (vrouderling), maar nog nooit het ek so 'n gesellige vergadering beleef soos hierdie plattelandse ene nie.
Die kommissielede is almal in goeie luim. Om die koue te verdryf word 'n bottel OBS asook 'n groterige kan wyn sirkuleer, en elkeen is intens betrokke by die bespreking en beplanning.
Van die items wat bespreek is, was die grootte van die stalletjies - minstens 4mx5m; die verskillende stalletjies: 'n waterstalletjie, ander eetgoed, handwerkies, houtwerk, "quad-bike baan", windbuksskiet, kuttel-verspoegkompetisie en alles waaroor mens kan dink.
Met die bespreking van die laasgenoemde kompetisie kon ek nie meer stilbly nie, en wys die vergadering toe hier van my hoek af op die gepaste benaming (veral in kerkgeledere) vir die soort kompetisie. Volgens my sal kerkmense nie praat (of erger, adverteer, van 'n bokdrolverspoegkompetisie nie. Na my beste wete is die beskaafde naam vir daai missies, kuttels. Uit ondervinding kan ek darem saamstem dat koedoe-kuttels verder trek as springbokmis, as gevolg van die groter gewig. Ek weet ook dat 'n snor die spoegaksie kan belemmer, maar wil myself darem nie te slim hou nie, ek is "after all" 'n vreemdeling in hul midde. Ek word bedank vir my deelname, maar my woord maak nie indruk nie.
Ook 'n biertuin word beplan. Die voorsitter sê dat hy aan die ringkoppe van die Kerkraad genoem het dat daar een van twee keuses was: Of die besoekers en deelnemers word toegelaat om eie drank in te bring - vir gebruik met die ete (potjiekos), of die kommissie moet self drank verkoop. Na deeglike oorweging het die Kerkraadslede besluit dat hulle net sowel die fondse verder kan styf deur self drank te verskaf - dis mos alles ten bate van die opgradering van die Kerkterrein.
Later word pryse en die fyner detail van die dag beplan. Kondensmelkspuite vir diegene in die 18- ouderdomsgroep kan 'n vet wins toon. Aangesien daar ook mense in die 18+ groep (die uwe ingesluit) is wat van kondensmelk hou, kan daar aan diesulkes 'n mengsel van vodka en kondensmelk in 'n spuit verkoop word - groter wins. Die biertuin kan op die ou einde ook 'n aantal van die kompetisies se pryse ook verskaf.
Die oorspronklike planne wat beraam word om die roet van die veldbrand weg te blaas, en om die grassies weer te laat uitspruit was op sigself inspirerend genoeg om die aand die moeite werd te maak. Ai, die platteland, my hart se land!
Op 4 September gaan hierdie Potjiekoskompetisie plaasvind. As jy jou iewers in die Noord-ooste van ons land bevind - besoek hierdie okkasie vir 'n baie stimulerende ervaring. Ek is so jammer dat ek nie weer die tog kan aanpak nie.
Vir nou is die herinnering aan hierdie vergadering sommer lekker genoeg om my deur 'n klomp koue aande te help.
Wednesday, July 21, 2010
Vleis 2010
Ons familie se vleislus vlam mos elke jaar met die naderende koue ernstig op. Terselfdertyd begin ons saans so koud kry, verveel die lang aande ons elkeen by sy eie huis, en kan ons aan geen rede dink waarom ons nie karoo toe kan gaan nie.Die volgende geslag maak solank allerhande planne vir die verwerking van die vleis - goeie rookskerm vir die GROOT KUIER. Stories en staaltjies, kwinkslae en allerhande gevatte sêgoed word afgestof en blink gevryf vir die okkasie.
Die derde geslag se aandag is op heel ander plekke. Die niggies is op die oomblik baie anti-vleis. Eet vegetaries, gril vir die reuk van vleis, en sal liefs nie die hande daaraan waag nie. Hierdie jaar het die tweetjies liewer op die dorp gebly - veilig ver van die banale werk en lekker naby die beskawing van flieks, maters en TV.
Rachel, die enigste getroude niggie kon dit nie maak nie, want daar is 'n spertyd vir die een of ander groot projek by haar werk. Verder woon hulle 8 ure se ry van die plaas af - 'n naweek is net te kort.
Die neefs se oë blink by die gedagte aan die jag. Om met vleis te kan werk, moet daar eers gejag word! Die beeste en die vark is in die voorafgaande week geslag sodat die vleis kan ryp word, maar springbokke en koedoes moet gejag word.
Skaapvleis bêre ons vir die res van die jaar.
Hierdie jaar het Stefan met die louere weggeloop. Hy het die grootste koedoe geskiet.
Oupa se groot reël is - geen gekweste dier word gelos nie, en daar mag nie sonder 'n knaldemper geskiet word nie, want hy wil nie die diere verskrik nie.
Nou is ons terug, met genoeg om aan te kou(vleis, biltong, droë wors, sosaties) en te herkou (herinneringe) tot volgende winter...
Nuwe Stadion in Kaapstad
Selfs die parkeerterrein was leeg. Die Moederstad is darem regtig 'n lus vir die oog.



