Friday, April 8, 2011

Magog - Skinderstorie oor 'n dooie

Magog was sy bynaam. Dit was 'n baie gepaste bynaam, verseker sy familie my.

Magog het gestam uit 'n gewone ordentlike Afrikaanse familie met die tradisionele Christelike waardestelsel en beginsels. Magog se "andersheid" het juis in sy oortuigings gelê.

Magog het hom min gesteur aan reëls en regulasies, wette en ordonansies, protokol en etiket. Om die waarheid te sê, hy het elkeen van die bogenoemde as 'n uitdaging gesien.

Sy naasbestaandes vertel dat hulle nie juis kan sê watter van die wette, reëls of beginsels Magog nie gebreek het nie. Hulle kon definitief nie aan iets wat vir hom onaantasbaar sou wees, dink nie.

Daar was volgens sy eie oortuiging net twee goed wat 'n mens moes doen - die res was opsioneel. Die twee moete in sy lewe was dat hy moes eet, en dat hy dan weer van die oortollige moes ontslae raak. So maklik soos dit.

Hy was nie juis 'n gereelde gas by familiebyeenkomste nie, en het nie as 'n reël by spesiale familiedae en ander funksies uitgekom nie. Dit was mos opsioneel. Wanneer hy egter wel by sulke geleenthede sou opdaag, was dit opspraakwekkend!

Hoewel Magog miskien glad nie op die hoogte was van gebeure en so aan in sy familie nie, het gerugte en stories betreffende Magog se doen en late baie gereeld by sy mense uitgekom. Hulle het kopgeskud, gewonder na wie hy sou aard, heimlik gewonder of die soort lewe dalk so aanloklik kon wees as wat dit soms lyk, en dankbaar saamgestem dat daar darem net een Magog in die familie was.

Hoe sy stomme ouers alles sou verwerk, was 'n hartseer saak, en daarom was almal maar dankbaar-tevrede dat die twee reeds "vooruitgegaan" het.

Op 'n dag kom daar 'n berig deur dat Magog oorlede is, en uit die kerk in die klein boeregemeenskappie begrawe sou word. 'n Wonderwerk, maar ook effe ongelooflik.

Dis dan ook geen wonder dat Magog se begrafnis 'n grote, en baie goed bygewoon, was nie. Almal wou net kom seker maak.....

Toe die gerug die rondte begin doen dat Magog se laaste woorde was dat hy gereed en tevrede is om te gaan, was almal meer as verstom en verbaas!

Hulle wou, maar kon nie glo wat hulle hoor nie, en die ergste was, dat hulle nie kon uitwerk hoe en op watter manier Magog by daardie tevrede oorgawe uitgekom het nie. Daar is gefluister en gewonder, en vraend rondgekyk, maar almal moes maar wag vir dominee.

Dominee se afskeid van Magog was 'n roerende een - vol lof aan die Here en danksegging daarby! Want sien, in sy laaste dae het Magog, so op sy eentjie, met miskien 'n paar insette van 'n gewaardeerde vertroueling, of meer waarskynlik: direkte ingreep van Bo, tot die besef gekom dat sy lewenskeuses toe nie enduit so lekker gewerk het nie. Magog het opreg berou gekry oor die wandade waaraan hy regtig skuldig was; oor die snaakse dinge wat sy reputasie andersins in goeie mense se gedagtes laat kruip het; oor die moontlike onskuldiges wat deur sy reputasie, wat in elk geval meters groter was as hyself, op 'n dwaalweg gelei is. Hy is met die dominee se medewete, met 'n afgelosde skuldlas begrawe - daarom die vreedsaamheid in sy gemoed.

Die vraag bly egter. Wat het met Magog gebeur dat hy so drasties omgedraai het? Niemand weet nie. Almal wat regtig vir hom omgegee het, of vir sy gesinslede, is egter nederig dankbaar.

Soos Magog se lewe vol vrae was, is hy ook weg met baie vrae. Die verskil is net dat die vrae nou andersom is. As Magog besef het die wye pad lei na nêrens, moet dit die moeite werd wees om op smalle weg te bly....

Magog se grafsteen pryk met sy doopname - die Magog van die aarde het net hier gebly. Toe hy 'n ontmoeting met Jesus gehad het, was hy weer gereed om opnuut gebore te word....

Wednesday, January 5, 2011

Huldeblyk aan Oupa Lou

Ons dank, lof en eer aan God ons Hemelse Vader wat ons geseën het met die lewe van ons man, pa en oupa, LOURENS ANDRIES STEPHANUS VAN ASWEGEN, vir 79 jaar, 4 maande en 25 dae. Vir ons is dit betekenisvol dat hy juis op Kersdag teruggeroep is Huis toe.

Ralie , die kinders en kleinkinders

Oupa Lou

Hoe begin mens om Oupa Lou in woorde vas te vat? Lourens Andries Stephanus van Aswegen is op 31 Julie 1931 in Vereeniging distrik gebore. Hier het hy ook grootgeword, en later op Potchefstroom sy skoolopleiding in Engels afgesluit. Na skool het hy eers as betaalmeester by Yskor gewerk, maar die boerdery het hom geroep. In sy wese en sy hart was hy eintlik heeltyd 'n boer.

Boerdery het hom na Hekpoort geneem, waar hy en Ma met draadspan en huisbou begin het. Later jare het die droogte hom verdryf, en het hy vir 'n klomp jare by die Harbeeshoek Radioruimte-navorsingstasie gewerk, en baie vinnig opgang gemaak. Ons kinders het gedink dat alle pa's wat ander werk as boer ook doen, deur NASA betaal word, en volksvreemde kollegas huis toe bring wat wonderlike stories kan vertel. Ons het ook gedink alle pa's studeer wanneer hulle nie werk nie, en dat alle ma's mens met 'n "Sjuut, Pappa Leer" groet as jy luidrugtig van die skool af kom.

Nadat die SA Poskantoor die satelietstasie oorgeneem het in die 70's, is Pa en Ma Vryheid toe. Hier het hulle met beeste geboer, en baie goed gedoen. So met die tyd het pa 'n hele aantal plase daar besit. Rassespanning het begin kop uitsteek, en Pa en Ma het toe in 1988 Suid-Kaap toe gekom, waar hulle weer 'n "rou plaas" gekoop, dit Fynboskruin gedoop, en begin verbeter het. Pa se droom was om hierdie plaas te ontwikkel in 'n aanwins vir die Suid-Kaap, maar hy kon nie toestemming daarvoor kry nie. Die plaas is toe goed verkoop, en Pa en Ma het Rodgerstraat, dorp toe getrek.

In die dorpshuis het Pa baie aandag aan sy sakebedrywighede gegee, maar nie van boerdery afgesien nie. Die plase Hopewell by Graaff-Reinet en Rietvlei by Gouritzmond getuig van sy liefde vir die grond.

Pa was self 'n man met baie interessante stories, en hy kon in elke geselskap aanpas, en onderhou-dend en boeiend gesels. Hy het belanggestel in elkeen se storie – van die bedelaar wat sy gediggies saambring, die boer wat gis oor die oesskatting, tot die professionele konsultant, die predikant en die musikant. Hy het 'n onblusbare nuuskierigheid gehad – nie net oppervlakkig nie, in detail wou hy van alles weet.

Mense sê dat Pa respek afgedwing het wanneer hy met sy twee krukke in 'n vertrek instap. Sy gesag het soos 'n mantel om hom gehang.

Hy en Ma was 'n onverskrokke en onverdeelbare span. Selfs in die dae toe hulle deur die polisie in hulle eie huis opgepas moes word omdat hulle doodsdreigemente ontvang het, het hulle die humor in die situasie raakgesien, en was dìt waar die klem met die oorvertelling geval het.

Op sy kleinkinders was hy erg trots. Hoewel hy baie streng met hulle was, en hulle niks oorgesien het nie, sodat dit soms maar moeilik was om aan hom verwant te wees, was die bedoeling altyd suiwer tot voordeel van die kind. Willie se gedigte en filosofiese stukke en oorsese werk, Rachel se vasberadenheid, haar ysere wil en haar raakvat, Lou se handigheid en hardwerkendheid, Maxie se akademiese mylpale en openheid, Mari se koorsang en haar welsprekendheid, Stefan se skool- en sportprestasies en Philip se ondeundheid en agterplaasboerdery was vir Oupa ewe belangrik. Hy het egter baie klem op akademiese prestasie geplaas, en elkeen se heel beste van hom/haar verwag.

Pa het homself as 'n sakeman beskryf, maar hy was veel meer as dit. Vir Ma was hy die rotsvaste man wat alle situasies kon hanteer en ten goede kon omkeer, vir ons kinders was hy oral, en het hy van alles geweet . Vir die kleinkinders was hy 'n bron van humor, 'n kwaai sedebewaarder en beskermer van morele waardes, en 'n helpende hand in tyd van nood. Vir diegene wat nie geweet het van sy harde werk, deeglike navorsing oor elke ding, en intense insette nie, het hy die "Midas-touch" gehad.

Vir vriende was hy 'n gesellige maat, vir die gemeenskap 'n weldoener. Hy en Ma het sonder om enige iets terug te verwag, gesorg vir die oprigting van Huis Elsjé (vir Alzheimerlyers) hier by Heiderand en ook 'n Liefdadigheidstrust geskep waaruit ander gehelp kan word. Hieruit is 'n paar ouerlose kinders gehelp om te studeer, voedingsprogramme finansieel bygestaan, 'n versorgingsoord aangekoop om Huis Elsjé aan te vul, en 'n kleuterskool gehelp om te kan voortbestaan. Vir almal wat hom geken het was hy 'n vergestalting van eerbaarheid en nederigheid.

Voor die Here was hy nederig en afhanklik, maar terdeë bewus van sy eie onvolmaaktheid en naaktheid voor God. Hy het nie met sy geloof te koop geloop nie, maar in enige ernstige gesprek het sy totale afhanklikheid en gehoorsaamheid aan die Here God baie duidelik na vore getree.

Vir die dood was hy gereed. Hy het met die ontvangs van die diagnose vir ons gesê dat dit nou tyd is vir hom om te gaan, en dat hy gereed was. Hy het nie onafgehandelde sake nagelaat nie.


 

Van Maxie : (Skoondogter)

Dankie. Woorde kan nie my dankbaarheid beskryf, maar al wat ek kan sê is dankie dat ek die voorreg gehad het om vir Lou van Aswegen as my skoonpa te kon gehad het, dit was 'n ware voorreg om deel van sy lewe te kon wees.

Om hom te beskryf is nie moeilik nie: gefokus, gedetermineerd en geweldig belese en 'n ysere wil. Ja, hy het presies geweet wat hy wil hê, geweet waarheen hy oppad was, en ook geweet hoe om dit te realiseer, en het dit met 'n uiterse selfdissipline afgehandel. Hy het niks aan die toeval oorgelaat nie, en kon met 'n suiwer enkel beweging enige saak saamvat en finaliseer. Hy het my telkemale verstom met sy onuitputbare energie wat hy tot op die einde gehad het.

Pa, dankie vir die waardevolle lewenslesse wat jy aan my oorgedra het, jou onberispelike voorbeeld van familie liefde en sorgsaamheid. Jy was 'n wonderlike skoonpa vir my en liefdevolle oupa. Mag die Vader nou vir Pa in Sy arms toevou en bewaar op pad na sy nuwe avontuur en hemelse reis wat pa nou aangepak het.

Pa, ek gaan jou geweldig mis…. Liefde groete, Maxie


 

Van Willie uit Taiwan:

"Wat verwag jy van die lewe?" het Oupa my gevra. "Niks," was my antwoord, "die

lewe skuld my niks." Ons het nie destyds mekaar verstaan nie. Maar, gelukkug

het ek die kans gehad om voor hom 'n man te word - en om, met sy bystand, wye

paaie van menswees te verken. Selfs hier, aan die anderkant van die planeet,

wys sy voorbeeld en woorde my steeds wat dit beteken om na waarde te lewe. Met

ons laaste kuier, in sy kamer, het ek en Oupa kans gehad om 'n sirkel te

voltooi: "Wat verwag jy van die lewe?" Ek wens almal kon hierdie Oupa ken...

die Oupa Lou wat met sagte oë in my siel kon sien - en aanvaar het wat hy daar

gevind het. "Liefde en trou," was my antwoord - en ons het albei verstaan.


 


 

Van Rachel :

Die eienskap van Oupa wat vir my uitstaan, is sy liefde vir die lewe en vir sy familie. Hoewel hy dit soms agtetr kwaaiheid of grappies weggesteek het, was dit altyd daar. Alles wat hy aangepak en gedoen het, het hy met die langetrmynplan gedoen om vir sy nageslag die dinge in die toekoms makliker of beter te maak. Oupa en Ouma het soms dinge ontbeer ter wille van hul toekomsdroom vir ons, die nageslag. Oupa was altyd 'n vooruitdenkende man.

Die ander ding van Oupa, was dat hy altyd 'n plan gehad het. Hy was altyd besig met een of ander idee, en sy brein het oortyd gewerk. Hy het nooit loop en spog met dit wat hy bereik het nie, maar het baie dinge "teen sy bors" gehou. Hy was plat op die aarde en ongemaklik met te veel aandag van enige aard.

Die mooiste herinnering wat ek het, is aan die verhouding tussen Oupa en Ouma. Hulle was ongelooflik lief vir mekaar – onafskeidbaar. Oupa was vir ewig besig om Ouma se siel uit te trek, en sy mond het oorgeloop van die mooi en die goed en die snaaks in haar. Selfs in stresvolle situasies, soos wanneer hulle vir 'n hofsaak voorberei het, kon Oupa nie help om te spog met Ouma se "oog wat 'n bars kan kyk en selfs die skelmste ou laat struikel oor sy leuens nie."

Wanneer Oupa ontspan het, en begin "konverseer" het, was dit as klein dogtertjie die heel lekkerste tye. Dan het Oupa stories en staaltjies vertel en grappies gemaak dat ons naderhand seermaag is van al die lag.

Ek sal sy hardwerkendheid, sy kwinkslae, sy oplettendheid, sy geselligheid, sy behoefte om te help, en sy skewe glimlag altyd onthou.


 

Van Lou:

Respek is die eerste ding wat in my kop kom as ek aan Oupa Lou dink. Ek het Oupa gesien as die generaal van 'n familie wat sukses bereik het met die ondersteuning, wysheid en leiding van 'n liefdevolle vader en Oupa.

Oupa het my altyd opgebou om 'n beter mens te wees en om liefde en meegevoel vir ander te hê. Daar is dinge wat 'n kleinseun net by sy oupa kan leer, en ek het die beste gehad.

Oupa, dankie vir al die mooi stories en herinneringe wat ek met oupa deur die jare kon opbou. Ek gaan Oupa baie verlang en altyd in my hart dra. Lief vir Oupa


 

Van Maxie: (Kleindogter)

Liewe Oupa, ek kan net dankie sê dat ek deel kon wees van jou lewe, dat ek die voorreg gehad het om soveel wyshede van jou te kon leer, en wanneer ons vashaak met die skeinat en wiskunde het jy gehelp om dit uit te redeneer.

Jou lag en vlymskerp sêgoed kan ons nooit vergeet nie. Jy was vir ons 'n ware voorbeeld gewees en 'n liefdevolle oupa waarop elke kleinkind kan trots wees.

Oupa, ek gaan jou baie mis. Jy laat 'n groot leemte na.

Liefde,

Maxie


 

Van Mari:

Oupa

Daar is soveel dinge wat oupa al vir my vertel en geleer het. Al sal ek altyd die lesse en stories onthou is daar een aspek van oupa wat ek die meeste gaan mis en elke dag aan dink. Dit is die manier hoe Oupa altyd vol luiefde en uit die hart en maag gelag het. Oupa was, is, en sal altyd die persoon wees wat my en enige iemand kan laat beter voel deur net te glimlag.

Oupa het gelag net soos Oupa geleef het, Voluit!

Elke ete om die tafel sonder Oupa se gebed en geselskap voel leeg en sinneloos, maar ek sal Oupa elke keer daar sien en hoor al is Oupa nie daar nie.

Oupa was ons skeinat- en strooipraat koning en elke omblik wat ek saam met oupa kan onthou, goed en sleg, sal my altyd bybly.

Oupa se diep stem sal altyd my hart warm hou en my veilig laat voel. Dankie

Liefde, Oupa se Engel.


 


 


 

Van Stefan:

Anderste as die feit dat hy die mees gerespekteerde persoon is wat in my famielie is oftewel wat ek ken, is daar 'n klomp verskeie goed wat ek van dié oupa onthou. Vir watter rede ek nie weet nie is die dag toe hy my leer gholf speel het die ding wat ek die meeste kan onthou. Ek was maar nog net 'n tjokkertjie en ons het nog in Vryheid gebly. Ek dink ek was so 8 of 9. Ons het een Desember vakansie by my oupa hulle gaan kuier op hulle plaas in Sedgefield. Hy het my geleer gholf speel en voordat ek kon weet het ek perongeluk 'n groot gat in sy kop geslaan. Hy was toe glad nie kwaad vir my nie en hy het verstaan dat dit net 'n ongeluk was. Dit was ook een van die dae wat ek die grootste geskrik het in my lewe. Nog 'n ding wat ek kan onthou is die stories wat hy vertel het elke keer as ons vir hom gaan kuier het.


 

Van Philip:

Dit is maklik, sy stories. Ek onthou nog die laaste storie wat hy ons vertel het. Dit gan oor Jag. Die jagter was sy broer, oom Gert. Oupa wou vir ons die plek wys waar dit plaas gevind het. Daar was n krip met water in, en daar was n klipwal gebou langs die krip. Oom Gert het by die wal aangelê. Ek weet nie wat se geweer of bok hy gejag het nie maar hy het 5 patrone gehad. Toe kom die bok by die krip aan, toe skiet hy sy eerste skoot en die bok hardloop. Hy skiet weer en die bok draai om en hardloop na hom toe. Toe skiet hy al sy patrone op en die bok bly na hom toe hardloop. Toe vat hy 'n klip en gooi die bok se horings mors af en die bok val net daar voor hom dood. Dit is wat ek die meeste kan onthou van Oupa Lou.

Briewe van Ester (3)

My liewe vriendin, Rachel,

Ek hoop dat jy goeie gesondheid en vrede beleef wanneer jy hierdie brief ontvang. Dit doen my goed om van jou te verneem dat die Here jou en jou familie ook seën en bewaar.

Hier in Susan begin die dae nou korter en koeler raak. Dit herinner my daaraan dat die lewe ook in seisoene opgedeel is. 'n Mens sou seker kon sê dat ek nou in die laatherfs van my lewe is? Darem seker nog nie die winter nie! Ek voel oor die algemeen nog baie goed en gesond, maar kan myself nie meer as jeugdig beskryf nie...

Nou-ja, ek het laas beloof om jou van die ambisieuse Haman te vertel. Dit is 'n baie lang storie. Ai, die Haman was regtig 'n baie arrogante mens. Hy was vas oortuig van sy belangrikheid en het homself as ver verhewe bo die gewone burgers en amptenare geag. Hy was ook nie skaam om by elke moontlike geleentheid te vertel van sy dade, sy vermoëns, sy kennis en sy belangrikheid nie – maar hy was ook uitgeslape genoeg om homself baie nederig aan die koning te wy, en te getuig van sy hoë agting en sy onmeetlike trouheid aan Koning Ahasveros.

Hy het die koning regtig beïndruk. Die koning het dit dan ook goedgedink om Haman te vereer bo die ander burgers in sy koningkryk. So is Haman, seun van Hammedat die Agagiet, se setel dan ook deur die koning hoër gestel as enige van die vorste wat by die koning was. Dit was egter nie al nie. Die koning het verder beveel dat al die dienaars van die koning wat in die poort van die koning was, voor Haman moes buig en neerval. Soos voor 'n soort god! Verbeel jou!

Ag, Vriendin, jy ken mos nou ons Jode se manier. Ons mag slegs die Ek Is aanbid, en slegs voor ons God, die Enigste Lewenge en Almagtige God, die knie buig.

Mordegai was ook nog steeds elke dag in die poort op wag. Dis seker nie nodig om te verduidelik wat gebeur het nie, né? Mordegai het nie voor Haman gebuig of neergeval nie. Hy het ongestoord sy gang gegaan. Die ander paleisdienaars wou by Mordegai weet waarom hy nie die bevel van die koning gehoorsaam nie. Elke liewe dag het hulle hom met die vraag geteister - wou hulle by hom weet waarom hy nie buig en neerval nie. Mordegai het toe maar erken dat hy 'n Jood is, en die Ewige God aanbid. Natuurlik was dit mos nie vir die ander nasies 'n geldige verduideliking nie. Wat is dan nou so danig anders aan 'n Jood en ons God??

Die ander wou ook weet wat nou eintlik sou gebeur as iemand die koning se bevel aangaande Haman se verering sou verontagsaam. Hulle was ook nuuskierig om te weet wat Haman daarvan sou maak as hy uitvind van Mordegai en sy geloof. Hulle het besluit om uit te vind, en vir Haman gaan vertel dat Mordegai weier om aan hom hulde te bring en hom te vereer soos deur die koning beveel...

Heel voorspelbaar was die grote Haman woedend toe hy hoor dat Mordegai nie buig of voor hom neerval nie. Hy het homself egter te belangrik geag om teen een Jood op te tree. Om watter rede sou hy hom aan hierdie onbelangrike en onkundige man steur? Nee wat, dit het hom nie betaam om so laag te daal en hom met 'n enkele lid van die verstrooide volk te bemoei nie. Nee, hy het gesmag na vergelding op groot skaal. Die hele Joodse volk – al Mordegai se volksgenote moes verdelg word om sy oortreding na behore te straf.

So het dit dan gekom dat die lot weer eens gewerp is. Op die dertiende dag van die eerste maand (Nisan)van die twaalfde jaar van koning Ahasveros se bewind, is die Pur voor Haman gewerp om vas te stel watter dag die geskikste sou wees om hierdie lastige volk te verdelg. Vir elke dag van elke maand van die jaar is die Pur geraadpleeg. Die Pur het gewys dat die dertiende dag van die twaalfde maand (Adar) die beste dag sou wees.

Hierop het Haman dan na koning Ahasveros toe gegaan, en sy saak gestel. Hy was goed voorbereid, en het natuurlik weer met 'n ompad gekom. Hy het aan die koning genoem dat daar onder al die volke onder die koning se bewind een volk was, 'n verstrooide en afgesonderde volk, wat hul eie wette hou. Hulle wette is anders as die wette van al die ander volke, en hulle hou ook nie by die koning se wette nie. Na Haman se mening sou dit die koning nie pas om die toedrag van sake ongestraf te laat voortduur nie. Een vrot vrug kan die hele oes vernietig.

Haman, as allergetroustee onderdaan van die koning, het voorgestel dat, indien die koning dit sou goedvind, daar 'n wet uitgevaardig moes word om al die Jode te verdelg. Hy wat Haman is, sou self 10,000 talente silwer afweeg om deur die paleisamptenare by die skat van die koning te voeg. Hy wou sy deel bydra om die koning se mag vir eens en vir altyd onbetwisbaar te bewys. Nogal.

Koning Ahasveros het hierop sy seëlring van sy vinger afgehaal, en dit aan Haman gegee, en gesê dat die silwer, asook die Joodse volk aan Haman gegee moet word om mee te handel soos hy goeddink. Haman was buite homself van vreugde. Nie net word sy vernedering deur die Jood gewreek nie, maar die koning bewys sy vertroue en hoë agting vir Haman en sy oordeel bo enige twyfel. En hy kan kies wat met die Jode moet gebeur...

Om die saak te vererger, kom Haman se besluit toe ook uit. Die skrywers is laat kom, en op daardie derdiente dag van die maand Nisan, is briewe met hardlopers na al die provinsies gestuur. Soos die gebruik was, is elke provinsie se brief in sy eie taal en skrif geskryf, sodat almal dit kon verstaan, en daar geen twyfel kon bestaan oor die inhoud van die briewe nie. Hierdie briewe is deur Haman geskryf in die naam van die koning, en met die koning se seëlring beseël. Meer amptelik kon dit nie. Dit was ook nou 'n onherroeplike wet van die Meders en die Perse.

Die opdrag was dat alle Jode op die dertiende dag van die twaalfde maand in die twaalfde regeringsjaar van die koning verdelg moes word. Niemand mag vrygekom het nie. Die briewe het dit duidelik gestel dat sowel die seun as die grysaard, die kindertjies en die vroue op dieselfde dag in die maand Adar uitgeroei moes word, en hul besittings as buit geplunder moes word. Daar mag niks van die Jode oorbly nie.

Verder moes 'n afskrif van die bevelskrif as wet in elke provinsie uitgevaardig en bekendgemaak word. Al die volke moes gereed wees om die wet op die bepaalde dag ten uitvoer te bring.

Die hardlopers is haastig met die briewe weg, en in Susan is die bevel uitgevaardig terwyl die koning en Haman in die paleis sit en drink het.

Die stad Susan was in verwarring.

Mordegai het ook van die wet gehoor. Hy het sy klere geskeur, 'n roukleed aangetrek en met as oor sy hoof uitgegaan en dwarsdeur die stad geloop en hard en bitter geskreeu. Hy het tot voor die koning se poort gekom – niemand mag met rouklere aan by die poort van die koning ingaan nie.

Kan jy dink hoe benoud ek was? My volkstatus was mos nou bekend. Almal het geweet dat ek Mordegai se pleegkind was, en nou weet almal dat ek 'n Jodin is. My posisie was baie onveilig. In die paleisgange is gefluister en geskimp. Die dag van ons verdelging het al hoe nader gekom. Om te dink, die woorde waarmee Mordegai met my hulp verantwoordelik was dat die koning nie vermoor is nie, was skaars koud!

Ek het vir Hatag, een van die hofdienaars wat deur die koning aan my gegee is, beveel om na Mordegai te gaan en by hom uit te vind presies wat aan die gang was.

In al die provinsies waar die bevel uitgevaardig was, was die toneel dieselfde. Die Jode het gevas met geween en rouklag. Die volk was in hul verstrooiing in sak en as.

Liewe Mordegai het die hele verhaal aan Hatag meegedeel. Selfs die presiese bedrag silwer wat Haman uitgeweeg het om die Jode se val te finansier – alles. Hy het ook vir Hatag 'n afskrif van die bevelskrif gegee om aan my te wys, sodat ek kon weet wat gebeur het. Dit was 'n baie benoude tyd in my lewe. Wat het dit gebaat dat die koning sy guns aan my bewys het, dat ek sy koningin geword het en steeds soos onkruid uitgeroei moes word omdat ek 'n Jodin, en aan die Enige God gehoorsaam was?

Ek was in 'n tweestryd. Die koning het my nou al vir dertig dae nie na hom toe laat kom nie. Sonder sy uitnodiging mag niemand voor die koning verskyn nie. Indien 'n persoon – sonder uitsondering – uit eie beweging voor die koning sou verskyn, en die koning sy septer nie na die persoon sou uitsteek nie, moes so 'n persoon doodgemaak word. My enigste kans op oorlewing was dus maar skraal. Ek moes uit eie beweging na die koning gaan, en hoop dat hy sy septer na my toe sou uitsteek dat ek mag lewe. Ek het vir Mordegai laat weet hoe 'n groot waagstuk dit sou wees om die koning om genade te gaan vra. Ek was glad nie seker dat ek hoegenaamd 'n verskil sou kon maak nie, en as ek eerlik moet wees, sou ek liewer in 'n hoekie wou wegkruip en hoop dat ek oor die hoof gesien sou word.

Mordegai het terug laat weet dat ek my nie moes verbeel dat ek die enigste Jood sou wees wat sou vrykom net omdat ek die koningin was nie. Hy het bygevoeg dat as ek nou sou swyg, daar van 'n ander kant af verligting en redding vir die Jode sou kom, maar dat ek en my familie dan sou omkom. Hy het ook gevra of hierdie situasie nie dalk die rede is waarom ek in die eerste plek my huidige posisie in die koningshuis bekom het nie. Sy harde woorde en sy onomstootlike geloof in God het my laat skaamkry.

Ek het toe versoek dat Mordegai al die Jode in Susan moes bymekaarmaak, en dat hulle om my ontwil vir drie dae en drie nagte moes vas en bid. Ek en my dienaresse sou ook vas en bid, en dan sou ek dit waag om voor die koning te verskyn. As ek dan omkom, dan kom ek om....

Dit was drie baie lang dae, glo my. Honger, swakheid en vertwyfeling teenoor vrees en die sekerte van uitdelging.... Ek het egter geweet dat ek nie die enigste Jood in hierdie posisie was nie, maar dat elke Jood in die vesting Susan die tyd op dieselfde manier as ek voor God deurbring.

Op die derde dag het ek my beste koninklike klere aangetrek, en in die binnenste voorhof van die paleis, teenor die saal van die koning, waar hy op sy koninklike troon gesit het, regoor die ingang van die saal gaan staan. Die koning kon my nie miskyk nie. Ek dink hy kon die geritsel van my klere (soos ek gebewe het) hoor.

Die koning het sy goue septer na my toe uitgesteek, en ek het versigtig nader getree, en aan die punt van die septer geraak. My bene wou my byna nie dra nie.Ek begin sommer weer te bewe as ek daaraan terugdink. Die verligting was groot, en my dank teenoor God nog groter. Nou het ek gebid om die regte woorde, sodat die koning my saak gunstig sou oorweeg. Slegs met die ingrype van God self kon ek hoop dat die koning sy bevelskrif sou herroep.

Ek vertel later verder.


 

Ester


 


 

Wednesday, November 24, 2010

Kleintyd aangeleer

Wie was nog nooit stomgeslaan deur 'n kleinding se vindingrykheid nie?

Gister het ons ons Bybelstudie vir die jaar afgesluit.  Selfs aan ons kant van vyftig geld die skoolvakansies nog steeds. Miskien selfs meer as voorheen, want nou is dit ons hoogtepunt wanneer ou kennisse, en veral nuwe nasate kom kuier.  Maande vooraf word die spyskaart reeds uitgewerk, en alles wat vooraf gedoen kan word, word vooraf gedoen.  Teen die tyd dat die gaste opdaag, is ons stokflou, maar dan kan ons KUIER.

Die ou klein mensies neem ons heeltemal oor.  Daar hoef nie eers 'n bloedband te wees nie. Ons is mal oor kindertjies. Gee ons 'n halwe kans om van hulle te vertel, en jy kry ons nie weer stil nie!

Bettie moes gister se Bybelstudie open.  Sy lees toe vir ons 'n handgeskrewe boekie, die handewerk van haar 8-jarige kleindogter voor. Die hele Kersverhaal soos wat sy dit verstaan. Dit was kosbaar.
Die engel het aan Maria verskyn terwyl sy besig was om appels te pluk.  Elke gedagte is met prentjies toegelig.
Die ster het eers bokant Herodus se paleis gaan stilstaan, en dis hoe die wyse manne by hom uitgekom het. Hy het hulle toe na Bethlehem gestuur. Josef en Maria het getrou, en toe Maria die nag na Jesus se geboorte in die stal by die Kindjie wakkergebly het, het Josef gaan slaap.

Dit wys dat kinders van kleins af meer oplettend is as wat ons soms besef of verwag.

Klein Philip, Catrien se 5-jarige klein Vrystatertjie, het onlangs saam met sy ouers na 'n nuwe dorp verhuis. Die bure is uiteraard almal vreemd.

Toe daar 'n sjinese oom aan die deur kom klop, het Philip aangeneem dis een van die nuwe bure. Die oom vra toe kos, en Philip sê hy moet net so 'n bietjie wag, hy gaan gou-gou sy ma roep.

Ongelukkig kon hy haar toe nie in die hande kry nie, en toe hy weer buite kom, is die oom besig om in die vullissakke rond te krap op soek na kos.
Philip klim toe maar oor die tuinmuur, en help die oom om in al die sakke vir kos te soek - hy kry dan nie sy ma sodat sy die oom kan help nie.

Die tuinman het Philip daar kom wegneem en gesê dat hy nie met vreemde mense in die sakke kan rondkrap nie, want vreemde mense kan hom kwaad aandoen.

Hiervan wou die klein mannetjie net niks weet nie, want die oom is honger, en hy het hom net gehelp om kos te soek.

'n Mens hoef nie heldersiende te wees om te weet dat Bettie se kinders hul doopgelofte van die begin af nakom en hul kinders in die Here se weë grootmaak, of dat Catrien se dogter altyd kos en tyd het vir honger mense wat haar pad sou kruis nie.

Leef ons almal elke dag so dat die kindertjies maar ons voorbeeld kan volg?

Saturday, November 13, 2010

Antoinette se Beroerte

Ons hier in Danabaai is omtrent almal so regs van veertig.  Nee, laat ek maar eerlik wees, so regs van vyftig jaar oud.


Dit is mos nou maar so dat mens op hierdie leeftyd al meer in die omgewing van brille en pille rondbeweeg.  Die groot maandelikse uitdaging is om die kruideniersrekening en die apteekrekening teen mekaar op te weeg. Na elke verhoging in die brandstofprys, is die kruideniersware duurder, en kos dit mooi beplan om die apteker te betaal. Nader aan die einde van die jaar, is die mediese fonds uitgeput, en moet ons weer van die kosrekening afknyp om vir doktersbesoeke en medisyne te betaal. Niemand wil willens en wetens in die Feestyd siek word, of erger nog, in die hospitaal beland nie. Hoe dan gemaak met die kleinkinders, die kinders, ander familie en vriende wat wil kom kuier?


So kom en gaan die seisoene en so leef ons hier teen die Suidkus met al die getye van die lewe saam.  Soms hoogwater, soms laagwater, en so aan.


Antoinette woon ook hier, en moet ook maar soos ons almal rekening hou met die getye en seisoene. Wat haar besonders maak, is dat sy haar naam, wat "Beyond Praise" beteken, waardig is op al die terreine van die alledaagse bestaan. So sing sy in die koor, dien op die kerkraad, neem deel aan ons eie konserte, maak kos en bak koekies, werk vir die sopkombuis, en is sy boonop 'n regte platjie en vol omgee vir haar medemens.


Een Sondag, voor die diens in die konsistorie, voel Antoinette so 'n bietjie dronkerig...duiselig, maar sy steur haar nie te veel daaraan nie. Neem net kennis daarvan. Hier in die regterkantste jare raak mens mos meer bekommerd as jy NIKS makeer nie, want dan moet jy mooi om jou rondkyk voordat jy seker is of jy maar kan ontspan.


Toe Dominee begin preek, raak sy meer bekommerd, want sy kom toe agter dat haar oë nie lekker fokus nie. Sy sien twee predikante, en altwee ewe dof...


Sy besef dat dit 'n beroerte kan wees.  Beroerte! Sy moet hier uit! Sy moet by 'n dokter kom! Die hospitaal! Hoe om van voor in die kerk tot agter by die deur te kom, skep 'n probleem. Die alternatief is om verby die preekstoel en deur die konsistorie uit te gaan - dis hoe sy ingekom het.


Tertius. Op 'n manier moet sy haar man,Tertius, se aandag op haar dilemma en haar toestand vestig. Hoe? Dink, Antoinette, dink. Sy wil nie die hele diens ontwrig nie, en Tertius luister aandagtig na die preek. Sy is nogal bang om alleen te probeer opstaan. Sy begin sweet.


Langs haar sit die seun wat by hulle loseer. Hy kom naderhand agter dat iets aan Antoinette 'n bietjie snaaks is, en probeer om haar aandag te trek. Onopsigtelik, natuurlik.


Antoinette is in haar eie dilemma vasgevang, en nie so oplettend soos altyd nie. Sy het ook nie veel aan die diens nie, want haar gedagtes is verstrengel in 'n stryd om oorlewing.


Uiteindelik dring dit asof van ver af tot haar deur dat iemand aan haar stamp. Dis die loseerder: "Tannie, wat is fout met Tannie se bril?"


Haar bril? Antoinette haal die bril af - dit het net een lens!


As elke beroertepasiënt maar so vinnig kon herstel.


As die ekonomie maar so vinnig uit die resessie kon kom.


As is verbrande hout, maar ons kan darem 'n bietjie hitte put uit die lekkerte van die oorvertel en die lag wanneer ons dit weer herkou en rustig nabetragting hou.


Viva! regs van vyftig, Viva! Viva, vele nuanses, Viva!

Saturday, November 6, 2010

Briewe van Ester 2

My geliefde Rachel,

Dit is vandag so 'n mooi sonskyndag, dat ek my verlustig aan die geure en klanke en kleure wat van die straat af opstyg na my sitplek hier op die daktuin waar ek die meeste van my dae deurbring. Ek voel regtig geseën om dit te kan beleef.

Daar was egter ook tye wat nie so rustig was nie. Ek het mos in my vorige brief laat deurskemer dat Mordegai se ore wawyd oop was ten tye van my voorbereiding om die koning te ontmoet. Hy was baie besorg oor sy kleine Hadassa (dis my Joodse naam), wat hy naby sy hart grootgemaak het. Ek dink sy vaderlike instink is die rede waarom hy die dreigende onderstrominge onder die poortwagte raakgehoor het.

Wat hy gehoor het, was dat Bigtan en Teres, albei poortwagte en paleisamptenare, onder mekaar begin mor het dat hulle darem nie na waarde geskat word nie. Hulle het ontevrede geraak met die posisie wat hulle in die hiërargie van amptenare beklee het, en het mekaar so aangepraat dat hul bitterheid die oorhand gekry het. Dag na dag het hulle vir mekaar vertel tot watter mate hulle onderskat en ondergewaardeer word deur die koning. Volgens hulle was die koning nie net sy rykdom nie, maar sy hele bestaan aan hulle te danke. Hulle was op stuk van sake die manne wat verhoed het dat die vyand deur die poorte beweeg om die koning leed aan te doen. Dit was hulle wat hul eie lewe en gemak opgeoffer het tot voordeel van die koning. En wat kry hulle daarvoor? Nee, die toedrag van sake was onaanvaarbaar – totaal onaanvaarbaar. Hulle was ook ontevrede met die lot van koningin Vasti.

Ai, dit is ongelukkig nog deur al die eeue so dat (vermeende) veronregting nie ongestraf wil bly nie. Of daar nou meriete in die gevoel van veronregting is of nie, maak nie saak nie. Die gevoel van ontevredenheid gedy onder aanmoediging, en later is daar net 'n kleine vonkie nodig om 'n grote vuur aan die brand te steek.

So het Mordegai gehoor hoe die twee begin saamsweer om die koning te vermoor. Hulle kon geen ander uitweg uit hul situasie sien as om van die koning ontslae te raak nie. Soos in baie gevalle, het hulle ook nie die saak verder deurdink nie. Hulle was onverbiddelik daarop uit om van die onmiddellike bron van hul frustrasie, die koning, ontslae te raak. Net 'n moord, en niks anders nie, sou hulle tevrede stel. Daagliks het hul frustrasie hoër en hoër opgevlam onder die wind van hul eie negatiewe gedagtes en gemor.

Mordegai, altyd die vader, was doodbekommerd oor die gevolg wat so 'n daad op my toekoms sou hê. Onthou, my volksverband was nog steeds, op Mordegai se aandrang, 'n geheim. As die koning nou onraad vermoed, en agterkom dat sy lewe deur sy eie amptenare bedreig word, en my geheim ook nog moet uitkom, kan niemand voorspel wat die koning se reaksie sou wees nie. Ek bedoel, Vasti se oortreding was slegs dat sy nie voor die feesgangers wou paradeer nie, en sy is haar koninginstatus kwyt.

Arme, bekommerde Mordegai het hierdie dinge met my gedeel, en my aangeraai om die koning daarvan te vertel. Dit sou my posisie geen kwaad doen as die koning se lewe deur my toedoen gespaar sou word nie. En ek het mos nou guns in die koning se oë gehad – die bekendmaking sou eerder ter harte geneem word as dit van my af kom, as wanneer Mordegai, wat nog onbekend was aan die koning, self sou probeer om die koning te waarsku. Daar kon dalk meer samesweerders wees, en hulle sou die saak so kon verdraai dat Mordegai se bedoelinge dalk in twyfel getrek kon word. Niemand sou die koning kon kwalik neem as hy sou dink dat Mordegai net witvoetjie soek by die koning nie, en dat hy om eie belang stories aandra nie.

Ek was intussen nog steeds gehoorsaam aan Mordegai, selfs al was ek nou in so 'n bevoorregte posisie.

Ek het die berig aan die koning oorgedra, en ook gesê dat my voog, Mordegai, dit eerstehands in die stadspoort gehoor het.

Soos jy jou kan voorstel, was dit nie vir die koning maklik om so iets van sy poortwagte, wat tog aangestel is ter wille van sy veiligheid, te glo nie. Hy het die gerug egter nie net afgemaak as 'n storie nie, en ondersoek na die saak laat instel. Dit was 'n gespanne tyd vir Mordegai, wie se geloofwaardigheid op die spel was, en vir my ook.

Die ondersoek het aan die lig gebring dat die berig waar was, en die twee samesweerders is skuldig bevind, en aan die galg opgehang. So het dit dan gekom dat Mordegai die koning se lewe gered het.

Al hierdie dinge is in die annale van die koninkryk neergeskryf, en sou vir ewig daar geskryf staan. Die koning was self teenwoordig by die opskryf van hierdie storie, en sou dit onthou.

Dit was gelukkig vir myself en vir Mordegai dat hierdie saak so afgeloop het, want daar was nog 'n slang in die gras….

Haman,die seun van Hammedata, 'n Agagiet, was ook onder die paleisamptenare. Hy was 'n baie ambisieuse man, en sou enige iets doen om homself en sy eie belangrikheid te bevorder.

Ja, jy herken sy naam. Dit is inderdaad dieselfde Haman wie se huis nou my huis is. Hy het ook baie kere op hierdie selfde dak gesit en sy oë oor die stad laat gly. Anders as ekself, was hy egter nie tevrede met sy plek in die lewe nie, en het hy met mag en mening altyd hoër en hoër gebeur. Hy kon net nooit tevrede voel met sy posisie in die koninklike huishouding nie.

Vandag is dit nog net so. Daar is baie mense wat voel dat hulle nie na waarde geskat word nie, dat hulle misgekyk word, dat hul talente en hul bydraes tot die samelewing geringgeskat word. Sulke gedagtes is 'n vrugbare teelaarde vir jaloesie, nyd, en soos met Bigtan en Teres, selfs moordgedagtes….

Nou is my goeie bui van vanogend sommer daarmee heen. Ek het heeltemal in die verlede verstrengel geraak. Ek moet nou eers weer iets aktiefs doen om my eie gedagtes te suiwer, en sal op 'n volgende keer meer uitbrei oor die weg wat Haman geneem het om homself en sy eie eer te bevorder.

Ek dink ek gaan 'n paar vye pluk, en myself met die soet heerlikheid bederf.

Ek onthou 'n ou seën wat oor die gehoorsames aan die Here uitgespreek is. Dit is opgeteken in Deuteronomium28:1 – 8. Ek wil dit graag met jou deel.

"As jy goed luister na die Here jou God en jy gehoorsaam al sy gebooie wat ek jou vandag gee, en jy lewe daarvolgens,sal die Here jou God jou oor al die nasies van die aarde stel.

As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.

Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld.

Jou nageslag sal geseën wees, en die opbrengs van jou lande en die aanteel van jou diere, jou kalweroes en jou lammeroes.

Jou oesmandjie en jou knieskottel sal geseën wees.

Jy sal geseën wees waar jy ook gaan.

Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.

Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy jou gee."


 

Jou mede-begenadigde

Ester

Thursday, October 21, 2010

Briewe van Ester aan Rachel 1


My liewe Rachel,

Ja, ek het 'n baie opwindende en buitengewone lewe. Hier sit ek nou op die dak van my "eg koninklike huis" en terugdink aan my jare hier in die dorp Susan. Hierdie huis was vroeër mos die eiendom van Haman…..
Ek kan skaars glo dis my lewe wat deur my herinneringe voor my geestesoog afspeel. Ek dink daar sal nog dikwels sprokies oor hierdie soort lewe geskryf word. Die verskil is net, my storie is die waarheid.
Ek was mos 'n weeskind. My ouers is dood toe ek nog baie klein was, en ek is toe,volgens ons Joodse gebruik, deur my neef, Mordegai, wat baie ouer as ek was, as sy eie kind aangeneem en grootgemaak. Ek was baie gelukkig in Mordegai se huis, en hy was baie goed vir my. Die mense was almal gaande oor my skoonheid – ja, ek was 'n baie mooi meisie, en mense het maklik van my gehou. Ek was ook gehoorsaam aan Mordegai.    
Mordegai was die seun van Jaïr, my pa (Abigajil) se broer. Jaïr was weer die seun van Simi, my oupa, en hy was 'n seun van Kis uit die stam van Benjamin. Dis hier waar ons verwantskap sy oorsprong het. Jy is vernoem na jou oergrootjie, die skone Rachel, wat Jakob se vrou en die moeder van Josef en Benjamin was.
My grootste avontuur het begin toe ek in die koninklike paleis hier in Susan kom woon het. Alles in Koning Ahasveros se paleis was eg koninklik. Elke enkele item moes net die beste, die mooiste en van die hoogste gehalte wees. Ook reg so, want hy was op stuk van sake 'n baie groot en belangrike koning. Sy word was wet, en sy geringste begeerte was 'n bevel.
Maar, laat ek eers vertel hoe ek onder die koning se aandag (en oë) gekom het. Dis al klaar soos 'n sprokie…
Die koning het 'n groot fees gehou om sy grootheid ten toon te stel. Dit was in die derde jaar van sy bewind, en al sy hoë amptenare en ander in sy diens is na die fees genooi. Nou moet jy onthou dat Koning Ahasveros oor eenhonderd sewe en twintig provinsies regeer het. Sy koninkryk het gestrek vanaf Indië in die Ooste tot by Kus in Afrika. Julle moderne mense sal seker praat van Ethiopië. Die land het ook op 'n tyd as Nubië, en Abbisinië bekend gestaan. Die mense van Kus was swart van kleur, en het van die vroegste tye as akrobate die monde laat oophang. Hulle was baie gewild by die feeste wat deur die farao's gehou is waar hulle vermaaklikheid verskaf het. Ek dink hul vermoeëns is deur sommiges as towery beskou….
Ek val myself alweer in die rede. Vergeef tog Rachel, want ek is oud, en my gedagtes dwaal maklik.,
O ja, die partytjie! Dit was 'n fees der feeste! Geen geld of moeite is ontsien om die koning se mag en rykdom ten toon te stel nie. Elke belangrike persoon was daar – 'n regte "who's who" geleentheid. Van die leëroffisiere van Medië en Persië af was al die hooggeplaastes teenwordig.
Eers is al die rykdom uitgestal vir almal om te bewonder – 'n hele ses maande lank!! Daarna is 'n onthaal vir 'n week lank in die paleistuin gehou en almal, groot en klein, was welkom. Oe, dit was 'n feestelikheid soos jy jou nie kan indink nie. Daar was behangsels van wit en bloedrooi linnedoeke wat met pers linnetoue deur silwerringe aan marmerpilare vasgemaak. Silwer- en goue rusbanke het oral op 'n plaveisel van vier soorte kosbare klip rondgestaan. Wyn is bedien in goue bekers van verskillende ontwerpe, en daar was 'n oorvloed van kos en koninklike wyn – soos 'n mens van so 'n vername koning kon verwag.
Die koning se opdrag was dat niemand gedwing moes word om te drink nie, maar die paleisbediendes moes aan elkeen bedien waarvan hy gehou het.
Intussen het Koningin Vasti die vroue in die paleis onthaal. Hier het dit net so spoggerig gegaan. Jy weet mos dat ons nie gemengde partytjies gehou het nie. Die vroue het die beeldskone koningin bewonder, oor hul mans, kinders en bediendes gesels,'n bietjie geskinder, en daar was selfs hier en daar 'n venynigheidjie te bespeur. Alles baie feestelik, en baie beskaafd!
Nou-ja, soos dit met sulke feeste gaan, bly die moeilikheid mos ook nie weg nie. Op die sewende dag, toe die koning al baie vrolik was van die wyn, wou hy nog meer spog. Hy wou met die skoonheid van Koiningin Vasti ook spog, en het sy sewe paleisbeamptes geroep, en hulle beveel om die koningin, met haar kroon en al die fyn klere en juwele aan, te bring sodat hy vir al sy amptenare kon wys hoe mooi sy is.
Koningin Vasti het geweier. Sy sou nie soos 'n besitting uitgestal word nie – en veral nie op die sewende dag as omtrent almal al te veel gedrink het nie.
Die koning was woedend en verneder. Hoe durf Vasti dit waag om sy bevel te verontagsaam, en dit nogal voor al sy hoë amptenare? 'n Dronk man aanvaar nie vernedering nie, en 'n magtige dronk man se vergelding het nie perke nie. Wat toe gebeur het is dat hy sy adviseurs gevra het wat hy nou moes doen. Hierdie adviseurs was regsgeleerders en ander hoës (ook getroude mans).
Die adviseurs, wat verteenwoordigend van die provinsies was, het toe gekoukus en tot die slotsom gekom dat hulle vrouens nou ook respek gaan verloor vir hulle, en koningin Vasti se voorbeeld gaan volg, en dat hulle dan in die oë van hulle onderdane ook bespotlik gemaak sou word. Dit sou nie deug nie – 'n voorbeeld sou van Vasti gemaak moes word…
Hulle het toe vir die koning aanbeveel dat koninging Vasti nooit weer voor die koning mag verskyn nie, en dat die koning haar as koninging vervang deur iemand wat haar beter sou gedra. Hulle het verder aanbeveel dat hierdie bevel 'n onherroeplike wet van Medië en Persië sou word.
Dit is toe ook so gedoen. Briewe is na al die provinsies gestuur, na elke provinsie in sy eie skrif en na elke volk in sy eie taal. In hierdie briewe het gestaan dat elke man moet baas wees in sy eie huis en moet optree volgens die gebruik van sy volk.
Die koning se woede het later, heelwat later, afgekoel, en hy het na koningin Vasti verlang. Hy het weer sy amptenare bymekaar geroep en hierdie keer was hul raad dat hy vir hom al die mooi meisies moet laat soek. Uit elke provinsie moes die amptenare die mooiste meisies na die vestingstad, Susan, stuur. Hier sou Hegai, die paleisbeampte oor die koning se vrouens, oor hulle toesig hou. Hierdie meisies moes dan skoonheidsbehandeling ontvang waarna die koning vir hom 'n nuwe koningin moes uitsoek.

Die koning het gedink dis 'n baie goeie plan en so 'n bevel uitgevaardig. 'n Groot klomp meisies het in die stad Susan bymekaar gekom en is onder die sorg van Hegai geplaas. Ek self is ook na die paleis toe.
Hegai het baie van my gehou en ek was vir hom mooi. Hy het my sommer dadelik die nodige skoonheidsbehandeling laat kry en die regte dieet laat volg. Ja, daar is geen steen onaangeroer gelaat om ons op ons mooiste en beste te laat vertoon nie. 'n Totale "make-over" was elke kandidaad se beloning.
Ek is ook na die beste deel van die vroue kwartiere verskuif, en het die sewe beste kamerpersoneellede tot my beskikking gehad.
Ek het vir niemand vertel dat ek 'n Jood is nie omdat Mordegai my verbied het om dit te doen. Mordegai, my besorgde voog, het elke dag op en af gestap voor die vroue kwartiere om uit te vind hoe dit met my gaan en vas te stel wat met my gaan gebeur.
Hierdie skoonheidsbehandeling het 'n jaar geduur! Ja, regtig: ses maande met mire-olie en die ander ses maande met aromatiese kruie en ander skoonheidsmiddels. Ons is ook opgelei in die etiket en protokol van die tyd. Dit sou nie deug dat die nuwe koningin ook 'n verleentheid vir die koning kon wees nie. Nee, daar is seker gemaak dat ons presies sou weet hoe om ons in enige situasie te gedra. Om 'n koningin te wees, is nie net glans en plesier nie, hoor! Ons moes ook iets van die politiek en die koning se regeerstyl weet, sodat ons kon saampraat.
Na afloop van die jaar het elke meisie 'n beurt gekry om voor die koning te verskyn. Wanneer dit haar beurt is om na die koning se paleis toe te gaan, kon elke meisie alles saamvat wat sy wou. Elke meisie is in die aand na die paleis, en die volgende oggend na die tweede stel vrouekwartiere waar Saäsgas die toesighouer oor die byvrouens was. As sy eers hier was, kon 'n meisie nie weer voor die koning verskyn, behalwe as hy haar ontbied het nie. As jy by Saäsgas se groepie uitgekom het, moes jy weet jy't nie die eerste prys – om die volgende koningin te word - gewen nie.
Toe dit my beurt was om voor die koning te verskyn, het Hegai my voorgesê wat ek van die koning kon vra. (Ek was mos sy gunsteling onder die meisies, en hy het my spesiaal goed voorberei op my onderhoud met die koning.) Ek het niks meer gevra as wat hy voorgestel het nie.
My verskyning voor die koning was in die maand Tebet, die tiende maand van die sewende regeringsjaar van koning Ahasveros. Die koning het meer van my gehou as van enige van die ander meisies, en het my gekroon as koningin in die plek van Vasti.
Ons het weer fees gehou – hierdie keer om my as nuwe koningin te vereer. Al die amptenare en onderdane se verpligtinge is verminder en die koning het geskenke uitgedeel met koninklike vrygewigheid. Die hele koninkryk was in feestelike vakansiestemming, en het na hartelus meegedoen aan die verrigtinge!
Ek kan nie vir jou beskryf hoe dit gevoel het om skielik so belangrik en so gesog te wees en so op die hande gedra te word nie. Dit was byna te goed om waar te wees. Ek het egter onthou hoe en waarom die "vakature" vir koningin ontstaan het, en het die hele tyd geweet dat my nuwe posisie van die koning se goedgesindheid en tevredenheid afhanklik was. Dan was daar ook nog my geheim – ja, my Joodskap was steeds geheim.
Dit is hoe ek in die paleis beland het.
Dit is egter nie al wat in daardie jaar gebeur het nie. In my volgende brief sal ek vertel wat Mordegai agtergekom het terwyl hy so begaan was oor my welstand, en voor die paleis gewaak het.
Aangesien hy elke dag in die omgewing van die vrouekwartiere was om 'n ogie oor my te probeer hou, het hy baie grepe van gesprekke en brokkies nuus te hore gekom.
Nou gaan ek eers rus, wanr ek het nie tred gehou met die tyd nie. Ek was so verdiep in my eie gedagtes, dat die dag onder my uitgeglip het.
Mag dit met jou goed gaan, en mag die Here jou pad gelyk maak.

Ester (Hadassa).