Thursday, October 20, 2011

Spore in die sand




Ek dink almal weet hoe rustig en kalmerend, praat nie van gesond dit is om laatmiddag, wanneer die skaduwees so l-a-n-k word, op die strand te stap. Dis mos of mens se siel dan weer die geleentheid kry om saam met die ou liggaam 'n slag diep asem te skep, en te voel hoe die vars seebries al die spinnerakke en ander onsuiwerhede laat verdwyn. Die muwwerigheid wat maar met die tyd in jou gemoed opgebou het, word verdryf, en 'n sprankelende nuwe varsheid kom oor jou.




Sien ek die skulpspoortjies wat so liggies oor die sand lê, besef ek weer dat selfs die kleinste gebaartjie en gedagtetjie 'n merk laat. Hierdie merk kan deur die hoogwater van verootmoediging skoongespoel word, of, as die hart verhard is, soos 'n fossiel in my binneste versteen en later alles wat sag en funksioneel behoort te wees, oorneem en vereelt.


As ek regtig genoeg tyd het, kan ek die voetspore in die sand lees, en verstaan hoe wonderlik die gawe van tweede kanse regtig is.  Waar hierdie diep spore nou lê, sal daar na hoogwater weer 'n skoon stuk strand wees.  Vir my is dit soos gebed en vergifnis saamwerk om elke nuwe dag vir my weer sprankelend en skoon aan te bied. Al wat ek moet doen is om elke dag daardie spiksplinternuwe geleenthede so te benut dat die spore wat ek agterlaat 'n mooi storie van Waarheid vertel totdat hoogwater weer aanbreek om skoon te maak.

As ek omkyk, kan ek my eie spore sien, en dan lê die lang skaduwees agter my.  Voor my sien ek die goud van die ondergaande son. Al die beloftes van rus wat voorlê is daarin opgesluit. So ook die belofte van môre se nuwe begin.

Tuesday, September 6, 2011

Nog in Kimberley

Ons kleinnigie Lenie, wat ook ons kleinste niggie (ver onder die outydse vyf voet lank) is, is ook 'n platjie van formaat. Sy vertel hoe sy en 'n blinde vriendin, Erika, jare gelede ook in Kimberley gaan inkopies doen het. Dit was in die dae van die eerste ATM'e. Hoewel Erika 'n tjek kon teken as Lenie haar hand na die regte plek lei, en Lenie dan die geld by 'n kassier kon trek (vir die sekermaak dat die bedrag reg uitgetel word), besluit Erika die dag dat hulle van die kitsbank gebruik gaan maak. Die besluit het meer verreikende gevolge gehad as wat een van die tweetjies besef het.

Die eerste ATM'e was nie so gebruikersvriendelik as mens 'n lengtebeperking gehad het nie. Die skerm waar mens die volgende opdrag kon lees, was baie hoog. Wat die twee vriendinne nie besef het nie, was dat mens dit kon vertstel om, baie soos 'n motor se truspieëltjie, 'n bietjie toegankliker te wees. Soos dit seker maar moes wees, was die kliënt voor hulle lank van gestalte.

Lenie het glad nie geweet hoe die "BOB-bank" werk nie, maar is immer gereed om te leer. Erika het glo geweet. Sy kon "lees" en het gereeld boeke op band uitgeneem om in pas te bly met die wêreld om haar. So kom die tweetjies uiteindelik ook voor in die tou. Erika sê vir Lenie om die kaart in die gleuf te druk. Dis doenbaar. Nou fluister sy haar geheime nommer in Lenie se oor. Lenie tik dit in.
 Niks.
Erika sê vir Lenie om de instruksies te lees. Lenie kan die skerm nie sien nie, dis te hoog.
Erika het reeds 'n plan. Sy sal buk, en Lenie moet dan op haar rug staan sodat sy kan 'bykom' om te lees. "TRANSAKSIE GEKANSELLEER TYD VERSTREKE"

Terwyl die ry agter hulle, sowel as die kring van toeskouers om hulle groei, probeer hulle nog 'n paar keer. Die opklimmery neem elke keer net te lank. Telkens is die transaksie onsuksesvol en word dit gekanselleer.

Onwillig om die geheime nommer met vreemdes te deel, het hulle maar weer by die teller gaan geld trek vir die inkopies.

Die aankope is altyd oor twee dae versprei. Op dag een is daar met Erika se lysie na die drie supermarkte gegaan om elke item se prys te kry. Die volgende stap was om te bepaal watter item by watter supermark de goedkoopste was, en dan drie lysies op te stel. Een vir elke supermark. Op dag twee is daar dan by al drie die winkels gaan koop.

Op die dag van die ATM was die twee vriendinne op hul stukke. Nadat hulle die straat oorgesteek het van die een winkel na die ander, vra Erika waar Lenie haar donkerbril gekoop het. Lenie het dit by die vorige winkel, nou aan die oorkant van de straat, gekoop. Erika wil ook 'n donkerbril hê, en terstonds word die straat weer oorgesteek.

Lenie moet nou vir Erika 'n mooi donkerbril uitsoek. Lenie wil hê dat Erika die brille moet aanpas om te voel watter een gemaklik sit. Dit is nie wat Erika beplan het nie. Sy wil die bril hê om so tussen haar vingers vas te hou soos die heldinne in die boeke wat sy so graag lees (luister). Sonbril gekoop, moet Lenie nou help met die vashouery. Dit moet 'n stylvolle vashouery wees, wat by 'n heldin sal pas. Lenie help en gee raad. Hulle besluit dat Erika haar pinkie in die lug moet hou, en die bril net so liggies moet vashou - nie vasklou nie, en soms liggies daarmee speel.

Weer oor die straat. In die volgende winkel is hierdie bril nou behoorlik in die pad. Erika "kyk" mos met haar hande. Met net een beskikbare hand voel sy regtig half blind. Daar is egter vir alles 'n plan. Erika moet 'n mooi kettinkie kry sodat die bril ook om haar nek kan hang. Apteek toe vir die kettinkie.

Hier moet ek weer bietjie halt roep om ietsie meer van Erika te verduidelik. Haar blindheid het nie haar identiteit geword nie. Vir haar was haar blindheid 'n klippie in haar skoen - 'n ongemaklikheid waarmee sy moes saamleef. Dit was net nog 'n hindernis waaroor sy moes kom in haar lewenspad. Haar uiterlike voorkoms het nie haar blindheid ooglopend uitgestal nie, en uit haar geselskap kon mens nie maklik agterkom dat sy effens anders moes kyk nie. Die apteker was nie bewus van haar blindheid nie.

Lenie kom toe agter dat hulle te min geld het, en bied aan om sommer gou nog te gaan onttrek. Erika sou met die inkopietrollie in die apteek wag. Met haar terugkeer bars Lenie uit van die lag. DIe apteker lyk verward. Hy het geen idee waarom die vrou met die trollie hom so totaal ignoreer nie. Sy draai glad haar rug op hom. Erika staan met trollie en al, sonbril liggies in die hand, pinkie in die lug, vir die kaal muur en kyk. Haar rug is na die apteker gekeer, maar sy staan ewe nonchalant met die bril en speel.

Nadat Lenie aan albei verduidelik het wat aan die gang was, en hulle die vriendskap met 'n lekker saamlag verseël het, kon daar toe voortgegaan word met die aankoop van die ketting. Met die wegstap sê Erika: "Nou kort ek nog net 'n potlood vir my oor."

'n Kimberleyse dag om te onthou

Ek lees nou-die-dag 'n staaltjie van die mannewales wat 'n reisende slang by 'n inkopiesentrum in Kimberley veroorsaak het. Dit was skreeusnaaks, en ek kon die verwarring in my verbeelding gadeslaan. Die skrywer was baie grafies in sy/haar beskrywing. Jammer my geheue is so vol gate dat die outeur se naam deur een geval het. Skoonveld weg!

Elk geval, ek het die storietjie net soveel as my liewe man geniet. Dit gebeur nie aldag dat hy vir my 'n leesdingetjie aanbied nie.

Dink net: Die klante kom elke met sy eie gedagtes en bedenkinge met leë beursies en vol (of halfvol) inkopiesakke op die parkeerterrein aan. Elkeen wil so gou as moontlik van sy las ontslae raak en by sy/haar volgende bestemming uitkom. Ons raak mos so betrokke by ons eie sake dat dit 'n redelike groot affêre vat om ons aandag te trek.

Reeds besig om die middag se karweiery van kinders draai vir draai te beplan, of besig om die spyskaart vir die ete vanaand te vervolmaak, word die aandag wreed en sonder waarskuwing wegetrek na meer onmiddellike sake. 'n Paar mense gil uit volle bors en almal word terugeruk na dieselfde wêreld waar die ander mense ook beweeg.

'n Statige en rysige dame draai tiekie op haar stiletto's, die man wat reeds jare in sy boep belê, raak eensklaps luid van 'n klomp wind ontslae, twee van die sterkste hoëproesters by die plaaslike oefentempel help mekaar soos ballerinas op 'n ander oom se bakkie en gil soos dogtertjies.

Dit alles gebeur omdat slang se kind wil wegkom uit sy (nou te) warm ryplek onder Toeks se motortjie.

In my geestesoog sien ek dat al die "belangrike" sake wat almal tot dusver so onbetrokke gehou het, nou van hul dringendheid verloor.

Te danke aan die einste glansende paradysbewoner wat mens soms na donkertes toe lei, sien ons mekaar weer raak . Ons lag saam, ons deel 'n paar verligte woorde met 'n totale vreemdeling, ons help Mev. van Aansien deur haar uit haar floute van die (nou) lewelose slang af op te help en bietjie af te stof; om weer oor die weg te kom op haar haklose stiletto's, en weer 'n bietjie waardigheid terug te kry. So word 'n gewone dag vol van sleurwerk en remmende verpligtinge skielik omtower in 'n dag om te onthou.

Dit vra net een insident.

Saturday, July 9, 2011

Spiere en ander bulte en knoppe

Vanoggend na my heerlike warm stort, beland ek met die afdroogslag voor die spieël. Dis nou een ding wat ek nie sommer gereeld of aspris doen - om poedelkaal voor die spieël te staan - nie. Daar is genoeg geldige redes vir hierdie huiwering om die naakte werklikheid in die oë te staar. Ek meen, ek is nie meer 25 jaar oud nie!

In elk geval, die stoom was my vandag genadig. Dit wat ek gesien het, was soos die dowwe beeld in die raaisel. Net genoeg om die nuuskierigheid te prikkel.

My gedagtes neem toe weer hul eie koers. Begin vergelyk my bo-arms, waar ek hulle nou aspris uitstrek soos 'n voël met nat vlerke, met dié van die ystermanne wat ons gereeld op TV sien.

So deur die stoom is die verskil nie te groot nie. Nie in grootte nie, maar wel in fermheid, moet ek darem erken. Waar die ysterman se bulte ferm gestop is met die sterkste spiermateriaal, is my hamme (of soos Merriam Sekotho dit beter beskryf, my "steaks") losweg gestop met korrelrige vetweefsel.

Troos my brein homself toe so: Na nog sowat twintig jaar is ek en Ysterman weer in dieselfde bootjie - hy sal dan ook net waag om sy bo-arms deur die stoom te bekyk. Sien vet bly staan - behalwe as mens hard daaraan werk om daarvan ontslae te raak. Spiere vergaan as mens nie hard werk om dit te behou nie. My aweregse logika sê dus dat ons oor twintig jaar albei na leë hangende velle gaan kyk, en verlang na 'n goeie plastiese sjirurg!

Ek mag dalk selfs beter daaraan toe wees en steeds volgestopte "steaks" met my saamdra - ag, behoede my tog daarvan. Dan liewer die leë velletjies.
Volgende keer mag ek dalk die moed hê om verder as dit te kyk.

Tuesday, June 28, 2011

Ontwaking - eerste oggend na 'n nag sonder sweet.

Goeiemôre wêreld!
Vanogend lyk die dag so mooi en skoon. Die see lê blou en kalm deur my studeerkamer se venster. Alles het meer kleur, die lug ruik vars, ek voel mens.

Ek besef dat ek die laaste klompie maande so op die rand van 'n baie diep en donker gat rondgesteier het. Dit was net die mense om my wat gekeer het dat ek heeltemal intuimel. Ek self het dit nie heeltmal besef tot vanoggend toe nie.

Die behandeling teen borskanker, wat uit mastektomieë en tamoksifien bestaan het, was suksesvol, maar moeilik. Die newe-effekte van die pille het my sleg getref. Ek hoor dat dit nie vir almal ewe erg is nie, maar ek was een van die ongelukkiges.

Net meer as 'n week terug het ek die groen lig gekry dat dit OK is dat ek die pille al in Januarie uit my eie gestaak het. Die gloede en strome van sweet het egter voortgeduur. Hoewel die gereeldheid van die gloede afgeneem het, het die intensiteit toegeneem, en het een van my personeellede gesê dat ek reën. Dit het behoorlik so gelyk. Ek het opgradeer van 'n handwaaiertjie a la ouwêreldse edelvrou, na 'n hoop snesies, na 'n rol kombuispapier in my (Groot) handsak, na 'n opgerolde gesighanddoekie in dieselfde handsak. Hare en vel se versorging het heeltemal agterweë gebly.

Verlede nag het ek nou wel baie laat aan die slaap geraak, maar ek het nie gesweet nie! Ek voel vanogend soos 'n nuwe mens. Ek is sekerlik nou 'n hele paar treë van die gat af. My gemoedsbesoedeling is beter! Sommer baie beter. Ek sien weer kans vir alles wat die toekoms kan bring - ook die groot rugoperasie wat voorlê.

Dankie, dankie, dankie!

'n Jong man om dop te hou

Ek ken 'n jong seun van 16 jaar. Ek moet eintlik sê ek's bevoorreg om hierdie besondere 16-jarige jong man te ken.

Christo is nie die sterkste, die slimste of die sportiefste seun wat ek ken nie, maar hy is 'n man van integriteit en ware insig. Christo loop met 'n hart vol liefde vir sy medemens rond wat mens nie by baie volwassenes of selfs bejaardes kan vind nie. Omdat hy miskien uit 'n ander hoek na die lewe kyk, is sy waarnemings dikwels vir my verstommend.

Christo werk hard om op skool te presteer, en dan kom hy nog steeds nie met Wiskunde reg nie. Die merkwaardige hieraan, is dat hy nie toelaat dat dit sy selfbeeld knou nie. Hy weet 'n mens bestaan uit baie meer as die vermoë om Wiskunde te bemeester - ten spyte daarvan dat daar in ons dag en lewe soveel klem op juis hierdie vaardigheid gelê word.

Die terrein waarin Christo uitblink, lê meer op die vlak van die menswetenskappe. Aangesien hy so jonk is, neem baie hom nie eintlik ernstig op nie, maar dit pla hom ook nie. Sien, hy is nie daarop uit om lof of eer te versamel nie. Hy is vol vertroue in sy talente en sy doel op die aarde. Dit was nie vir hom vreemd om in die laerskool as hoofseun gekies te word nie, en hy het die taak baie ernstig en met groot verandwoordelikheid bejeën.

Hy is nou in die hoërskool, en is weer as klasleier en leerlingraadslid verkies. Toe hy egter raaksien dat 'n vriendjie van hom bitter graag op die leerlingraad wou wees, het Christo na die betrokke onderwyser gegaan en aangebied om afstand te doen van die leerlingraadsamp vir die jaar, sodat sy vriend ook 'n geleentheid kan kry om sy leierskapseienskappe uit te leef. Christo is seker dat hy wel later weer die geleentheid sal kry om leier te wees.

Ek glo dat die grondslag vir Christo se "ou siel" te vinde is in sy liefde vir Jesus. Dit is eintlik waaraan 'n mens hom ken. Op die oomblik is hy saam met die volwassenes van sy plaaslike gemeente in Mosambiek op 'n uitreik. Hy behartig die jeugwerk, en stel sommer 'n voorbeeld vir sy jonger boetie, Johann. Johann het al verlede jaar gehelp met die kinderklassies.

Christo is as junior kerkraadslid in die gemeente verkies, en met die voorstelling van die kerkraadslede was hy saam met volwasse ouderlinge en diakens voorgestel. Christo is junior diaken. Hy was die enigste nuwe kerkraadslid wat 'n spreekbeurt gevra het om aan die gemeente te verduidelik dat hy nie daar voor hulle staan vir die status, die eer of iets van die posisie nie, maar dat hy deur die Here geroep is om die gemeente te dien, en dat dit is wat hy wil doen.

Tydens die afgelope Daniël-konferensie waarby hulle gemeente betrokke was, moes hy 'n moeilik keuse maak. Dit was boetie Johann se verjaarsdag, en die gesin sou dit by Buffelspoort gaan vier - vir die hele naweek. Die Donderdag voor die naweek het Christo baie ernstig met sy ouers en boetie gepraat, en gesê dat hy ongelukkig nie die naweek kon saamgaan na Buffelsport toe nie, want hy moet na die konferensie toe gaan. Sy redenasie was dat hy enige dag kan partytjie hou, maar dat geleenthede om te dien en opgelei te word in die belangrike dinge van die lewe, net nou en dan voorkom, en dat hy nie kan bekostig om dit mis te loop nie.

Dit het my laat dink aan 'n ander Seun wat tydens 'n fees wegeraak het, en later aan sy ouers verduidelik het dat hulle moes geweet het dat hy besig moet wees met die dinge van Sy Vader....

Christo Potgieter, ek hou jou dop. Ek wil graag sien watter koers jou lewe gaan inslaan. Ek weet dat dit iets besonders gaan wees. Intussen bid ek dat jy bewaar sal word, en dat jou pad die heeltyd so helder voor jou sal ooplê. Die wêreld het manne soos jy baie nodig. Hou so aan!!!!

Friday, April 15, 2011

40 JAAR GETROUD: PLAGIAAT

Hierdie brief het my vriendin se man vir haar op hul veertigste huweliksherdenking gegee. Dit sê alles oor die resep vir 'n goeie lewe....

AAN MY VROU, MA VAN MY KINDERS EN OUMA VAN MY KLEINKINDERS.

Dit is 40 Jaar! Nou waar het dit eintlik begin - op die plaas Merino in die Heilbron distrik, op Vereeniging stasie, of in die inry "The sound of music" met cepacol keelseer "sweets"? Waar dit begin het is nie van belang nie. Wat wel van belang is, is die gevolg daarvan. Dit het gebeur in die klipkerk op Heidelberg.

Die familie het die badkamer beset, en ek het nie gebad nie, maar dit is ook nie van belang nie, want jy het dit nie eers agtergekom nie. Met Oom Jordaan se Chev Constantia het ek dit byna nie gemaak nie. Daar was die belofte gemaak wat vandag nog vars en nuut is. Die gevolg hiervan kan bladsye se skryf beslaan.

Met die vertrek na die wittebrood het ek darem R7-00 in my sak gehad. Daarna moes ek nagdiens, en jy in die dag werk, maar dit het nie die uitbreiding van die gesin laat skade ly nie. Dikwels was daar halwe brode gekoop, en ander luukshede was daar maar min. Die Volkswagen (kewer) het ook nie altyd saamgewerk nie, en moes daar gereeld geloop of gestoot word.

Van die woonstel in Heidelberg tot in die huis sonder deure op Kinross - maar ons het oorleef. 'n Druiwemandjie vol avokadopere was op 'n keer ons hoofgereg (3 maaltye). Die geyser het gebars, en ek moes dit self regmaak - val deur die plafon tot in die bad. Daarna moes die Volkswagen se masjien oorgedoen word en die enigste plek was in die kombuis, waarmee jy natuurlik nie saamgestem het nie. Jy kan nie stry nie, dit was die moeite werd.

Nou het die dae maande geword, en die maande jare. In November word Dollie gebore en nou was ons drie. Twee jaar later kom Hantie en is ons toe vier. Nie ver agter haar nie, kom Karen. Daarvandaan is dit na die spookhuis op Goedemoed waar dit heelwat beter gegaan het met die goedkoop vleis, groente en melk. Op 'n koue dag in Aliwal Noord word Daleen gebore. Sy was nommer vier, en nou is ons ses, en ons het besef dat hef-aan lê voor.

Die maan het nie elke nag geskyn nie, en geld vir rose was daar ook nie, alhoewel ek seker was dat daar meer maanskyn-aande was as donkermaan. Dit het met ons baie goed gegaan, maar ons het dit nie elke dag besef nie en het dit soms as vanselfsprekend aanvaar. Deur hierdie tye het ons aan die belofte in die klipkerk vasgehou. Jy was en is nog dieselfde meisie wat ek op die stasie gaan haal het.

Ons het van mekaar verskil, maar op die regte manier, en liefde was altyd die werkwoord. Groot besluite het ons geneem, maar eers nadat ons Leiding gevra het. Ons is geseën met die mooiste en liefdevolste dogters, en al wou ek graag 'n seun gehad het, sal ek nie een van hulle verruil nie.

Vandag het die veertigste jaar verbygevlieg, en ek weet nie hoeveel daar oor is nie. Dankie vir al jou liefde, geduld en verdraagsaamheid, maar die een wat uitstaan is die liefde. Ook vir die wonderlike ouma wat jy is.

Mag die eerste sonsopkoms van die een-en-veertigste jaar en jare wat voorlê die voortsetting wees van 'n tyd vol liefde, gesondheid en geluk. Ek bid en vertrou dat ons soos in die verlede in die toekoms net soveel onverdiende Genade van die Here sal ontvang.

Liefde is die grootste geskenk wat jy kan ontvang en daarom bevestig ek dit op hierdie VIERDE DAG VAN MAART TWEE DUISEND EN SEWE.

LIEFDE

(EK KAN NIKS HIERBY BYVOEG NIE, BEHALWE: WAT 'N VOORREG OM VRIENDE SOOS DIE GESIENE MAN EN SY BEKWAME VROU TE KAN Hê. VIVA DIE HUWELIK EN VRIENDSKAPPE!!!)