Friday, October 12, 2012

OOR GRYS HARE, VALS TANDE EN ANDER GEHEIMPIES

As ek maar geweet hoe moeilik dit is om na "etlike jare" weer in die stroom van werkende en aan-die-gang mense te kom!

Ek het mos so ewe ingewillig om voorsitter van die plaaslike tak van die ACVV te word.  Ek is baie opgewonde oor die ACVV, want ons is die oudste welsynsorganisasie in die land.  Mens kan maar sê die moeder van alle welsynsorganisasies in Suid Afrika. Ek het net nie heeltemal mooi nagedink oor die omvang van my besluit nie.

Moet my nie verkeerd verstaan nie.  Ek is glad nie spyt daaroor nie!  Ek voel baie bevoorreg om hier te kan wees.  Dis net dat al die rompslomp van ons samewerking met staatsdepartemente, munisipaliteite en ander groot instansies so 'n bietjie bydra tot my groterwordende arsenaal van "geheimpies".

Met elke nuwe vorm wat voltooi moet word om 'n diens moontlik te maak, kan ek behoorlik voel hoe 'n klompie hare stokstyf spring en met die terugvalslag silwer-wit-grys word.

Elke keer as 'n nuwe bevestiging van my identiteit gesoek word om ons kommunikasievermoë uit te brei, kraak 'n tand.

Met elke nuwe vertraging wat ons beleef in ons strewe om 'n diens te lewer, val sekere onnoembare dele van my anatomie sommer net daar plat. 

Wanneer 'n storie so swak uitgedink is dat die stok waarmee ek dit aanvoel ook begin krom trek van pure verleentheid, kom daar so 'n taaiigheid oor my.

Dis nou my geheimpies.  

Vandag het ek agtergekom dat ons almal maar met ons troetelfrustrasies sit.  Soos ons ouer word, word die klompie geheimpies wat daardeur veroorsaak word, ook al hoe meer. Dis net daar wat ek besluit het - ek gaan nie krom loop onder hul las nie.

Ek word ouer.  Ek leer moeiliker as 'n paar dekades gelede. Die tegnologie groei onder my uit. My geduld met mense wat hulself benadeel word minder. Knaende negatiewe pole maak my suur.  'n Onlustigheid om die sonkant van die lewe raak te sien pynig my in my diepste gebeentes. Noorsdorings, wat moeite doen om onaangenaam te wees, kan ek nie staan nie.

Ek kan nog aangaan, MAAR

My vreugde wanneer 'n ouerlose kind by pleegouers geplaas word en blom omdat hy nou gaan boer, gee my onmeetlik meer vreugde as al die ou geheimpies saam.

Die lekkerte wanneer 'n ouer persoon een van ons residensiële fasiliteite as "my huis" beskou, maak elke vormpie wat ingevul moet word, die moeite werd.

Die moontlikheid om 'n diens uit te brei na 'n suksesvolle fondsinsamelingspoging laat my hart jubel.

Die vreugdes wat ek daagliks beleef is BAIE MEER as die frustrasies wat so maklik in die jassak glip.

Die grootste lekkerte is egter die entoesiasme wat onder die vrywilligers en die werknemers gedy.  Niks kom by die goedvoel wat mens beleef wanneer jy met sulke mense kan saamwerk, saam beplan, saamstoei en saam feesvier nie.

Dankie ACVV, vir die groot lekkerte.  

Wednesday, October 3, 2012

MY VOORTGESETTE STRYD TEEN DIE KONDENSMELKBLIK

Ek sukkel mos al lankal met hierdie soet tand van my.  Jy onthou mos, daai kondensmelk-soettand.  Ek het sal mens maar sê, begin aanvaar dat elk nou maar elke dan en wan weer in 'n paar blikkies van die satynagtige romerige soetigheid sal moet belê.  Ek begroot al daarvoor....

Tot iewers in verlede week.  O, wat 'n allerverskriklike aand was dit nie.  Ewe openlik en rein van gewete geniet ek 'n blik kondensmelk terwyl ek, manlief en Willie voor die TV uitspan.  Niemand maak eers meer opmerkings daaroor nie, want ek is nou maar eenmaal lief vir kondensmelk, en dis my sonde.

Nadat die blik totaal leeg eenkant toe geskuif is, tel Willie dit op en begin lees op die etiket.  Wat lees hy? Hy kyk na die voedignswaarde en so aan van sy ma se sonde.  Lees die kilo-joule waarde hardop vir my, maar dit be-indruk my glad nie.  Dit klink glad nie so erg nie.

Toe skakel Meneer dit vir my om na kalorieë.  Ek dink mos nog in kalorieë! Mamma, Ma het sopas meer as eenhonderd dae se voorgestelde kalorieë ingeneem.

Wat? Jy speel seker?

Nee, Mamma.  een blik kondensmelk bevat 324,570 kalorieë, en die daaglikse aanbevole aantal kalorieë vir 'n aktiewe (let wel AKTIEWE) volwassene is ongeveer 3,000 kalorieë.

Ek het dadelik die allerverskriklikste hoofpyn gekry, en stoei nou nog met hom. Daai blikke kondensmelk staan nog steeds op die rak - en nou koggel hulle my.

My gekose sonde lyk nou nie meer so skadeloos nie.  Ek is nou bang vir kondensmelk. Ek loop draaie om die spens, en kyk links as ek by hul staanplek verbygaan.  Ek is nou soos iemand wat bang is vir spoke - die goed bly heeltyd in my gedagtes.  ek is nie seker dat ek rehabiliteerbaar is nie, maar sover hou die vrees my darem op 'n soort van 'n afstand van die kondensmelk af.

As die aantal kalorieë begin vervaag, kom Willie se volgende woorde weer by my op.  "Dit is nou ook nie asof  Ma se liggaam oortollige kalorieë net so kan ignoreer nie, hoor.  Dit word maar soos by enige ander mens op 'n manier gestoor" Dis nou sy ordentlike manier om te sê "DIT GAAN SIT OM MA SE MIDDELLYF"

Met die resessie, die styging in pryse van net mooi alles, waspoeier wat ons klere in elk geval laat krimp, en sjampoe wat "extra body and volume" waarborg, kan ek dit nie bekostig om weer ligweg en gemaklik met kondensmelk om te gaan nie.  My vrees is dalk net my redding.

Wyse Ouma Ella het egter meer as vyftig jaar terug al raakgesien dat ek te dom is om bang te wees. Ek hoop dat ek die domgeit nou al ontgroei het.

Ek is so bang ek  kry binnekort weer 'n aanval van dapperheid , want dan val ek dalk weer 'n blik of wat aan en vernietig hulle met smaak.

Ai tog!

Saturday, April 7, 2012

Gesinsgeweld

Daar het 'n verskriklike ding in ons gemeenskap gebeur wat my weer eens onder die indruk gebring het van die groot gevaar wat gesinsgeweld inhou.  Dis so 'n onnodige verskynsel - ek bedoel daar is hulp om elke hoek en draai, mense!  Praat, kry hulp, red lewens.  En dwelms,  ai tog, ek wens ons kon dit net wegwens.


Ballade van ‘n ma

Dit was ‘n gewone dag

Met sonskyn, werk en lag.

Toe kom jy in -

Jy raas en skel;

Jy stamp en stoot.

Die kinders huil

En ek voel vuil.



Daar is ‘n pikswart wolk

Wat om jou wese kolk:

Kinderkoppie teen die muur;

Name gegraveer in hartjies klein;

en ek wat nog wil keer,

word summier grond toe gestuur



Ek kan nie meer;

Ek wil nie meer.

Ek sal nie meer

Kom ek om, dan kom ek om,

Maar vir jou sal ek keer.



Dit is ‘n gewone aand

Soos elke einde van die maand.

Daar’s een verskil –

Jy lê daar stil….

Ek moet hier uit

Jou woede is gestuit.



In die lig van die maan

Drup die bloed soos ‘n traan

Die mes was skerp

Die lem was glad

Nou moet ek praat

Dat die mense kan verstaan.



Ek kon nie meer;

Ek wou nie meer.

My  straf lê voor –

Die tyd sal leer

Maar die kinders se seer

Het ek vir altyd gekeer.





Te laat

Dit was ‘n Saterdagaand

Soos elke einde van die maand

‘n Bietjie tik, ‘n bottel dop….

‘n Man soek nou vrede

En ‘n lêplek vir sy kop



By die huis, net ‘n kille ontvangs

En eise, vrae, nood

Geen lêplek sag, geen kinderlag

Net maar ‘n geneul, gekerm en verwyt

Ewige stryd om brood



Tik en dop leer soek net vergelding:

Hier’s  te veel monde, te min geld,

geen rustigheid om te peins oor my wonde.

Maak  stil daai lawaai - selfs met geweld

‘n Man moet mos sy gesag laat geld



Alles vaag

Alles rooi

Te veel gekerm, te min respek

Wat hier makeer is die roede

Om uiting te gee aan die woede



Ek sien die mes, ek skrik vir jou oë

Die brandpyn van die lem  in my bors

Wat gaan aan? dit kan nie wees

Vreemde jy  buig oor my met bebloede mes

Dis bo my begripsvermoeë



Ek’s dan lief vir jou

Vir jóú’t ek als gelos –

My huis, my kinders, en my vrou…

Jou oë brand in my siel

Wie kon dit voorsien?



Alles vaag,

Alles dof,

Te vroeg my laaste skof.

Net een gedagte –

Dit is te laat.

Tuesday, November 15, 2011

Die gastroskopie en die kaartjie

As mens begin ouer word, verander die gespreksinhoud van kinders na kleinkinders, van werk na stokperdjies, en van algemeen na gesondheidsake, brille, pille, hospitale en dokters. Dis nou maar net een van daai sewe-en-twintig of so nuwe feite van die lewe. 'n Mens kan dit vermy en vereensaam, of dit aanvaar en tussendeur baie humor raakloop.

By 'n onlangse funksie vertel 'n nuwe vriendin ons die storie van haar gastrosokopie. Dit klink nogal baie aardiger as wat dit was.

Ista se storie begin met die feit dat sy nou vir die eerste keer in haar lewe, hier na aftrede, 'n kredietkaart het.  Sy is nie 'n finansiële ghoeroe nie, en na 'n vorige probeerslag het haar man, Jan, haar belowe dat sy nooit ooit weer haar hand aan 'n tjekboek sal slaan nie.

Vir die kredietkaart is sy so bang as die duiwel vir 'n slypsteen, want sy verstaan nie hoe die ding werk nie.  Wat sy wel weet, is dat daar ten alle tye ten minste R10,000-00 in die kaart moet wees.  Die bedrag moet haar deurdra in die gevallentheid dat Jan haar dalk sou ontval - siende nou dat sy  geen tekenregte op enige van hul gesamentlike geldbêreplekkies het nie.

Hoe dit gekom het dat sy sonder tekenregte sit, is nou weer 'n ander storie. Jare gelede het hulle in 'n baie welvarende gemeenskap gebly.  Haar man was die skoolhoof, en sy 'n onderwyseres.  Hulle moes tog met hul medemens meng en sosialiseer. Die vrouens van die omgewing het die een Tupper-partytjie na die ander Press-less partytjie na die ander Reeva-, Annique-, Justine-, Avroy Schlain of watter moontlike partytjie daar was, gehou.  Die een geleentheid was groter en spoggeriger as die ander, en die vrouens het ewe lustig hul tjekboeke uitgehaal en tjeks geteken vir al hierdie aankope waardeur hulle mekaar dan ondersteun het, en die ekonomie aan die gang gehou het.

Ista het toe ook gevoel dat sy soos 'n seer duim tussen hierdie dames uitstaan omdat sy so in haar beursie moet rondkrap vir 'n geldjie om haar minimale aankope mee te betaal.  Sy het haar situasie vir Jan verduidelik en gemotiveer, en hulle is bank toe om tekenregte te reël - op die gesamentlike bankrekening.

Vir die volgende maand was Ista dan ook een van die dames.  Sy het elke partytjie bygewoon, en vir haar aankope met die tjekboek betaal. Sy het dit geniet om tjeks te teken asof dit 'n alledaagse ou takie was. Haar borrel het egter gebars toe Jan die eerste bankstaat na haar emansipasie oopmaak.  Sy is van haar tekenregte ontneem met die duidelike belofte dat dit NOOIT WEER herstel sal word nie.

Op welke manier die kredietkaart veiliger sou wees, is nie vir my heeltemal duidelik nie.  Ek kon wel agterkom dat Jan die rekening elektronies, met behulp van die rekenaar, bestuur.  Een van haar dogters se vorige kêrel, het ook vir Ista geleer om die kitsbank, of soos sy sê, die kaartjiemasjien, te gebruik. Sy kom dus oor die weg. Iewers is daar egter nog 'n onduidelikheidjie: Ista sê dat sy op 'n stadium R13,000-00 of so in die kredietkaart gehad het.  Jan het toe op die rekenaar gewoel, en wys haar toe dat daar nou R10,000-00 is "wat wys".  Die ander geld is glo nog daar iewers (in die kaart of die rekenaar), maar 'n mens kan dit net nie sien nie.

Ista gaan dit ook nie soek nie, want sy is, in haar eie woorde, rekenaar-gestremd. 

Dit bring ons nou weer by die gastroskopie. Ista moes 'n gastroskopie ondergaan.  Jan reël vir al die magtigings en nommers en goed by die mediese fonds, en faks die nodige deur na die dokter en die hospitaal.

Toe alles gereël is, neem Jan haar na die hospitaal. Op pad soontoe ontvang sy 'n SMS wat sê dat sy moet onthou van die R2,000-00 bybetaling wat sy moet maak.  Sy lees dit vir Jan, en hy gooi amper die motor om van skok.  Dit is nie moontlik nie, want hy het al die magtigings en nommers en goed deurgefaks. Hy weier om 'n bybetaling te maak. Ista noem dat hulle in 'n noodgeval miskien die kaartjie kan gebruik, maar Jan staan vas.  Alles is gereël. 

Terug huis toe om  te bevestig.  Nee, alles is reg.  Hy bel weer die mediese fonds om seker te maak dat daar nie 'n verwarring met die nommers is nie.  Nee, al die magtigings is geldig, en die nommer is korrek.

Teen hierdie tyd is hulle nie meer so erg betyds vir Ista se afspraak met Dr. Retief nie.  Haar senuwees is redelik dun geskaaf.  Sy wil net die gastroskopie gedoen kry, en klaar.  Sy kom nie weer nie. Vandag is die dag, en klaar.  Sy weet ook dat Dr. Retief nie vir haar gaan wag nie.  Haar teatertyd is haar teatertyd. As dit verby is, is daar ander pasiënte wat wag.

Jan het ander planne.  Hy gaan nie 'n bybetaling maak nie, en klaar. Hy het die magtigings gekry. Sy plig is nagekom. Die mediese fonds sal betaal.

By die hospitaal aangekom word Ista se ergste vrese dan ook bewaarheid.  Die mense by ontvangs vra die R2,000-00 bybetaling. 
Ista sê haar man sê dis nie nodig nie, hulle het magtiging.
Hospitaal sê die bybetaling moet gemaak word. 
Jan sê oor sy dooie liggaam. 
Ista dood van skaamte, en plaas al haar hoop op die kaartjie met die geld vir Jan se begrafnis. Dit ontaard in 'n ietwat onaangename situasie, en die tyd stap aan.

'n Verpleegster kom naderhand vir Ista haal.  Sy is laat vir haar opname.  Ista gee in die wegloop gou haar kaartjie vir die ontvangsbeampte, en gaan saam met die verpleegster wat nie kan wag om bloeddruk, polsslag en wat nog te neem nie.  So oor haar skouer sê Ista vir die  ontvangspersoon dat sy tog maar die geld uit die kaartjie moet neem.  Wat hulle met Jan moet doen, moet hulle maar doen, maar sy wat Ista is, gaan nou vir die gastroskopie.

Terwyl die verpleegsters haar opnamekaart voltooi, maak sy net verskoning vir ingeval haar bloeddruk dalk hoog is - dis Jan se skuld. As haar polsslag te hoog is, is dit ook Jan se skuld.  Sy makeer gewoonlik niks nie.

Op die ou end is haar gastroskopie toe darem gedoen, en is daar nou net R8,000-00 in die kaartjie vir Jan se sterfte - plus natuurlik daardie ander R3,000-00 of so wat onsigbaar is.

Dit was egter nie die einde van haar nagmerrie nie, want daar kom toe nog 'n kwessie ter sprake.  Daar het aftrekkings, twee van hulle, op die bankrekening deurgegaan waarvoor hulle nie begroot het nie. Soort van ongemagtigde aftrekkings, as mens die woord nou so ydelik mag gebruik.

Jan praat met die bankpersoneel, en hulle beloof om 'n e-pos te stuur met die verduideliking.  Jan, wat weer 'n tydelike pos na sy aftrede aanvaar het, sou nie tuis wees om die e-pos te ontvang nie. Ista word aangesê om die e-pos in te wag, en vir hom aan te stuur na sy werksplek.

Sy weet nie hoe e-pos werk nie. Jan sal haar gou die aand touwys maak. Hy sal ook die volgende oggend sorg dat die rekenaar aangeskakel en op "die regte bladsy" is.

Toe vir die opleiding: Eers moet sy op "clear" klik. Dit is regs bo iewers. Sy doen dit. Nou moet sy op iets anders dubbelklik. Sy klik, en klik en klik. Niks gebeur nie. 

Jan beduie dat sy moet dubbelklik.  Intussen skryf sy elke woord neer, want sy moet dit die volgende oggend net so oordoen.

Na die dubbelklik, beduie Jan, sal daar iets 'opkom' wat nie nou kan opkom nie, want die e-pos is nie daar nie.

Ista skryf dit neer.

Nou moet sy op dit wat sal opkom, maar wat nie nou opgekom het nie, dubbelklik.

Ista skryf dit neer.

So gaan hulle deur die hele proses. Die adres wat sy moet intik, maar wat sy nie nou al kan intik nie, en alles.

Getrou skryf sy dit alles neer.

Sy wil weet hoe sy sal weet wanneer om te begin clear en klik en dubbelklik.  Jan stel haar gerus.  Die rekenaar sal mos aangeskakel en reg wees, en sal dan 'n geluid maak as die bank se e-pos deurkom, en dan moet sy tot aksie oorgaan.

Die volgende oggend, so vertel Ista,  is sy vroeg paraat en voor die rekenaar.  Die rekenaar is reeds aangeskakel.

Sy maak nie die tuin nat nie, sy skakel nie die radio aan nie, sy sit nie kos op die stoof nie en die wasmasjien bly afgeskakel, want sy moet hoor wanneer die rekenaar sy geluid maak wat haar tot aksie moet aanpor.

Die aand met sy tuiskoms wil Jan belangstellend weet hoe haar dag verloop het.
Ista sit steeds voor die rekenaar en wag. Geen geluid het daaruit gekom nie.

"Ag, toemaar", is Jan se antwoord.  "Ek het sommer gou vanoggend bank toe gegaan en die sakie daar uitgeklaar....."

Net sommer so.

Thursday, October 20, 2011

Spore in die sand




Ek dink almal weet hoe rustig en kalmerend, praat nie van gesond dit is om laatmiddag, wanneer die skaduwees so l-a-n-k word, op die strand te stap. Dis mos of mens se siel dan weer die geleentheid kry om saam met die ou liggaam 'n slag diep asem te skep, en te voel hoe die vars seebries al die spinnerakke en ander onsuiwerhede laat verdwyn. Die muwwerigheid wat maar met die tyd in jou gemoed opgebou het, word verdryf, en 'n sprankelende nuwe varsheid kom oor jou.




Sien ek die skulpspoortjies wat so liggies oor die sand lê, besef ek weer dat selfs die kleinste gebaartjie en gedagtetjie 'n merk laat. Hierdie merk kan deur die hoogwater van verootmoediging skoongespoel word, of, as die hart verhard is, soos 'n fossiel in my binneste versteen en later alles wat sag en funksioneel behoort te wees, oorneem en vereelt.


As ek regtig genoeg tyd het, kan ek die voetspore in die sand lees, en verstaan hoe wonderlik die gawe van tweede kanse regtig is.  Waar hierdie diep spore nou lê, sal daar na hoogwater weer 'n skoon stuk strand wees.  Vir my is dit soos gebed en vergifnis saamwerk om elke nuwe dag vir my weer sprankelend en skoon aan te bied. Al wat ek moet doen is om elke dag daardie spiksplinternuwe geleenthede so te benut dat die spore wat ek agterlaat 'n mooi storie van Waarheid vertel totdat hoogwater weer aanbreek om skoon te maak.

As ek omkyk, kan ek my eie spore sien, en dan lê die lang skaduwees agter my.  Voor my sien ek die goud van die ondergaande son. Al die beloftes van rus wat voorlê is daarin opgesluit. So ook die belofte van môre se nuwe begin.

Tuesday, September 6, 2011

Nog in Kimberley

Ons kleinnigie Lenie, wat ook ons kleinste niggie (ver onder die outydse vyf voet lank) is, is ook 'n platjie van formaat. Sy vertel hoe sy en 'n blinde vriendin, Erika, jare gelede ook in Kimberley gaan inkopies doen het. Dit was in die dae van die eerste ATM'e. Hoewel Erika 'n tjek kon teken as Lenie haar hand na die regte plek lei, en Lenie dan die geld by 'n kassier kon trek (vir die sekermaak dat die bedrag reg uitgetel word), besluit Erika die dag dat hulle van die kitsbank gebruik gaan maak. Die besluit het meer verreikende gevolge gehad as wat een van die tweetjies besef het.

Die eerste ATM'e was nie so gebruikersvriendelik as mens 'n lengtebeperking gehad het nie. Die skerm waar mens die volgende opdrag kon lees, was baie hoog. Wat die twee vriendinne nie besef het nie, was dat mens dit kon vertstel om, baie soos 'n motor se truspieëltjie, 'n bietjie toegankliker te wees. Soos dit seker maar moes wees, was die kliënt voor hulle lank van gestalte.

Lenie het glad nie geweet hoe die "BOB-bank" werk nie, maar is immer gereed om te leer. Erika het glo geweet. Sy kon "lees" en het gereeld boeke op band uitgeneem om in pas te bly met die wêreld om haar. So kom die tweetjies uiteindelik ook voor in die tou. Erika sê vir Lenie om die kaart in die gleuf te druk. Dis doenbaar. Nou fluister sy haar geheime nommer in Lenie se oor. Lenie tik dit in.
 Niks.
Erika sê vir Lenie om de instruksies te lees. Lenie kan die skerm nie sien nie, dis te hoog.
Erika het reeds 'n plan. Sy sal buk, en Lenie moet dan op haar rug staan sodat sy kan 'bykom' om te lees. "TRANSAKSIE GEKANSELLEER TYD VERSTREKE"

Terwyl die ry agter hulle, sowel as die kring van toeskouers om hulle groei, probeer hulle nog 'n paar keer. Die opklimmery neem elke keer net te lank. Telkens is die transaksie onsuksesvol en word dit gekanselleer.

Onwillig om die geheime nommer met vreemdes te deel, het hulle maar weer by die teller gaan geld trek vir die inkopies.

Die aankope is altyd oor twee dae versprei. Op dag een is daar met Erika se lysie na die drie supermarkte gegaan om elke item se prys te kry. Die volgende stap was om te bepaal watter item by watter supermark de goedkoopste was, en dan drie lysies op te stel. Een vir elke supermark. Op dag twee is daar dan by al drie die winkels gaan koop.

Op die dag van die ATM was die twee vriendinne op hul stukke. Nadat hulle die straat oorgesteek het van die een winkel na die ander, vra Erika waar Lenie haar donkerbril gekoop het. Lenie het dit by die vorige winkel, nou aan die oorkant van de straat, gekoop. Erika wil ook 'n donkerbril hê, en terstonds word die straat weer oorgesteek.

Lenie moet nou vir Erika 'n mooi donkerbril uitsoek. Lenie wil hê dat Erika die brille moet aanpas om te voel watter een gemaklik sit. Dit is nie wat Erika beplan het nie. Sy wil die bril hê om so tussen haar vingers vas te hou soos die heldinne in die boeke wat sy so graag lees (luister). Sonbril gekoop, moet Lenie nou help met die vashouery. Dit moet 'n stylvolle vashouery wees, wat by 'n heldin sal pas. Lenie help en gee raad. Hulle besluit dat Erika haar pinkie in die lug moet hou, en die bril net so liggies moet vashou - nie vasklou nie, en soms liggies daarmee speel.

Weer oor die straat. In die volgende winkel is hierdie bril nou behoorlik in die pad. Erika "kyk" mos met haar hande. Met net een beskikbare hand voel sy regtig half blind. Daar is egter vir alles 'n plan. Erika moet 'n mooi kettinkie kry sodat die bril ook om haar nek kan hang. Apteek toe vir die kettinkie.

Hier moet ek weer bietjie halt roep om ietsie meer van Erika te verduidelik. Haar blindheid het nie haar identiteit geword nie. Vir haar was haar blindheid 'n klippie in haar skoen - 'n ongemaklikheid waarmee sy moes saamleef. Dit was net nog 'n hindernis waaroor sy moes kom in haar lewenspad. Haar uiterlike voorkoms het nie haar blindheid ooglopend uitgestal nie, en uit haar geselskap kon mens nie maklik agterkom dat sy effens anders moes kyk nie. Die apteker was nie bewus van haar blindheid nie.

Lenie kom toe agter dat hulle te min geld het, en bied aan om sommer gou nog te gaan onttrek. Erika sou met die inkopietrollie in die apteek wag. Met haar terugkeer bars Lenie uit van die lag. DIe apteker lyk verward. Hy het geen idee waarom die vrou met die trollie hom so totaal ignoreer nie. Sy draai glad haar rug op hom. Erika staan met trollie en al, sonbril liggies in die hand, pinkie in die lug, vir die kaal muur en kyk. Haar rug is na die apteker gekeer, maar sy staan ewe nonchalant met die bril en speel.

Nadat Lenie aan albei verduidelik het wat aan die gang was, en hulle die vriendskap met 'n lekker saamlag verseël het, kon daar toe voortgegaan word met die aankoop van die ketting. Met die wegstap sê Erika: "Nou kort ek nog net 'n potlood vir my oor."

'n Kimberleyse dag om te onthou

Ek lees nou-die-dag 'n staaltjie van die mannewales wat 'n reisende slang by 'n inkopiesentrum in Kimberley veroorsaak het. Dit was skreeusnaaks, en ek kon die verwarring in my verbeelding gadeslaan. Die skrywer was baie grafies in sy/haar beskrywing. Jammer my geheue is so vol gate dat die outeur se naam deur een geval het. Skoonveld weg!

Elk geval, ek het die storietjie net soveel as my liewe man geniet. Dit gebeur nie aldag dat hy vir my 'n leesdingetjie aanbied nie.

Dink net: Die klante kom elke met sy eie gedagtes en bedenkinge met leë beursies en vol (of halfvol) inkopiesakke op die parkeerterrein aan. Elkeen wil so gou as moontlik van sy las ontslae raak en by sy/haar volgende bestemming uitkom. Ons raak mos so betrokke by ons eie sake dat dit 'n redelike groot affêre vat om ons aandag te trek.

Reeds besig om die middag se karweiery van kinders draai vir draai te beplan, of besig om die spyskaart vir die ete vanaand te vervolmaak, word die aandag wreed en sonder waarskuwing wegetrek na meer onmiddellike sake. 'n Paar mense gil uit volle bors en almal word terugeruk na dieselfde wêreld waar die ander mense ook beweeg.

'n Statige en rysige dame draai tiekie op haar stiletto's, die man wat reeds jare in sy boep belê, raak eensklaps luid van 'n klomp wind ontslae, twee van die sterkste hoëproesters by die plaaslike oefentempel help mekaar soos ballerinas op 'n ander oom se bakkie en gil soos dogtertjies.

Dit alles gebeur omdat slang se kind wil wegkom uit sy (nou te) warm ryplek onder Toeks se motortjie.

In my geestesoog sien ek dat al die "belangrike" sake wat almal tot dusver so onbetrokke gehou het, nou van hul dringendheid verloor.

Te danke aan die einste glansende paradysbewoner wat mens soms na donkertes toe lei, sien ons mekaar weer raak . Ons lag saam, ons deel 'n paar verligte woorde met 'n totale vreemdeling, ons help Mev. van Aansien deur haar uit haar floute van die (nou) lewelose slang af op te help en bietjie af te stof; om weer oor die weg te kom op haar haklose stiletto's, en weer 'n bietjie waardigheid terug te kry. So word 'n gewone dag vol van sleurwerk en remmende verpligtinge skielik omtower in 'n dag om te onthou.

Dit vra net een insident.