Thursday, March 26, 2009

DIE DAG TOE EK MET KANKER GEDIAGNOSEER IS

Die dag het soos enige ander oggend begin - totdat ek gaan stort het. In die stort voel ek 'n knop aan my regterbors. 'n Knop wat dadelik vreemd en onwelkom is. Kliphard, en 'n bietjie groter as 'n gesonde ertjie. Reg onder my tepel. As ek vroeër in die spieël gekyk het, sou ek gesien het dat my bors se hele vorm oornag verander het. Maar ek het nie. My oorgewig het veroorsaak dat ek so min moontlik van myself wou sien. Veral op my nugtermaag, en veral sonder klere aan my lyf!

Wat nou? Stort maar klaar, en gaan Progrow toe. Willem was reeds daar, en ek wou mos ten alle koste die besigheid laat werk. Die bors-gedoente moet eers simmereer sodat ek kan weet hoe ek daaroor voel.

Vir die eerste uur of twee het ek normaalweg met die dringendste takies aangegaan, en toe ek en Willem albei gereed was vir 'n koffiebreuk, het ek hom vertel dat ek 'n knop aan my bors ontdek het. Hy het my eers onbegrypend aangestaar - toe laat ek hom voel. Sy hele gesig het versomber, en ek kon die ongeloof wat ek beleef het, in sy gesig sien. Dit kan mos nie wees nie!!!

Ons het besluit dat ek maar so spoedig moontlik by 'n dokter moes uitkom. Ek het ons huisdokter geskakel - die ontvangsdame het aanbeveel dat ek sommer dadelik vir 'n mammogram gaan - dis tog wat Dokter sou voorstel. 'n Afspraak is gemaak, en die gewag het begin.

Later die oggend het my ouers 'n draai by die fabriek kom maak, en ek het my ma vertel - ook my seun, wie sy besigheid ook uit dieselfde gebou bedryf het. Dit was 'n Woensdag, en ek kon eers die Maandag plek kry by die radioloë vir die mammogram. So moes ek my dogter per telefoon hiervan vertel. Sy was erg geskok, en baie jammer vir my.

Die naweek was maar lank. My ouers het kom kuier, my broers het geskakel. Dit was uiteraard maar 'n gedempte storie. Hulle het my probeer verseker dat dit niks ernstigs kon wees nie. Skoonsus ('n verpleegkundige) sê dis baie kere net 'n verdikking in die melkkliere, of 'n infeksie. Skadeloos. My mond het saamgepraat, maar diep binne het ek geweet dat dit nie so eenvoudig is nie. Ek het al voorheen ontsteking in die melkbuise gehad - dit was heeltemal anders.

Maandag. Ek is op die bepaalde tyd na die hospitaal vir die mammogram. Ek hou nie van die besigheid nie, maar dit moet gedoen word! Na die tyd, toe ek in die aantrekkamer wag, groei my oortuiging dat hierdie storie "bad news" is. Die vorms wat ek moet invul help nie eintlik om die gevoel van verdoemenis op te hef nie. Ek begin dink aan familielede en voorsate. Nee, net Pa se een suster, Tant Sussie, het borskanker gehad. Dit moet mos eintlik van Ma se kant van die familie af kom as ek dit geërf het? Ons weet te min van die deel van die familie - Ouma aan moederskant is oorlede toe ma nog 'n kleuter was. Nee, die nagmerrie sal oorwaai.

Nog later word ek geroep. Die radioloog wil 'n sonar neem. O, Nee! Hier kom dit nou.

Ek wag op 'n bedjie voor 'n rekenaarskerm. Die baie gawe man kom in, en wys my op die skerm hoe die knop nou eintlik lyk. Dis rond, redelik duidelik afgebaken, en bietjie dieper as wat die omtrek daarvan is. OK, wat nou?

Ek moet maar rustig wees, hulle gaan nog 'n biopsie ook doen. Dis 'n baie lang naald - dik ook, en peperduur vertel hulle my - word ingevoer van Australië af, of iets. Ek is gelukkig nie bang vir naalde nie. Die personeel gesels met my oor allerhande ligte sakies. Eintlik heel aangenaam - behalwe vir die donker wolk van afwagting. As ek nou nie so snaaks geklee hier op die bedjie gelê het, en die dokter se hande besig was nie, kon ons gesellig sit en kuier het. Ek besef weer dat ek glad nie kan gedy met onsekerheid nie. Liewer die waarheid hoor, al is dit slegte nuus.

Hierna kan ek weer gaan wag. Ek mag maar aantrek, die ondersoek is afgehandel.

Met die verslag in die hand is ons huis toe - spreekkamer langs. Die verslag het ons eers gelees, hoewel ons nie alles verstaan het nie. Ons het wel verstaan van karsinoom en maligne. Die dokter is reeds weg. Ek laat die koevert by ontvangs. Dokter sal my bel.

Pa en Ma maak weer 'n draai. As dit kwaadaardig is, sal hulle help met die mediese kostes. In die geval van 'n mastektomie, moet ek gaan vir rekonstruksie ook - hulle sal help.

Ek het 'n wonderlike familie.

Dinsdag - werk toe. Wat sal ek by die huis doen om die wagtyd om te kry? Dis moeilik om te konsentreer. Die foon lui nie. Die gewag raak heeltemal te veel vir ons almal. Ek besluit om maar spreekkamer toe te bel, en te hoor wat al die groot woorde finaal beteken.

Die ontvangsdame skakel my dadelik deur na die dokter. Hy "Hmmm en ahhh". O gatta!

Dokter weet nie mooi hoe om die saak aan te voor nie, want hy't my nie eers vooraf gesien nie - ek's mos dadelik Radiografie toe. Dis vir hom baie moeilik, maar hy verduidelik van die karsinoom (klas 2) en gee nog inligting. Ek wil net weet wat nou moet gebeur. Die inligting gaan nie meer in nie.

Ek moet 'n sjirurg kies, en dan soontoe gaan. Ek kies die een wie se naam ek al vroeër gehoor het. Later word die afspraak vir die volgende dag bevestig.

Woensdag. 'n Week het verbygegaan, en my bors het 'n vreemde aanhangsel geword wat my toekoms bedreig. Ek wil dit nie meer aan my lyf hê nie. Ek voel verraai deur my eie liggaam.

Ek vertrou op die Here om my ook deur hierdie dal van doodskaduwee te lei. Ek onthou hoe ek 22 jaar tevore na my eerste hartaanval in die Noord Natalse boendoes, by Hom gesmeek het om my lewe te spaar totdat Rachel met matriek klaar is. Sy is nou sewe maande getroud.

Ek onthou hoe hy my genees het toe my nek twee jaar tevore in 'n motorongeluk gebreek het. Ek onthou al die ander gebede wat verhoor is: dat ek steeds kan loop met gekrokte rug en sy spul nagevolge en al. Ek voel weer die gevoel van geborgenheid wat ek in Namibië beleef het as ek soggens op die vreemde plek wakker word - alleen in die huis, omdat Willem iewers besig is met 'n opmeting, Willie en Rachel reeds uit die huis en besig met hul eie lewens. Soggens het ek wakkergeword met die gevoel dat ek soos 'n klein voëltjie snoesig in 'n nessie met vere uitgevoer, bewaak word. Die Here hou my in sy hand vas, en ek het moed vir wat ookal voorlê.

Dokter Sjirurg is baie gaaf, vriendelik en toeganklik. Hy vertel my dat daar in my spesifieke geval nie 'n ander uitweg as 'n volledige mastektomie is nie. Hy waarsku dat borskanker 'n groot emosionele impak op die pasiënt en haar gesin en geliefdes het. Ek stel hom gerus: Ek is nie baie emosioneel van aard nie. Hoe kan hy weet dat ek die mastektomie sal verwelkom? Ek wil die bors nie meer hê nie, want dit bedreig my en die mense wat vir my belangrik is, se gemoedsrus.

Ek vertel hom dat ek so gou as moontlik wil gaan vir rekonstruksie, want ek wil nie onnodig lank herinner word aan die kanker nie. Mense kan die woord nie eers hardop sê nie. Ek dinstansieer myself van 'n lewe as 'n kanker-(of enige ander)pasiënt. Ek sal die tyd wat ek oorhet: miskien 5, miskien 10 jaar, of wie weet hoe lank, as myself leef. Ek wil nie deur 'n siekte gedefinieer word nie. Die siekte met sy simptome en newe-effekte is daar om oorwin te word.

Nou lê die besoek aan die plastiese sjirurg voor. Ek is skaam oor my lyf, en vol vertwyfeling, maar deur hierdie besoek moet ek ook!

Die personeel is baie normaal, vriendelik en gaaf. Ag, hoe lekker om soos 'n mens tussen mense te voel, en nie soos 'n "geval" nie. Ek word nie aangestaar en bejammer oor my ordinêre 50+voorkoms nie. My vooroordele oor plastiese sjirurgie word sommer hier in die wagkamer al die nek ingeslaan.

Prostese moet gekies word. Willem is by. Bitter moeilik vir hom, maar hy hou by sy belofte van bystand deur die botter EN die wors. Ons is nou definitief by die wors.

Grootte is belangrik, vorm en posisie ook. Skoonheid lê in simmetrie. Ja-ja, dit is so, maar ek's nie meer 20 nie, en in 'n bikini of enige swembroek sien jy my nooit weer nie. Ek wil net (met klere aan) goed lyk. Ek probeer hierdie gesprek uitrek, want ek's bang vir dit wat moet volg. Ek trek tevergeefs kleinkoppie vir die volgende stap....

Ondersoekkamer toe. Dokter sit op sy hurke voor my - ek sit op die bed. Kaal bolyf. Hy kyk, korrel en meet. Ek sit soos 'n lam ter slagting. Die klem het nou verskuif van die siekte, na die lewe daarna. Van die wetenskaplike na die estetiese. Van medies wenslik na sosiaal aanvaarbaar.

"Ek moet jou waarsku. Ek kan nie weer vir jou so 'n hangbors gee nie. Die nuwe bors gaan anders lyk as jou linkerbors."

Ek's uit die veld geslaan. Het 'n meer somber, teoretiese opmerking verwag. Voor ek my kom kry, sê ek: "Ek sou so hoop! Anders sal jy nie baie pasiënte hê nie. Ek wil nie weer hangborste hê nie, en die linkerbors moet ook waai - sommer nou al. Ek soek nie later weer probleme nie."

So begin die operasies en die behandeling en die res van my lewe toe.

Ek het nog nie by "Reik na Herstel" aangesluit nie, hoewel ek nou gereed is daarvoor. Ek is egter alweer redelik besig met ander projekte soos Kuierbos Plaasvakansies, die Loural Liefdadigheidstrust, Huis Elsje vir die versorging van persone wat aan Alzheimer se siekte ly, en die Danabaai Dienssentrum.

Soms, veral as die gloede (newe-effwek van chemopilletjies) my teister, onthou ek dat ek kanker het, maar meestal is ek te besig met die lewe om veel tyd aan siektestorietjies af te staan.

My Nuwejaarsvoorneme vir 2009 is om elke dag iets te kry waaroor ek regtig lekker en uitbundig kan lag, en as dit moontlik is, om dit met iemand anders te deel.

My nuwe lewensfilosofie is om elke dag so te leef dat ek nooit hoef te sê ek's jammer ek het 'n dag gemors op onbelangrike dinge nie. Wat belangrik is, is om te LEEF, om God se wonderlike liefde uit te straal, en om iets vir my medemens te beteken. En dis belangrik om te onthou dat ek hierdie pad net eenmaal stap.

My resep om ook die moeilike dele van die pad te bemeester: "Just do it!" (gesteel by Nike)

4 comments:

absolutwillie said...

in elke aspek, bly Ma vir my die mooiste vrou op aarde! hierdie inskrywing is baie braaf en uitstekend gedoen. ek is trots op Mamma!!

loeloe said...

Liewe Marietjie

Het nou so 'n lieflike kuier agter die rug hier by jou! ("Toevallig" -- hmm, ons weet mos!-- op jou kosbare werfie afgekom.)

Sterkte vir die stap van hierdie pad en o, die troos en versterking van ons wonderlike Here toegebid.

Ek weet nie of jy vandag al oor iets kon lag nie, (hoewel ek oortuig is ek kan jou sommer oor niks ook hoor lag!) maar in elk geval:

Die eend loop by die kroeg in en vra die kroegman: "Het jy brood?"

Kroegman: "Nee."
Eend: "Enige brood?"
Kroegman: "Nee!!"
Eend: "Niks brood nie?"

Kroegman is nou lekker warm : "Nee, ons het GEEN brood nie!!"
Eend: "Nie eers ou brood nie?"
Kroegman: "Is jy verdeksels doof of wat?! Ons het geen verdingeste brood nie!!
"En as jy my nou weer vra vir brood, gaan ek jou afgedankste bek aan die kroegtoonbank vasspyker!!"
Eend: "Het jy spykers?"
Kroegman: "Neeee!!!!!"
Eend: "En brood...?"

Opregte groete uit die verte.

mariki said...

Waar is jou volgende gesels??

Sien uit daarna!

mariki
http://fluitjiesriet.blogspot.com

Anonymous said...

Hi Marietjie. Ek sit hier bewoë , aangetas deur jou moedige woorde aan die wêreld hierbuite. My man is 3 weke gelede gediagnoseer met kolon/rektum kanker. Ek hoop en bid dat ek hom sal kan ondersteun met dieselfde krag wat jy vir jouself kon gee. Ek sal elke keer wanneer ek wil huil, jou boodskap van moed kom lees. Tinka Marx