Thursday, December 22, 2016

Ydelheid en die waarheid

Ons goeie vriend,  dieselfde gesiene man wie ek vroeë beskinder het, vier sy sewentigste verjaarsdag. Sy vrou en dogters het 'n verrassingspartytjie vir hom gereël.

Omdat die affêre so in die geheim gereël word, is ons nie seker presies wat om te wagte te wees nie.  Die geselligheid begin om half drie die middag, 'n geskikte tyd vir "oumens koek en tee."  Die verwarring ontstaan egter toe Manlief gevra word om die tafelgebed te doen. Nou dink ons die gekuier kan dalk tot laataand aanhou.

Ek weier om soos Stomme Siek Sinatjie te lyk, en doen baie moeite met my uitrusting en so.
Tot ek besef ek is eintlik aan die verkeerde kant van sestig.

Dit het begin by die rok. Ek het 'n baie mooi lang rok gaan koop vir die okkasie.  Die rok is egter mouloos.  Nogals outydse "in cut sleevs" . Manlief sê egter dit lyk bietjie snaaks (overgezet synde lelik) hier by die bo-arms rond.  Voor die spieël moet ek saamstem.  Ek het van daardie vriendelike, flappende bo-arms. As ons gaste gehad het wat weer huiswaarts keer, en ek hulle groet, wuif die flappe steeds wanneer die gaste al honderd kilometer ver gery het. Hartlik.

Nadat kanker my van veertig kilogram gewig verlos het, het ek nou omtrent veertig myl se plooie bygekry. 'n Klomp hiervan het kom nesmaak in my skouer en bo-arm areas. Die res is nie gespaar nie, maar word net goed bedek.

'n Plan is 'n boerdery. Ek het so 'n gehekelde baadjietjie wat ek bo-oor kan aantrek. En ek voel heel tevrede met myself. Die ergste plooie en flappe is nou heel kuis weggesteek, en die baadjie is ook nie te warm of te deftig nie. Ook nie te koekerig nie (hoop ek).

In die proses om grimering aan te wend, sukkel ek om die gesigpoeier oop te kry, en breek 'n nael. Soos in eina-onooglik kort. Nog 'n dilemma staan voor my.  Met my bril op, kan ek nie die grimering aanwend nie; sonder die bril kan ek nie sien wat ek doen nie.

Die groter probleem is dat dit baie sleg lyk. Ek het my naels Krismisrooi laat verf, en nou is die geskeurde stuk baie lelik. Die salon is vol bespreek, en hulle kan nie gou genoeg help nie.  Daar is in elk geval nie meer genoeg tyd nie.

Toe val dit my by dat dit mos deesdae mode is om 'n mens se naels verskillende kleure te verf.  Ek verwyder die bietjie krismisrooi wat oor is, en verf die oorblywende stukkie nael helder pienk. Net die een nael - daar's nie genoeg tyd vir die ander nege ook nie. Die helder pienk is  die enigste botteltjie wat nog nie dik en taai geword het nie.  My oë sukkel bietjie met hierdie voorkoms, en ek besluit om "glitter" bo-oor te verf dat dit minder opsigtelik kan wees. (Haha)

Ongelukkig moet ek my pruik ook opsit. Die kaalkop waarheid het bak ore, en ek wil dit liewer probeer kamoefleer. Die nuut geverfde nael,smeer af in die gesukkel met die pruik. Ek het darem naellakverwyderaar, en maak die nael weer skoon.  Ongelukkig kom Arthur Ritis toe ook weer uit sy kassie, en ek gooi die botteltjie naellakverwyderaar om.  Op my mooi rok. Arthur Ritis en Haastige Hansie is nie 'n goeie kombinasie nie.

Nou maar weer van voor af aan sukkel met die naelverwery. Ek hoop ons vriende se oë is nie meer goed genoeg om die kol op my rok raak te sien nie.  Manlief kan dit in elk geval nie sien nie.  Toe ek hom uitdaag om die kol te soek, wys hy 'n blomblaar in die motief uit. Ek voel tevrede met daai deel van die storie.

Nog net sitskoene aantrek en ek is reg.  'n Mens kan seker nie Crocs by die rok dra nie. Hoewel ek op 'n stadium oorweeg het om maar weer een van my getroue langbroeke en 'n bloes aan te trek, voel ek heel te waaghalsig daarvoor, en die rok bly aan.  Om dit uit te trek, moet ek in elke geval weer Manlief se hulp inroep met die knopies en ritssluiter agter. Ek en Arthur Ritis kan nie alles bykom nie.

Die oumenspartytjie slaan toe ons asems skoon weg.  Geen koek en tee nie. Pragtige jong kelners dra vir ons die een mini-gereggie na die ander aan. Sewe gange, dink ek. Alles is pikant, fyn en pragtig. Die ouens wie se smaakkliere nog werk sê dis baie lekker. Ek glo hulle, want alles lyk regtig van Masterchef gehalte.

Om oud te word het wel uitdagings, maar watwo, as mens eers daar gekom het, skrik die ou klein(erige) goedjies jou nie af nie.

Kom 70, ek wag vir jou.

Friday, November 20, 2015

KANKER: STEEDS IS'T HET EINDE NIET

Ek het in November 2006 uitgevind dat ek borskanker het.  Dié is onmiddellik aangespreek, en na 'n bilaterale mastektomie, rekonstruksie, en tamoksifien-behandeling, is die kanker in remissie.  Met die laaste opvolgkonsultasie in Oktober 2014, is ek steeds skoon! Wonderlike nuus!

In Maart 2015, net na Ouma Tiela (my Skoonma) se begrafnis, ontwikkel 'n swelsel onder my linkerkakebeen wat nie op antibiotika reageer nie.  'n Biopsie en 'n naaldbiopsie, en elke ander toets in die boek later, kry die ongewenste groeisel 'n naam.  Plaveisel Karsinoom.  Op die PET-scan flikker daar 'n liggie op my skiledklier en een in my lewer ook.  Die primêre sondebok bly onbekend, maar die onkoloë reken dat dit iewers in die osophagus-area gesetel moet wees.  Hierdie afleiding word gemaak na aanleiding van die gedrag van die onding.

Nog toetse, by drie verskillende hospitale in Kaapstad, en 'n radikale nekdisseksie later, meld ek weer by die Outeniqua Onkologie-eenheid aan vir behandeling.  Die behandelingsplan sluit dertig hoë dosis bestralingsessies, asook drie chemo-terapiesessies in.  Ons hoop dat die kanker betyds gediagnoseer is, en dat die behandeling hom op die neus gaan slaan.

Vir ses weke lank word daar elke dag George toe gery vanaf Mosselbaai vir die bestraling.  Manlief word nogals erg verontrief, want hy wil opsluit self by wees.  Ek is ook maar bly vir sy ondersteuning.

Sien, my ma is in Huis Elsjé waar sy versorg word omdat sy aan Alzheimer se siekte ly, en ek haar nie meer alleen kan versorg nie.  Ek het vir haar gejok oor die operasie aan my keel, want ek wou nie hê dat sy haar ontstel oor 'n saak waaroor sy geen beheer het nie.  Ek het vir haar gesê dat hulle my mangels uitgehaal het.. Sy het dit gesluk, hoewel die operasiewonde met die skeefgetrekte mond en die geswel onder my keel maar baie onwaarskynlik moes lyk. Haar enigste vraag was: "En hulle los jou so lelik?"  Ek mis dit om met my ma te kan gesels oor my eie bekommernisse, maar dis mos maar hoe die lewe is....

Twee van die chemo-terapiesessies realiseer, maar aangesien ek so sukkel om te sluk, en ontwater  besluit die onkoloog dat dit onnodig wreed sal wees om met die derde sessie voort te gaan.  Ek ontvang vloeistof binne-aars om die ontwatering teë te werk.

Die etery werk nie uit nie.  In Week 4 van die bestraling kom besoek Ian en Kim die onkologie-eenheig uit Johannesburg.  Hulle kom ons van hul ondersteuningsgroep vir Kop- en Nekkanker vertel.

Hierdie sessie is baie leersaam en insiggewend.  Ons leer dat die eetprobleem en die uitdaging om vloeistof in te neem, algemeen is by hierdie soort kanker.  Ons besluit om 'n eie ondersteunngsgroep by Outeniqua te begin sodra ek sterker is, en al die administrasie daaromheen gedoen is.  Willem is ook baie opgewonde oor die moontlikheid van bewusmaking en saamdra aan mekaar se laste.  Op die ou einde het die pasiënt en sy/haar primêre versorger baie raad en wenke oor hoe om ook hierdie stryd draagliker te maak.  Elke ou hoef nie noodwendig die wiel van voor af te ontwerp nie.

Sonder dat ek wil, verloor ek gewig.  Gelukkig is ek met 'n "dankbare gees" geseën (vriendin Rihetta Swart se opmerking), en bly ons positief.

Daar bly egter so 'n klein stukkie kommer iewers krap.  Wat van daai dingetjie in my lewer?  Daar was sprake dat hy sommer tydens die nekdisseksie "gezap" of "ge-nuke" of ge-iets sou word, maar dit het nie gebeur nie omdat die operasie te lank geneem het.

Uiteindelik is die  behandeling verby, tyd is gegun vir herstel, en nou gaan ons weer 'n CT-scan doen om die lewere te evalueer.

Skok der skokke!  Waar die een liggie ons laas met sy teenwoordigheid getart het, sit daar nou drie menere.  9mm, 10mm en 13mm groot.  Hoe kan dit wees?  My kop wil dit nie verwerk nie.  Ek wil dit nie aanvaar nie.

Is hierdie drie nou van dieselfde stoffasie as die plaveiselkarsinoom in my keel? Is daar plaveisel in 'n mens se lewer? Sit daar nog êrens 'n primêre duiwel wat sy wilde hawer rondstrooi en van my liggaam 'n bose saailand maak? Baie vrae, min antwoorde.

Wat ek wel in die proses geleer het, is dat ek nie regtig gereed is om nou al dood te gaan nie.  Daar is nog te veel dinge wat ek wil doen, plekke wat ek wil sien, geure wat ek wil ruik, smake wat ek wil proe.  Ek is nog lank nie moeg vir die lewe nie.  Ek wil nog baie drome met my kinders droom, simpel dinge aanvang, goeie dade verrig.

As dit vir my gegun word, sal ek weer gaan vir behandeling. Ek sal weer die wapenrusting aantrek en blinkpoets.  Ek sal doen wat die onkoloë en kenners voorstel, ek sal veg vir genesing, ek sal werk vir groter bewusmaking, vir navorsing. En as my beker dan leeg is, hoop ek om met 'n tevrede hart na my Maker terug te keer.

Tuesday, August 11, 2015

Die Tweede Kankerdiagnose

Daar is 'n (ou) Afrikaanse gesegde wat lui: "Die tweede dwaling is erger as die eerste." Ek reken dit dui daarop dat 'n mens die tweede keer in dieselfde strik trap as jy nie genoeg uit die eerste valslag geleer het nie.

Dis hoe ek voel oor die Tweede Diagnose.  Ek het dit nie verwag nie.  'n Mens is seker nooit gereed vir so iets nie, maar ek het gedink my beurt was verby.

Ek is in November 2006 met borskanker gediagnoseer, en het toe die bilaterale mastektomie, die rekonstruksie en die behandeling ondergaan.  Vir vyf jaar het ek die ou simpel pilletjie wat my so siek gemaak het, gedrink. En toe: Vryheid.

Oktober 2014 was die laaste datum vir my jaarlikse opvolgkonsultasie met die onkoloog. Wonderlik.  Ek is skoon - kanker is in remissie.  Hiep hiep hoera!

Gedurende einde Maart 2015 ontwikkel ek 'n geswelde klier onder my keel - daar waar kinders gewoonlik pampoentjies kry. Ek het nog my mangels, en reken dat dit maar net ontsteking is, en sal oorwaai.  In Meimaand dwing Manlief my dokter toe.  Hierdie ontsteking hou nou te lank aan.

Die huisdokter skryf sterk antibiotika voor, en waarsku dat ek 'n sjirurg sal moet gaan sien as die ontsteking nie opklaar nie.  Raai wat? Die eier bly ewe gerieflik sit.

Die sjirurg stuur my eers vir 'n sonar en naaldbiopsie.  Posititef vir plaveisel-karsinoom. Wat 'n slag! Hierdie karsinoom is nie familie van die eerste een nie.  Dis 'n nuwe duiwel.

Ek weet nie watse ding die plaveisel karsinoom is nie, en vra oral waar ek kom, en google die besigheid ook sommer.  Ek leer dat plaveisel karsinoom op die vel of weefsel wat in aanraking kan kom met suurstof, kan ontwikkel.  Daai borsklanker was nie so nie.  So, nou moet die oorsprong, die primêre kanker opgespoor word.  Dit kan in die lugweë, die slukderm, die mond of die anus wees. Jig.

Die onwelkome eier word verwyder, en weer gestuur vir ontleding.  Plaveisel karsinoom. Die probleem is dat daar nog van hierdie gewasse in my sagte nekweefsel sit.  Hoeveel verraad kan daar dan  in een liggaam wees?

Ek het oor kanker gedink: "Been there, done that, got the scars to show". Toe nie so maklik nie.

Hier sit ek nou weer.  'n Verdere operasie en elke toets in die boek (sommiges meer as een maal) is gedoen.  Nog 36 kliere, gewasse, goeters is verwyder.  Vier van hulle is kwaadaardig.  

Een van die toetse (PET scan)  se liggies gaan ook aan in my skildklier, en in my lewer. Hieraan is daar op hierdie stadium nog niks gedoen nie.  Die operasiewonde moet nou herstel, en daarna sal ek bestraling en chemoterapie moet kry.  Die detail van hierdie behandeling sal ek DV Vrydagmiddag hoor. Van nou af tot Vrydag, sal daar so 'n klein knaagdiertjie hier in my binneste rondskarrel, want ek kon nog nooit met grasie wag nie.

Intussen is my linkerskouer (voorheen my sterk skouer) nou oorbelas.  Sien, die lekker sterk neksening hier aan die linkerkant, het met die snoeiery van die gewasse in die slag gebly. Die skouerspiere moet nou oorpresteer.

Ek het ook nou 'n Popeye-glimlag.  'n Senuweetjie hier aan die onderkant van my gesig het tydens die operasie seergekry, en nou trek my mond skeef.  

Manlief sê ek's nou reg vir so 'n lekker kromsteelpyp - nie dat ek (of hy) al ooit gerook het nie. 

Vir myself lyk ek nou bietjie vreemd, maar almal om my probeer dit miskyk totdat ek iets daaroor sê, en dan sien hulle skielik 'n verbetering.  Ek skat hulle is erg ordentlik, of hulle raak die skewe mond gewoond.  Hoe dit ookal sy, ek was nog altyd meer as 'n senuwee, 'n klier of 'n gesigsuitdrukking.  Ek hoop om so voort te gaan.

Dis net saans, wanneer ek vir die donker skewebek trek, dat ek aan myself erken dat ek bang is vir die behandeling wat voorlê.  Ek het al erge stories, eintlik rillers, gehoor oor bestraling, en ook oor chemoterapie. Sal ek hierdie behandeling met waardigheid kan deurstaan? Sal ek dit hoegenaamd kan oorleef? Is ek sterk genoeg?

Dit is dan wanneer ek dankbaar is vir my familie, al my vriende, almal wat my liefhet, almal wat in my belangstel. almal wat vir my bid, wat moeite doen om vir my te sê ek lyk nog nes altyd.  Dit maak nie saak as hulle bietjie jok nie - dis die gedagte wat tel.

Dis dan, in die klein uurtjies van die nag, dat ek salig aan die slaap kan raak met die wete dat dit glad nie saak maak hoe ek presteer of hoe ek hierdeur gaan kom of nie gaan kom nie.  Wat wel saakmaak is dat ek veilig en geborge is in my Saligmaker se liefdevolle en almagtige hande.  Ek beleef dan ook die rustigheid in die wete dat Hy ook vir Manlief en my kinders daar sal wees wanneer hulle my dalk sou mis. Dan besef ek weer: aan iets moet ons almal doodgaan. Dit kan seker net sowel kanker as enige iets anders wees.  

Wanneer tyd nie meer tel nie, sal ons ook die antwoorde op die raaisels van hierdie lewe, waaronder  vigs, Alzheimer se siekte, depressie, kanker, armoede, misdaad en alle ander ellendes hê. (Ek weet nie of ons ooit politici sal kan verstaan nie, maar dit sal nie meer saakmaak nie.)

Tot dan sal ek vasbyt, aanhou bid, aanhou glo, aanhou wees. 





Sunday, April 19, 2015

Djammer hom die pond

Ek hou so nou en dan nabetragting oor alles wat is, en oor wat eintlik moes wees.  My hart is seer as ek sien hoe welsynsorganisasies sukkel om hul dienste voort te sit en die ouens wat hulp nodig het, te help.  Staatsubsidies kom net nie by nie, en vrywilligers om onder andere fondse in te samel is nog skaarser as hoendertande.

Die ou storietjie wat my pa my kleintyd vertel het, kom toe weer by my op.

In die jare na die Tweede Wêreldoorlog, het die mense baie swaar gekry - soos nou weer.  Die oorsake was net anders, maar dis 'n ander dag se storie.

My oupa was geseënd met 'n goeie sakebrien, en kon redelik maklik oor die weg kom.  Na die Anglo-Boere-oorlog het hy byvoorbeeld vir voornemende delwers in die destydse Wes-Transvaal kleims afgehardloop, want anders as ek, was hy nogals 'n atleet.  Hy kon Engels verstaan ook - in daardie jare het dit hom laat uitstyg bo Jan en Alleman.  So kon Oupa vir mense wat dit moeiliker gevind het om liggaan en siel aanmekaar te hou, op 'n manier help om ten minste 'n dak oor hulle koppe te kry.  Destyds is hulle bywoners genoem, en het hulle ook plaaswerkies vir die boer gedoen totdat hulle 'n eie boerderytjie op die been kon bring.

Soos in die meeste boeregemeenskappe van daardie tyd, was daar 'n Jood of 'n Indiër wat die winkel gehad het.  Hier is ruilhandel gedoen: Tant Sannie bring eiers en botter in, en kan dan koffie en suiker daarmee "koop", en so aan.

Baie mense het ook "op die boekie" gekoop.  Hierdie skulde is dan na 'n oes of ander meevaller terugbetaal, en soms afgeskryf.

So kom dit toe dat 'n bywoner-oom van 'n buurplaas, te sterwe kom, en die boekie is vol, en daar is ook nie genoeg eiers of ander produkte  om te ruil vir die begrafnisklere nie. Die tannie en 'n klompie kinders moes "respektabelik" gemaak word vir die begrafnis - in swart.  So staan die tannie voor die swart material en rondtrap, want daar is geen manier waarop sy daarvan kan koop om die rouklere te maak nie.

Die een na die ander boer wat al beter daaraan toe is, kom maak ook hul draaie by die winkel.  Eg soos ons mense is, verwyl elkeen 'n tydjie by die nuwe weduwee en simpatiseer met betraande oë. Maar dis waarby dit bly - tot groot ontsteltenis van Amod, die winkeleienaar.

Op 'n stadium het sy bloed gekook, en maak hy sy geldlaai oop, haal 'n pond daaruit en gee dit vir die tante.  'n Pond was baie werd in daardie jare, en die tannie kon dit goed gebruik.  Terwyl hy die geld vir haar gee, sê hy toe sommer vir die omstanders: "Djammer, djammer! Djammer hom die pond, man"

Vir my voel dit dat ons weer daar is.  Almal is jammer, almal betreuer die omstandighede, almal treur saam, maar bitter min steek hande uit die moue en doen iets daaraan. As ons nie 'n os gekoop of 'n vrou getrou het wat ons aandag en tyd nodig het nie, het ons 'n ander rede wat ons van ons naastediens af weghou. Moet ons weer wag dat 'n "volksvreemde" die boodskap bring? Wat sou Jesus doen?

Friday, February 27, 2015

Nasionale Melktertdag

Nasionale Melktertdag

Vandag is dit Nasionale Melktertdag.  Ja, dis reg: Nasionale Melktertdag.

Ek glo ons is die enigste land ter wêreld wat ‘n tert so vereer. Dit kan mos net ‘n land met ‘n baie ernstige siening van die lekker dinge in die lewe wees wat aan iets soos ‘n dag vir die Melktert kan dink; of aan ‘n Nasionale Braaidag met al sy variasies.

Ons is ernstig oor die dinge wat by ons lippe verbyglip binnetoe.  (Soms sou dit beter swwe as ons so waak oor di twat deur die lippe uitgaan)  Kyk maar net na al die kosprogramme.  Dis Masterchef, Kêrels wat kook, Come dine with me, South Africa (en ander plekke), Kokkedoor, noem maar op.  DieTV-base sal nie met hierdie programme aanhou as die kykerstal nie groot genoeg is nie.

Ek vind geen fout daarmee nie.  Ons is immers geskape met die vermoë om te kan PROE.  Ons het hier plaaslik selfs ‘n fees ter ere van eetgoed: Die PROE Mosselbaai fees. Wys jou net.

Vele kerke, skole en  welsynsorganisasies is ook op hierdie manier pannekoek vir pannekoek, koesister vir koesister gebou. Eetgoed lê ons voorwaar na aan die hart.  Ons liefde vir lekker eet hou ook ‘n klomp mediese praktisyns aan die werk en aan die lewe. Om van die farmaseutiese maatskappye nie te praat nie.

Van babatyd af word ons getroos, beloon, kalmeer met ietsie lekkers in die mond.  Ooms bly selfs wakker in die kerk met klein pienk lekkertjies. “Ouderlingspilletjies”het ons dit destyds genoem. Ek wonder of mens steeds ouderlingspilletjies kry.

Ek dwaal af.  Die enigste ooreenkoms tussen ouderlingspilletjies en melktert, is dat Kenani (ACVV Mosselbaai) se melktert vandag pienk is.  Pienk omdat ons ook graag ‘n bydrae tot die bewusmaking van borskanker wil maak.

Dit bring my by ‘n ander eienskap van ons geliefde volkie.  Ons versuip die swaarkry behoorlik met lekkerkry – gee ons net ‘n halwe kans. As ons dit nie op ‘n sosiale manier kan saamdoen nie, maak ons grappe oor die ellende in en om ons.

So is daar meer as genoeg “donker” grappe wat ons help oorleef met  Eskom se beurtkrag.

Selfs oor siektes word daar grappe uitgedink.

Ons rasse-ding wat maar net nie wil gaan lê nie, kry dieselfde behandeling. Hier werk dit net nie, want dit is asof hierdie kwessie net al hoe nader aan die nerf en al hoe kwesbaarder word.  Ek kan nie verstaan waarom dit nou juis so ‘n sensitiewe saak moet wees nie.  Ons is tog almal op die een of ander manier anders as almal om ons – selfs ons naaste familielede toon die een of ander eienskap wat eie aan hom/haar is, maar ons hou almal van eet.

Daar is ook grappe oor vloede, aardbewings, verspoelings, verloorwedstryde, politieke leiers en politieke “wanna-be’s”. Ouderdom en verwante probleme loop ook onder die gelykmaker, die grap, deur.
Nadat die Rhodesiërs lank lank gelede, voor Zimbabwe, na ons land uitgewyk het, is hulle “when-we’s” genoem omdat hulle so teruggehunker het na hul land van melk en heuning. ‘n Tipiese voorbeeld sou wees dat so ‘n inkommer sou sê: “When we were in Rhodesia ……”

Terug by melktert.  Melktert het saam met die slawe uit Maleisië van destyds voet aan wal gesit. Ons het dit as volksbesit totaal oorgeneem.

Selfs in melktert is daar variasies.  Jy kry die melktert waarvan die kors eers gebak word, en die vulsel dan in die gebakte kors geskep word. (Skoonma se resep).  Dan is daar diegene wat die kors en die vulsel saam bak. My ma se resep is so, want dan word die eierwit ook gaar.  Nog ‘n variasie is waar die kors met beskuitjies en botter gemaak word. En dan vir die kitsresep der kitsresepte: die een waar die kors met beskuitjies en botter gemaak word, en die vulsel hoofsaaklik kondensmelk bevat.  Amper vergeet ek: my skoonsus se melktert kry bietjie klapper ook in. En daar is nog die korslose melktert ook.  Almal is melktert, almal is lekker, almal maak vet, almal kry kaneel oor, en almal word vandag vereer.


Geniet teetyd met ‘n lekker stuk melktert – sommer net om die lewe en die dag te vier.  Overgezet synde: Viva, Melktert! Melktert, Viva!

Thursday, February 26, 2015

Marietjie Knoetze: Bright Spark

Marietjie Knoetze: Bright Spark

Bright Spark

Bright Spark

Die jaar 2015 begin toe mos toet-en-taal anders as wat ek verwag het. 

Om mee te begin werk my en Nig Elsabé se plannetjie om ons ma’s te verras met ‘n wonderlike kuiergeleentheid toe nie so goed uit nie.  Ek bedoel, alles wat mens kon reël, is gereël, en in daardie opsig was dit ‘n sukses.  Die uitdaging lê toe by die twee sussies self.

Met die eerste kuierslag, by ons huis, was hulle bly om mekaar te sien.  Hulle het uitgevra na mekaar se welstand, en toe is die gesprek verby.  Tannie Bettie, ‘n diabeet, sit op haar stoel en slaap, terwyl ma haar breiwerk vra om te brei. So sit die tweetjies langs mekaar en swyg. Elkeen op haar eie planeet. 

Ons ander kuier ‘n hond uit ‘n bos uit, maar die enigste tekens van opflikkering by die twee sussies, is wanneer ons tee of koffie aandra.  Ons onthou om versigtig te wees met die eetgoed, want Tannie Bettie hou niks van diabetiese kos en peuselgoed nie.

Aand se kant reël ons om op Kersdag weer saam te kuier.  Weer by ons huis, weer sonder veel sukses. Ons plan is om op ‘n ander dag by hul vakansiebestemming in Gouritzmond te gaan kuier. Dit sal sommer ‘n bietjie afwisseling vir ons ma’s ook verskaf.

Op 27 Desember word Tannie Bettie in die hospitaal opgeneem met hartversaking.  Ma volg op 1 Januarie nadat sy weer eens geval het.  Nou kan die kuier nie eintlik meer as vakansie aangesien word nie.  Elsabé se kinders doen darem nog hul ding, en geniet die warm see en ander jongmensaktiwiteite. My eie Willie se maters kom darem ook tot sy redding.  Hy is meer as 10 jaar ouer as Elsbé se kroos.

Die twee niggies is nou op Ouma Patrollie.  Dit kuier tussen die twee sale deur, en tussenin was ons slaapklere en probeer by ‘n dokter of iemand uitvind wat om te wagte te wees.  Die oumas self is nie van veel hulp nie. My ma is tevrede met alles, en haar suster is ontevrede met alles.

Met een besoektyd kom ek in Ma se saal, en daar sit Tannie Bettie in ‘n rolstoel by haar.  Ma stel ons voor aan hierdie vrou.  Hulle het glo so ‘n paar dae gelede by ‘n huis, nou nie ons huis nie, maak sy dit duidelik, ontmoet, en toe kom hulle sommer so saam-saam hospitaal toe. 

Vir die eerste keer waarvan ek weet, is  my Tannie Bettie met die kostelike woordeskat sprakeloos.  My ma weet nie wie sy is nie!

Uiteinde van die vakansie is toe dat Elsbé-hulle se vriende uit Rustenburg nou by ons kuier, want hul kar het gebreek, en hulle kan nie terug nie. Hul vakansieverblyf is ook  nie meer beskikbaar nie. Elsabé se mense moet weer werk, en hulle kan nie langer bly nie.  So, nou word Koos en Alet ons vriende, en ons weet nie of Tannie Bettie betyds ontslaan gaan word sodat sy saam met hulle kan teruggaan Gauteng toe nie.

Dis ‘n moeilike sakie vir Koos en Alet.  Hulle wil graag vir Elsabé en Gustav help, maar aan die ander kant is die pad Noorde toe baie lank met ‘n siekerige en onvergenoegde mens as passasier. My tannie Bettie is ‘n DIVA.

Dit werk toe so uit dat Koos se kar padvaardig is voordat Tannie Bettie reisvaardig is.  Elsabé vlieg weer hierheen om haar ma by te staan, want Tannie Bettie kla dat sy nie “infrastruktuur” hier het nie.  My besoeke en wassery registreer nie op haar skaal van toereiikendheid nie. Sy’s reg ook, want ek is nie so manipuleerbaar soos my liewe niggie nie. Ek dra nie “onwettige” snoeperye aan nie, en na my mening is die hospitaal se kos baie aanvaarbaar en gesond.

Lang storie kort, Ma word toe na ontslag in Huis Elsjé opgeneem, en Tannie Bettie kan ‘n week later saam met Elsabé per vliegtuig terug Noorde toe.

Ek het nou al ‘n lekker agterstand by die ACVV opgebou, en spring dadelik in.  As ek moet eerlik wees, is dit nie net plig wat my op my tone hou nie, maar ook die gemis by die huis.  Dis nie so eenvoudig om jou ma in ‘n versorgingseenheid te gaan aflaai nie.  Helfte van my hart het ook daar agtergebly, en nou proe ek daai skuldgevoelens soos gal hier agter in my mond. Rede sê dat ek nie aan my ma se versorgingsbehoeftes kan voldoen nie, en Satan sê ek’s te sleg. Die feit dat Ma elke keer wat ek besoek, gereed is om saam met my huis toe te gaan, maak dit nie makliker nie.  Ook nie die feit dat haar goedjies elke keer ingepak is, en sy reg is om te gaan nie.  Sy voel mos nou baie beter.

Bedags hardloop ek tussen die diensvertakkinge van ACVV rond, en probeer so om iets vir iemand te regverdig.  Dis glad nie logies nie, ek kan dit nie verklaar nie, want ek kan dit nie verstaan nie.  Ek weet dat daar op hierdie stgadium nie ‘n beter plek is vir Ma nie, maar…..

Elk geval, daar was ‘n probleem met stormwater tussen die crèche en die aftree-oord, en ons het ‘n sloot aan die kleuterskool se kant laat bou om die water van die grensmuur af weg te lei. So op ‘n afstand lyk dit of die besigheid werk, maar ek is ‘n maatskaplike werker, en ek moet seker maak. 

Aan die Sandkasteel se kant van die muur lyk alles reg en goed.  Nou wil ek seker maak dat die muur aan die ander kant ook droog is.  In my effektiewe bui vergeet ek twee dinge.  Die eerste is dat ek bril dra, en die tweede is dat daar ‘n elektriese veiligheidsheining bo-op die muur gespan is.

Die uiteinde van die “ter plaatse ondersoek op voetsoolvlak”,  is dat die bril en die heining ontmoet, en ek soos ‘n blaar in die wind verby Tossie, wat agter my staan, trek, en soos ‘n sak aartappels agter haar met Moeder Aarde kennis maak. Tossie skrik haar ook in ‘n ander bloedgroep in, want sy weet dat ek  al talle rugoperasies en ‘n nekoperasie ondergaan het, en NIE MAG VAL NIE.

Willie en sy pa is baie jammer vir my, en dra my behoorlik op die hande.  Rachel se reaksie was: “Dit was nou nie Ma se slimste move nie, maar sekerlik die brightste” Ai my kind, jy weet hoe om my uit die jammerput te kry!  My familie en vriende noem my nou die “bright spark” en ek dink ek verdien die titel.

Hier sit ek nou, weke later en bestekopname doen:
1.       Tannie Bettie is veilig (maar erg ontevrede) terug in haar versorgingsoord in Randfontein;
2.       Joamé (Elsbé se kleinsus) het Ouma geword van ‘n mooie ou dogtertjie;
3.       Elsabé en familie is op gereedheidsvoet vir Joamé se jongste (Sakkie) se troue;
4.       Ouma Bettie se uitrusting vir die okkasie het sy uitdagings gebring, maar dis gereed vir die groot dag;
5.       Ma is veilig in Huis Elsjé, en sy pas goed aan.  Sy is nie meer elke dag gereed om huis toe te gaan nie, en sy sê die mense daar is baie goed vir haar;
6.       Ma bekommer haar nie meer oor alles wat sy moet betaal nie, want haar kantoor (Huis Elsjé se personeel) hanteer alles namens haar;
7.       Ek sit met ‘n rugstut wat die pyn heel draaglik maak, en skryf ‘n blog.


Ek sou met reg kon sê: “Ende gut, alles gut” , maar moet ek so vervlaks moeilik leer?

Wednesday, January 21, 2015

Die Hond-gevoel van 'n Alzheimer-kind

Die Hond-gevoel

Wanneer is dit die regte tyd om ‘n geliefde wat aan Alzheimer se siekte ly, na ‘n plek van versorging te stuur?

Hierdie vraag word so dikwels gevra, en tog is daar geen duidelike antwoord nie. In ons geval (letterlik en figuurlik) het die besluit homself geneem.

My ma ly aan Alzheimer se siekte, en ons het in dieselfde huis gebly. Ma was relatief gemaklik om te versorg en omdat sy stillerig van geaardheid is, was sy nooit vir ons ‘n verleentheid nie. 

Toe die fisieke aftakeling egter begin, het dit ‘n perd van ‘n ander kleur geword. 

Skielik kom Ma nie meer winkels toe gaan nie, want sy kan nie so ver loop nie.  Sy weier om gemaklike skoene aan te trek, want dan lyk haar voete so groot en so lank.  ‘n Loopapparaat het in die huis gehelp, maar sy wou om die dood nie strate toe met die karretjie nie – en kerk toe: glad nie. Die menses al vir haar lag, was haar verweer. 

Op ‘n keer het sy wel ingestem om met die karretjie dorp toe te gaan, maar toe wou sy opsluit hakskoene aantrek.  Selfs ék het gedink die mense gaan vir ons lag. Op die ou end is ons toe darem dorp toe met gemaklike skoene en die karretjie.  Haar Rolls Royce is van dié soort met ‘n sitplekkie ook.  So, sy kon plek-plek gaan sit as die bene te lam word.  Ongelukkig is die Rolls Royce nou nie so ‘n goeie plaasvervanger vir ‘n  rolstoel nie, want as Ma gestoot wil word, moet sy haar voete in die lug hou.  Dít is glad nie so gemaklik as mens reeds ‘n lamheid in die bene het nie.

Hierdie goedjies kon ons almal nog soort van hanteer.

Min het ons geweet wat  voorlê. Op ‘n dag val Ma van die rusbank af waar sy gelê het. Sommer net so, val sy af.  Ek en die huishulp kan haar nie optel nie, want dis nou dooie gewig wat daar lê. Ma is met kussings en wat nog gemaklik gemaak, en moes toe maar daar lê totdat Manlief huis toe kom. Ons het gedink dis ‘n geïsolerde geval, maar ons was verkeerd. Die nuwe patroon was dat Ma val.

Ma val in die hysbak (trappe is lankal nie meer ‘n moontlikheid nie), Ma val in die badkamer. Ma val van die toilet af. Ma val van die bed af. Ma val later tot drie keer op een dag.  Ons probeer keer, maar dis nie altyd moontlik nie,  selfs al is ek aan haar sy.  As die val kom, dan kom hy. ‘n Wildvreemde man wat saam met familie hier aankom is darem een keer in die gelukkige posisie om te sien Ma gaan val, en haar betyds te vang.

Ma is later vol blou kolle en pyne. Op ‘n wonderbaarlike manier het sy nog niks gebreek nie.  Ek bedoel nou soos ‘n heup, of ‘n been, of ‘n rib of so iets. Ma is so broos, dit breek my hart.

Op Nuwejaarsdag net na ete, is ek besig om die vuil skottelgoed kombuis toe te dra toe ek ‘n slag en ‘n gil agter my hoor.  Ek is omtrent drie treë van Ma af, maar dis drie treë te ver en drie leeftye  te laat, voel dit vir my.

Nadat ons Ma opgehelp en tot op ‘n gemakstoel gekry het, kla sy dat sy seerkry as sy diep asemhaal.  Ek is bang dat Ma nou ‘n rib gekraak of gebreek het.  Sy het baie hard geval.  Sy was die een oomblik nog besig om die plekmatjies aan tafel bymekaar te maak, en die volgende oomblik lê daar twee stoele omgeval, en Ma se kop het die teetrollie weggestamp.  Alles op die harde teëlvloer van die eetkamer.

Ons neem Ma hospitaal toe.  Daar is niks gebreek nie,  maar ai, dit voel so sleg om haar so in pyn te sien lê.  Die ergste is eintlik dat sy nie mooi weet hoekom sy in die hospitaal is nie.  Ma ken hospitale, en sy het al baie tyd daar deurgebring met haar hartprobleme. Sy is verward.  Elke keer as ons vra hoe dit gaan, sê sy dit gaan baie beter, dankie. 

Sy stel ons voor aan haar suster, wat van Gauteng af hier kom vakansie hou het, en met hartversaking in dieselfde hospitaal beland het, so drie dae voor Ma se opname.  Ma weet egter nie wie die vrou in die rolstoel by haar bed (kotkante op) sit nie.  Sy vertel dat sy die vrou hier anderkant by ‘n huis ontmoet het.  Dis nou nie ons huis nie, maar ‘n ander huis.  Toe kom hulle somer saam-saam hospitaal toe. Die hele geskiedenis van hoe haar suster kom kuier het, en díe se moeite om tot hier te kom, al die huisgaste, die kuiery, en die susters se woordelose samesyn is weg. Dis ‘n vreemde vrou wat nou hier saam met haar in die hospital sit. Selfs Tannie Bettie is sprakeloos, en dít wil gedoen word.

Ek en my broers besef dat dit nie so kan aangaan nie.  Met Ma vir nou veilig in die hospitaal, begin ons in alle erns na ‘n oplossing soek. 

Daar was voorheen tuisversorgers, nog deur oorlede Pa gereël, maar dit het nie so goed uitgewerk nie.  As Ma die versorger in die huis laat bly, voel dit vir haar die vrou is haar gas, en wil sy die heeltyd onthaal. Sy kan dit nie meer doen nie, en dan voel sy  sleg.  As die vrou toegelaat word om haar te help, is sy oor dieselfde kam geskeer as ‘n huishulp, en dan mag sy nie in die huis slaap, bad of aan tafel eet nie. Ma kom uit die apartheids-era, en niks sal daardie diepgewortelde manier van doen verander nie.

Dan is daar nog die paranoia.  Ma sluit gedurig alles.  Almal is potensiële diewe en aanranders, moordenaars of verkragters.  Ons koerante en nuusberigte is hier van geen hulp nie.  Dit versterk Ma net se wantroue.

Terwyl ek nog koorsig soek na oplossings en assesserings en onderhoude probeer reël (meeste mense is nog met vakansie) bespreek my twee broers die saak daar eenkant in die karoo.  Hulle begin neig na die siekeboeg-gedagte. Ons kom telefonies ooreen om laasgenoemde deegliker te ondersoek.

Ek is betrokke by ACVV Huis Elsjé, ‘n tehuis vir die versorging van Alzheimer-lyers.  My Pa het die gebou opgerig en toe aan die ACVV geskenk.  Die tehuis is na my oorlede sussie, Elsjé, vernoem. Dalk sal Ma tuis voel.

So gebeur dit toe dat ek Ma op die dag van haar ontslag uit die hospitaal, sommer reguit na Huis Elsjé neem.  (Manlief se gemoed laat hom in die steek, en hy volg ons ongesiens vanaf die hospitaal tot by Huis Elsjé. Ek en Ma dink ons is alleen)  Sy word opgeneem in die tweede laaste beskikbare bed. Ek het darem vooraf tyd gehad om te reël dat die bestuurder van Huis Elsjé, Mnr Gert Meiring, Ma in die hospitaal besoek om homself te vergewis dat Ma regtig gereed is vir Huis Elsjé. Ek het ook  haar (gemerkte)klere, toiletware, ‘n paar portrette en so aan in haar kamer te gaan sit sodat sy nie so vreemd sal voel nie.

Ma is ewe gedwee toe ek aan haar verduidelik dat ek nie meer mooi genoeg na haar kan kyk nie, en dat hier ‘n span mense is wat kan help keer dat sy nie weer seerkry nie. Sy aanvaar dit, maar wil sedertdien elke keer as ek daar kom, weet wanneer sy dan kan huis toe kom. 

Ek moet myself dan daaraan herinner dat Ma die laaste tyd ook nie meer tuis gevoel het by die huis nie.  Voor Kersfees het sy vir ‘n volle twee weke lank elke dag twee tasse gepak het, want, het sy geredeneer, ons het tog met ‘n kar hierheen gekom, en ons sal dan seker weer met ‘n kar huis toe gaan.  Ek het aangeneem sy verwys na die huis waar sy grootgeword het. Sy het my tot vervelens toe gevra of my pa ooit in hierdie huis was, of hy die snaakse huis gesien het.  As ek dan vir haar sê dat hulle vir tien jaar hier gewoon het voor Pa se dood, was sy kwaad omdat ek dan nie weet  wat sy bedoel nie.  Sy het nie aanvaar dat Pa oorlede is nie. Sy het egter die gordyne herken.

Ek verduidelik elke keer weer dat dit nie veilig is by die huis nie.  ‘n Vriendin het al vir haar gaan kuier, en broer Gert en sy gesin was ook al hier vir ‘n besoek, maar Ma onthou dit nie.

Ek wéét dat Ma hier die allerbeste behandeling kry wat moontlik is.  Daar is genoeg versorgers, etes word dieetkundig uitgewerk en voorberei, medies word sy soos porselein opgepas, en daar is ook aktiwiteitskoördineerders wat  met groot kreatiwiteit en ywer sorg dat verveling, die groot vyand, nêrens vastrapplek kry nie.


Hoekom voel ek dan soos ‘n hond? Hierdie ding wat ons skuldgevoelens noem, het geen logiese faset nie. Dis ‘n onding.  Maar hy sit.  Hy maak nes in jou lewe met die doel om te bly.  Niemand kan jou van hom verlos nie. Miskien sal Tyd die ding doen?  Intussen loop ek maar met die geveg in my binneste: Ma se versorging versus my gevoel van verlies en onbevoegdheid. Maar Ma se versorging  en welsyn moet altyd wen.  

Tuesday, December 2, 2014

Alzheimer-grepies

Vanoggend wil ek ontlaai oor die gevolge van hierdie siekte op my as mens, kind, en versorger.  Ek is nou wel lankal nie meer kind in jare nie, maar in ons familie-opset wel.

So versorg ek mos my ma. Sommige dae is dit makliker as ander. Soms kom die moeiliker dae goed verspreid tussen die lekker dae voor.  Maar soms, soos die afgelope ruk, voel dit kompleet of die moeilike dae die ander insluk soos die sewe maer jare destyds met die sewe vettes gemaak het.

Vandag is dit Dinsdag.  My treurmare begin by verlede Vrydag. Toe ek by die huis kom, is Ma pimpel en pers, Juby is stomgeskrik, en my man verslae.  Ma het 'n bietjie op die bank gaan lê en TV kyk.  Sy sê dat sy nie weet wat gebeur he nie, maar toe sy weer sien, lê sy op die mat voor die bank.  Juby is geroep om te kom help, maar kon haar nie optel nie.  Tweede beste was om Ma gemaklik te maak daar op die vloer. Kussings is geplaas waar die ongemaklikheid kop uitgesteek het totdat Willem huis toe gekom het.  Hy kon Ma darem weer opkry.

Ma was getraumatiseerd om die minste daarvan te sê.  Die geluk is dat die ingekorte geheue gou korte mette hiervan gemaak het.

Toe breek Saterdag aan.  Alles gaan goed.  Ons kuier lekker.  Ma besluit om na haar kamer te gaan.  Sy loop nou met so 'n lekker loopkarretjie, haar eie Rolls Royce, en sy ry hysbak.  Die dag het baie rustig begin, en ek en manlief kyk rugby.  Nou nie dat die rugby wonderlik in ons guns verloop het nie! Ons span kry 'n afranseling van Wallis, en ek begin Ma mis.  Sy is nou al 'n hele rukkie in haar kamer.

Trappe op om haar te gaan soek.  Kamer dolleeg, badkamer: dolleeg.  Af met die trappe, soek die hele huis deur - nêrens 'n spoor van Ma nie.  My 59-jarige geraamte weier nou volstrek om nog 'n enkele stel trappe te klim.

Hysbak toe!  Met die oopgaan van die deur, eintlik al voor dit, hoor ek 'n gestamp.  Hier staan Ma - wasbleek ek doodsbenoud.  Sy het vergeet watter knoppie om te druk, en toe of die verkeerde een gedruk, of almal gelyk gedruk, maar uit, kon sy nie uit nie.

Teetjies, geselsies, musiek later voel sy weer mens.

Toe kom Sondag.  Ons is nie betyds gereed vir kerk nie, en besluit om die eredines op TV te volg.  Alles gaan tog te lekker, en ons braai 'n bietjie, kuier 'n bietjie, brei 'n bietjie, en so aan. Ons kry nie meer kuiergaste nie. Net die Bybelstudiegroepie kom nog hier - hulle verstaan. Selfs Ma kom dit agter.

Teen slaaptyd gaan ek saam met Ma kamer toe.  Ek dink nie sy is gereed om alleen hysbak te ry nie.  Ma se hande is vol met die Rolls Royce en  haar selfoon, waarsonder sy nie kamer toe kan gaan nie. Ek bring die nag se glas water.

Sonder waarskuwing val Ma so in "slow motion" half tussen die Rolls en die muur in.  Ek probeer keer maar is te laat - selfs vir slow motion.  Ek kan Ma nie opkry nie, en die Rolls se briek druk omtrent in haar bobeen in.  Ek kan sien dis seer!

Gelukkig is Willem naby. Ek gil om hulp, en met moeite kry ons ma in 'n gemakliker posisie.  Sy sit nou in (op) die karretjie.  Kamer toe.  Ma kom darem sonder verdere skade in die bed.  Ek is nou behoorlik ontsenu.

Kan ek na haar kyk? Is my sorg genoeg? Is my liefde genoeg? Ek twyfel sterk aan my eie vermoe om die pad te kan loop.

Maandag.  Gelukkig is my buitenshuise program vandag baie kalm.  Ma wil bank toe gaan (laas het sy met die uitkomslag in die straat geval).  Ek kry 'n ander plan om haar geld te wissel, en maak so.  Ons (Ma met my aansporing) skryf vir al haar kleinkinders Kerskaartjies uit, en sit 'n geldjie in elke koevertjie. Die manne het al geskenkies wat beskryf en verpak is, maar die vroue se geskenkies is nog net 'n droom.  So, ons moet winkel toe.  Ek kry by voorbaat hoendervleis, naarheid en allerhande simptome van stres. 

Ek stel so lank as moontlik uit, maar alles het 'n keerpunt.  Met 'n gesoebat van my kant af, is ons met Rolls ook in die kar, en daar gaan ons. (Ma wil nie eintlik in die openbaar met die Rolls loop nie.  Die mense sal vir haar lag.) Parkeerplek is hierdie tyd van die jaar nie so maklik te bekom nie - veral nie naby 'n ingang nie.  Na die derde keer se om die winkel ryery, kry ek 'n parkeerplek naby die sentrum se ingang. Clicks is gelukkig reg in die gang af, eerste winkel.  Halfpad soontoe sien ek Ma se kragte is min. Omdraai is nou net so ver as aangaan.  Ons druk deur.  Liewe Hemel, die winkel is vol mense wat soek - dis mos geskenksoektyd! Niemand is vas op koers nie, en Ma se doelgerigtheid begin ook sterk wankel.  Sy ondervind baie moeite om deur die voetverkeer te navigeer.  Ek probeer om ongemerk die Rolls te stuur sodat sy darem heelhuids hier gaan uitkom.  

Skielik het elkeen wat my ken 'n dringende saak om telefonies met my te besleg.  Die vervloekte selfoon gaan in my sak aan't luie vir die Olimpiese span.  Met die foon teen die oor kry ek darem vir Ma by 'n rak met geskenkpakkies geskik vir volwasse vrouens.

Ek gaan staan in die ry vir 'n kassier terwyl Ma so langs die uitgang op 'n veilige plekkie in die Rolls wag.  Netjies.

Halfpad na die uitgang van die sentrum toe, is Ma te moeg om verder te gaan.  Ek help haar om op 'n bankie (dankie tog vir sitplek!) te sit met die Rolls, waaraan haar handsak en haar geskenkpakkies gehaak is, reg voor haar, sodat sy dit kan oppas.  Paranoia is sterk teenwoordig. Wat nie weg is nie, is gesteel, en so aan.

Ek hop gou by 'n troeteldierwinkel in om 'n borsel vir Shadow te koop.  Ek kan Ma deur die venster sien.  Haar gesig straal.  Dis vir haar SO lekker om tussen mense te wees.  Sy blom. Ek sien sommer weer kans vir alles.  

Intussen vertel die verkoopsdame my van haar pragtige kat, en ruk ook sommer die selfoon uit om vir my die foto van die kat te wys.  Ongelukkig is die kat vetsugtig, en sy vertel sommer vir my vanh die hele voedingsregime op "Obesity".  Dis 'n stryd, want die kat is altyd honger, en die porsies is maar klein. Maar sy sal nog die ding wen, want haar vorige kat was 'n diabeet en sy sien nie weer daarvoor kans nie.  Sy is nou op voorkoming ingestel. Elke mens het 'n oor nodig, en almal wil tog bietjie bewonder word, al is dit oor sy liefde vir 'n troeteldier.

Terug in die motor sien Ma nou kans vir 'n supermark ook.  Ek ry weer om die sentrum om nader aan die supermark te parkeer.  Hier verras Ma my deur te vra of ek nie maar die ou goedjies sal gaan koop nie.  Sy sal vir my in die motor wag.  Dis warm, en ek maak 'n venster oop.  Nee, Ma voel onrustig met die oop venster.  Goed, venster weer toe. Radio aan, lugversorger aan, en daar gaan ek met die lysie.

Jaag deur die winkel wat onlangs verbou is, en die goed is op vreemde plekke.  Terug by Ma en die kar. Veiligheidswag help met die inpak van die ware, en kry sommer 'n groot fooitjie.  Sy Kersfees het aangebreek.

Daar wil die motor nie vat nie.  Die battery is pap.  Ek sukkel om alles wat aangeskakel is,weer afgeskakel te kry.  Dis sekerlik nie net die radio en die lugversorger wat aan is nie. Battery laat net al die liggies brand, en sterf dan weer af. Ek bel maar my ridder op sy wit perd.  Hoewel hy 'n klient by hom het, belowe hy om dadelik te kom help.  Met sy aankoms (blaffende Poepies agter-op)neem dit nogals diplomasie om staanplek naby genoeg te kry sodat hy die motor kan "jump start". Gelukkig is 'n ander inkoper naby sy motor, en kan hy plek maak vir die Wit Perd.

Ek en Ma is oppad huis toe - langpad om, sodat die battery kan laai.

Tuisgekom, alles goed.  Ma is net moeg en gaan rus 'n bietjie.  Na sepie-tyd, die nuus en die allerbelangrikste weervoorspelling wil Ma gaan slaap.  Ek neem haar sonder teenspoed met die hysbak kamer toe, maak seker die kamer is veilig en vry van enige boosdoener wat haar dalk daar mag voorlê.  Teen tien uur val ek in die bed.  Ek's dood op my voete.  Slegs 'n paar minute later hoor ons kasdeure klap, en nog 'n geluid.  Ek dink Ma het geval.  Manlief sê nee, dit klink nie vir hom na 'n val nie.  Ek gaan kyk in elk geval.

By die deur roep ek om seker te maak dat ek mag ingaan.  "Ag, Marietjie, Kom help my!", kom dit uit die badkamer.  Ma het tussen die toilet en die muur ingeval.  Die houer vir die toiletrol druk ongemaklik seer teen haar rug.  Met groot moeite het ek haar naderhand op die voete, en help om al die klere weer reg aan te kry. Ek gee by voorbaat twee pynpille, en wens Ma 'n heerlike nagrus toe.  Sy is so dankbaar dat ek die trane net moet keer.

Vanoggend loop ons altwee gepynigd rond. Al ses van my  rugoperasies laat hulself voel. Ma kan nie verstaan hoekom haar rug so lam en seer is nie. Daar is egter 'n liggie voor in die tonnel: Vandag is die dag dat Ma se hare weer ge-"perm" gaan word, en sy sien uit daarna.

Selfoon lui!  Wat tog nou weer?  Dis Sandra van die salon.  Daar het nou net 'n waterpyp gebars en die salon is onder water. ( Kan dit regtig so gebeur? Oorle' Job het ook seker die vraag gevra) Sy is verskriklik jammer, want sy weet Ma kom vandag, maar sal dit reg wees as sy ons bel wanneer die loodgieter die pyp reggemaak het? Nou wag ons. Dis nogals moeilik met 'n ongeduldige mens wat nou ook verveeld is.

Ek hoop hierdie was die laaste teleurstelling vir die maand. Ma se voorkoms is vir haar baie belangrik.  Sy moes nou al van die hogere hakskoene afsien, en nou lê die klem op die hare.  Mag die salon tog vandag nog weer gereed wees vir hare doen!!

Alzheimer, vir jou sal ek beveg tot my laaste asem!







Tuesday, July 29, 2014

The fruit of the passion

I was once young and naive.  Really naive.

I grew up on a farm in the Western Transvaal.  I attended the local agricultural high school. We knew little to nothing about city life.  For fun we went to church gatherings, school concerts, and cattle auctions.  At school, the boys brewed "skelm" wheat beer which we then drank during breaks. The girls who had Cooking, Household Management and Home Nursing as subjects, supplied the eats at these gatherings. Very risky and illegal.

We were being prepared for rural living.

But I wanted to go to university.

It so happened that my dream came true, and off I went to the great city of Pretoria.
I was a first year student living in an annex to a university hostel, and life was exiting. Our annex was called "Lappop" (rag doll).We were five first year students in Lappop,  under the supervision of two senior ladies.

In those days it was a huge thing if a senior male student should show interest in a first year girl. All five of us were thrilled to bits when senior men came to serenade us after hours.  We were very strictly monitored.  On weekdays, we had to be indoors at eight o' clock in the evenings, and then we could not receive any visitors either.  The exceptions were Tuesdays (9:30), Fridays and Saturdays (midnight) and I think we had to be in at 10 on a Sunday evening. The seniors had to make sure that we were locked in.

These singers were a highlight at any time, but  it was extra special if a lonesome guitar-playing singer would sit on the steps to the "stoep" and serenade us. A couple of them actually became well-known in later years. One became a very successful songwriter and singer, whilst another also writes, sings and even added an acting career to his CV although he studied to become successful in a very different direction.

One night, this guy and one of his friends asked me and my roomie to accompany them to a local hotel where a singer (I think it was Stu Philips) were performing.  My roomie grew up in a mining community, and was much more street wise than me. We got special permission to come back after closing time, and off we went.

What a night it turned out to be! On our way to the hotel, I was silently reciting all the warnings my teachers and parents supplied me with before I became a student. I was not going to become a disappointment to my folks!

And they were right in warning me, I realised as soon as we sat down at our table.  We were offered drinks.  Roomie asked for passion fruit. I have never heard of passion fruit before, but I quickly deduced that it was some kind of an unholy mixer to get a girl drunk. Never would I be caught in such a way.

I knew about mampoer (but that was illegal then) and communion wine. So, I asked for Old Brown Sherry when it was offered.

We enjoyed the evening very much. I was a bit sceptic about my roomie, however.  She kept drinking that passion fruit stuff. The 'Old Men' even teased her about the fruit of the passion.  I could see with my own two eyes how she became drunk, laughed a lot, and was very talkative. I wanted to warn her, but I felt uncomfortable to do so. I kept to my decision to take only what I knew, and stuck to OBS.

The entertainer was super good. The evening was beyond thrilling, except for the nagging fear for my roomie and her irresponsible drinking.

We went back to Lappop very late that night.  Actually it was very early the next morning.The seniors were waiting for us. I foresaw doom and damnation. I just wanted to get my roomie into bed before something really bad would happen when the teasing started again.

This time I was the victim.  The old men told the seniors how much alcohol I consumed.  I drank glass after glass after glass of OBS, while my roomie only took passion fruit.

It was only then explained to me that passion fruit was "Grenadella syrup". I still don't drink passion fruit, but I also don't like sherry as much as I once did.

Friday, July 25, 2014

Wat het van my ma geword?

Sedert twee jaar na my pa se afsterwe, bly ek en my man in dieselfde huis as my ma.  Dit het na die beste oplossing gelyk toe ons agterkom dat sy nie meer alleen kan bly nie. Miskien is dit steeds die beste oplossing, al twyfel ek soms daaroor.

My ma ly aan Alzheimer's, en die siekte is stadigaan besig om haar identiteit op te vreet, en 'n vreemdeling in haar liggaam agter te laat. Ek hou myself op die hoogte van nuwe navorsing, ondergaan opleiding in die hantering van persone met demensie, behoort aan Alzheimer Suid Afrika, en is selfs op die beheerraad van 'n huis vir die versorging van Alzheimerlyers. Tog gebeur dit soms, wanneer ek dit die minste verwag, dat hierdie moedertjie van my my so verbaas, dat ek na my asem snak.

Op 'n manier beleef sy my as kompetisie as dit by huishouding kom. Ek is glad nie kompeterend van aard nie, en weet nie mooi hoe om op te tree nie.

Skielik is sy ook erg gesteld daarop om aandag en komplimente te kry.  Sy is altyd baie goed versorg, trek nog mooi aan, en sy is 'n baie mooi vrou. Ons is baie trots op hierdie deel van haar wese. Maar sy voel dat sy nie genoeg aandag kry nie.  Sy is waarskynlik kleindogtertjie-bang vir die wye wêreld, en soek voortdurend bevestiging dat sy nog saak maak. In die proses versmoor sy ons.

Dis net asof sy in die laaste tyd voel dat sy afgeskeep word, en nie meer raakgesien word nie.  Die rede is waarskynlik dat sy nie meer vriende oor het nie, omdat sy hulle nie kan onthou nie, en omdat sy nie meer sinvol kan gesels nie. Dit is hartseer.  Selfs vriende wat haar probeer bel, slaag nie, omdat haar luitoon so mooi klink, dat sy dans totdat dit ophou, en dan probeer antwoord.  Sy het dus altyd "missing calls" op haar foon.

Aan die ander kant is òns vriende ook baie skugter, en om dieselfde redes, en ons raak ook ge-isoleer. Ons kan nie eintlik saans uitgaan sonder ma nie, en vriende voel ongemaklik in haar geselskap. Ons kan haar gelukkig nog bederf met 'n lekker musiekkonsert en so aan.  Musiek word vir haar al hoe belangriker - veral lekker Boeremusiek, want dan onthou sy hoe my oupa konsertina gespeel het, en ballroom, want sy en pa het so mooi en so lekker gedans.

Dit was aanvanklik vir my baie moeilik om na haar te kyk buite die moeder-dogter konteks. So 'n emosionele betrokkenheid maak dit moeilik om rasionele besluite en gevolgtrekkings te maak. Ek weet dit, maar ek val telkens in die slaggate.  Ek vergeet te dikwels dat ons rolle nou omgeruil is.

Vroeër die week moes ek haar dokter toe neem, omdat sy gekla het van 'n pyn in haar bors, en geweldige steekpyne in haar een oor. Ter voorbereiding van die doktersbesoek, en om te voorkom dat ons weer sommige simptome vergeet, het ek die lysie van simptome in haar dagboek neergeskryf, sodat sy 'n volledige beeld aan die dokter kon voorhou.  Sy het my gevra om saam met haar in te gaan, maar gewaarsku dat ek net nie te veel moet praat nie. Vir my was dit 'n eerste. Ek het nie gedink ek praat te veel nie.

So gesê, so gedaan.  Ek het haar laat vertel wat haar kwel, en toe sy na die ondersoekbed gaan, net die laaste twee simptome ook genoem. (Goeie bedoelings - dis mos waarmee die pad na die hel geplavei is)

Volgende oomblik kry ek 'n klap en 'n vermaning omdat ek te veel praat.

Daardie klap was net wat ek nodig gehad het om my subjektiewe betrokenheid bietjie opsy te skuif.  Die klap het gehelp dat ek nie meer so verskriklik kwaad word as Ma snaakse goed, soms skadelik, aanvang nie. Dis al asof ek nou na haar kan kyk soos wat ek die ander Alzheimer-lyers sien.  Dit voel amper makliker om geduldig te wees, en kalm te bly wanneer haar gedrag alles wat ek van haar geken en geglo het, verraai. Dis asof die siekte begin deurskemer, en my emosies ook tru-staan. Dis asof ek vir die eerste keer aanvaar dat my ma se brein besig is om te sterf, en dat sy nie meer in beheer is van haar gedrag nie; dat sy terugkeer na kindwees, en so hanteer moet word.

Gister het sy R40-00 se kompos by 'n straatsmous gekoop, en R1,800-00 daarvoor betaal.  Sy het ook 'n hele beesbinneboud in 'n konka water gekook en gekook en gekook totdat dit later heeltemal oneetbaar was. Waar ek voor die klap sou probeer verduidelik en pleit dat sy tog nie die deur vir vreemdes moet oopmaak nie, al sê hulle dat hulle oorlede Pa goed onthou (haar swakpunt), het ek nou gereël dat iemand anders eers op die kringkamera sal kyk wie by die deur is, en dan oopmaak of nie, na gelang van die geval. Voorheen het ek op haar (afgestorwe) breinfunksie probeer staatmaak om haar gedrag te reguleer. Nou het dit tot in my onderbewuste deurgedring dat dit onmoontlik is.  Sy het nie meer die vermoeë om te onderskei nie. Punt.

Ek is nie heeldag tuis nie, en tot dusver het Ma vir Jubilance (die huishulp) oortuig dat sy die mense (smouse, bedelaars, inlopers, elkeen wat die "kodewoord: die oorlede oom" ken) wat aan die deur klop, jare lank al ken, en dat hulle goeie mense is.  Van gister af is Juby nou ook bemagtig om haar man te staan en in belang van ons voortbestaan op te tree. (Let's hope)

Ek het ook gereël dat etes tuis afgelewer word, en daarom die behoefte aan 'n gekokery gestaak. Die besparing op ons vleis-en elektrisiteitsrekening sal ruim voorsiening maak vir die koste van die gekookte etes. Terselfdertyd ondersteun ons Kenani en die ACVV. Totdat dit anders bewys word, glo ek dis 'n wen-wen situasie. (Dis net die Wimpy wat Willem se skelm etery daar sal mis).

Ek onthou hoe ek 'n paar jaar gelede baie vies was vir 'n buurman wat na my mening sy vrou onderdruk het, net om later uit te vind dat sy ook in die vroeë stadium van Alzheimer se siekte was.  Hoe onverstaanbaar dit ook mag klink, daardie aanvangstye is baie moeilik vir die naasbestaandes, omdat die siekte net plek-plek kop uitsteek en almal half onkant betrap. Later, wanneer die siekte meer uitgesproke raak, is dit makliker om die situasie te beheer, en raak die gedagte aan inrigtingsversorging  makliker verteerbaar.

Ek sien by die naasbestaandes van Huis Elsjé se inwoners dat die skuldgevoelens altyd 'n mag is om mee rekening te hou.  Ons dink altyd dat ons tot meer en beter in staat is as wat ons lewer, maar op 'n manier is dit dalk ook 'n tipe grootheidswaan, en moet ons uiteindelik erken dat ons almal feilbare mense met beperkinge is.

Op die ou end is die liefde, onvoorwaardelike liefde, al wat nodig is.  Liefde vir die ma wat ek onthou, en liefde vir myself ook.

Op die ou end moet ek deur die bril van herinnering na haar kyk sonder om te verwag dat sy bo haar vermoeë moet optree.  Niemand sal van 'n kwadrupleeg verwag om hekkies te spring nie, niemand sal verwag dat iemand met Down se sindroom 'n doktorale tesis moet skryf nie; tog verwag ons dat iemand met Alzheimer se siekte met volle breinkapasiteit, en "sosiaal aanvaarbaar" moet funksioneer.

Ons bly komplekse, moeilik begrypbare wesens. Met of sonder Alzheimer's. Dis slegs met baie genade moontlik om te oorleef in hierdie doolhof wat ons die lewe noem. Hier waar ons probeer sinmaak van die onverstaanbare, waar ons die onmeetlike probeer evalueer en takseer, beheer en manipuleer. Hier waar ons dit vir onsself baie moeilik maak.

Op die ou end is daar Geloof, Hoop en Liefde, waarvan die Liefde die vernaamste is.

Monday, November 4, 2013

SIYANITHANDA

Ons is baie opgewonde om ons nuwe mentor vir Siyanithanda, Mnr. Johan Mostert, welkom te heet by die ACVV familie.

Ons weet dat hy al die kwaliteite het waarna ons gesoek het vir hierdie pos, en ons weet ook dat hy nog meer saambring as waarvoor ons kon hoop.

Siyanithanda, ons weet dat julle jul volle potensiaal gaan bereik, en 'n blink baken op die Mosselbaai en die Suid-Kaap se kaart gaan wees.  Lekker werk!


Friday, October 12, 2012

OOR GRYS HARE, VALS TANDE EN ANDER GEHEIMPIES

As ek maar geweet hoe moeilik dit is om na "etlike jare" weer in die stroom van werkende en aan-die-gang mense te kom!

Ek het mos so ewe ingewillig om voorsitter van die plaaslike tak van die ACVV te word.  Ek is baie opgewonde oor die ACVV, want ons is die oudste welsynsorganisasie in die land.  Mens kan maar sê die moeder van alle welsynsorganisasies in Suid Afrika. Ek het net nie heeltemal mooi nagedink oor die omvang van my besluit nie.

Moet my nie verkeerd verstaan nie.  Ek is glad nie spyt daaroor nie!  Ek voel baie bevoorreg om hier te kan wees.  Dis net dat al die rompslomp van ons samewerking met staatsdepartemente, munisipaliteite en ander groot instansies so 'n bietjie bydra tot my groterwordende arsenaal van "geheimpies".

Met elke nuwe vorm wat voltooi moet word om 'n diens moontlik te maak, kan ek behoorlik voel hoe 'n klompie hare stokstyf spring en met die terugvalslag silwer-wit-grys word.

Elke keer as 'n nuwe bevestiging van my identiteit gesoek word om ons kommunikasievermoë uit te brei, kraak 'n tand.

Met elke nuwe vertraging wat ons beleef in ons strewe om 'n diens te lewer, val sekere onnoembare dele van my anatomie sommer net daar plat. 

Wanneer 'n storie so swak uitgedink is dat die stok waarmee ek dit aanvoel ook begin krom trek van pure verleentheid, kom daar so 'n taaiigheid oor my.

Dis nou my geheimpies.  

Vandag het ek agtergekom dat ons almal maar met ons troetelfrustrasies sit.  Soos ons ouer word, word die klompie geheimpies wat daardeur veroorsaak word, ook al hoe meer. Dis net daar wat ek besluit het - ek gaan nie krom loop onder hul las nie.

Ek word ouer.  Ek leer moeiliker as 'n paar dekades gelede. Die tegnologie groei onder my uit. My geduld met mense wat hulself benadeel word minder. Knaende negatiewe pole maak my suur.  'n Onlustigheid om die sonkant van die lewe raak te sien pynig my in my diepste gebeentes. Noorsdorings, wat moeite doen om onaangenaam te wees, kan ek nie staan nie.

Ek kan nog aangaan, MAAR

My vreugde wanneer 'n ouerlose kind by pleegouers geplaas word en blom omdat hy nou gaan boer, gee my onmeetlik meer vreugde as al die ou geheimpies saam.

Die lekkerte wanneer 'n ouer persoon een van ons residensiële fasiliteite as "my huis" beskou, maak elke vormpie wat ingevul moet word, die moeite werd.

Die moontlikheid om 'n diens uit te brei na 'n suksesvolle fondsinsamelingspoging laat my hart jubel.

Die vreugdes wat ek daagliks beleef is BAIE MEER as die frustrasies wat so maklik in die jassak glip.

Die grootste lekkerte is egter die entoesiasme wat onder die vrywilligers en die werknemers gedy.  Niks kom by die goedvoel wat mens beleef wanneer jy met sulke mense kan saamwerk, saam beplan, saamstoei en saam feesvier nie.

Dankie ACVV, vir die groot lekkerte.  

Wednesday, October 3, 2012

MY VOORTGESETTE STRYD TEEN DIE KONDENSMELKBLIK

Ek sukkel mos al lankal met hierdie soet tand van my.  Jy onthou mos, daai kondensmelk-soettand.  Ek het sal mens maar sê, begin aanvaar dat elk nou maar elke dan en wan weer in 'n paar blikkies van die satynagtige romerige soetigheid sal moet belê.  Ek begroot al daarvoor....

Tot iewers in verlede week.  O, wat 'n allerverskriklike aand was dit nie.  Ewe openlik en rein van gewete geniet ek 'n blik kondensmelk terwyl ek, manlief en Willie voor die TV uitspan.  Niemand maak eers meer opmerkings daaroor nie, want ek is nou maar eenmaal lief vir kondensmelk, en dis my sonde.

Nadat die blik totaal leeg eenkant toe geskuif is, tel Willie dit op en begin lees op die etiket.  Wat lees hy? Hy kyk na die voedignswaarde en so aan van sy ma se sonde.  Lees die kilo-joule waarde hardop vir my, maar dit be-indruk my glad nie.  Dit klink glad nie so erg nie.

Toe skakel Meneer dit vir my om na kalorieë.  Ek dink mos nog in kalorieë! Mamma, Ma het sopas meer as eenhonderd dae se voorgestelde kalorieë ingeneem.

Wat? Jy speel seker?

Nee, Mamma.  een blik kondensmelk bevat 324,570 kalorieë, en die daaglikse aanbevole aantal kalorieë vir 'n aktiewe (let wel AKTIEWE) volwassene is ongeveer 3,000 kalorieë.

Ek het dadelik die allerverskriklikste hoofpyn gekry, en stoei nou nog met hom. Daai blikke kondensmelk staan nog steeds op die rak - en nou koggel hulle my.

My gekose sonde lyk nou nie meer so skadeloos nie.  Ek is nou bang vir kondensmelk. Ek loop draaie om die spens, en kyk links as ek by hul staanplek verbygaan.  Ek is nou soos iemand wat bang is vir spoke - die goed bly heeltyd in my gedagtes.  ek is nie seker dat ek rehabiliteerbaar is nie, maar sover hou die vrees my darem op 'n soort van 'n afstand van die kondensmelk af.

As die aantal kalorieë begin vervaag, kom Willie se volgende woorde weer by my op.  "Dit is nou ook nie asof  Ma se liggaam oortollige kalorieë net so kan ignoreer nie, hoor.  Dit word maar soos by enige ander mens op 'n manier gestoor" Dis nou sy ordentlike manier om te sê "DIT GAAN SIT OM MA SE MIDDELLYF"

Met die resessie, die styging in pryse van net mooi alles, waspoeier wat ons klere in elk geval laat krimp, en sjampoe wat "extra body and volume" waarborg, kan ek dit nie bekostig om weer ligweg en gemaklik met kondensmelk om te gaan nie.  My vrees is dalk net my redding.

Wyse Ouma Ella het egter meer as vyftig jaar terug al raakgesien dat ek te dom is om bang te wees. Ek hoop dat ek die domgeit nou al ontgroei het.

Ek is so bang ek  kry binnekort weer 'n aanval van dapperheid , want dan val ek dalk weer 'n blik of wat aan en vernietig hulle met smaak.

Ai tog!

Saturday, April 7, 2012

Gesinsgeweld

Daar het 'n verskriklike ding in ons gemeenskap gebeur wat my weer eens onder die indruk gebring het van die groot gevaar wat gesinsgeweld inhou.  Dis so 'n onnodige verskynsel - ek bedoel daar is hulp om elke hoek en draai, mense!  Praat, kry hulp, red lewens.  En dwelms,  ai tog, ek wens ons kon dit net wegwens.


Ballade van ‘n ma

Dit was ‘n gewone dag

Met sonskyn, werk en lag.

Toe kom jy in -

Jy raas en skel;

Jy stamp en stoot.

Die kinders huil

En ek voel vuil.



Daar is ‘n pikswart wolk

Wat om jou wese kolk:

Kinderkoppie teen die muur;

Name gegraveer in hartjies klein;

en ek wat nog wil keer,

word summier grond toe gestuur



Ek kan nie meer;

Ek wil nie meer.

Ek sal nie meer

Kom ek om, dan kom ek om,

Maar vir jou sal ek keer.



Dit is ‘n gewone aand

Soos elke einde van die maand.

Daar’s een verskil –

Jy lê daar stil….

Ek moet hier uit

Jou woede is gestuit.



In die lig van die maan

Drup die bloed soos ‘n traan

Die mes was skerp

Die lem was glad

Nou moet ek praat

Dat die mense kan verstaan.



Ek kon nie meer;

Ek wou nie meer.

My  straf lê voor –

Die tyd sal leer

Maar die kinders se seer

Het ek vir altyd gekeer.





Te laat

Dit was ‘n Saterdagaand

Soos elke einde van die maand

‘n Bietjie tik, ‘n bottel dop….

‘n Man soek nou vrede

En ‘n lêplek vir sy kop



By die huis, net ‘n kille ontvangs

En eise, vrae, nood

Geen lêplek sag, geen kinderlag

Net maar ‘n geneul, gekerm en verwyt

Ewige stryd om brood



Tik en dop leer soek net vergelding:

Hier’s  te veel monde, te min geld,

geen rustigheid om te peins oor my wonde.

Maak  stil daai lawaai - selfs met geweld

‘n Man moet mos sy gesag laat geld



Alles vaag

Alles rooi

Te veel gekerm, te min respek

Wat hier makeer is die roede

Om uiting te gee aan die woede



Ek sien die mes, ek skrik vir jou oë

Die brandpyn van die lem  in my bors

Wat gaan aan? dit kan nie wees

Vreemde jy  buig oor my met bebloede mes

Dis bo my begripsvermoeë



Ek’s dan lief vir jou

Vir jóú’t ek als gelos –

My huis, my kinders, en my vrou…

Jou oë brand in my siel

Wie kon dit voorsien?



Alles vaag,

Alles dof,

Te vroeg my laaste skof.

Net een gedagte –

Dit is te laat.