'n Naweek om te onthou!
'n Ma is mos van die spesie wat alewig na die een of ander kind of kraai verlang. As sy nie verlang nie, is sy bekommerd, of soos meestal die geval is, sommer albei gelyk. Kom dit toe so dat ek my die laaste drie maande (dis reg, 3 maande) doodverlang na my enigste ou ooilammetjie en haar man in die Kaap. Hulle kom net nie hier by ons uit nie, want hul kar is nie lekker nie. Om die een of ander duistere rede val daar gedurig iets voor as ons wil gaan kuier. Ek voel genoeg is genoeg. Dis nou of nooit. Al buig die bottel en al bars die boom, nou moet ons Kaap toe gaan!
Gelukkig is die heelal 'n plek waar balans baie belangrik is, en toe kom dit mos nou so dat Willem vreesik graag skyfskiet, en dat daar 'n Bisley-klub in die Kaap is. Goeie vrou wat ek is, moedig ek hom aan om die oefensessies en ander klubbyeenkomste te begin bywoon. "All work and no play makes Jack a dull boy" redenasie aan die werk. Die skietgogga het gebyt, en ons gaan kuier by die kinders. Rachel se kar se stuurmeganisme is boonop na my mening tans gevaarlik, en moet herstel word. Sy het die kar elke dag nodig, en so kom daar niks van die herstelwerk nie. Die plan is nou dat ons Willie (wat in Taiwan is) se kar by haar gaan los om mee te ry terwyl ons haar kar gebruik om huis toe te kom, en dan te laat herstel. Meer motivering vir hierdie kuier is seker nie nodig nie.
Ek het so 'n diep "under cover" verlange na my "Visbon" wat in Taiwan werk, ook, maar die plan om iets daaraan te doen, het hom nog nie voorgedoen nie.
Maar mens, het ons lekker gekuier! JC is by al sy ander talente, ook 'n bobaas-kok. Dat skoonma moet gewig verloor, bring hom nie van stryk nie, en ek is maar bly daaroor. Vrydagaand trakteer hy en Rachel ons toe op 'n heerlike braai met net die regte en net genoeg bykosse om ons tone te laat omkrul van die lekkerkry (sonder dat ek my polse hoef te sny van skuldgevoelens oor die dieet, darem). Dit lag en gesels dat die biesies bewe, en die hele woonstelblok se inwoners besluit om elkeen sy eie partytjie ook te hou. Lekker bly maar lekker.
Saterdag vaar ma en dogter die winkels in vir daai broodnodige paar stukkies klere, en as dit kan nog 'n paar skoene of wat ook. Ma stap mos deesdae met 'n kierie, en ek was naderhand seer, en half lam van die moeg, maar die lekker bly lekker.
Pa en skoonseun is elk op sy eie missie. Pa het gaan skiet, met 'n jaarvergadering na die skietoefening - ook nie te vrot gevaar met die skietery nie - darem 'n voltal geskiet op die 500m. JC moes 'n kliënt help wat uit nood dokumente uit Johannesburg laat koerier het vir my skoonseun se aandag (ai, ek's trots op hom). So is ons almal lekker besig en lekker tevrede.
Saterdagaand word ons weer bederf met 'n pizza uit 'n ander wêreld. JC het die voorbereiding gedoen, en Rachel (self nie verlore agter die kospotte nie) het die konstruksie waargeneem. Sy is mos hoeka projek-administreerder by 'n konstruksiemaatskappy. Ons het gesmul. Soos mense wat baie lank laas lekker geëet het, al is dit ver van die werklikheid. Ons ou volkie het sekerlik volk-alleen die kuns om kos te geniet, vervolmaak!
Na 'n lekker ontbyt by 'n plekkie in Tyger Vallei, word die karre omgeruil, en val ons in die pad.
Ons moet nog op die plaas by Gouritz aan om Poepies te gaan haal. Sy het die naweek daar gekuier, en sewe muise gevang. (Poepies is ons bedorwe Jack Russel)
Skaars verby Albertinia hoor ons 'n snaakse geluid. Willem sê dis 'n band. Die agterband het toe inderdaad gebars. Ongelukkig is die spaarband ook pap. Gelukkig is Gouritzmond vol wonderlike mense, en Gertjie Marx, die nutsman van die dorp daag soos 'n ridder met sy Genny en 'n pomp op, en kort voor lank is ons weer op pad.
Vanoggend is Willem met die kar op pad na Franz vir die regmaakslag. Ongelukkig is daar 'n nuwe spoedbeperking in Kwanonqaba waarvan hy nie weet nie, en hy kry 'n spoedboete. Baie ongelukkig trek hy daar weg, en woeps, daar gaan die spaarband. Dis nou gelukkig dat ons die naweek so geniet het - anders het ons nie krag gehad vir hierdie Maandag nie. Nog gelukkiger is dit dat hierdie oepsies nie met Rachel gebeur het terwyl sy in die verkeer op pad werk toe of terug, is nie.
Balans. Geluk by die ongeluk. Na lekker lag kom lekker huil. Daar's iets te sê vir al ons spreekwoorde. Bowenal is daar Iemand wat ons in die holte van sy hand hou.
Monday, February 23, 2009
Friday, February 13, 2009
Die gedoente met my bril(le).
Ek het vandag my ogies laat toets. Dis nou al 'n hele lang ruk dat ek sukkel om te lees - om van rekenaarwerk nie te praat nie. Goedgelowig soos ek is (ek's mos gebore in die jaar van die Skaap) glo ek my oe gaan vinnig agteruit. Ek koop twee vergrootglasbrille - een vir lees (3X) en een vir die rekenaar (2X). Met al hierdie aanhangsels kom ek oor die weg - dis nou te se AS ek die dag die regte bril op die regte plek het.
Sommer heel aan die begin van ons gesprek se die nuwe oogkundige dat my bril se regterlens net daar is vir balans. Hy verneem baie simpatiek wat die probleem met die oog is. Ek's verstom, want ek het nog nie agtergekom dat ek blind is in die oog nie.
Met die toetsery, kom ons agter dat my oe eintlik goed gebalanseer is, en net die normale veroudering toon. My nuwe vriend kan goed verstaan dat ek gefrustreerd rondval tussen brille omdat my eintlike bril nie help nie. 'n Mens kan nie eintlik lekker oor die weg kom met een multifokale lens en een glasstukkie nie.
Hoe dom en goedgelowig kan 'n mens wees? Ek skud my kop in ongeloof oor my eie stommiteit - ek kan nie glo dat ek so lank verniet gesukkel het nie.
Die verligting is darem baie groot om te besef dat my sig my nie ook wil verlaat nie. Ek kan nog jare produktief wees met die regte bril. Op my jare is dit hoeka die fokus van die oe wat nie meer so waffers is nie. Om dit met 'n defekte bril te vererger, is totaal onnodig.
4 werksdae, en my versameling brille word museumstukke! Dan sal ek net 'n "one and only" of DKW he. Salige vooruitsig.

Friday, February 6, 2009
Thursday, January 29, 2009
TAGG - Sesde foto in sesde lêer
Willie (absolutwillie) het my ge-TAGG. Hierdie buffel is die sesde foto in die sesde "folder" op my rekenaar. Dit is een van die buffels op die plaas Rietvlei, waar ek vakansieverhurings doen. (Kuierbos en Laventelbos) Hierdie menere wys soms laatmiddag lyf wanneer hulle kom water drink.
Metro Mans

Ja, so leer ek toe ook van "metro mans" - dis glo mans wat in kontak is met hul vroulike kant. 'n Groot bonus vir ons Evas, dink ek.
So kry ek toe nou die anderdag 'n onverwagse wasdag-wenk van my man (Willem het hom nog nooit juis aan sulke banale dinge soos wasgoed gesteur nie, maar hy's darem nooit onwillig om bietjie hand by te sit as ek sukkel nie.). Hy't glo die wenk weer by 'n vriend (ook 'n getroude man, en nie bekend vir sy "domestication" nie, gekry.) Hulle het maniere bespreek om strykwerk minder te maak. 10 uit 10 vir hulle!!!
In my verbaasde brein wriemel daar nou baie tonele rond van mans wat by die vulstasie gou 'n wenresep uitdeel, wat oor die kinders se nuwe leerplanne wonder, wat spog met die witste wit hemp, en swart gimbroeke wat pikswart bly. Mans wat die golfstokke bietjie neersit om die nuutste "reukvrye" sokkies te bespreek. Mans wat kospryse by verskillende supermarkte vergelyk, en die voordele van 'n gebalanseerde maaltyd teenoor die tradisionele Braaivleis en -broodjies of pap onder oë neem.
Miskien sal hulle eersdaags so tussen die rugbybespreking deur, ook 'n woordjie of wat wissel oor die beste ruitskoonmaakmiddel, matsjampoe of stofsuiers. Die goed kos deesdae genoeg om enige man met groot oë na die huishoudelike begroting te laat kyk! Dalk kan hulle na 'n spogdrie sommer raadgee oor hoe om die grasvlekke weer uit die klere te kry ook!
Ek ken nogal 'n hele paar manne (waaronder my eie skoonseun, 'n besonder knap kok, met 'n groot liefde vir kosmaak) vir wie so 'n scenario nie te vreemd sal wees nie, maar hulle is almal so 'n bietjie jonger as die nuwe lede van die metro klub. Hierdie nuwe lede is nou so tussen 50 en 65 jaar oud.
Ek het hoop vir die wêreld.
Vroue probeer lankal 'n voet in die deur van die "manswêreld" kry, en slaag ook daarin - vind die omgekeerde nou ook in ons tradisionele Afrikaanse gemeenskap plaas? En waar laat dit die toegewyde huisvrouens onder ons? Dalk 'n bietjie frustreerd met die man wat inmeng? Dalk bietjie onseker oor ons eie vaardighede?
Ek dink dat ons die sakie uit 'n ander lig moet beskou: kom ons verwelkom hul aandag en hulp, en maak meer tyd vir die lekker saamwees in die lewe. Hierdie ouer metro manne is een van die dae, of dalk reeds, afgetree, en dan is hulle in elk geval meestal by die huis. So, wat keer ons om ook 'n potjie golf te speel, of gimnasium toe te gaan, lang ente te gaan stap, of wat ookal? Hoekom kan Pa nie ook 'n slag die taxi bestuur, of al die terug-skooltoe inkopies doen nie? Miskien kan Ma dan haar hare/naels laat doen, of gaan vir "scrap"-lesse sonder om skuldig te voel.
Man, daar's niks meer seksie as 'n sterk man, wat sy plek as man en pa van sy gesin met vaste voete volstaan en nog belangstelling toon in - en kennis dra van - die binnewerkinge van die huishouding ook nie.
Geniet die METRO EEU!
Tuesday, January 27, 2009
Monday, January 26, 2009
Huis Elsje - 'n tuiste vir die dapperstes onder ons
Huis Elsje. Die plek wat my hart van dankbaarheid laat jubel, en van hartseer en deernis laat krimp - alles gelyk. Hoe kan dit dan wees?
Die dankbaarheid kom vanweë die feit dat die projek van die grond af gekom het, en dat die gebou daar staan om huisvesting en versorging aan Alzheimer-lyers te bied.
Ek is dankbaar vir Elsje se lewe, wat die ispirasie vir die Huis was. Ek is dankbaar vir 'n ouerpaar wat hul hartseer en leed kon verwerk deur vir ander van hulp te wees. Ek is dankbaar dat die Here so voorsien het dat die fondse vir die oprigting van die huis beskikbaar was.
Ek is dankbaar dat die ACVV oor die perseel beskik het waarop die Huis gebou kon werd. Ek is dankbaar vir die mense wat by Huis Elsje werk - dat hulle getrou is, dat hulle elke werksdag met deernis in hul harte en 'n houding wat liefde en geduld weerspieël opdaag om die inwoners te versorg, te voed, te stimuleer, te bemoedig en te kalmeer as hulle ongelukkig raak.
Ek is dankbaar dat die familielede 'n warm welkom ervaar wanneer hulle kom kuier. Ek is dankbaar dat ek welkom is wanneer ek besoek aflê.
Deernis en weekheid bekruip my as ek sien hoe 'n eens mooi, knap dame nou met verweesdheid en verdwaaldheid om haar rondkyk, en nooit seker is van haarself of haar omgewing nie - bloot omdat sy aan die siekte wat deur Dr. Alzheimer beskryf is, ly. Ek is hartseer wanneer die eens forse en gesiene man, wat sy sakeonderneming met trots en vaardigheid bedryf het, nou wag vir 'n kansie om met sy inkopiesakkie vir 'n aktetas by die deur uit te glip om "die vergadering" te gaan bywoon.
Ek is baie hartseer as die geliefde kind, man, vrou of vriend wat kom kuier, skielik 'n totale vreemdeling is.
Ek wonder soms wat agter die geslotenheid van die inwoners se gesigte broei. Besef hulle soms dat hulle effe ontuis voel in die hede? Weet hulle dat hul gedrag soms "anders" is, dat daar soms 'n hele paar bladsye uit die boek weg is, en die verhaal nie meer sin maak nie? Onthou hulle van God en sy liefdevolle genade?
Antwoorde is daar nie. Wat egter soos 'n paal bo water staan, is dat niemand wat 'n geliefde het of gehad het wat deur Alzheimer se Siekte geraak is, ooit weer daarvan kan vergeet nie.
Dan wil ek net sê: BAIE DANKIE aan elke vrywilliger wat 'n los uurtjie, of 'n paar ekstra sente aan hierdie juweelmense afstaan. Elke vriendelike woord, elke glimlag, elke lekker vrug, bordjie eetgoed, oefensessie, of wat ookal, is vir die oomblik wat dit duur die Alzheimer-lyer se hele bestaan. Dit verlig sy gemoed, en al duur dit nie lank nie, is dit balsem vir die gewer se siel om iets te kan gee of beteken. Die kosbaarste wat ons kan gee, is en bly maar ons tyd en ons harte - dieselfde tyd waarmee ons so suinig en soms onoordeelkundig omgaan en dieselfde harte wat soms soos klippe in ons binneste lê.

Subscribe to:
Posts (Atom)