Thursday, June 11, 2009

Louisa Mafutha

Een van my eerste hartroerende sake as maatskaplike werker, was die van 'n vondelingetjie wat in 1977 digby Marabastad, Noord van Pretoria, gevind is. Die onlangs-gebore babadogtertjie is onder 'n doringbos gevind waar die miere al aan haar begin vreet het. Sy is na die destydse H.F. Verwoerdhospitaal geneem, vanwaar ons (die welsyn) van die saak in kennis gestel is.



Ek was destyds 'n jong maatskaplike werker in my eerste pos by Kindersorg, in hul Eersterust-kantoor gestasioneer. Daar is nogal baie administratiewe en wetlike sake in die geval van vondelinge wat moet aandag kry. Destyds baie meer as nou, want ons moes eerstens vasstel tot watter ras hierdie baba geklassifiseer moes word voordat daar enigsins verder na haar toekoms gekyk kon word.



Uit die aard van die saak is die herkoms van 'n vondelingetjie mos nie bekend nie. Die bedoeling van die ma was dan juis dat iemand anders die kindjie moet vind en grootmaak en sy (die ma)onbekend moet bly, of dat die kindjie sou sterf sonder dat iemand ooit van haar bestaan sou uitvind. Hierdie ma het anders as Moses se ma, nie 'n spioen gestuur om uit te vind wat van die baba sou word nie, en is sover ek weet nooit gevind nie.



By die hospitaal is die baba versorg, en gevoed totdat dit veilig sou wees om haar te ontslaan. Met ontslag moes ek oorneem. Ek onthou dat ek die dag nogal baie deftig aangetrek was vir die taak - met hoëhak-skoene en als. Ek het nie besef hoe ver ek sou moes stap nie.



Soos ek dit gehad het, was my eerste taak om die geboorte/vonds van die baba by Binnelandse Sake te gaan registreer. Gewapen met 'n bottel melk (komplimente van die hospitaal), 'n skoon doek, die baba, baie entoesiasme en my geleerdheid, is ek na Binnelandse Sake toe.



By die toonbank kon niemand my help nie, want ek het geen inligting gehad nie. Na lang verduidelikings (toe ek uiteindelik die voorkant van die ry bereik het) is ek verwys na van die senior manne in een van daai boonste kantore van die hoë gebou. Met te min hande, onbekendheid, 'n vermoë om in die biblioteek te verdwaal, en hysbakke wat nie op alle vloere stop nie, soek ek die kantoor.



Na 'n gesukkel en 'n paar skietgebedjies, kom ek toe by die paneel uit. Die klompie omies moes vasstel uit watter rassegroep die baba afkomstig was. Ek het naïef geglo dat daar die een of ander soort toets was wat sou bepaal wie die baba was. Toe nie.

Die manne bekyk my en die baba, en gesels asof oor 'n koppie tee, terwyl ek al meer met die baba identifiseer en haar saak darem met erns bejeën sou wou sien. Elkeen het 'n ander gedagte, maar die ooms voel ek moet haar as swart registreer. Hulle kyk nie eers behoorlik na haar nie.

Ek durf teëpraat, en probeer hulle oortuig dat sy net sowel van gemengde afkoms, d.w.s. 'n Kleurling kan wees. Na my mening het sy dalk 'n kans op 'n beter lewe as ek haar by 'n Kleurling-gesin kan plaas, want die aanneemouers waartoe ek toegang gehad het, sou in al haar behoeftes kon voorsien, en die politieke aansien van Kleurlinge het dit ook makliker gemaak om as Kleurlingkind op te groei.



No such luck. Nee, Juffrou, jy's nog jonk en onervare. Gaan na Bantoesake, en registreer haar daar.



Waar is Bantoesake se kantore? Net mooi aan die ander kant van die stad. So, hier gaan ons. Die bottel gaan nie die hele dag hou nie, en die doek ook nie, maar die baba moet geregistreer word!



Parkeerplek is ook nie so eenvoudig nie - nie eers in 1977 nie. Ek kry 'n veilige staanplek (sonder parkeermeter, want wie kan nou 'n boete ook nog betaal?) en stap. Myle voel dit vir my in my hoë skoene. Die deftigheid het niks gehelp by die span ooms van Binnelandse Sake nie.



Ek loop vir Willie Snyman, een van my matriek klasmaats raak. Hy kan nie verstaan hoe ek nou met 'n gekleurde baba kan straat-af stap nie. Ek het nie genoeg tyd om te verduidelik nie, want sê-nou die kantore maak toe.



Bantoesake. Die diens is nie waffers nie - eintlik glad nie waffers nie. Ek is baie bewus van my bevoorregte status bloot op grond van my velkleur. Naderhand kom ek by die regte toonbank uit (hoop ek). My voete is af. My deftigheid rem aan my. My oë knip-knip, en my professionaliteit is nerfdun.



Plak die skoene op die toonbank neer, en lê die baba langsaan neer. My arms begin naalde en spelde maak van ongeoefende baba-dra. Ek verduidelik my missie. Ja, ek is op die regte plek.

"Wat is die baba se herkoms?"
Ek weet nie, het ek dan nie goed verduidelik nie?


"Goed, wat is die baba se van?" Moedeloosheid neem besit van my.
Ek weet nie, daar was nie 'n briefie by die baba nie.

"Kies dan 'n van."
Hoe? Ek ken nie swart vanne nie, en ek wil darem nie hê die arme baba moet met 'n belaglike van opgeskeep sit nie. Wat is 'n normale van? Sy is naby Marabastad opgetel.


'n Dik register met baie inskrywings kom onder die toonbank uit.
Marabastad. Daar's omtrent 7,684,275 verskillende vanne. Ag toggie,toggie. My voete!


Hoe klink Mafutha? vra ek.

"Dit kan werk. M A F U T H A"

"Geboortedatum?"
Nie seker nie, skat maar ......

Ek is so moeg, ek is bereid om alles te raai.

"Naam/name?"
Nou's ek vas. Swartmense het mos gewoonlik 'n naam wat in hulle taal iets beteken, en dan 'n Christen-naam ook vir ons onthalwe.
"Louisa," hoor ek myself sê. Ek ken nie 'n Luoisa nie, behalwe miskien 'n agterkleinniggie van my pa ...

"L O U I S A"


"Goed Juffrou, hier's die sertifikaat."


Volgende probleem. Louisa Mafutha is nou swart, en ek werk met Kleurlinge. Ek moet die kleine bondeltjie mens, wat op my begin groei, nou verwys na of die Mamelodi-werker, of die Atteridgeville-werker.


Ek kan nie onthou waarheen Louisa Mafutha verwys is nie. Ek het geen terugvoer gekry nie, en weet nie of sy na 'n kinderhuis is, of sy in pleegsorg geplaas is en of sy vir aanneming gegee is nie.

Ek kan maar net hoop dat sy tog volgens haar eie tradisies grootgemaak is, en dat sy iewers 'n gelukkige lewe lei.


Louisa Mafutha weet nie van my bestaan nie, maar dit maak nie saak nie. Ek wens haar 'n wonderlike lewe toe. Die wiel van die lewe het gedraai, en miskien was die ooms van Binnelandse Sake tog reg met Luoisa se klassifikasie - ek hoop so, en ek bid vir Louisa Mafutha.

Monday, May 18, 2009

Kroniek van die Kondensmelkblik

Die eerste gewaarwording van die naderende stryd het soos N.P. van Wyk Louw se donker wense om die grense van my denke begin flikker. Eers was dit net sulke sporadiese flitse; later het dit aanhoudend geflikker, soos 'n warmwordende neonlig, en al duideliker geword.Uiteindelik was dit onteenseglik daar.

Ek was lus vir kondensmelk.

Ek het Wilskrag nadergeroep. Ek moet immers nog 'n klomp gewig verloor ter wille van mobiliteit en gesondheid.

Soos dit gaan met verbode vrugte, het Soetlus van krag tot krag gegaan terwyl Wilskrag begin verkrummel het. Wilskrag wou nie toegee nie, maar die sluwe Soetlus het hulp ingeroep: beelde van dik strome gladde, soet kondensmelk wat verleidelik krul, drome van 'n kondensmelkblik-trompoppie wat 'n brigade van die wonderlikste kondensmelkterte aanvoor, geure van die allersoetste eet- en drinkgoed....

Wilskrag kon slegs met beelde van Immoboliteit, Vet, Skaamte en Naarheid terugveg. (Almal negatief) Voorwaar 'n ongelyke stryd!!!

Die geveg het sy hoogtepunt op 'n Dondrdagmiddag bereik. Ek was alleen tuis, met tyd op hande. Soetlus het Ledigheid en Oorreding vir haar kant gewerf.
"Daar's drie blikke kondensmelk in die spens..."
"Niemand sal weet nie..."
"Watter skade kan 'n bietjie kondensmelk dan nou doen?"
"Kondensmelk se oorsprong kan teruggevoer word na die enigste volledige voedsel"

Arme Wilskrag begin wankel onder die aanslag - soos alte dikwels in sulke gevalle gebeur. Soetlus, aan die ander kant, word net verder gevoed en versterk deur hierdie wroegery.

Wilskrag gee nie in nie. Plan staan nader, en gee raad. "Laat ons op hierdie geskiedkundige dag vir Soetlus en haar trawante 'n les leer wat hulle nooit sal verget nie" Wilskrag gee in - swak en uitgeput.

'n Blik word oopgesny - nie die tradisionele twee gaatjies vir suig nie, nee heel OOP. Die deksel kom onder ander afval in die asblik. Ek gaan sit by die tafel. My laaste wapen is 'n teelepel. Nee, dit is nie fel genoeg om Soetlus uit te wis nie. Die teelepel moet eers wag. Hierdie saak is te ernstig vir die juniors.

Ek drink die kondensmelk soos water - nee, soos goeie rooiwyn. Ek rol dit op my tong; druk die soetheid teen elke oppervlak van my mond vas, en sluk met behaaglikheid. Ek volg die vordering van die soete verleiding tot daar waar dit lêplek kry.

Nou word die slukke groter en Gulsigheid steek kop uit. Teen die helfte van die blik begin Naarheid saggies om aandag smeek. Plan en Wilskrag druk deur! Oorreding vra vir "Time out". Wilskrag wyfel, maar staan vas.

Met nog net genoeg kondensmelk vir twee koppies soet koffie, is Wilskrag se fut uit, en Oorreding staan nou sterk. "Dit sal lekker wees om so 'n ou soet koffietjie met Willem te deel wanneer hy huis toe kom..."

Willem! Die soet towerkrag is gebreek! Skuldgevoel spring uit! "Willem mag nie weet nie!!!"

Nou moet die teelepel help. Die laaste aks van 'n druppel word uitgekrap en opgeëet. Nou word die leë blik ook diep in die asblik weggesteek. So-ja, 'n beker bitter koffie om Soetlus se val (of was dit nou oorwinning?) te vier.

Plig onderbreek die nabetragting. Wat eet Willem vanaand? Naarheid pleit swakheid, maar Plig maak geen toegewings nie. Plig wen, en ek begin kosmaak. Willem sal honger wes, maar hoe gaan ek eet???

Ek sit toe maar net by. Willem eet lekker, en ek kry nog 'n kompliment ook oor die heerlike kos. "Honger maak beslis die beste kok." Dis Skuldgevoel se stem.

So 'n ruk na ete begin Willem eers kombuis toe, en later spens se kant toe dwaal. Hy's seker lus vir 'n koekie. Sy stem ruk my terug na die vaal gevoel onder Skuldgevoel se streng hand. "Marietjie, waar's die kondensmelk? Ek maak vir ons koffie."

Kalm bly! Daar's nog twee blikke kondensmelk oor. "Dit staan seker net op 'n ander plek."

Toe nie so maklik nie.
"Nee, daar's 'n blik weg." Ek en die hele weermag is uitgeboul. Die verhaal van die stryd tussen die Sluwe Soetlus en die Weerlose Wilskrag moet uit. Soos die liedjie sê "Hy moes vra, en ek moes praat"

Nou volg ek maar die AA se leiding: Ek ken ongelukkig nie al 12 stappe nie, maar pas die waarvan ek weet, toe.
Openbare belydenis
Erkenning van swakheid
Een dag op 'n slag - sonder kondensmelk.

Soetlus is vir eers geblus, en Wilskrag is stadig maar seker besig om van die vernedering te herstel.

Twee blikke kondensmelk staan op die rak...

Thursday, April 30, 2009

Die Rondte van Vader Cloete

Ons Boertjies kry stillegriep as ons die familie te lank nie sien nie. Bloed is mos dikker as water, en kruip waar dit nie kan loop nie.

Ek, Pa en Ma sit toe na vele lange bespreking en ernstige oorweging hier af (op?) Noorde toe. Pa en Ma is baie bang om as twee bejaardes alleen die lang pad te vat, en Pa het die plan gekry om 'n pruik, dreadlocks met kraletjies in, en 'n karos te dra vir die rit. Ma lag net saam, en wonder wie sal glo dat sy saam met 'n sangoma sal ry. Ek ry saam omdat ek graag weer die mense sal wil sien, en nie op hierdie "avontuur" wil uitmis nie.

By Marika se salon, het Pa toe 'n pruik opgepas. Nou wel nie dreadlocks nie, maar so 'n mooi donker bob met ligte punte. Ons het behoorlik gelê van die lag, en besluit om die gevaar en die pad maar so kaalkop te trotseer.

Eerste stop: Delareyville. Eerste probleem: Kimberley. Ons soek na die afdraaipad om weer uit Kimberley te kom. Om in te kom, is maklik, soos internet. Die padpredikante wys almal hul letters na die Johannesburg kant toe. Mens moet seker daaruit aflei dat ons van die Suide af, nie so graag wil weet waar Johannesburg sit as wat die geval andersom is nie.

Elk geval, ons arriveer toe darem op die plaas, maar heelwat later as wat ons wou. Op Strydenburg het Pa ietsie geëet wat nie so lekker sit op sy maag nie, maar ons gaat voort.

Die nuwe plaas wat Cor aangeskaf het nadat die ou familieplaas ge-eis is, is sommer 'n plek met baie potensiaal. Nefie Ignus het ook al die kwaliteite van 'n vooruitstrewende boer, en sal dit nog ver bring as hy so aanhou. Sy sussie, Cornel, is net so 'n raakvatter. Vir Marien het ons nie gesien nie, want sy's nou getroud, en woon en hou skool op Welkom.

Ons kuier en eet asof dit die laaste kans is wat ons daarvoor sal kry. Dis so lekker om so welkom te voel! Die kuier loop glad en maklik, want ons is mos ou bekendes al sien ons mekaar selde.

Die twee weduwees, Tannie Nelie en Elsje woon ook op die plaas. Tannie Nelie saam met Ignus in die plaasopstal, en Elsje en haar seun Kobus in die tweede ou kliphuis. Baie mooi reggemaak. Mense, so 'n lot kan gesels! En kosmaak! Ons gaan slaap elke aand teen middernag.

Die omgewing het baie reën gehad. Die meeste sedert 1974, sê die mense. Die veld is pragtig, en grasse staan draadhoogte. Die beeste kan nie voorkom met die weiery nie. Alles is groen en die boerebloed bruis in ons are.

Toe ons verder moet ry, moet daar eers foto's geneem word. Omdat ons almal op die foto wil wees, word Gladys, die huishulp nadergehark om die knoppie te druk. Na haar opdrag van GAAP, lag ons so, dat almal skrefiesoë het. Die foto is op elkeen se kamera vasgelê. Reg vir die nageslagte.

Volgende stop: Randfontein, by Ma se enigste eie suster, Tannie Bettie. Sy het ook verhuis en weduwee geword sedert ek laas by haar gekuier het.

Sy sit met 'n gipsvoet in 'n rolstoel, en dis duidelik dat sy nog nie haar bestuurslisensie vir die gevaarte het nie. Die arme voet bly kort-kort in die slag. Nig Joame kom ons innerlike versterk, en ons kuier of ons sopas van die dorslandtrek af kom. Isak en Klein Isak gesels saam. Ons wonder oor die verkiesing, en oor die toekoms, die rugby, krieket, sokker en 2010. Ons drie is maar skepties oor die ekstra verkeer op die paaie.

Kyk, so sonder pruike en ander vermommings het ons dit wel gemaak, maar die bestuursvernuf van veral die taxibestuurders het ons hare by vele geleenthede laat rys. Pa se kar is hoeka van die senuweeagtige soort wat aan die skree gaan as 'n voorwerp of voertuig te naby aan hom kom. Eerste skree was in Kimberley (taxi-bussie) en later meer gereeld. Hoe digter die area se bevolking, hoe senuweeagtiger raak die kar.

Ek het die voorreg om saam met Tannie Bettie in die kamer (op dieselfde bed) te slaap. Ek was net nie daarop voorbereid dat sy meer as die helfte van ons slaaptyd gaan gesels, en vir die res redelik luidrugtig slaap nie. Ek lê uil-oog en wag vir die oggend.

Net na ontbyt is ons weer weg - Vanderbijlpark toe. Ma se half-suster Sara woon daar, en is 'n kankerlyer. Sy is baie bly om ons te sien, en baie hartseer. Haar emosionele toestand is nog baie broos. Doris, wat na haar omsien, kan die trane ook nie terughou as sy na die haarlose kop van haar vriendin kyk nie. Ons probeer moed inpraat en skerts, en die atmosfeer word geleidelik bietjie ligter. Sarie kry egter swaar - dit kan mens sien.

Ek besluit om toe te sien dat Sarie by 'n ondersteuningsgroep uitkom, en ook meer inligting oor haar siekte kry, sodat sy kan terugbaklei. Ek glo mens moet eers emosioneel wen, en dan kan jy lekker terugbaklei en nog wen ook!

Volgende stasie is Cor en Sandra, eienaars van die Delareyville plaas, se slaapplek. Totdat Cor aftree, woon hy en Sandra in Elsje se meenthuis in Vanderbijlpark. Ek dink dis 'n baie unieke situasie waar die familie elkeen in die ander se eiendom woon. Genadiglik kom hulle oor die weg!

Hier kuier ons weer tot vroegdag. Ons drie reisigers is nou al redelik suf, maar wat uithou en wakkerbly, is ons. Weer eens kry ek 'n slaapmaat. Cornel deel my bed. Ons lag en giggel totdat Juffrou Sandra ons kom stilmaak, en toe lag ons so dat sy maar saamlag.

Die oggend toe ons moet omdraai, voel Pa olik. Hy's sommer bleek en uitgewas. Toe kom dit uit dat hy die laaste paar dae redelik baie bloed verloor het as gevolg van 'n bloeiende maag. Ons besluit om sommer reguit hospitaal toe te ry - in Mosselbaai. Op die manier kom ons nie by neef Gert en Anien en hulle kinders uit nie. Ons is darem gerus dat dit met hulle redelik goed gaan.

Halfpad op pad terug, verander ons van plan, en gaan slaap by broer Gert oor op Graaff Reinet. Ook maar goed, want ons is moeg, en die pad word nogals lank. Die padwerke en groot hoeveelhede vragmotors op die pad laat ons terugverlang na die dae van goederetreine en passasiersmotors. Nou wemel dit van goederevragmotors en taxi-bussies. Die paaie ontgeld dit, en die herstelwerk is moeilik.

Pa se bloeiery hou nie op nie, en ons mik weer vir die hospitaal. Ma maak 'n afspraak by die huisdokter in Da Nova, en ons is op koers.

Na 'n blaaskans in die hospitaal, is alles darem nou weer normaal. Pa voel beter, Ma het uitgepak en reggepak en amper begin rus. Hulle is nou weer op pad terug Graaff Reinet toe, want daar is gemsbokke gekoop wat nou afgelewer sal word. Rustelose mense! Maar dis my mense en my bloed!

Aan al die ver familie - kom kuier liewer by ons. Ons taxi's onthou nog dat daar eens op 'n tyd padreëls was, ons weer is genadiger, ons lug is skoner en die see roep ons elkers weer terug. Die padpredikante wys ook almal die rigting na ons kant toe aan. Julle hoef nie in die truspieëltjie te probeer lees wat op die agterkant van die bord geskryf staan nie.

Gaat julle wel, tot volgende keer.

Friday, March 27, 2009

MASTEKTOMIE EN VERWANTE OPERASIES AAN LIGGAAM EN SIEL





Die res van my lewe, na die borskanker-diagnose, begin toe mos met 'n mastektomie. Van gesprekke oor so 'n operasie skram mens gewoonlik sover moontlik weg. Ons weet nie hoe ander daaroor voel, of hulle enige ervaring in die verband het, en indien wel, hoe hulle dit beleef (het) nie.


Nou-ja, ek was ook maar skrikkerig. Ek het eenkeer 'n aangetroude familielid gehuisves na haar mastektomie toe sy bestraling moes kry. Ek onthou dat Heleen baie dapper was, en dat sy haar wond vir my gewys het, en gesê het dat die platkant vir haar mooier is as die ander kant. Ek het nie verstaan nie, maar ook darem nie gestry nie.

Ek was nou op pad om uit te vind waarom ons so koetserig is vir hierdie siekte. Pajamas en bederfies ingepak, opname by die hospitaal gisteraand sommer telefonies gedoen. Ek het geen ander bekommernis as om net op te daag nie. Selfs hiervoor word daar deur die familie gesorg.


By die hospitaal word ek in 'n pragtige privaatkamer "ingeboek". Ek verdien dit glo. Nie dat ek in die minste omgee nie, dis net onverwags. Die hospitaalpersoneel is besonder hulpvaardig en vriendelik. Die narkotiseur en die sjirurg kom wys oë en berei my voor op die operasie. Ek is bietjie op 'n ander planeet.


My selfoon lui aanmekaar. Vriendinne, familielede, ander kankerlyers en "-survivors" bel om goeie wense oor te dra. Ek verseker almal ek's reg vir die ding. Uiteindelik gaan ek vinnig gewig verloor. Ek skat so ongeveer 500gram vir die oggend.

'n Vrywilliger van "Reik na Herstel" kom maak 'n draai. Die bedagsame sjirurg het hulle ingelig. Sy het self 'n mastektomie gehad, en dra nou 'n prostese. Sy't vir my 'n "kous" saamgebring. Geraai watter grootte, sodat ek dit kan dra wanneer ek huis toe gaan. Die stopseltjie lyk maar aardigrig, maar sy verseker my dat dit die doel dien. Mens sit dit in jou bra, en daar gaan jy. Mens kan dit met 'n speldjie vassteek as jy bang is dit peul uit. Sy't ook 'n skouersakkie gebring vir die dreineringsakkie wat vir eers my metgesel sal wees. So stadigaan begin die werklikheid van die situasie tot my deurdring.

Ek word net daar uitgenooi om by die groep aan te sluit. My agtergrond as maatskaplike werker kan baie goed benut word, en sy is eintlik lankal gereed om voorsitterskap af te gee. Opleiding word ook verskaf. Te veel inligting, te gou vir my.

Teen slaaptyd, nadat almal weg is, en dit stil raak, aanvaar ek die slaappilletjie met dank. Ek wonder hoe dit sal wees om net een bors te hê. Die tweede mastektomie sal gelyk met die rekonstruksie gedoen word. Daar is met ander woorde 'n ruk wat ek ongebalanseerd sal wees. Ek troos my daaraan dat my lyf nog my hele lewe lank skeef is as gevolg van skoliose - nog 'n asimmetriese faset kan seker nie so erg wees nie.

Jesaja. "Hy laat sy lammerooie saggies wei." So raak ek aan die slaap.

Vroegoggend teater toe. Geen tyd vir bekommernis, omdraai of weghol nie. My vertroue in die spesifieke teaterspan is so groot as hul geloof in my God. Ek weet hulle almal plaas hulself elke dag in Sy hande, en daarom voel ek tevrede, veilig en gerus in hul hande.

Na die operasie beland ek in 'n dubbelkamer. My kamermaat het hartomleidings gehad. Sy is 'n dame met 'n lekker sin vir humor. Saam lag en spot ons die pyn en die verlies tot in 'n klein hoekie vas. Sy het 'n pad vol struikelblokke voor - sy's 'n strawwe roker, en haar kardiotorakale sjirurg (hoekom het hulle sulke moeilike name?) se vyand nommer een is Die Sigaret. Sy's hoeka so lus vir 'n skyf, dat sy haar lag nie kan hou nie.


Ek dink my eie dinke. Watter behandeling lê voor? Ek is op 'n vreemde pad, en weet nie watter draaie, opdraendes en steiltes lê voor nie. Al troos op hierdie oomblik is Ds. Johan Serfontein van Windhoek se beeld van die kronkelpad deur die kloof. Mens sien nie die bestemming terwyl jy in die draaie is nie. Dan moet jy maar net die padreëls navolg, glo, en vorentoe gaan. Sodra jy om die draai is, ontvou die vista voor jou, en kan jy weer ver sien.

My skoonsus bel om te hoor hoeveel gewig ek verloor het. Ek skat so 500gram, en my kamermaat bulder dit uit van die lag. Met traanbesmeerde gesigte (van die lag) begroet ons die grootste bos lelies in my eie blompot wat die kamer inkom. Agter die lelies is Willie, my seun. Hy't gou kom inloer. Die bos blomme bring lewe in die vertrek. Die geur van lelies kan mens mos nie wegsteek, ignoreer of verbloem nie - dis wonderlik. Ek dink ons gebede in die goue wierookkom van Openbaring moet naastenby so ruik vir God.

Alles het goed afgeloop, maar ek is so toegeplak met 'n yslike groot pleister, dat ek steeds nie weet hoe dit voel sonder 'n bors nie. Daar's wel 'n dreineringspyp onder my arm wat nogal lastig is. Ek hoor hy sal geruime tyd daar wees. Totdat die wondvog nie meer as 40ml per dag is nie. Ek moet dit meet, en leegmaak.

Huis toe. My mense is wonderlik. Ek loop skeef. Daai bors was seker swaarder as 500gram, want my regterskouer trek op, en die linkerskouer trek af. Ek loop ook vooroor. Hoekom? Die blessidste sakkie is lastig, en trek aan die wond waar hy uitkom. Die "kous" is glad nie my idee van styl nie. Die affêre peul heeltyd boontoe uit. My selfvertroue is beter sonder die "kous" as met hom.


My gedagtes is 'n warboel. My moed verlaat my nie, maar ek kom terdeë agter dat hierdie nie 'n grappie is nie. Dis soos oudword - nie vir sissies nie. Mens het al die hulp en vriendskap wat jou kant toe kom, nodig. Ek waardeer gewone dingetjies ook baie meer as voorheen. Alles het meteens groter betekenis. Elke oomblik is 'n toegif, 'n gawe, 'n onverdiende geskenk!

Ek verstaan Heleen se gehegtheid aan haar plat kant. Dis 'n teken van die geveg teen kanker wat nou in al sy felheid woed. Die siekte gaan nie wen nie. Sien, sy broeiplek is weggesny. So sal alle oorblyfsels ook nog uitgewis word. Ek is nie skaam vir my geskondenheid nie - dis my rang in die weermag teen kanker!

Ek kry die besonderhede van 'n plaaslike prostetis (nog een van daai woorde) by die wonderlike sjirurg. Ek kan 'n regte prostese hê voor Kersfees. Die goed is nogal duur, maar het dieselfde gewig as 'n normale bors, en is gevorm na jou lyf - skuif nie rond nie. Die mediese fonds betaal ook grootliks daarvoor. Mnr. die Prostetis eis sommer self. Mooi!!

So word dit vir my nodig om oor hierdie verandering aan my lyf te kan spot. Spot en grappe maak die genesingsproses baie meer leefbaar. Ek het skielik baie "boesem-buddies" wat gedurig inspirerende boodskappies stuur. Ek hoor van vroue met kanker waar ek dit nooit sou verwag nie. Almal voel soos eie familie, en almal wil net uithelp, en raadgee, en grappies uitdeel.

Ek vind dat ek my gesinsmense moet opbeur. Hulle ly onder my siekte. So begin ons gesels oor La Petite (Afrikaanse betekenis), ry ek soms wanneer dit so warm is in die kar, met my bors op my skoot. Nie elke vrou kan dit doen nie. Ek is ook nie suinig as iemand wil "voel" nie. So word dit amper normaal om 'n verwyderbare bors te hê. Amper, maar glad nie stamper nie.

Ses weke later is ek gereed vir rekonstruksie. Ek's baie opgewonde, miskien omdat ek nie mooi besef watter proses dit gaan agfgee nie.


Die sjirurg wat die mastektomie gedoen het, assisteer vir die plastiese sjirurg. Dis nogal 'n groter operasie, want dit is weer 'n mastektomie, en dan 'n bilaterale rekonstruksie.

Met die wakkerwordslag besef ek hoe pleisters nou eintlik kan lyk. Kyk, ek is beplak dat dit naar lyk. Seer ook. Daar waar niks meer was nie, moet velle nou oor hierdie nuwe "borste" rek. Gelukkig kan dit. Daar's swelling ook. Ek het geen idee hoe die eindproduk gaan lyk nie.

Die kronkelpad deur die kloof kom ook aan 'n einde. Die pleisters kom af. Dit lyk vir my of een bors effens groter is as die ander een, maar "so what?" Dokter verseker my dat dit die swelling is. Die eerste mastektomie se wonde is al genees, en daarom lyk die tweede een anders. Logies.

Volgende stap: areola's en tepels. Daar is twee opsies. Mens kan die areola's op die borste tatoeer, of ons kan vel uit die lieste gebruik om areola's te vorm, en dan tepels van die borsvel maak. Dokter beduie, en ek wil-wil amper begin verstaan wat hy gaan doen. Soek inligting op die internet, en kry weer meer as wat ek kan hanteer. Spookstories verskyn ook op televisie. 'n Dame uit Engeland kom na vore met haar riller. Na haar areola-rekonstruksie het sy nou soveel borshare dat haar hele selfbeeld in sy peetjie is. Haar liefdeslewe ook.

Die tatoeer-storie klink vir my seer. Met 'n operasie kry ek darem narkose, en ek dink dis meer natuurlik. (Nou nie juis as mens dink jy gaan nou met jou lieste op jou bors pryk nie, maar toemaar.) Die plastiese sjirurg besweer my borshaar-vrese met die oplossing van hoe hy die hele proses hanteer. Ondervinding het hy baie- ek niks.

Suster, praat van seer! Hierdie lieste is die ergste. Ronde lappies is uitgesny, en reguit toegewerk. Die velle rek. Myne is hoeka nie meer so elasties nie. Probeer nou 'n pleister daar hou! Dis nie 'n maklike storie nie - more likely heel onmoontlik. My pleisters het nie die eerste badkamer-sessie oorleef nie.


Die borste lyk aardig. Sulke geel "patty pans" bo-op. Dokter sê hy't my voorberei, maar ek onthou dit nie. Ek dink dit was 'n geval van "systems overload" of iets. Die patty pans moet nou 'n ruk aanbly. Dis styf vasgedruk, want die wonde moet genees, en bloedtoevoer is nodig om die lieslappies te laat aangroei.

In die wagtyd skeur my lieswonde gemiddeld twee maal per week oop. Elke keer terug spreekkamer toe vir nuwe steke. Die inspuiting vir lokale verdowing is erg ongemaklik. Die skaamte om elke keer soos Flenterkatryn voor die dokter te kom staan, is egter erger. Al verseker hy my dis sy werk, en hy is so bekend met my lyf of hy my man kon wees, bly ek maar ongemaklik. Gelukkig kan ons hier ook grappies maak om oor die verleentheid te kom. Ek dink 'n goeie skoot humor moet by elke mediese fakulteit verpligtend aangebied word. Ons dokters hier by Mosselbaai het gelukkig almal hul "humor" ge-cum.


Nou, twee en 'n halwe jaar later, kan ek net met dankbaarheid terugkyk. Alles het goed afgeloop. Ek het ligte littekens oor my borste wat my aan hierdie tyd herinner, maar die seer, die onsekerheid, die ongemaklikheid en die vrees het plek gemaak vir aanvaarding. Ek gebruik nog medikasie, en is nou halfpad met die regte kankerbehandeling, maar ek sê dankie vir vandag. Ek ly nog onder die newe-effekte van die Tamoksifien wat ek daagliks moet drink, maar 'n mens kan by wonderlike dinge aanpas. Ek lewe! Ek sien weer kans vir nuwe uitdagings!


Wat is die grootste verandering in my lewe? Ek heg baie meer waarde aan ewigheidsdinge. My mense is vir my baie belangriker as ooit tevore. My familie en vriende hul gewig in goud (of olie?) werd. My talente behoort aan die Here, en is tot Sy beskikking. Die dood is 'n poort na die nuwe, heel, volmaakte, ewige LEWE.

Thursday, March 26, 2009

DIE DAG TOE EK MET KANKER GEDIAGNOSEER IS

Die dag het soos enige ander oggend begin - totdat ek gaan stort het. In die stort voel ek 'n knop aan my regterbors. 'n Knop wat dadelik vreemd en onwelkom is. Kliphard, en 'n bietjie groter as 'n gesonde ertjie. Reg onder my tepel. As ek vroeër in die spieël gekyk het, sou ek gesien het dat my bors se hele vorm oornag verander het. Maar ek het nie. My oorgewig het veroorsaak dat ek so min moontlik van myself wou sien. Veral op my nugtermaag, en veral sonder klere aan my lyf!

Wat nou? Stort maar klaar, en gaan Progrow toe. Willem was reeds daar, en ek wou mos ten alle koste die besigheid laat werk. Die bors-gedoente moet eers simmereer sodat ek kan weet hoe ek daaroor voel.

Vir die eerste uur of twee het ek normaalweg met die dringendste takies aangegaan, en toe ek en Willem albei gereed was vir 'n koffiebreuk, het ek hom vertel dat ek 'n knop aan my bors ontdek het. Hy het my eers onbegrypend aangestaar - toe laat ek hom voel. Sy hele gesig het versomber, en ek kon die ongeloof wat ek beleef het, in sy gesig sien. Dit kan mos nie wees nie!!!

Ons het besluit dat ek maar so spoedig moontlik by 'n dokter moes uitkom. Ek het ons huisdokter geskakel - die ontvangsdame het aanbeveel dat ek sommer dadelik vir 'n mammogram gaan - dis tog wat Dokter sou voorstel. 'n Afspraak is gemaak, en die gewag het begin.

Later die oggend het my ouers 'n draai by die fabriek kom maak, en ek het my ma vertel - ook my seun, wie sy besigheid ook uit dieselfde gebou bedryf het. Dit was 'n Woensdag, en ek kon eers die Maandag plek kry by die radioloë vir die mammogram. So moes ek my dogter per telefoon hiervan vertel. Sy was erg geskok, en baie jammer vir my.

Die naweek was maar lank. My ouers het kom kuier, my broers het geskakel. Dit was uiteraard maar 'n gedempte storie. Hulle het my probeer verseker dat dit niks ernstigs kon wees nie. Skoonsus ('n verpleegkundige) sê dis baie kere net 'n verdikking in die melkkliere, of 'n infeksie. Skadeloos. My mond het saamgepraat, maar diep binne het ek geweet dat dit nie so eenvoudig is nie. Ek het al voorheen ontsteking in die melkbuise gehad - dit was heeltemal anders.

Maandag. Ek is op die bepaalde tyd na die hospitaal vir die mammogram. Ek hou nie van die besigheid nie, maar dit moet gedoen word! Na die tyd, toe ek in die aantrekkamer wag, groei my oortuiging dat hierdie storie "bad news" is. Die vorms wat ek moet invul help nie eintlik om die gevoel van verdoemenis op te hef nie. Ek begin dink aan familielede en voorsate. Nee, net Pa se een suster, Tant Sussie, het borskanker gehad. Dit moet mos eintlik van Ma se kant van die familie af kom as ek dit geërf het? Ons weet te min van die deel van die familie - Ouma aan moederskant is oorlede toe ma nog 'n kleuter was. Nee, die nagmerrie sal oorwaai.

Nog later word ek geroep. Die radioloog wil 'n sonar neem. O, Nee! Hier kom dit nou.

Ek wag op 'n bedjie voor 'n rekenaarskerm. Die baie gawe man kom in, en wys my op die skerm hoe die knop nou eintlik lyk. Dis rond, redelik duidelik afgebaken, en bietjie dieper as wat die omtrek daarvan is. OK, wat nou?

Ek moet maar rustig wees, hulle gaan nog 'n biopsie ook doen. Dis 'n baie lang naald - dik ook, en peperduur vertel hulle my - word ingevoer van Australië af, of iets. Ek is gelukkig nie bang vir naalde nie. Die personeel gesels met my oor allerhande ligte sakies. Eintlik heel aangenaam - behalwe vir die donker wolk van afwagting. As ek nou nie so snaaks geklee hier op die bedjie gelê het, en die dokter se hande besig was nie, kon ons gesellig sit en kuier het. Ek besef weer dat ek glad nie kan gedy met onsekerheid nie. Liewer die waarheid hoor, al is dit slegte nuus.

Hierna kan ek weer gaan wag. Ek mag maar aantrek, die ondersoek is afgehandel.

Met die verslag in die hand is ons huis toe - spreekkamer langs. Die verslag het ons eers gelees, hoewel ons nie alles verstaan het nie. Ons het wel verstaan van karsinoom en maligne. Die dokter is reeds weg. Ek laat die koevert by ontvangs. Dokter sal my bel.

Pa en Ma maak weer 'n draai. As dit kwaadaardig is, sal hulle help met die mediese kostes. In die geval van 'n mastektomie, moet ek gaan vir rekonstruksie ook - hulle sal help.

Ek het 'n wonderlike familie.

Dinsdag - werk toe. Wat sal ek by die huis doen om die wagtyd om te kry? Dis moeilik om te konsentreer. Die foon lui nie. Die gewag raak heeltemal te veel vir ons almal. Ek besluit om maar spreekkamer toe te bel, en te hoor wat al die groot woorde finaal beteken.

Die ontvangsdame skakel my dadelik deur na die dokter. Hy "Hmmm en ahhh". O gatta!

Dokter weet nie mooi hoe om die saak aan te voor nie, want hy't my nie eers vooraf gesien nie - ek's mos dadelik Radiografie toe. Dis vir hom baie moeilik, maar hy verduidelik van die karsinoom (klas 2) en gee nog inligting. Ek wil net weet wat nou moet gebeur. Die inligting gaan nie meer in nie.

Ek moet 'n sjirurg kies, en dan soontoe gaan. Ek kies die een wie se naam ek al vroeër gehoor het. Later word die afspraak vir die volgende dag bevestig.

Woensdag. 'n Week het verbygegaan, en my bors het 'n vreemde aanhangsel geword wat my toekoms bedreig. Ek wil dit nie meer aan my lyf hê nie. Ek voel verraai deur my eie liggaam.

Ek vertrou op die Here om my ook deur hierdie dal van doodskaduwee te lei. Ek onthou hoe ek 22 jaar tevore na my eerste hartaanval in die Noord Natalse boendoes, by Hom gesmeek het om my lewe te spaar totdat Rachel met matriek klaar is. Sy is nou sewe maande getroud.

Ek onthou hoe hy my genees het toe my nek twee jaar tevore in 'n motorongeluk gebreek het. Ek onthou al die ander gebede wat verhoor is: dat ek steeds kan loop met gekrokte rug en sy spul nagevolge en al. Ek voel weer die gevoel van geborgenheid wat ek in Namibië beleef het as ek soggens op die vreemde plek wakker word - alleen in die huis, omdat Willem iewers besig is met 'n opmeting, Willie en Rachel reeds uit die huis en besig met hul eie lewens. Soggens het ek wakkergeword met die gevoel dat ek soos 'n klein voëltjie snoesig in 'n nessie met vere uitgevoer, bewaak word. Die Here hou my in sy hand vas, en ek het moed vir wat ookal voorlê.

Dokter Sjirurg is baie gaaf, vriendelik en toeganklik. Hy vertel my dat daar in my spesifieke geval nie 'n ander uitweg as 'n volledige mastektomie is nie. Hy waarsku dat borskanker 'n groot emosionele impak op die pasiënt en haar gesin en geliefdes het. Ek stel hom gerus: Ek is nie baie emosioneel van aard nie. Hoe kan hy weet dat ek die mastektomie sal verwelkom? Ek wil die bors nie meer hê nie, want dit bedreig my en die mense wat vir my belangrik is, se gemoedsrus.

Ek vertel hom dat ek so gou as moontlik wil gaan vir rekonstruksie, want ek wil nie onnodig lank herinner word aan die kanker nie. Mense kan die woord nie eers hardop sê nie. Ek dinstansieer myself van 'n lewe as 'n kanker-(of enige ander)pasiënt. Ek sal die tyd wat ek oorhet: miskien 5, miskien 10 jaar, of wie weet hoe lank, as myself leef. Ek wil nie deur 'n siekte gedefinieer word nie. Die siekte met sy simptome en newe-effekte is daar om oorwin te word.

Nou lê die besoek aan die plastiese sjirurg voor. Ek is skaam oor my lyf, en vol vertwyfeling, maar deur hierdie besoek moet ek ook!

Die personeel is baie normaal, vriendelik en gaaf. Ag, hoe lekker om soos 'n mens tussen mense te voel, en nie soos 'n "geval" nie. Ek word nie aangestaar en bejammer oor my ordinêre 50+voorkoms nie. My vooroordele oor plastiese sjirurgie word sommer hier in die wagkamer al die nek ingeslaan.

Prostese moet gekies word. Willem is by. Bitter moeilik vir hom, maar hy hou by sy belofte van bystand deur die botter EN die wors. Ons is nou definitief by die wors.

Grootte is belangrik, vorm en posisie ook. Skoonheid lê in simmetrie. Ja-ja, dit is so, maar ek's nie meer 20 nie, en in 'n bikini of enige swembroek sien jy my nooit weer nie. Ek wil net (met klere aan) goed lyk. Ek probeer hierdie gesprek uitrek, want ek's bang vir dit wat moet volg. Ek trek tevergeefs kleinkoppie vir die volgende stap....

Ondersoekkamer toe. Dokter sit op sy hurke voor my - ek sit op die bed. Kaal bolyf. Hy kyk, korrel en meet. Ek sit soos 'n lam ter slagting. Die klem het nou verskuif van die siekte, na die lewe daarna. Van die wetenskaplike na die estetiese. Van medies wenslik na sosiaal aanvaarbaar.

"Ek moet jou waarsku. Ek kan nie weer vir jou so 'n hangbors gee nie. Die nuwe bors gaan anders lyk as jou linkerbors."

Ek's uit die veld geslaan. Het 'n meer somber, teoretiese opmerking verwag. Voor ek my kom kry, sê ek: "Ek sou so hoop! Anders sal jy nie baie pasiënte hê nie. Ek wil nie weer hangborste hê nie, en die linkerbors moet ook waai - sommer nou al. Ek soek nie later weer probleme nie."

So begin die operasies en die behandeling en die res van my lewe toe.

Ek het nog nie by "Reik na Herstel" aangesluit nie, hoewel ek nou gereed is daarvoor. Ek is egter alweer redelik besig met ander projekte soos Kuierbos Plaasvakansies, die Loural Liefdadigheidstrust, Huis Elsje vir die versorging van persone wat aan Alzheimer se siekte ly, en die Danabaai Dienssentrum.

Soms, veral as die gloede (newe-effwek van chemopilletjies) my teister, onthou ek dat ek kanker het, maar meestal is ek te besig met die lewe om veel tyd aan siektestorietjies af te staan.

My Nuwejaarsvoorneme vir 2009 is om elke dag iets te kry waaroor ek regtig lekker en uitbundig kan lag, en as dit moontlik is, om dit met iemand anders te deel.

My nuwe lewensfilosofie is om elke dag so te leef dat ek nooit hoef te sê ek's jammer ek het 'n dag gemors op onbelangrike dinge nie. Wat belangrik is, is om te LEEF, om God se wonderlike liefde uit te straal, en om iets vir my medemens te beteken. En dis belangrik om te onthou dat ek hierdie pad net eenmaal stap.

My resep om ook die moeilike dele van die pad te bemeester: "Just do it!" (gesteel by Nike)

Tuesday, March 24, 2009

SEISOENSWISSELING

Ek weet nie of dit met almal gebeur nie, maar hierdie jaar bly ek vashaak by die gedagte aan seisoenswisseling: verandering, veroudering, hergeboorte, vernuwing, ontwikkeling en agteruitgang in die lewe. Dit het tot my begin deurdring tydens die hittegolf van laas.

Ek het 'n sterk suspisie dat my bewuswording van die seisoenswisseling (dis amper herfs) ietsie te make het met die Herfs wat in my lewe aanbreek. Soos my fisieke begin (watwo begin... dis al lankal nie meer pure perd nie!) verander en agteruitgaan, begin my geestelike sy meer en meer ontwikkel en gedy. As dit "oudword" is, beteken dit dat ek gereed is daarvoor. Oudword is nie 'n lekker gedagte nie, maar die clichè sê met reg: Die enigste teenvoeter vir die ouderdom is om vroeg te sterf. En wie wil dit sommerso doen?

Vanoggend het ons weer Bybelstudie gehou, en vandag se onderwerp was die Klaagliedere van Jeremia. Nie dat dit so morbied was as wat dit mag klink nie. Ons klompie herfsmense, van wie nog net ek en Willem nie grootouers is nie, kan baie opgeruimd en positief saamdink, en die ligter kant van die lewe maklik raaksien - selfs met Jeremia. Dis baie snaaks as die stram vingers nie gou op die plek in die Bybel kan kom nie, en nog snaakser as Marina na 'n lange soektog uiteindelik die plek het, net om die Bybel weer te laat toeklap as sy van pure verligting haar Bybel in die lug rondswaai!!

(Ek hoef dit seker nie uit te spel dat ons 'n hele oggend lank kan Bybelstudie hou nie - dis nou nadat ons die innerlike eers met koffie, tee, rooibostee en koekies op standaard gebring het.)

Terug by Jeremia se Klaagliedere sien ons onsself en ons land wat swaar gebuk gaan onder allerhande ellendes, van misdaad tot ekonomiese krisisse en onbetroubare politieke leiers. Ons sien jong mense wat die land verlaat om elders 'n heenkome, 'n toekoms en geluk te gaan soek, in Jeremia se sug. Dan besef ons saam met hom dat ons gesondig het, en onsin kwytraak voor die Here. Ja, ons word selfs aangekla dat ons te veel terugpraat wanneer die Here ons betig. (Die Klaagliedere het vir my van die mooiste prosa wat mens maar kan kry) Ons besef dat die Here nie vergewe het nie, omdat ons nie opreg is nie. Voordat ons heeltemal in sak en as gaan sit, kom ons ook tot die wonderlike besef dat ons net moet opkyk, (al word Jeremia se oë moeg van opkyk sonder dat hy hulp sien kom) en opreg om vergifnis moet vra, moet glo, en dat die Here wel vir ons uitkoms sal gee.

Ons wonder of die Here ons straf, en of ons die gevolge van ons eie kollektiewe wandade dra. Dan kom ons tot die gevolgtrekking dat ons moet lewe as boodskapdraers en afskynsels van die Ewige Regverdige maar ook Genadige God.

Saam besluit ons om ons naaste te vergewe vir alles wat hulle ons aangedoen het - in werklikheid, of in ons verbeelding. Ons besluit om die minste te wees in verskille met ons geliefdes,(hulle kan soms so onmoontlik wees) ons kinders (hulle kan ons soms so seermaak) en ons medemens (hulle is soms so onverstandig en net pleinweg verkeerd).

Ons deel die teorie met mekaar dat baie emosionele steurnisse en sielkundige afwykings herlei kan word na een of ander onreg wat ons gely het, en waarvoor ons nog nie vergeef het nie. Let wel, die draer van die onvergewensgesindheid is die lyer onder die las van die wrok. Soms weet die onvergeefde nie eers van die kwessie nie - hy ly dus geen skade nie, terwyl die wrokkige les opsê onder maagsere, paranoia, depressie en wat nog. Nie dat al hierdie toestande reaktief of vingerwysings is nie - ons weet mos al van genetiese faktore en chemiese wanbalanse en die dinge. (Van siektes en rare verskynsels weet ons groepie sommer baie)

So kyk ons na ons middeljarige, herfslyfies en -gesiggies, en in plaas van plooie en rolle sien ons ervaring, belewenisse, onthou (baie vergeet), begrip en aanvaarding. Ons sien 'n storie van lief en leed, van geluk en berou, van die botter en die wors. Ons is wandelende advertensies vir die lewe en al sy fasette.

Ons kan ons huise begin stroop van al die onnodige "nice to haves" wat ons vroeër so sonder ophou vergaar het. Ons soek nou eenvoud, rustigheid en dienlikheid in ons huise, ons meubels, ons klere en ons siele. Ons is soos die bome wat die ekstra blare kan afgooi omdat ons nie meer koelte hoef te maak nie, maar plek moet maak vir die son om ook deur ons te kan skyn op ander, wat rondom ons (lekker dik) stamme leef.

Ja, die herfs is voorwaar 'n wonderskone seisoen met al sy ryk en warm kleure, sy sagte blaretapyte en die stroopsoet vrugte van die na-somer. Dis 'n tyd van voorbereiding vir die winter wanneer ons kaalgestroop en eerlik in die oë van ons naaste en ons Meester sal staan. Vir my is dit nou, en ek is innig dankbaar vir die genade daarvan.

Thursday, March 12, 2009

HITTEGOLF

Ons kry warm in die Tuinroete.

Dis moeilik om vrolik, verdraagsaam en positief te wees as die temperatuur buite so hoog bly. Hier in die matigste deel van ons land is ons nie meer gewoond aan hittegolwe wat langer as twee-drie dae duur nie. Die huidige een kom al 'n paar weke!!! Intussen brand die Kaap af, en vrot ons riviere op. Die reën bly ook weg - val net in die noordelike dele. Hoe warmer dit word, hoe groter is die verdamping, en hoe meer gekonsentreerd raak die oepsies in die water - wat 'n toestand! Voeg by hierdie situasie nog 'n wêreldwye ekonomiese dilemma, 'n stygende persentasie werklose mense wat logieserwys naderhand tot misdaad gedryf word ter wille van oorlewing, en die eindproduk raak maklik uiterste, swartste, diepste depressie.

Wat 'n geleentheid vir die politici wat voorbrand maak vir die naderende verkiesing! In die huidige omstandighede is dit maklik om mense te verlei met beloftes van 'n beter toekoms. Op die oomblik voel dit dat enige iets net beter kan wees as die status quo!

Ek het eenmaal 'n boek gelees - so 'n regte speurverhaal-cum-riller -met die naam HEATWAVE. Dit het gehandel oor 'n reeksmoordenaar (hoe dan anders?) wie se graad van geweld saam met die temperatuur geklim het. Om die skrywer die geleentheid te gee om baie grafies in sy beskrywings te raak, het die verhaal hom in 'n kusdorp afgespeel. Die skamele kleredrag van die meisies wat so warm kry, het ons boef verder aangespoor tot geweld. Ek kan nou nog nie verstaan waar sy energie vandaan gekom het nie. As ek so warm kry, en glo my die hittegolf saam met die "gloede" is 'n erge kombinasie, het ek geen energie nie. Op die meeste kan ek een of twee vingers op 'n slag roer om die sleutelbord te hanteer. As die rekenaar-muis nie geverg het dat ek my arm moet uitsteek het nie, sou dit waarskynlik makliker gewerk het as die getikkery. Om dan uit te gaan (in die son) en iemand te agtervolg en te wag vir die beste geleentheid is al erg genoeg. Om genoeg energie bymekaar te skraap om die slagoffer te lyf te gaan op die een of ander manier, is vir my bietjie te veel gevra.

Ek verstaan die Mexikane se houding van "manjana, manjana" baie beter. 'n Yskoue drinkdingetjie, 'n yslike groot sombrero en so min beweging as moontlik is myns insiens die resep vir oorlewing.

Kom ek vanmiddag by ons huisdokter se spreekkamer en Babsie, die ontvangsdame, sê dat sy altyd met seisoenswisseling, soos nou, erge sinusprobleme ondervind. Hoewel ek simpatie met haar het in haar foltering, laat die gedagte aan seisoenwisseling my moedskep. As die seisoen verander, sal dit koeler en later koud word. Dit laat my onthou dat alles verbygaan. Geen probleem kan vir ewig voortduur nie. Die ou spreekwoord wat sê: "Van lekker lag kom lekker huil" kan ook omgedraai word. Na elke depressie, resessie of wat mens die swaarkry ook wil noem, moet daar weer 'n oplewing kom. Dis deel van ons wonderlike skepping. Die natuur, die mens se gemoed, die mensgemaakte ekonomie, die lewe self verloop met 'n afwisselende reeks van hoogte- en laagtepunte. As jy onder is, kan die volgende rigting net boontoe wees. Dit mag wel afgesaag wees, maar dit bly waar dat selfs die donkerste nag opgevolg word deur 'n nuwe dag.

Ek gaan my sombrero opsit, in my eie koelte sit en lemonade drink, en voorberei vir die dag wat gaan breek. Wanneer die lig in die tonnel nie meer 'n aankomende trein is nie, sal ek gereed wees om vrolik na elke nuwe geleentheid te gryp.