Tuesday, July 7, 2009

Monday, July 6, 2009

SLAG IN DIE KAROO

Winter is tradisioneel slagtyd. Vleis moet dan bewerk en verwerk word sodat dit vir 'n redelike tyd bruikbaar sal wees.

Na etlike jare van stadslewe het ons weer verlede week op die ou manier vleis bewerk. Die hele familie, Oupa en Ouma, Ooms en Tantes, en die kinders wie kon, het kom saamkuier en saamwerk.

Die weer was reg - yskoud, met sneeu op die berge naby Graaff Reinet. Die karkasse het lekker koud geword. Langverlang se tyd het dit laas so gelyk - 2 beeste, 1 vark, 1 skaap, 19 springbokke aan die hake. Die slagkamer en inloopyskas moes ingewy word. Wat 'n lekkerte.

Die proses om die karkasse tot huisvrou-vriendelike snitte, maalvleis, wors, biltong en droë wors om te tower, het die hele week geneem.

Die jagters moes ook handjie bysit. Stefan (16) en Philip (12) het vir 11 springbokke gesorg. Philip moes ook sy inisiering deurgaan, en moes sy eerste springbok se "peertjies" rou eet. Hy kon dit nou wel nie binne hou nie, maar die gebaar is gemaak. Mooi so, Phil!

So tussen die werkery deur is daar lekker gekuier. Dis mos 'n ander soort van besig wees as die waaraan ons gewoond geraak het. Die gedagtes kan maar gaan, en spitsvondighede en onthou-staaltjies word heerlik uitgeruil sonder dat die werk skade ly. So was dit eers, en die nostalgie het nie agtergebly nie. Hoewel ons toerusting baie meer modern en gevorderd is, was die samesyn en die rustigheid waarmee gewerk is, tog vir ons almal 'n lafenis.

Dit is wel 'n groot proses om skaapderms skoon te spoel en gereed te kry vir die worsstoppers, maar selfs met seer rûe en gevriesde vingers is dit steeds waar: 'n Verandering is so goed soos 'n vakansie.

Die skaapafval het ook 'n groot uitdaging gebied. Die jonger kinders weet nie meer van die proses om daardie een kooksel gereed vir die pot te kry nie. Die kuns van afval skoonmaak is aan die uitsterf. Mens kan ook nie afval sommer by enige een eet nie. Nee, daar moet doodseker gemaak word dat die oorsprong van die afval darem bo verdenking is. Die graad van witheid van die afval voordat die kerrie bygevoeg is, is ook van die uiterste belang. Een hele dag het dit my en my ma besig gehou. Die pense moes skoon, die kop en pote moes onthaar word, en tussen die kloutjies moet al die kliere en wat nog weggesny word. Vir die krappery het ons Minora-lemmetjies by een van die skaapwagters oorgekoop - nog toe in die pakkie. Ek wonder of hy daarmee skeer, en of hy geweet het hy kan daarmee handel dryf.

Ek het nie 'n enkele vingernael oor nie, maar dit maak glad nie saak nie. Almal loop met kwesplekke waar die mes skerper was as wat ons gedink het, en die vel geraps het. Hegpleister is kwistig gebruik, want ons wil nie graag mensbloed in die vleis hê nie. Asyn en sout in so 'n snyplek laat mens ook lekker les opsê.
Saans is daar 'n drankie voor die kaggel geniet terwyl die lewe stadig maar seker weer terugvloei in die yskoue ledemate. Daardie behaaglikheid kan nie beskryf word nie. Ons 3 skoonsusters het beurtgemaak met die kos se voorbereiding. Ons het heerlik gesmul, en gekuier totdat dit tyd was om die kragopwekker af te skakel, en dit dan amptelik en in die ware sin van die woord, "ligte uit" was.

Die kinders wat nie verlof kon kry om die slagweek mee te maak nie, het voorwaar 'n ervaring duisend misgeloop. Die niggietjies wat gedink het dis "boring" om met vleis te werk, is aan die einde van die week armer, en kan nie saamgesels as hierdie herinneringe deur die res van die jaar herkou word nie. Maar miskien volgende jaar....

Tuesday, June 23, 2009

OM OUD TE WORD - IS REGTIG NIE VIR SISSIES NIE!

Ons kom so pas terug van 'n besoek aan my skoonouers en ander familie in Limpopo.

Oupa en ouma is regtig van die dapperste onder die dapperes. Oupa is 'n volle 92 jaar oud (tot September) en ouma had op 19 Junie 86 jaar agter die blad. Rype ouderdom; geseënde jare; eer -jou-vader-en-jou-moeder-sodat-jy-lank-mag-lewe jare; goeie jare en slegte jare; besige jare en stil jare; vol jare en eensame jare; jare van lag en kuier, en jare van nabetragting en afsondering.

Ek wonder: Hoe en wanneer besef mens dat jy nou oud is. Klaar oud, en nie meer besig om oud te word nie. Dit lyk vir my of dit nie so eenvoudig is nie. 'n Mens besef mos op 'n dag dat jy nou groot is, al voel dit nie heeltemal so nie. Besluite en verantwoordelikhede is nou jou eie, en kan nie meer ontduik word nie. Hoe kom die besef dat dit alles weer verander het deur? Wanneer hou 'n ouer op om hom oor sy kinders, van wie sommiges al self oupas en oumas is, te bekommer? Wanneer hou 'n ouer op om te wonder of sy kind alle opsies oorweeg het voordat sekere besluite geneem is?

Hoe gebeur dit dat besluite wat jouself raak, nou deur kinders geneem word? Hoe ervaar en aanvaar 'n mens die omkering van rolle? As die wêreld dan so radikaal verander het soos in die laaste eeu, is dit seker nog moeiliker. In hul leeftyd het vervoermiddels van ossewaens, perdekarre verander na vliegtuie, gevorderde motors en ruimtetuie. Kommunikasie het verander van 'n hardloper met 'n briefie (gewoonlik om 'n sterfte aan te kondig) na selfone, sms'e, e-pos en Skype. Ernstige boodskappe, grappies en beelde vlieg ewe gemaklik, en met dieselfde graad van belangrikheid deur die kuberruimte, 'n "Dimensie" wat tot onlangs heel onbekend was.

Op alle terreine van die lewe het die nuwe en vreemde manier oorgeneem. Selfs dokters en medisyne is anders en vreemd.

Ek dink die grootste omwenteling is op die terrein van die beroepslewe. Waar al die wysheid en kennis toendertyd in die gryskrag van die ouer mense gesetel was, loop vandag se "kinders" met die tegnologiese vaardighede rond. Laerskoolkinders hanteer die rekenaar met gemak, en gebruik moeilike rekenaarterme sonder om daaroor na te dink. Fisieke krag is nie meer so belangrik nie. Dis ook nie al nie, tegniese mense soos loodgieters en elektrisiëns verdien maklik meer geld as gegradueerde persone. Die ou manier van dink en doen het verander......

Ek dink mens voel asof jy in "Topsy Turvy Land" of erger beland het.

Hoe gemaak as die verwysingsraamwerk wat oor dekades opgebou is, in jou doofheid nie meer kan help om die draad van 'n storie te volg en agter die kap van die byl te kom nie?

Die meeste ontwikkeling in die kombuis word met ope arms ontvang, want dis regtig arbeidsbesparend. Dit raak moeiliker as die resepte wat van geslag tot geslag oorgedra is, nou uitgedien raak, en die ou lekker kosse as "ongesond" bestempel word. Snelbevrore groente word as gesonder beskou as die gebergde of ingemaakte groente uit eie tuin waar die seisoen en die droogte tog so 'n groot rol speel. Gaste kom smul nie meer aan die ryk en lekker boerekos nie, maar verkies rou slaaie met maer sousies. Die meeste gesinne eet nie meer drie maaltye om 'n tafel nie, omdat dit weens elkeen se daaglikse program onprakties geraak het. Gelukkig is die gesin wat darem nog een maaltyd per dag om die tafel kan sit en eet.

Baie van die veranderinge is ten goede, maar die vreemdheid bly maar daar. Wanneer ouer mense meer en meer in die verlede begin leef, word die skeur tussen toe en nou, tussen bekend en onbekend, tussen sien en verstaan, al hoe groter.

Met tyd wat so belangrik in ons dolle gejaag is, kan mens vra of ons genoeg tyd spandeer om regtig te verstaan waardeur bejaardes gaan wanneer hulle "moeilik" raak. Hoe sal ons dit hanteer wanneer dit ons beurt is?

Thursday, June 11, 2009

MERKWAARDIGE MENSE OP MY LEWENSPAD

Elke mens word mos maar gevorm en omvorm deur jou verhouding met en tot ander mense - dis nou naas jou verhouding met jou Skepper en jouself.

Daar is 'n hele kaboedel mense wie in groot invloed in my vorming gehad het, en steeds het. My ouers is vanselfsprekend bo aan die lys. My gedagtes het egter nog nooit volgens lysies gewerk nie. Hulle dwaal en drentel soos op 'n vlooimark na willekeur tussen die herinneringe en belewenisse deur.

Vandag het ek vasgemeer by die hawe van herinneringe aan Oupa Gert en Ouma Ella van Aswegen.

My ma was baie siek aan rumatiekkoors toe ek gebore is. Vir die eerste drie maande of so, het ek en Pa dus by Oupa en Ouma gebly. Volgens oorlewering (grootliks oordryf, glo ek) was ek baie bederf deur die twee grootouers. Hoe kan dit dan nou anders? Ek meen ek was seker toe al 'n oulike babatjie, so afhanklik en als. Enige grootouer hou mos van bederf!

Dat ek nie eintlik mooi genoeg was om aan babawedstryde deel te neem nie, is waar. Ondanks die feit dat dit nie in ons voorfamilie se Calvinistiese aard was om met die uiterlike op loop te gaan nie, was dit darem vir Ouma nodig om my wilde wenkbroue met Vaseline te probeer tem, en om my bakore met Elastoplast te probeer rehabiliteer. Die yslike groot lint in die hare het darem baie van die onvolmaatheidjies verbloem.

Oupa het my op sy knie laat grootword, en my so vroeg as moontlik met sy intellek begin lei. Ek onthou dat hy maar van altyd af besig was om my die een of ander baie belangrike aspek van die lewe te leer. So onthou ek dat ek op 4-jarige leeftyd vir hom die koerant gelees het. Oupa het baie gesukkel met sy oë, en het sulke dik brillense gehad - sy oë het soos pierings agter die lense gelyk. Gelukkig was hulle sag. Net na lees, het somme gekom. Dit was lekker! 'n Mens kan onmeetlik baie goed met somme uitwerk en verstaan. Die grote, wye wêreld begin sommer minder skrikwekkend te lyk as mens agterkom dat somme baie goed kan verduidelik. Oupa was 'n slimme man...

Op sy dag, nou wel voor my geboorte, was hy 'n raadgewer vir Genl. Jan Smuts, en hy het die prokureur altyd bygestaan as dit oor Watersake gegaan het. Met kontrakte was hy ook 'n boffin.

Oupa kon ook Engels praat! Gedurende die Anglo-Boere-oorlog, was hy as penkop ook 'n spioen, omdat hy die taal kon verstaan. Hy kon ook lekker vinnig hardloop, en het vir voornemende delwers kleims afgehardloop. Nogal iets om op trots te wees!

Wat Oupa nou nie gehad het nie, is tegniese vaardigheid. Hy kon die werking van enige iets verstaan, maar hy kon nie vir Ouma 'n kastroldeksel met 'n nuwe knop voorsien nie. Daai klas goed moes iemand anders maar doen. Handig was hy nie!

Verdraagsaam was hy wel. Oupa was 'n Bloedsap, en Ouma het uit 'n familie van Regsgesinde rebelle gekom. Tog was daar nooit huweliksonmin oor politiek nie. Daar is trouens NOOIT politiek in die familie gepraat nie. Wanneer Ouma na 'n regsse vergadering gegaan het, het Oupa haar by haar mense gaan aflaai, en wanneer Oupa na Genl. Smuts toe is, het Ouma tuis gebly, of gaan kuier. Hulle het ooreengekom om op die gebied maar te verskil - al was die verskil redelik drasties.

Waaroor hulle saamgestem het, was hul Godsdiens, eerlikheid en voorbeeldigheid. Oupa was 'n ernstige mens, en sewentien jaar ouer as Ouma (sy tweede vrou). Ouma was 'n platjie, ondeund sonder om enige perke te oorskry. Sy was ook musikaal, en geseën met 'n baie helder sopraan- stem. En lief vir tuinmaak. Ouma het meermale gesê dat ons die Sondeval nie voor Eva se deur alleen kan lê nie, want Ouma sou self ook nie die verbode vrug kon weerstaan nie. Niks so lekker as 'n vars vrug van die boom af nie.

Op sy oudag het Oupa baie vreugde daaruit geput om my die familiegeskiedenis, met kaart en transport ter stawing, te leer. Ek het al die plase se nommers en beskrywings geken - lank voordat ek kon droom dat ek eendag 'n landmeter se vrou sou wees. Oupa het my ook slag vir slag deur die Engelse oorlog begelei. Feite en minder bekende feite of staaltjies is so verweef dat ek tot vandag toe nog glo dat sy weergawe van alles die egte reine waarheid was.

Ek was in St 7 (graad 9) toe Oupa aan longkanker oorlede is. Sy wens was om nie behandeling vir die kanker te ontvang nie, maar om, soos hy dit gestel het, "met waardigheid" te sterf. Sy grootste vrees was dat hy beheer oor sy liggaamsfunksies sou verloor. Hy het nie.

Ouma was op 64-jarige leeftyd 'n weduwee. Jonk van gees. Sy het die helfte van elke jaar by ons gebly. 'n Fees was dit voorwaar vir hierdie tienerdogter! Ek en Ouma het 'n kamer gedeel, en snags tot wie weet hoe laat gelê en gesels oor alles en alles en nog wat. Geen onderwerp was vir hierdie naggesprekke taboe nie. Ek het baie by haar geleer, soos: "Meidjie, die Here het die man die hoof van die huis gemaak. Omdat Hy alwetend en goed is, het Hy 'n vrou gemaak om die man te help, en die nek te wees wat hom stuur sodat hy in die regte rigting kan kyk." Met die eerste aanhoor klink dit nogal ligsinnig (een van Oupa se woorde), maar as mens daaroor sou nadink, kom die wysheid daaragter na vore. So was Ouma. Vol pret, maar ver van 'n intellektuele of morele liggewig af!

Sy was ook handig. By Ouma het ek leer naaldwerk doen, leer brei (nou wel regsom, al is ek links) hekel en kosmaak. En planne maak. 'n Gunsteling gesegde was dat 'n mens niks kan doen as jy nie 'n plan kan maak, kan improviseer, of bietjie kan "kroek" om jou projek te laat slaag nie.

Ouma het Oupa se kar geëerf, maar nie sy bestuurslisensie nie. Die vaardigheid was ook 'n bietjie moeilik om aan te leer met onwillige leermeesters (my pa, veral). So het ons ons nie laat afskrik nie, en wanneer die Groot Kuier ons beetgepak het, veral in vrugtetyd, het ek (sonder lisensie, maar met die wêreld se selfvertroue) die motor bestuur. Ons het dan 'n houer in die kattebak gelaai - net vir ingeval iemand dalk vir ons van hul heerlike vrugte wou saamgee. Dan het ons darem 'n houer, en hoef hulle nie die ook nog te voorsien nie. Bedagsaam was ons middelnaam.

As Pa 'n aanmaning van die polisie af kry omdat ek onwettig op die pad is, het Ouma met mooipraat en haar eie logika, elke keer die situasie (en my bas) gered. Ek het eenkeer die kar gestamp - my laaste ongeluk in "reverse". Ouma het opgedok vir die skade, en besluit om alleen te leer ry. Toe beland sy met die kar bo-op die rotstuin vasgehaak, en moes Pa haar die aand afhelp. Hierna was ek weer chauffeur, maar vir lang pad, het ons bestuurders onder die jong manne van die omgewing (met rybewyse) gewerf. Ouma het ook 'n nuwe kar gekoop. So 'n rooi Dasun sportrige 160Y met 'n wit dak. As mens wil ry, en jy het jou eie kar, hoef jy net 'n bestuurder te soek, en voel jy nie so afhanklik van ander se genade nie, was haar redenasie.

Ouma is my Universiteitsloopbaan, met al die vakke, vakansietye saans en snags saam met my deur. Ons het elke teorie en elke rare sielkundige verskynsel bespreek en ontleed en fyngetrap. Ek glo dis een van die faktore wat gehelp het dat ek elke jaar, selfs my "gipsjaar" geslaag het. Ouma het uit haar lewenservaring 'n voorbeeld vir elke verskynsel of probleem gehad waarmee ek kon identifiseer, en so is my studies lewendig gehou. Sy kon ook baie goed luister, entussen die reëls lees.

Willem se verskyning was vir Ouma net so opwindend as vir my. Die aand toe hy laat en onverwags kom kuier het, en Pa hom met die geweer voorgelê het, was een so 'n aand waar Ouma saam ge-panick, en later saamgelag het. Dis egter 'n ander storie.

Willem en Ouma was hegte vriende toe ons getroud is. Soos ek, verlang hy net so dikwels na hierdie besondere vrou. Ons is egter baie bewus van die groot voorreg wat dit was om haar te kon ken.

Haar grootste erflating was egter haar liefde vir die Here. My eerste liedjie het ek by Ouma geleer: Open julle mond, eis van My blymoedig. Al wat jul begeer, gee Ek jul en meer - mildelik en oorvloedig!

Wanneer slaap haar om die een of ander rede (bekommernis) ontwyk het, het sy teruggeveg deur kliphard en sonder selfbewustheid in sang uit te bars en die Here te loof en te prys! Ek weet nie van een nag wat sy die hele nag moes sing nie. Die onrus of pyn, of wat ookal, het elke keer voor hierdie aanslag van oorgawe aan God die knie gebuig. Wat 'n voorbeeld was dit nie vir ons nie!

Hierdie singery het ook gehelp wanneer die nagmaalwyn bietjie warm gemaak het, soos met my aanneming en voorstelling in ons gemeente, en die ete daarna. Vriendin Marietjie 9toe nog Steenekemp)was ook hier, en onthou dit tot vandag toe. Die lied was: "O denk aan dat huis, ver van hier...."

Dis jammer dat my kinders te laat gebore is om haar te kan onthou. Sy het hulle darem geken. My kinders het egter hul eie Oumas en Oupas om te onthou, en moet hul eie herinneringe bymekaarmaak.

Louisa Mafutha

Een van my eerste hartroerende sake as maatskaplike werker, was die van 'n vondelingetjie wat in 1977 digby Marabastad, Noord van Pretoria, gevind is. Die onlangs-gebore babadogtertjie is onder 'n doringbos gevind waar die miere al aan haar begin vreet het. Sy is na die destydse H.F. Verwoerdhospitaal geneem, vanwaar ons (die welsyn) van die saak in kennis gestel is.



Ek was destyds 'n jong maatskaplike werker in my eerste pos by Kindersorg, in hul Eersterust-kantoor gestasioneer. Daar is nogal baie administratiewe en wetlike sake in die geval van vondelinge wat moet aandag kry. Destyds baie meer as nou, want ons moes eerstens vasstel tot watter ras hierdie baba geklassifiseer moes word voordat daar enigsins verder na haar toekoms gekyk kon word.



Uit die aard van die saak is die herkoms van 'n vondelingetjie mos nie bekend nie. Die bedoeling van die ma was dan juis dat iemand anders die kindjie moet vind en grootmaak en sy (die ma)onbekend moet bly, of dat die kindjie sou sterf sonder dat iemand ooit van haar bestaan sou uitvind. Hierdie ma het anders as Moses se ma, nie 'n spioen gestuur om uit te vind wat van die baba sou word nie, en is sover ek weet nooit gevind nie.



By die hospitaal is die baba versorg, en gevoed totdat dit veilig sou wees om haar te ontslaan. Met ontslag moes ek oorneem. Ek onthou dat ek die dag nogal baie deftig aangetrek was vir die taak - met hoëhak-skoene en als. Ek het nie besef hoe ver ek sou moes stap nie.



Soos ek dit gehad het, was my eerste taak om die geboorte/vonds van die baba by Binnelandse Sake te gaan registreer. Gewapen met 'n bottel melk (komplimente van die hospitaal), 'n skoon doek, die baba, baie entoesiasme en my geleerdheid, is ek na Binnelandse Sake toe.



By die toonbank kon niemand my help nie, want ek het geen inligting gehad nie. Na lang verduidelikings (toe ek uiteindelik die voorkant van die ry bereik het) is ek verwys na van die senior manne in een van daai boonste kantore van die hoë gebou. Met te min hande, onbekendheid, 'n vermoë om in die biblioteek te verdwaal, en hysbakke wat nie op alle vloere stop nie, soek ek die kantoor.



Na 'n gesukkel en 'n paar skietgebedjies, kom ek toe by die paneel uit. Die klompie omies moes vasstel uit watter rassegroep die baba afkomstig was. Ek het naïef geglo dat daar die een of ander soort toets was wat sou bepaal wie die baba was. Toe nie.

Die manne bekyk my en die baba, en gesels asof oor 'n koppie tee, terwyl ek al meer met die baba identifiseer en haar saak darem met erns bejeën sou wou sien. Elkeen het 'n ander gedagte, maar die ooms voel ek moet haar as swart registreer. Hulle kyk nie eers behoorlik na haar nie.

Ek durf teëpraat, en probeer hulle oortuig dat sy net sowel van gemengde afkoms, d.w.s. 'n Kleurling kan wees. Na my mening het sy dalk 'n kans op 'n beter lewe as ek haar by 'n Kleurling-gesin kan plaas, want die aanneemouers waartoe ek toegang gehad het, sou in al haar behoeftes kon voorsien, en die politieke aansien van Kleurlinge het dit ook makliker gemaak om as Kleurlingkind op te groei.



No such luck. Nee, Juffrou, jy's nog jonk en onervare. Gaan na Bantoesake, en registreer haar daar.



Waar is Bantoesake se kantore? Net mooi aan die ander kant van die stad. So, hier gaan ons. Die bottel gaan nie die hele dag hou nie, en die doek ook nie, maar die baba moet geregistreer word!



Parkeerplek is ook nie so eenvoudig nie - nie eers in 1977 nie. Ek kry 'n veilige staanplek (sonder parkeermeter, want wie kan nou 'n boete ook nog betaal?) en stap. Myle voel dit vir my in my hoë skoene. Die deftigheid het niks gehelp by die span ooms van Binnelandse Sake nie.



Ek loop vir Willie Snyman, een van my matriek klasmaats raak. Hy kan nie verstaan hoe ek nou met 'n gekleurde baba kan straat-af stap nie. Ek het nie genoeg tyd om te verduidelik nie, want sê-nou die kantore maak toe.



Bantoesake. Die diens is nie waffers nie - eintlik glad nie waffers nie. Ek is baie bewus van my bevoorregte status bloot op grond van my velkleur. Naderhand kom ek by die regte toonbank uit (hoop ek). My voete is af. My deftigheid rem aan my. My oë knip-knip, en my professionaliteit is nerfdun.



Plak die skoene op die toonbank neer, en lê die baba langsaan neer. My arms begin naalde en spelde maak van ongeoefende baba-dra. Ek verduidelik my missie. Ja, ek is op die regte plek.

"Wat is die baba se herkoms?"
Ek weet nie, het ek dan nie goed verduidelik nie?


"Goed, wat is die baba se van?" Moedeloosheid neem besit van my.
Ek weet nie, daar was nie 'n briefie by die baba nie.

"Kies dan 'n van."
Hoe? Ek ken nie swart vanne nie, en ek wil darem nie hê die arme baba moet met 'n belaglike van opgeskeep sit nie. Wat is 'n normale van? Sy is naby Marabastad opgetel.


'n Dik register met baie inskrywings kom onder die toonbank uit.
Marabastad. Daar's omtrent 7,684,275 verskillende vanne. Ag toggie,toggie. My voete!


Hoe klink Mafutha? vra ek.

"Dit kan werk. M A F U T H A"

"Geboortedatum?"
Nie seker nie, skat maar ......

Ek is so moeg, ek is bereid om alles te raai.

"Naam/name?"
Nou's ek vas. Swartmense het mos gewoonlik 'n naam wat in hulle taal iets beteken, en dan 'n Christen-naam ook vir ons onthalwe.
"Louisa," hoor ek myself sê. Ek ken nie 'n Luoisa nie, behalwe miskien 'n agterkleinniggie van my pa ...

"L O U I S A"


"Goed Juffrou, hier's die sertifikaat."


Volgende probleem. Louisa Mafutha is nou swart, en ek werk met Kleurlinge. Ek moet die kleine bondeltjie mens, wat op my begin groei, nou verwys na of die Mamelodi-werker, of die Atteridgeville-werker.


Ek kan nie onthou waarheen Louisa Mafutha verwys is nie. Ek het geen terugvoer gekry nie, en weet nie of sy na 'n kinderhuis is, of sy in pleegsorg geplaas is en of sy vir aanneming gegee is nie.

Ek kan maar net hoop dat sy tog volgens haar eie tradisies grootgemaak is, en dat sy iewers 'n gelukkige lewe lei.


Louisa Mafutha weet nie van my bestaan nie, maar dit maak nie saak nie. Ek wens haar 'n wonderlike lewe toe. Die wiel van die lewe het gedraai, en miskien was die ooms van Binnelandse Sake tog reg met Luoisa se klassifikasie - ek hoop so, en ek bid vir Louisa Mafutha.

Monday, May 18, 2009

Kroniek van die Kondensmelkblik

Die eerste gewaarwording van die naderende stryd het soos N.P. van Wyk Louw se donker wense om die grense van my denke begin flikker. Eers was dit net sulke sporadiese flitse; later het dit aanhoudend geflikker, soos 'n warmwordende neonlig, en al duideliker geword.Uiteindelik was dit onteenseglik daar.

Ek was lus vir kondensmelk.

Ek het Wilskrag nadergeroep. Ek moet immers nog 'n klomp gewig verloor ter wille van mobiliteit en gesondheid.

Soos dit gaan met verbode vrugte, het Soetlus van krag tot krag gegaan terwyl Wilskrag begin verkrummel het. Wilskrag wou nie toegee nie, maar die sluwe Soetlus het hulp ingeroep: beelde van dik strome gladde, soet kondensmelk wat verleidelik krul, drome van 'n kondensmelkblik-trompoppie wat 'n brigade van die wonderlikste kondensmelkterte aanvoor, geure van die allersoetste eet- en drinkgoed....

Wilskrag kon slegs met beelde van Immoboliteit, Vet, Skaamte en Naarheid terugveg. (Almal negatief) Voorwaar 'n ongelyke stryd!!!

Die geveg het sy hoogtepunt op 'n Dondrdagmiddag bereik. Ek was alleen tuis, met tyd op hande. Soetlus het Ledigheid en Oorreding vir haar kant gewerf.
"Daar's drie blikke kondensmelk in die spens..."
"Niemand sal weet nie..."
"Watter skade kan 'n bietjie kondensmelk dan nou doen?"
"Kondensmelk se oorsprong kan teruggevoer word na die enigste volledige voedsel"

Arme Wilskrag begin wankel onder die aanslag - soos alte dikwels in sulke gevalle gebeur. Soetlus, aan die ander kant, word net verder gevoed en versterk deur hierdie wroegery.

Wilskrag gee nie in nie. Plan staan nader, en gee raad. "Laat ons op hierdie geskiedkundige dag vir Soetlus en haar trawante 'n les leer wat hulle nooit sal verget nie" Wilskrag gee in - swak en uitgeput.

'n Blik word oopgesny - nie die tradisionele twee gaatjies vir suig nie, nee heel OOP. Die deksel kom onder ander afval in die asblik. Ek gaan sit by die tafel. My laaste wapen is 'n teelepel. Nee, dit is nie fel genoeg om Soetlus uit te wis nie. Die teelepel moet eers wag. Hierdie saak is te ernstig vir die juniors.

Ek drink die kondensmelk soos water - nee, soos goeie rooiwyn. Ek rol dit op my tong; druk die soetheid teen elke oppervlak van my mond vas, en sluk met behaaglikheid. Ek volg die vordering van die soete verleiding tot daar waar dit lêplek kry.

Nou word die slukke groter en Gulsigheid steek kop uit. Teen die helfte van die blik begin Naarheid saggies om aandag smeek. Plan en Wilskrag druk deur! Oorreding vra vir "Time out". Wilskrag wyfel, maar staan vas.

Met nog net genoeg kondensmelk vir twee koppies soet koffie, is Wilskrag se fut uit, en Oorreding staan nou sterk. "Dit sal lekker wees om so 'n ou soet koffietjie met Willem te deel wanneer hy huis toe kom..."

Willem! Die soet towerkrag is gebreek! Skuldgevoel spring uit! "Willem mag nie weet nie!!!"

Nou moet die teelepel help. Die laaste aks van 'n druppel word uitgekrap en opgeëet. Nou word die leë blik ook diep in die asblik weggesteek. So-ja, 'n beker bitter koffie om Soetlus se val (of was dit nou oorwinning?) te vier.

Plig onderbreek die nabetragting. Wat eet Willem vanaand? Naarheid pleit swakheid, maar Plig maak geen toegewings nie. Plig wen, en ek begin kosmaak. Willem sal honger wes, maar hoe gaan ek eet???

Ek sit toe maar net by. Willem eet lekker, en ek kry nog 'n kompliment ook oor die heerlike kos. "Honger maak beslis die beste kok." Dis Skuldgevoel se stem.

So 'n ruk na ete begin Willem eers kombuis toe, en later spens se kant toe dwaal. Hy's seker lus vir 'n koekie. Sy stem ruk my terug na die vaal gevoel onder Skuldgevoel se streng hand. "Marietjie, waar's die kondensmelk? Ek maak vir ons koffie."

Kalm bly! Daar's nog twee blikke kondensmelk oor. "Dit staan seker net op 'n ander plek."

Toe nie so maklik nie.
"Nee, daar's 'n blik weg." Ek en die hele weermag is uitgeboul. Die verhaal van die stryd tussen die Sluwe Soetlus en die Weerlose Wilskrag moet uit. Soos die liedjie sê "Hy moes vra, en ek moes praat"

Nou volg ek maar die AA se leiding: Ek ken ongelukkig nie al 12 stappe nie, maar pas die waarvan ek weet, toe.
Openbare belydenis
Erkenning van swakheid
Een dag op 'n slag - sonder kondensmelk.

Soetlus is vir eers geblus, en Wilskrag is stadig maar seker besig om van die vernedering te herstel.

Twee blikke kondensmelk staan op die rak...