Monday, February 23, 2009

'n Naweek om te onthou!



'n Ma is mos van die spesie wat alewig na die een of ander kind of kraai verlang. As sy nie verlang nie, is sy bekommerd, of soos meestal die geval is, sommer albei gelyk. Kom dit toe so dat ek my die laaste drie maande (dis reg, 3 maande) doodverlang na my enigste ou ooilammetjie en haar man in die Kaap. Hulle kom net nie hier by ons uit nie, want hul kar is nie lekker nie. Om die een of ander duistere rede val daar gedurig iets voor as ons wil gaan kuier. Ek voel genoeg is genoeg. Dis nou of nooit. Al buig die bottel en al bars die boom, nou moet ons Kaap toe gaan!



Gelukkig is die heelal 'n plek waar balans baie belangrik is, en toe kom dit mos nou so dat Willem vreesik graag skyfskiet, en dat daar 'n Bisley-klub in die Kaap is. Goeie vrou wat ek is, moedig ek hom aan om die oefensessies en ander klubbyeenkomste te begin bywoon. "All work and no play makes Jack a dull boy" redenasie aan die werk. Die skietgogga het gebyt, en ons gaan kuier by die kinders. Rachel se kar se stuurmeganisme is boonop na my mening tans gevaarlik, en moet herstel word. Sy het die kar elke dag nodig, en so kom daar niks van die herstelwerk nie. Die plan is nou dat ons Willie (wat in Taiwan is) se kar by haar gaan los om mee te ry terwyl ons haar kar gebruik om huis toe te kom, en dan te laat herstel. Meer motivering vir hierdie kuier is seker nie nodig nie.



Ek het so 'n diep "under cover" verlange na my "Visbon" wat in Taiwan werk, ook, maar die plan om iets daaraan te doen, het hom nog nie voorgedoen nie.



Maar mens, het ons lekker gekuier! JC is by al sy ander talente, ook 'n bobaas-kok. Dat skoonma moet gewig verloor, bring hom nie van stryk nie, en ek is maar bly daaroor. Vrydagaand trakteer hy en Rachel ons toe op 'n heerlike braai met net die regte en net genoeg bykosse om ons tone te laat omkrul van die lekkerkry (sonder dat ek my polse hoef te sny van skuldgevoelens oor die dieet, darem). Dit lag en gesels dat die biesies bewe, en die hele woonstelblok se inwoners besluit om elkeen sy eie partytjie ook te hou. Lekker bly maar lekker.



Saterdag vaar ma en dogter die winkels in vir daai broodnodige paar stukkies klere, en as dit kan nog 'n paar skoene of wat ook. Ma stap mos deesdae met 'n kierie, en ek was naderhand seer, en half lam van die moeg, maar die lekker bly lekker.



Pa en skoonseun is elk op sy eie missie. Pa het gaan skiet, met 'n jaarvergadering na die skietoefening - ook nie te vrot gevaar met die skietery nie - darem 'n voltal geskiet op die 500m. JC moes 'n kliënt help wat uit nood dokumente uit Johannesburg laat koerier het vir my skoonseun se aandag (ai, ek's trots op hom). So is ons almal lekker besig en lekker tevrede.



Saterdagaand word ons weer bederf met 'n pizza uit 'n ander wêreld. JC het die voorbereiding gedoen, en Rachel (self nie verlore agter die kospotte nie) het die konstruksie waargeneem. Sy is mos hoeka projek-administreerder by 'n konstruksiemaatskappy. Ons het gesmul. Soos mense wat baie lank laas lekker geëet het, al is dit ver van die werklikheid. Ons ou volkie het sekerlik volk-alleen die kuns om kos te geniet, vervolmaak!



Na 'n lekker ontbyt by 'n plekkie in Tyger Vallei, word die karre omgeruil, en val ons in die pad.



Ons moet nog op die plaas by Gouritz aan om Poepies te gaan haal. Sy het die naweek daar gekuier, en sewe muise gevang. (Poepies is ons bedorwe Jack Russel)



Skaars verby Albertinia hoor ons 'n snaakse geluid. Willem sê dis 'n band. Die agterband het toe inderdaad gebars. Ongelukkig is die spaarband ook pap. Gelukkig is Gouritzmond vol wonderlike mense, en Gertjie Marx, die nutsman van die dorp daag soos 'n ridder met sy Genny en 'n pomp op, en kort voor lank is ons weer op pad.



Vanoggend is Willem met die kar op pad na Franz vir die regmaakslag. Ongelukkig is daar 'n nuwe spoedbeperking in Kwanonqaba waarvan hy nie weet nie, en hy kry 'n spoedboete. Baie ongelukkig trek hy daar weg, en woeps, daar gaan die spaarband. Dis nou gelukkig dat ons die naweek so geniet het - anders het ons nie krag gehad vir hierdie Maandag nie. Nog gelukkiger is dit dat hierdie oepsies nie met Rachel gebeur het terwyl sy in die verkeer op pad werk toe of terug, is nie.



Balans. Geluk by die ongeluk. Na lekker lag kom lekker huil. Daar's iets te sê vir al ons spreekwoorde. Bowenal is daar Iemand wat ons in die holte van sy hand hou.

Friday, February 13, 2009

Die gedoente met my bril(le).



Ek het vandag my ogies laat toets. Dis nou al 'n hele lang ruk dat ek sukkel om te lees - om van rekenaarwerk nie te praat nie. Goedgelowig soos ek is (ek's mos gebore in die jaar van die Skaap) glo ek my oe gaan vinnig agteruit. Ek koop twee vergrootglasbrille - een vir lees (3X) en een vir die rekenaar (2X). Met al hierdie aanhangsels kom ek oor die weg - dis nou te se AS ek die dag die regte bril op die regte plek het.



Sommer heel aan die begin van ons gesprek se die nuwe oogkundige dat my bril se regterlens net daar is vir balans. Hy verneem baie simpatiek wat die probleem met die oog is. Ek's verstom, want ek het nog nie agtergekom dat ek blind is in die oog nie.



Met die toetsery, kom ons agter dat my oe eintlik goed gebalanseer is, en net die normale veroudering toon. My nuwe vriend kan goed verstaan dat ek gefrustreerd rondval tussen brille omdat my eintlike bril nie help nie. 'n Mens kan nie eintlik lekker oor die weg kom met een multifokale lens en een glasstukkie nie.



Hoe dom en goedgelowig kan 'n mens wees? Ek skud my kop in ongeloof oor my eie stommiteit - ek kan nie glo dat ek so lank verniet gesukkel het nie.



Die verligting is darem baie groot om te besef dat my sig my nie ook wil verlaat nie. Ek kan nog jare produktief wees met die regte bril. Op my jare is dit hoeka die fokus van die oe wat nie meer so waffers is nie. Om dit met 'n defekte bril te vererger, is totaal onnodig.



4 werksdae, en my versameling brille word museumstukke! Dan sal ek net 'n "one and only" of DKW he. Salige vooruitsig.