Tuesday, December 2, 2014

Alzheimer-grepies

Vanoggend wil ek ontlaai oor die gevolge van hierdie siekte op my as mens, kind, en versorger.  Ek is nou wel lankal nie meer kind in jare nie, maar in ons familie-opset wel.

So versorg ek mos my ma. Sommige dae is dit makliker as ander. Soms kom die moeiliker dae goed verspreid tussen die lekker dae voor.  Maar soms, soos die afgelope ruk, voel dit kompleet of die moeilike dae die ander insluk soos die sewe maer jare destyds met die sewe vettes gemaak het.

Vandag is dit Dinsdag.  My treurmare begin by verlede Vrydag. Toe ek by die huis kom, is Ma pimpel en pers, Juby is stomgeskrik, en my man verslae.  Ma het 'n bietjie op die bank gaan lê en TV kyk.  Sy sê dat sy nie weet wat gebeur he nie, maar toe sy weer sien, lê sy op die mat voor die bank.  Juby is geroep om te kom help, maar kon haar nie optel nie.  Tweede beste was om Ma gemaklik te maak daar op die vloer. Kussings is geplaas waar die ongemaklikheid kop uitgesteek het totdat Willem huis toe gekom het.  Hy kon Ma darem weer opkry.

Ma was getraumatiseerd om die minste daarvan te sê.  Die geluk is dat die ingekorte geheue gou korte mette hiervan gemaak het.

Toe breek Saterdag aan.  Alles gaan goed.  Ons kuier lekker.  Ma besluit om na haar kamer te gaan.  Sy loop nou met so 'n lekker loopkarretjie, haar eie Rolls Royce, en sy ry hysbak.  Die dag het baie rustig begin, en ek en manlief kyk rugby.  Nou nie dat die rugby wonderlik in ons guns verloop het nie! Ons span kry 'n afranseling van Wallis, en ek begin Ma mis.  Sy is nou al 'n hele rukkie in haar kamer.

Trappe op om haar te gaan soek.  Kamer dolleeg, badkamer: dolleeg.  Af met die trappe, soek die hele huis deur - nêrens 'n spoor van Ma nie.  My 59-jarige geraamte weier nou volstrek om nog 'n enkele stel trappe te klim.

Hysbak toe!  Met die oopgaan van die deur, eintlik al voor dit, hoor ek 'n gestamp.  Hier staan Ma - wasbleek ek doodsbenoud.  Sy het vergeet watter knoppie om te druk, en toe of die verkeerde een gedruk, of almal gelyk gedruk, maar uit, kon sy nie uit nie.

Teetjies, geselsies, musiek later voel sy weer mens.

Toe kom Sondag.  Ons is nie betyds gereed vir kerk nie, en besluit om die eredines op TV te volg.  Alles gaan tog te lekker, en ons braai 'n bietjie, kuier 'n bietjie, brei 'n bietjie, en so aan. Ons kry nie meer kuiergaste nie. Net die Bybelstudiegroepie kom nog hier - hulle verstaan. Selfs Ma kom dit agter.

Teen slaaptyd gaan ek saam met Ma kamer toe.  Ek dink nie sy is gereed om alleen hysbak te ry nie.  Ma se hande is vol met die Rolls Royce en  haar selfoon, waarsonder sy nie kamer toe kan gaan nie. Ek bring die nag se glas water.

Sonder waarskuwing val Ma so in "slow motion" half tussen die Rolls en die muur in.  Ek probeer keer maar is te laat - selfs vir slow motion.  Ek kan Ma nie opkry nie, en die Rolls se briek druk omtrent in haar bobeen in.  Ek kan sien dis seer!

Gelukkig is Willem naby. Ek gil om hulp, en met moeite kry ons ma in 'n gemakliker posisie.  Sy sit nou in (op) die karretjie.  Kamer toe.  Ma kom darem sonder verdere skade in die bed.  Ek is nou behoorlik ontsenu.

Kan ek na haar kyk? Is my sorg genoeg? Is my liefde genoeg? Ek twyfel sterk aan my eie vermoe om die pad te kan loop.

Maandag.  Gelukkig is my buitenshuise program vandag baie kalm.  Ma wil bank toe gaan (laas het sy met die uitkomslag in die straat geval).  Ek kry 'n ander plan om haar geld te wissel, en maak so.  Ons (Ma met my aansporing) skryf vir al haar kleinkinders Kerskaartjies uit, en sit 'n geldjie in elke koevertjie. Die manne het al geskenkies wat beskryf en verpak is, maar die vroue se geskenkies is nog net 'n droom.  So, ons moet winkel toe.  Ek kry by voorbaat hoendervleis, naarheid en allerhande simptome van stres. 

Ek stel so lank as moontlik uit, maar alles het 'n keerpunt.  Met 'n gesoebat van my kant af, is ons met Rolls ook in die kar, en daar gaan ons. (Ma wil nie eintlik in die openbaar met die Rolls loop nie.  Die mense sal vir haar lag.) Parkeerplek is hierdie tyd van die jaar nie so maklik te bekom nie - veral nie naby 'n ingang nie.  Na die derde keer se om die winkel ryery, kry ek 'n parkeerplek naby die sentrum se ingang. Clicks is gelukkig reg in die gang af, eerste winkel.  Halfpad soontoe sien ek Ma se kragte is min. Omdraai is nou net so ver as aangaan.  Ons druk deur.  Liewe Hemel, die winkel is vol mense wat soek - dis mos geskenksoektyd! Niemand is vas op koers nie, en Ma se doelgerigtheid begin ook sterk wankel.  Sy ondervind baie moeite om deur die voetverkeer te navigeer.  Ek probeer om ongemerk die Rolls te stuur sodat sy darem heelhuids hier gaan uitkom.  

Skielik het elkeen wat my ken 'n dringende saak om telefonies met my te besleg.  Die vervloekte selfoon gaan in my sak aan't luie vir die Olimpiese span.  Met die foon teen die oor kry ek darem vir Ma by 'n rak met geskenkpakkies geskik vir volwasse vrouens.

Ek gaan staan in die ry vir 'n kassier terwyl Ma so langs die uitgang op 'n veilige plekkie in die Rolls wag.  Netjies.

Halfpad na die uitgang van die sentrum toe, is Ma te moeg om verder te gaan.  Ek help haar om op 'n bankie (dankie tog vir sitplek!) te sit met die Rolls, waaraan haar handsak en haar geskenkpakkies gehaak is, reg voor haar, sodat sy dit kan oppas.  Paranoia is sterk teenwoordig. Wat nie weg is nie, is gesteel, en so aan.

Ek hop gou by 'n troeteldierwinkel in om 'n borsel vir Shadow te koop.  Ek kan Ma deur die venster sien.  Haar gesig straal.  Dis vir haar SO lekker om tussen mense te wees.  Sy blom. Ek sien sommer weer kans vir alles.  

Intussen vertel die verkoopsdame my van haar pragtige kat, en ruk ook sommer die selfoon uit om vir my die foto van die kat te wys.  Ongelukkig is die kat vetsugtig, en sy vertel sommer vir my vanh die hele voedingsregime op "Obesity".  Dis 'n stryd, want die kat is altyd honger, en die porsies is maar klein. Maar sy sal nog die ding wen, want haar vorige kat was 'n diabeet en sy sien nie weer daarvoor kans nie.  Sy is nou op voorkoming ingestel. Elke mens het 'n oor nodig, en almal wil tog bietjie bewonder word, al is dit oor sy liefde vir 'n troeteldier.

Terug in die motor sien Ma nou kans vir 'n supermark ook.  Ek ry weer om die sentrum om nader aan die supermark te parkeer.  Hier verras Ma my deur te vra of ek nie maar die ou goedjies sal gaan koop nie.  Sy sal vir my in die motor wag.  Dis warm, en ek maak 'n venster oop.  Nee, Ma voel onrustig met die oop venster.  Goed, venster weer toe. Radio aan, lugversorger aan, en daar gaan ek met die lysie.

Jaag deur die winkel wat onlangs verbou is, en die goed is op vreemde plekke.  Terug by Ma en die kar. Veiligheidswag help met die inpak van die ware, en kry sommer 'n groot fooitjie.  Sy Kersfees het aangebreek.

Daar wil die motor nie vat nie.  Die battery is pap.  Ek sukkel om alles wat aangeskakel is,weer afgeskakel te kry.  Dis sekerlik nie net die radio en die lugversorger wat aan is nie. Battery laat net al die liggies brand, en sterf dan weer af. Ek bel maar my ridder op sy wit perd.  Hoewel hy 'n klient by hom het, belowe hy om dadelik te kom help.  Met sy aankoms (blaffende Poepies agter-op)neem dit nogals diplomasie om staanplek naby genoeg te kry sodat hy die motor kan "jump start". Gelukkig is 'n ander inkoper naby sy motor, en kan hy plek maak vir die Wit Perd.

Ek en Ma is oppad huis toe - langpad om, sodat die battery kan laai.

Tuisgekom, alles goed.  Ma is net moeg en gaan rus 'n bietjie.  Na sepie-tyd, die nuus en die allerbelangrikste weervoorspelling wil Ma gaan slaap.  Ek neem haar sonder teenspoed met die hysbak kamer toe, maak seker die kamer is veilig en vry van enige boosdoener wat haar dalk daar mag voorlê.  Teen tien uur val ek in die bed.  Ek's dood op my voete.  Slegs 'n paar minute later hoor ons kasdeure klap, en nog 'n geluid.  Ek dink Ma het geval.  Manlief sê nee, dit klink nie vir hom na 'n val nie.  Ek gaan kyk in elk geval.

By die deur roep ek om seker te maak dat ek mag ingaan.  "Ag, Marietjie, Kom help my!", kom dit uit die badkamer.  Ma het tussen die toilet en die muur ingeval.  Die houer vir die toiletrol druk ongemaklik seer teen haar rug.  Met groot moeite het ek haar naderhand op die voete, en help om al die klere weer reg aan te kry. Ek gee by voorbaat twee pynpille, en wens Ma 'n heerlike nagrus toe.  Sy is so dankbaar dat ek die trane net moet keer.

Vanoggend loop ons altwee gepynigd rond. Al ses van my  rugoperasies laat hulself voel. Ma kan nie verstaan hoekom haar rug so lam en seer is nie. Daar is egter 'n liggie voor in die tonnel: Vandag is die dag dat Ma se hare weer ge-"perm" gaan word, en sy sien uit daarna.

Selfoon lui!  Wat tog nou weer?  Dis Sandra van die salon.  Daar het nou net 'n waterpyp gebars en die salon is onder water. ( Kan dit regtig so gebeur? Oorle' Job het ook seker die vraag gevra) Sy is verskriklik jammer, want sy weet Ma kom vandag, maar sal dit reg wees as sy ons bel wanneer die loodgieter die pyp reggemaak het? Nou wag ons. Dis nogals moeilik met 'n ongeduldige mens wat nou ook verveeld is.

Ek hoop hierdie was die laaste teleurstelling vir die maand. Ma se voorkoms is vir haar baie belangrik.  Sy moes nou al van die hogere hakskoene afsien, en nou lê die klem op die hare.  Mag die salon tog vandag nog weer gereed wees vir hare doen!!

Alzheimer, vir jou sal ek beveg tot my laaste asem!