Monday, December 14, 2009

Daar word in die bos gekap...

Ons was vanoggend, 14 Desember 2009, by 'n begrafnis. 'n Goeie vriendin se gawe man het baie skielik gegaan. Sowat 'n week gelede het hy begin olik voel, en is met kanker gediagnoseer, ge-opereer, en oorlede. Wat 'n skok om weer eens te besef hoe stoflik ons is en hoe tydelik ons aardse verblyf is.

Omtrent 'n maand gelede was Attie nog hier by ons om sy opwinding te deel oor die voorgenome toer wat hulle na Namibië, en meer spesifiek Hentiesbaai, toe wou aanpak. Attie was 'n ywerige hengelaar, en het selfs die voorblad van 'n hengeltydskrif gehaal met een van sy vangste!

Na sy aftrede het Attie aanhou huise bou vir mense in die omgewing. Attie Cowley se huise was altyd iets besonders. Goed gebou, en geen moeite is ontsien om die eienaar se wense te verwesenlik nie.

Vir Attie was dit nie altyd maklik om vreemde versoeke te verstaan nie, en soms kon die voornemende huisbewoner nie mooi verstaan as hy die nadele van 'n voorstel aan hulle probeer verduidelik nie. Hy was egter een van daardie mense wat nie ophou soek het na die goue middeweg tussen die kliënt se droom en die konkrete moontlikheid nie. Dit het hom baie ure en "buite-die-boks-denke" gekos, maar sy kliënte is altyd tevrede gestel. Hoeveel bouers is daar wat lewenslange vriendskappe met hul kliënte sluit?

Sy weduwee, Bettie, was sy lewe. Op haar beurt is sy weer die moederfiguur vir elke verdwaalde, elke verwerpte, en elke eensame op die lewenspad. Sy was geborge in hul huwelik, en uit hierdie posisie kon sy na elke hartseer verhaal luister, en vir elke hongere was daar altyd hulp - maak nie saak of dit fisiese of geestelike honger was nie.

Dit is seker van die redes waarom daar vanoggend byna meer mense by die begrafnis was as wat Sondae in die kerk is.

Nog redes is dat Danabaai se mense besondere mense is. Hier word daar tyd gemaak om by mekaar uit te kom, en om mekaar se laste te help dra. Soos Hennie (seun van Bettie en wyle Attie) gesê het: hy het daadwerklike christenliefde hier gesien.

In die Feestyd is dit baie hartseer om afskeid te neem van 'n sterk boom in die bos. Ons sal sy koelte mis, maar die herinnering sal bly vassteek. Die anderkant van hierdie gemis, is die geleentheid wat ons as gemeenskap kry om ons geloof en liefde uit te leef. Dankie aan ons hemelse Vader wat weet dat ons nie net nodig het om versorg te word nie, maar soms ook nodig het om ander te versorg. Dankie dat ons soveel Liefde ontvang dat ons genees word wanneer ons daardie Liefde kan uitdeel.

Wednesday, December 9, 2009

Poepies die Verskriklike

 
Posted by Picasa

Poepies en die muise

Ons het 'n Jack Russel met die aardige naam "Poepies". Die kordaat brakkie is so genoem deur die eienaar, Willie, wat die troetelnaampie uit sy kleinkinderjare onthou. Ek het die kinders albei Poepies Nongena genoem as hulle besonders oulik was.

Poepies se geskiedenis is nogal interessant. Toe ons dogter, Rachel, se troudag bepaal is, het haar bekommernis oor haar ouboet wat alleen moet agterbly (!) begin. Telkens het sy vir my gesê dat sy nie weet wat Willie sonder haar sal doen nie. Op daardie stadium was albei weer by ons tuis. Willie na 8 jaar van alleenbly, en Rachel na 4 jaar op universiteit. (Ek hoef nie te sê dat hulle baie na aan mekaar is en baie goed oor die weg kom nie)

Elk geval, Rachel moes planne beraam, en Mamma moes maar troos, en beloof om in te staan in Bieta se ellende van alleen-by-die-huis wees. Dit nou nadat dieselfde sussie 'n paar jaar gelede nie kon wag dat Boetie universiteit toe gaan en sy haar beurt as "enigste kind" kan kry nie. Volgens haar tiener-redenasie was Boetie mos vir daai amper drie jaar voor haar geboorte, die enigste kind. So onregverdig!! Gelukkig kom die gelykmaker vir ons almal: sê nie hoe en wanneer nie.

Die oplossing kom toe in die gedaante van 'n troeteldier. Willie sou dan 'n afhanklike hê, wat sommer ook geselskap in die eensame ure kon wees. Pappa was aanvanklik nie so gediend met hierdie plan nie, want ons het al vele troeteldiere gehad, wat op die ou end maar Pa en Ma se verantwoordelikheid was. Ons het inderdaad met ons terugkeer uit Namibië besluit om nie weer troeteldiere aan te hou nie. "Famous last words"

Met Valentynsdag van 2006, twee maande voor Rachel se troue, kry Willie toe die geskenkie - dit was die idee. Wat toe gebeur het, was dat Rachel op pad met die nuwe hondjie van George af, haar aandag aan die hondjie gee in plaas van die draai in die pad, en haar motor rol. Kar is afgeskryf, maar gelukkig het Rachel en die hondjie ongedeerd daarvan afgekom.

Willie kry die hondjie toe by die hospitaal waarheen hy (sussie het hom eerste gebel na die ongeluk) haar geneem het vir 'n ondersoek ingeval van 'n besering.

So word die hondjie toe baie kosbaar, en al Wille se maats neem Poepies as deel van die vriendekring aan. Van kerkbazaar tot piekniek by Leani-kwekery of verjaardagpartytjies, is Poepies getrou saam met Willie. Amper soos Obelix en Dogmatix. (Willie was darem nie so groot nie, maar die verskil tussen sy grootte en diè van die hondjie was wel beduidend)

Met Willie se vertrek na Taiwan, bly Poepies toe weer agter (hoe dan anders?), en neem Wederhelfte se hele hart in besit. Poepies is nou sy skaduwee, sy bakkiewag, sy slangvanger in die veld, en sy smulmaat saans voor die TV. As Willem dit eet, Poepies ook. As Willem dit kan drink, Poepies ook. As Willem TV kyk, Poepies ook - veral dokkies met diere daarin: dan gaan staan sy sommer kiertsregop teen die TV-kas om beter te kan sien, en te blaf wanneer nodig.

Nou en dan kan Poepies nie saam wanneer ons die pad vat nie, en moet sy by Kuierbos gaan bly. Dit het weer verlede week gebeur toe ons Kaapstad toe, en na Rachel toe is. Poepies geniet die plaaslewe, want daar kan sy weer jag - van muise, molle, my hoendertjies, slange en selfs 'n muskeljaatkat het al deurgeloop onder die skerp tandjies.

Gister hewt Willem haar gaan haal, want vandag moet sy saam met hom en Natalie, sy "article-landmeter", Willowmore toe vir 'n opmeting. Selfs ek het na Poepies verlang.

By die huis aangekom, het Poepies geen erg aan my nie, en begin sy dadelik in die spens rondsnuffel. Sy het 'n paar weke terug op 'n werpsel baba-streepmuisies in 'n opgerolde mat agter die spensdeur afgekom, en van hulle ontslae geraak.

Gelukkig was daar nie weer baba-muisies in die spens nie, maar Poepies kom nie tot ruste nie. Sy soek en snuffel in die kombuis, agter die yskas, oral. Na 'n ruk kom daar sowaar 'n muis agter die yskas uit en maak dit vir die agterdeur. Die muis was egter stadiger as Poepies.

Ek glo nie dit was Ouma Tiela se mak muis nie, maar ek is ook nie seker oor die gemiddelde lewensverwagting van 'n veldmuis nie.

Tydens 'n kuiertjie so 'n paar jaar gelede, ook in Desember, ook tydens 'n droogte, het Ouma Tiela en die Muis vriende gemaak. Dit was vir Ouma Tiela te oulik dat die muis nie vir haar bang was nie, en ek glo die muis was net so verbaas dat Ouma Tiela nie vir haar bang was nie. Ellke oggend het Ouma Tiela die muis van 'n bietjie oorskietpap voorsien, en ewe getrou het die muis dit elke oggend kom opeet.

Toe 'n werpsel klein muisies onder die TV-kas verskyn, het ons besef ouma se Muis was 'n meisie-muis. Die kleintjies is in die veldjie 'n entjie van die huis af gelos. Mamma Muis is op die ou einde in 'n emmer gevang en buitentoe geneem na 'n lang en moeisame en ampertjies tevergeefse stryd. Ons was baie mense, want Rachel se skoonfamilie uit Namibië en JC se Ouma van Keimoes was ook hier. Me Muis was egter uitgeslape en baie vinniger as ons. Duidelik was dit voor Poepies se bewind.

Na haar suksesvolle jagtog gisteraand, was die JAGTER in Poepies duidelik wakker. Die hele nag deur het sy gesoek en gesoek - tot binne-in Willem se klerekas het sy gaan snuffel en soek na oortreders in haar gebied. Tot ons groot verligting en haar teleurstelling was daar egter nie nog indringers nie, en kon sy vanoggend met 'n geruste hart haar plek agter op die bakkie inneem vir die blaftog Willowmore toe. Ja, die hele dorp weet wanneer Poepies op reis is, want sy groet alles en almal uitbundig.