Tuesday, November 15, 2011

Die gastroskopie en die kaartjie

As mens begin ouer word, verander die gespreksinhoud van kinders na kleinkinders, van werk na stokperdjies, en van algemeen na gesondheidsake, brille, pille, hospitale en dokters. Dis nou maar net een van daai sewe-en-twintig of so nuwe feite van die lewe. 'n Mens kan dit vermy en vereensaam, of dit aanvaar en tussendeur baie humor raakloop.

By 'n onlangse funksie vertel 'n nuwe vriendin ons die storie van haar gastrosokopie. Dit klink nogal baie aardiger as wat dit was.

Ista se storie begin met die feit dat sy nou vir die eerste keer in haar lewe, hier na aftrede, 'n kredietkaart het.  Sy is nie 'n finansiële ghoeroe nie, en na 'n vorige probeerslag het haar man, Jan, haar belowe dat sy nooit ooit weer haar hand aan 'n tjekboek sal slaan nie.

Vir die kredietkaart is sy so bang as die duiwel vir 'n slypsteen, want sy verstaan nie hoe die ding werk nie.  Wat sy wel weet, is dat daar ten alle tye ten minste R10,000-00 in die kaart moet wees.  Die bedrag moet haar deurdra in die gevallentheid dat Jan haar dalk sou ontval - siende nou dat sy  geen tekenregte op enige van hul gesamentlike geldbêreplekkies het nie.

Hoe dit gekom het dat sy sonder tekenregte sit, is nou weer 'n ander storie. Jare gelede het hulle in 'n baie welvarende gemeenskap gebly.  Haar man was die skoolhoof, en sy 'n onderwyseres.  Hulle moes tog met hul medemens meng en sosialiseer. Die vrouens van die omgewing het die een Tupper-partytjie na die ander Press-less partytjie na die ander Reeva-, Annique-, Justine-, Avroy Schlain of watter moontlike partytjie daar was, gehou.  Die een geleentheid was groter en spoggeriger as die ander, en die vrouens het ewe lustig hul tjekboeke uitgehaal en tjeks geteken vir al hierdie aankope waardeur hulle mekaar dan ondersteun het, en die ekonomie aan die gang gehou het.

Ista het toe ook gevoel dat sy soos 'n seer duim tussen hierdie dames uitstaan omdat sy so in haar beursie moet rondkrap vir 'n geldjie om haar minimale aankope mee te betaal.  Sy het haar situasie vir Jan verduidelik en gemotiveer, en hulle is bank toe om tekenregte te reël - op die gesamentlike bankrekening.

Vir die volgende maand was Ista dan ook een van die dames.  Sy het elke partytjie bygewoon, en vir haar aankope met die tjekboek betaal. Sy het dit geniet om tjeks te teken asof dit 'n alledaagse ou takie was. Haar borrel het egter gebars toe Jan die eerste bankstaat na haar emansipasie oopmaak.  Sy is van haar tekenregte ontneem met die duidelike belofte dat dit NOOIT WEER herstel sal word nie.

Op welke manier die kredietkaart veiliger sou wees, is nie vir my heeltemal duidelik nie.  Ek kon wel agterkom dat Jan die rekening elektronies, met behulp van die rekenaar, bestuur.  Een van haar dogters se vorige kêrel, het ook vir Ista geleer om die kitsbank, of soos sy sê, die kaartjiemasjien, te gebruik. Sy kom dus oor die weg. Iewers is daar egter nog 'n onduidelikheidjie: Ista sê dat sy op 'n stadium R13,000-00 of so in die kredietkaart gehad het.  Jan het toe op die rekenaar gewoel, en wys haar toe dat daar nou R10,000-00 is "wat wys".  Die ander geld is glo nog daar iewers (in die kaart of die rekenaar), maar 'n mens kan dit net nie sien nie.

Ista gaan dit ook nie soek nie, want sy is, in haar eie woorde, rekenaar-gestremd. 

Dit bring ons nou weer by die gastroskopie. Ista moes 'n gastroskopie ondergaan.  Jan reël vir al die magtigings en nommers en goed by die mediese fonds, en faks die nodige deur na die dokter en die hospitaal.

Toe alles gereël is, neem Jan haar na die hospitaal. Op pad soontoe ontvang sy 'n SMS wat sê dat sy moet onthou van die R2,000-00 bybetaling wat sy moet maak.  Sy lees dit vir Jan, en hy gooi amper die motor om van skok.  Dit is nie moontlik nie, want hy het al die magtigings en nommers en goed deurgefaks. Hy weier om 'n bybetaling te maak. Ista noem dat hulle in 'n noodgeval miskien die kaartjie kan gebruik, maar Jan staan vas.  Alles is gereël. 

Terug huis toe om  te bevestig.  Nee, alles is reg.  Hy bel weer die mediese fonds om seker te maak dat daar nie 'n verwarring met die nommers is nie.  Nee, al die magtigings is geldig, en die nommer is korrek.

Teen hierdie tyd is hulle nie meer so erg betyds vir Ista se afspraak met Dr. Retief nie.  Haar senuwees is redelik dun geskaaf.  Sy wil net die gastroskopie gedoen kry, en klaar.  Sy kom nie weer nie. Vandag is die dag, en klaar.  Sy weet ook dat Dr. Retief nie vir haar gaan wag nie.  Haar teatertyd is haar teatertyd. As dit verby is, is daar ander pasiënte wat wag.

Jan het ander planne.  Hy gaan nie 'n bybetaling maak nie, en klaar. Hy het die magtigings gekry. Sy plig is nagekom. Die mediese fonds sal betaal.

By die hospitaal aangekom word Ista se ergste vrese dan ook bewaarheid.  Die mense by ontvangs vra die R2,000-00 bybetaling. 
Ista sê haar man sê dis nie nodig nie, hulle het magtiging.
Hospitaal sê die bybetaling moet gemaak word. 
Jan sê oor sy dooie liggaam. 
Ista dood van skaamte, en plaas al haar hoop op die kaartjie met die geld vir Jan se begrafnis. Dit ontaard in 'n ietwat onaangename situasie, en die tyd stap aan.

'n Verpleegster kom naderhand vir Ista haal.  Sy is laat vir haar opname.  Ista gee in die wegloop gou haar kaartjie vir die ontvangsbeampte, en gaan saam met die verpleegster wat nie kan wag om bloeddruk, polsslag en wat nog te neem nie.  So oor haar skouer sê Ista vir die  ontvangspersoon dat sy tog maar die geld uit die kaartjie moet neem.  Wat hulle met Jan moet doen, moet hulle maar doen, maar sy wat Ista is, gaan nou vir die gastroskopie.

Terwyl die verpleegsters haar opnamekaart voltooi, maak sy net verskoning vir ingeval haar bloeddruk dalk hoog is - dis Jan se skuld. As haar polsslag te hoog is, is dit ook Jan se skuld.  Sy makeer gewoonlik niks nie.

Op die ou end is haar gastroskopie toe darem gedoen, en is daar nou net R8,000-00 in die kaartjie vir Jan se sterfte - plus natuurlik daardie ander R3,000-00 of so wat onsigbaar is.

Dit was egter nie die einde van haar nagmerrie nie, want daar kom toe nog 'n kwessie ter sprake.  Daar het aftrekkings, twee van hulle, op die bankrekening deurgegaan waarvoor hulle nie begroot het nie. Soort van ongemagtigde aftrekkings, as mens die woord nou so ydelik mag gebruik.

Jan praat met die bankpersoneel, en hulle beloof om 'n e-pos te stuur met die verduideliking.  Jan, wat weer 'n tydelike pos na sy aftrede aanvaar het, sou nie tuis wees om die e-pos te ontvang nie. Ista word aangesê om die e-pos in te wag, en vir hom aan te stuur na sy werksplek.

Sy weet nie hoe e-pos werk nie. Jan sal haar gou die aand touwys maak. Hy sal ook die volgende oggend sorg dat die rekenaar aangeskakel en op "die regte bladsy" is.

Toe vir die opleiding: Eers moet sy op "clear" klik. Dit is regs bo iewers. Sy doen dit. Nou moet sy op iets anders dubbelklik. Sy klik, en klik en klik. Niks gebeur nie. 

Jan beduie dat sy moet dubbelklik.  Intussen skryf sy elke woord neer, want sy moet dit die volgende oggend net so oordoen.

Na die dubbelklik, beduie Jan, sal daar iets 'opkom' wat nie nou kan opkom nie, want die e-pos is nie daar nie.

Ista skryf dit neer.

Nou moet sy op dit wat sal opkom, maar wat nie nou opgekom het nie, dubbelklik.

Ista skryf dit neer.

So gaan hulle deur die hele proses. Die adres wat sy moet intik, maar wat sy nie nou al kan intik nie, en alles.

Getrou skryf sy dit alles neer.

Sy wil weet hoe sy sal weet wanneer om te begin clear en klik en dubbelklik.  Jan stel haar gerus.  Die rekenaar sal mos aangeskakel en reg wees, en sal dan 'n geluid maak as die bank se e-pos deurkom, en dan moet sy tot aksie oorgaan.

Die volgende oggend, so vertel Ista,  is sy vroeg paraat en voor die rekenaar.  Die rekenaar is reeds aangeskakel.

Sy maak nie die tuin nat nie, sy skakel nie die radio aan nie, sy sit nie kos op die stoof nie en die wasmasjien bly afgeskakel, want sy moet hoor wanneer die rekenaar sy geluid maak wat haar tot aksie moet aanpor.

Die aand met sy tuiskoms wil Jan belangstellend weet hoe haar dag verloop het.
Ista sit steeds voor die rekenaar en wag. Geen geluid het daaruit gekom nie.

"Ag, toemaar", is Jan se antwoord.  "Ek het sommer gou vanoggend bank toe gegaan en die sakie daar uitgeklaar....."

Net sommer so.