Tuesday, June 28, 2011

Ontwaking - eerste oggend na 'n nag sonder sweet.

Goeiemôre wêreld!
Vanogend lyk die dag so mooi en skoon. Die see lê blou en kalm deur my studeerkamer se venster. Alles het meer kleur, die lug ruik vars, ek voel mens.

Ek besef dat ek die laaste klompie maande so op die rand van 'n baie diep en donker gat rondgesteier het. Dit was net die mense om my wat gekeer het dat ek heeltemal intuimel. Ek self het dit nie heeltmal besef tot vanoggend toe nie.

Die behandeling teen borskanker, wat uit mastektomieë en tamoksifien bestaan het, was suksesvol, maar moeilik. Die newe-effekte van die pille het my sleg getref. Ek hoor dat dit nie vir almal ewe erg is nie, maar ek was een van die ongelukkiges.

Net meer as 'n week terug het ek die groen lig gekry dat dit OK is dat ek die pille al in Januarie uit my eie gestaak het. Die gloede en strome van sweet het egter voortgeduur. Hoewel die gereeldheid van die gloede afgeneem het, het die intensiteit toegeneem, en het een van my personeellede gesê dat ek reën. Dit het behoorlik so gelyk. Ek het opgradeer van 'n handwaaiertjie a la ouwêreldse edelvrou, na 'n hoop snesies, na 'n rol kombuispapier in my (Groot) handsak, na 'n opgerolde gesighanddoekie in dieselfde handsak. Hare en vel se versorging het heeltemal agterweë gebly.

Verlede nag het ek nou wel baie laat aan die slaap geraak, maar ek het nie gesweet nie! Ek voel vanogend soos 'n nuwe mens. Ek is sekerlik nou 'n hele paar treë van die gat af. My gemoedsbesoedeling is beter! Sommer baie beter. Ek sien weer kans vir alles wat die toekoms kan bring - ook die groot rugoperasie wat voorlê.

Dankie, dankie, dankie!

'n Jong man om dop te hou

Ek ken 'n jong seun van 16 jaar. Ek moet eintlik sê ek's bevoorreg om hierdie besondere 16-jarige jong man te ken.

Christo is nie die sterkste, die slimste of die sportiefste seun wat ek ken nie, maar hy is 'n man van integriteit en ware insig. Christo loop met 'n hart vol liefde vir sy medemens rond wat mens nie by baie volwassenes of selfs bejaardes kan vind nie. Omdat hy miskien uit 'n ander hoek na die lewe kyk, is sy waarnemings dikwels vir my verstommend.

Christo werk hard om op skool te presteer, en dan kom hy nog steeds nie met Wiskunde reg nie. Die merkwaardige hieraan, is dat hy nie toelaat dat dit sy selfbeeld knou nie. Hy weet 'n mens bestaan uit baie meer as die vermoë om Wiskunde te bemeester - ten spyte daarvan dat daar in ons dag en lewe soveel klem op juis hierdie vaardigheid gelê word.

Die terrein waarin Christo uitblink, lê meer op die vlak van die menswetenskappe. Aangesien hy so jonk is, neem baie hom nie eintlik ernstig op nie, maar dit pla hom ook nie. Sien, hy is nie daarop uit om lof of eer te versamel nie. Hy is vol vertroue in sy talente en sy doel op die aarde. Dit was nie vir hom vreemd om in die laerskool as hoofseun gekies te word nie, en hy het die taak baie ernstig en met groot verandwoordelikheid bejeën.

Hy is nou in die hoërskool, en is weer as klasleier en leerlingraadslid verkies. Toe hy egter raaksien dat 'n vriendjie van hom bitter graag op die leerlingraad wou wees, het Christo na die betrokke onderwyser gegaan en aangebied om afstand te doen van die leerlingraadsamp vir die jaar, sodat sy vriend ook 'n geleentheid kan kry om sy leierskapseienskappe uit te leef. Christo is seker dat hy wel later weer die geleentheid sal kry om leier te wees.

Ek glo dat die grondslag vir Christo se "ou siel" te vinde is in sy liefde vir Jesus. Dit is eintlik waaraan 'n mens hom ken. Op die oomblik is hy saam met die volwassenes van sy plaaslike gemeente in Mosambiek op 'n uitreik. Hy behartig die jeugwerk, en stel sommer 'n voorbeeld vir sy jonger boetie, Johann. Johann het al verlede jaar gehelp met die kinderklassies.

Christo is as junior kerkraadslid in die gemeente verkies, en met die voorstelling van die kerkraadslede was hy saam met volwasse ouderlinge en diakens voorgestel. Christo is junior diaken. Hy was die enigste nuwe kerkraadslid wat 'n spreekbeurt gevra het om aan die gemeente te verduidelik dat hy nie daar voor hulle staan vir die status, die eer of iets van die posisie nie, maar dat hy deur die Here geroep is om die gemeente te dien, en dat dit is wat hy wil doen.

Tydens die afgelope Daniël-konferensie waarby hulle gemeente betrokke was, moes hy 'n moeilik keuse maak. Dit was boetie Johann se verjaarsdag, en die gesin sou dit by Buffelspoort gaan vier - vir die hele naweek. Die Donderdag voor die naweek het Christo baie ernstig met sy ouers en boetie gepraat, en gesê dat hy ongelukkig nie die naweek kon saamgaan na Buffelsport toe nie, want hy moet na die konferensie toe gaan. Sy redenasie was dat hy enige dag kan partytjie hou, maar dat geleenthede om te dien en opgelei te word in die belangrike dinge van die lewe, net nou en dan voorkom, en dat hy nie kan bekostig om dit mis te loop nie.

Dit het my laat dink aan 'n ander Seun wat tydens 'n fees wegeraak het, en later aan sy ouers verduidelik het dat hulle moes geweet het dat hy besig moet wees met die dinge van Sy Vader....

Christo Potgieter, ek hou jou dop. Ek wil graag sien watter koers jou lewe gaan inslaan. Ek weet dat dit iets besonders gaan wees. Intussen bid ek dat jy bewaar sal word, en dat jou pad die heeltyd so helder voor jou sal ooplê. Die wêreld het manne soos jy baie nodig. Hou so aan!!!!