Tuesday, July 28, 2009

Hoendertjies

Kyk hoe werk die lewe! Ek kan my geluk en my ore byna nie glo nie. Kort nadat die otter my van my kapokhoendertjies ontneem het, en homself seker pokkelpens gevreet het, kom vriendin Elsabè vra of ons nog hoendertjies soek. Sy het drie kapokkies (nog te jonk om die geslag maklik te bepaal, wat 'n nuwe huis soek. Haar bure kla, en hul honde eet ook graag hoendervleis.

Hier begin ek alweer. Pa se raad is om die slaaphok vir die hoenders op te hang (hoenders kan vlieg en ottergediertes nie). Ek's so dankbaar, en SO-O-O-O opgewonde.

Viva la Boerdery (in die kleinste kleine)!!!!!!

Wednesday, July 22, 2009

Die Lekker-Swaar van die lewe

My oorlede Ouma Ella,die wysste tannie wat ek geken het, het van tiener-blues gesê: "Meidjie, jy dink nou nie so nie, maar dis die lekker-seer van die lewe." Lang jare later het ek eers verstaan wat sy bedoel het.

Wanneer 'n mens die luuksheid het om oor kleinserige sake te kla, soos met die witbrood onder die arm, en steeds sonder moeite aan die lewe kan bly, dan kwalifiseer dit vir Lekker-Seer.

As die bron van jou irritasie 'n ekstra in jou lewe is, en dus nie allernoodsaaklik vir jou voortbestaan nie, dan is dit mos jou eie keuse om dit in jou lewe te hê, dus Lekker-Seer. Die rede waarom die irritasie steeds sit, moet wees dat daar wel voordele of genot ook aan die irritasie verbonde is, of hoe?

Soos my hoenderboerdery. Die mooiste ou goedjies, en 'n heerlike stokperdjie, MAAR daar's 'n wolf in die bos. Of liewer, 'n honger vlei-otter. Die dierasie het nou die laaste twee hoendertjies ook gevang en opgevreet. Ek wens ek kon dit verander, maar otters is ook al skaars, en hulle moet seker ook eet. My hoenders was nou lekker kitskos - maklik om te vang. Maar wag maar, ou Ottertjie, ek gaan weer kapokkies kry, en dan sal die slaaphok otter-proef wees. Jy sal dan voor die geslote hek moet staan en kwyl, of iets anders gaan vang. Die verlies van my hoendertjies is hartseer, maar ek kan nog ongedeerd met my lewe voortgaan - die uitdaging is net om die otter volgende keer te uitoorlê.

Lekker-Seer is wanneer jy nie seker is of die man waarin jy belangstel, ook so oor jou voel nie. Seer-seer is wanneer jou man na jare van getroude lewe nie meer belangstel in huis of gesin nie, en vir 'n egskeiding vra.

So is dit met menige mens en sy werksomstandighede ook die geval. Lang ure, morrige medewerkers, stowwerige kantore, noem maar op. Die klippie in die skoen wat naderhand voel soos die Rots van Gibraltar - vas en onvermydelik. Dikwels is daar net 'n vars manier van kyk nodig om die oplossing nader te bring.

Hoe gemaak met klere wat elke seisoen krimp? Maak nie saak hoe groot die nommer nie, die klere sit knap. Dis ook 'n Lekker-Seer, want jy kan nog nuwe klere koop, jy kan nog sien hoe dit lyk, jy gaan nog êrens heen waar jy wil goed lyk, jy eet nog - alles deel van die lekker. Seer-Seer is wanneer die klere weens siekte, ondervoeding, armoede soos sakke om jou hang, want dis vir iemand anders se lyf gemaak. Seer-seer is wanner die kindertjies se oë so groot soos pierings is, hul wangbene hol en hul magies boep van geen kos, of soms blare en gras eet.

Lekker-Seer is die vaal gevoel die oggend na die lekker onthaal van die vorige aand. Seer-Seer is die gesin wat elke aand in vrees en bewing sit omdat Pa of Ma weer by die kroeg langs huis toe kom, en "in 'n bui" sal wees. Dis seer as die broodgeld, of die dokter se geld ook in die kroeg agtergebly het.

Lekker-Seer is wanneer 'n ma haar tiener moet aanspreek oor haarstyl, kleredrag, tafelmaniere, telefoonetiket. Seer-Seer is wanneer die tiener voor jou sit, maar so onbereikbaar ver is soos die anderkant van die wêreld, want die dwelms beheer hom/haar nou.

Lekker-Seer is om te moet raas as die tiener te laat huis toe kom, of nie laat weet het dat die partytjie langer aangehou het nie. Seer-seer is as jy nie weet waar jou kind is, of hoe om hom/haar in die hande te kry nie.

Lekker-Seer is wanneer jy meer tyd aan jou begroting moet afstaan om al die gaatjies toe te stop. Seer-Seer is wanneer daar niks is om mee of voor te begroot nie.

Die verlies van my hoendertjies, is definitief deel van die Lekker-Seer. Uit en uit lekker gaan dit wees om weer van voor af te begin met nuwe hoendertjies in 'n otterdigte slaaphok.

Tuesday, July 21, 2009

VIR PA

Hierdie blog is gewy aan ouerwordende mense wat diep en ver dink....

My man (Willem)het hierdie brief aan sy broer geskryf en gevra dat dit vir sy pa van amper 93 gelees word na 'n diep gesprek tussen pa en seun tydens ons kuier in Limpopo (sien oudword is nie vir sissies nie).


VIR PA

Pa vra my nou die dag: “Wat gebeur as ons doodgaan?”

Ek sit met my mond vol tande en wonder wat om te sê. Probeer moed in praat vir die laaste skof, want pa is al verby twee en negentig. Kry dit egter nie bevredigend reg nie. Hy sukkel ook om my te hoor en my hart is seer.

By die huis soek ek na antwoorde, maar dit bly my ontwyk.

Vanoggend in die bybelstudie kry ek die antwoord in verskeie samestellings.

In Maleagi 3:16 – 4:3 staan:
“Toe het die mense wat eerbied vir die Here het, onder mekaar geredeneer, en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan.
………………………………..
Hulle sal vir My ‘n kosbare besitting wees die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige.

Ek sal goed wees vir hulle, soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk.
………………………………..
Maar vir julle wat eerbied het vir My Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale. Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers.
………………………………..”

Dit laat my dink aan die verhaal waar die dokter die baie siek oom in sy spreekkamer ondersoek en die oom sê vir hom hom.
Dokter, ek is bang om dood te gaan! Vertel my wat wag aan die anderkant.
Die dokter antwoord sag:
Ek weet nie oom.
Die oom antwoord:
Jy weet nie, en jy noem jouself ‘n christen!
Op daardie oomblik is daar ‘n gekrap aan die deur, Die dokter staan op en maak die deur oop. Sy hond spring teen hom op, baie bly om hom te sien. Hy draai om na die oom toe en sê vir hom:
Het oom my hond gesien? Hy was nog nooit in hierdie vertrek nie en het ook nie geweet wat hierbinne aangaan nie.
Hy het niks geweet behalwe dat ek hier is nie, maar toe die deur oopgaan het hy sonder vrees ingespring.
Oom vra my wat gebeur. Al wat ek weet is dat my Meester daar vir my wag, en dit is genoeg.

Verder lees ek in Efesiërs 2:8-10
“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op himself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.”

Dankie pa dat pa vir my die pad gewys het!

Willem Knoetze
21 Julie 2009

Tuesday, July 7, 2009

Monday, July 6, 2009

SLAG IN DIE KAROO

Winter is tradisioneel slagtyd. Vleis moet dan bewerk en verwerk word sodat dit vir 'n redelike tyd bruikbaar sal wees.

Na etlike jare van stadslewe het ons weer verlede week op die ou manier vleis bewerk. Die hele familie, Oupa en Ouma, Ooms en Tantes, en die kinders wie kon, het kom saamkuier en saamwerk.

Die weer was reg - yskoud, met sneeu op die berge naby Graaff Reinet. Die karkasse het lekker koud geword. Langverlang se tyd het dit laas so gelyk - 2 beeste, 1 vark, 1 skaap, 19 springbokke aan die hake. Die slagkamer en inloopyskas moes ingewy word. Wat 'n lekkerte.

Die proses om die karkasse tot huisvrou-vriendelike snitte, maalvleis, wors, biltong en droë wors om te tower, het die hele week geneem.

Die jagters moes ook handjie bysit. Stefan (16) en Philip (12) het vir 11 springbokke gesorg. Philip moes ook sy inisiering deurgaan, en moes sy eerste springbok se "peertjies" rou eet. Hy kon dit nou wel nie binne hou nie, maar die gebaar is gemaak. Mooi so, Phil!

So tussen die werkery deur is daar lekker gekuier. Dis mos 'n ander soort van besig wees as die waaraan ons gewoond geraak het. Die gedagtes kan maar gaan, en spitsvondighede en onthou-staaltjies word heerlik uitgeruil sonder dat die werk skade ly. So was dit eers, en die nostalgie het nie agtergebly nie. Hoewel ons toerusting baie meer modern en gevorderd is, was die samesyn en die rustigheid waarmee gewerk is, tog vir ons almal 'n lafenis.

Dit is wel 'n groot proses om skaapderms skoon te spoel en gereed te kry vir die worsstoppers, maar selfs met seer rûe en gevriesde vingers is dit steeds waar: 'n Verandering is so goed soos 'n vakansie.

Die skaapafval het ook 'n groot uitdaging gebied. Die jonger kinders weet nie meer van die proses om daardie een kooksel gereed vir die pot te kry nie. Die kuns van afval skoonmaak is aan die uitsterf. Mens kan ook nie afval sommer by enige een eet nie. Nee, daar moet doodseker gemaak word dat die oorsprong van die afval darem bo verdenking is. Die graad van witheid van die afval voordat die kerrie bygevoeg is, is ook van die uiterste belang. Een hele dag het dit my en my ma besig gehou. Die pense moes skoon, die kop en pote moes onthaar word, en tussen die kloutjies moet al die kliere en wat nog weggesny word. Vir die krappery het ons Minora-lemmetjies by een van die skaapwagters oorgekoop - nog toe in die pakkie. Ek wonder of hy daarmee skeer, en of hy geweet het hy kan daarmee handel dryf.

Ek het nie 'n enkele vingernael oor nie, maar dit maak glad nie saak nie. Almal loop met kwesplekke waar die mes skerper was as wat ons gedink het, en die vel geraps het. Hegpleister is kwistig gebruik, want ons wil nie graag mensbloed in die vleis hê nie. Asyn en sout in so 'n snyplek laat mens ook lekker les opsê.
Saans is daar 'n drankie voor die kaggel geniet terwyl die lewe stadig maar seker weer terugvloei in die yskoue ledemate. Daardie behaaglikheid kan nie beskryf word nie. Ons 3 skoonsusters het beurtgemaak met die kos se voorbereiding. Ons het heerlik gesmul, en gekuier totdat dit tyd was om die kragopwekker af te skakel, en dit dan amptelik en in die ware sin van die woord, "ligte uit" was.

Die kinders wat nie verlof kon kry om die slagweek mee te maak nie, het voorwaar 'n ervaring duisend misgeloop. Die niggietjies wat gedink het dis "boring" om met vleis te werk, is aan die einde van die week armer, en kan nie saamgesels as hierdie herinneringe deur die res van die jaar herkou word nie. Maar miskien volgende jaar....