Thursday, December 22, 2016

Ydelheid en die waarheid

Ons goeie vriend,  dieselfde gesiene man wie ek vroeë beskinder het, vier sy sewentigste verjaarsdag. Sy vrou en dogters het 'n verrassingspartytjie vir hom gereël.

Omdat die affêre so in die geheim gereël word, is ons nie seker presies wat om te wagte te wees nie.  Die geselligheid begin om half drie die middag, 'n geskikte tyd vir "oumens koek en tee."  Die verwarring ontstaan egter toe Manlief gevra word om die tafelgebed te doen. Nou dink ons die gekuier kan dalk tot laataand aanhou.

Ek weier om soos Stomme Siek Sinatjie te lyk, en doen baie moeite met my uitrusting en so.
Tot ek besef ek is eintlik aan die verkeerde kant van sestig.

Dit het begin by die rok. Ek het 'n baie mooi lang rok gaan koop vir die okkasie.  Die rok is egter mouloos.  Nogals outydse "in cut sleevs" . Manlief sê egter dit lyk bietjie snaaks (overgezet synde lelik) hier by die bo-arms rond.  Voor die spieël moet ek saamstem.  Ek het van daardie vriendelike, flappende bo-arms. As ons gaste gehad het wat weer huiswaarts keer, en ek hulle groet, wuif die flappe steeds wanneer die gaste al honderd kilometer ver gery het. Hartlik.

Nadat kanker my van veertig kilogram gewig verlos het, het ek nou omtrent veertig myl se plooie bygekry. 'n Klomp hiervan het kom nesmaak in my skouer en bo-arm areas. Die res is nie gespaar nie, maar word net goed bedek.

'n Plan is 'n boerdery. Ek het so 'n gehekelde baadjietjie wat ek bo-oor kan aantrek. En ek voel heel tevrede met myself. Die ergste plooie en flappe is nou heel kuis weggesteek, en die baadjie is ook nie te warm of te deftig nie. Ook nie te koekerig nie (hoop ek).

In die proses om grimering aan te wend, sukkel ek om die gesigpoeier oop te kry, en breek 'n nael. Soos in eina-onooglik kort. Nog 'n dilemma staan voor my.  Met my bril op, kan ek nie die grimering aanwend nie; sonder die bril kan ek nie sien wat ek doen nie.

Die groter probleem is dat dit baie sleg lyk. Ek het my naels Krismisrooi laat verf, en nou is die geskeurde stuk baie lelik. Die salon is vol bespreek, en hulle kan nie gou genoeg help nie.  Daar is in elk geval nie meer genoeg tyd nie.

Toe val dit my by dat dit mos deesdae mode is om 'n mens se naels verskillende kleure te verf.  Ek verwyder die bietjie krismisrooi wat oor is, en verf die oorblywende stukkie nael helder pienk. Net die een nael - daar's nie genoeg tyd vir die ander nege ook nie. Die helder pienk is  die enigste botteltjie wat nog nie dik en taai geword het nie.  My oë sukkel bietjie met hierdie voorkoms, en ek besluit om "glitter" bo-oor te verf dat dit minder opsigtelik kan wees. (Haha)

Ongelukkig moet ek my pruik ook opsit. Die kaalkop waarheid het bak ore, en ek wil dit liewer probeer kamoefleer. Die nuut geverfde nael,smeer af in die gesukkel met die pruik. Ek het darem naellakverwyderaar, en maak die nael weer skoon.  Ongelukkig kom Arthur Ritis toe ook weer uit sy kassie, en ek gooi die botteltjie naellakverwyderaar om.  Op my mooi rok. Arthur Ritis en Haastige Hansie is nie 'n goeie kombinasie nie.

Nou maar weer van voor af aan sukkel met die naelverwery. Ek hoop ons vriende se oë is nie meer goed genoeg om die kol op my rok raak te sien nie.  Manlief kan dit in elk geval nie sien nie.  Toe ek hom uitdaag om die kol te soek, wys hy 'n blomblaar in die motief uit. Ek voel tevrede met daai deel van die storie.

Nog net sitskoene aantrek en ek is reg.  'n Mens kan seker nie Crocs by die rok dra nie. Hoewel ek op 'n stadium oorweeg het om maar weer een van my getroue langbroeke en 'n bloes aan te trek, voel ek heel te waaghalsig daarvoor, en die rok bly aan.  Om dit uit te trek, moet ek in elke geval weer Manlief se hulp inroep met die knopies en ritssluiter agter. Ek en Arthur Ritis kan nie alles bykom nie.

Die oumenspartytjie slaan toe ons asems skoon weg.  Geen koek en tee nie. Pragtige jong kelners dra vir ons die een mini-gereggie na die ander aan. Sewe gange, dink ek. Alles is pikant, fyn en pragtig. Die ouens wie se smaakkliere nog werk sê dis baie lekker. Ek glo hulle, want alles lyk regtig van Masterchef gehalte.

Om oud te word het wel uitdagings, maar watwo, as mens eers daar gekom het, skrik die ou klein(erige) goedjies jou nie af nie.

Kom 70, ek wag vir jou.