Thursday, April 30, 2009

Die Rondte van Vader Cloete

Ons Boertjies kry stillegriep as ons die familie te lank nie sien nie. Bloed is mos dikker as water, en kruip waar dit nie kan loop nie.

Ek, Pa en Ma sit toe na vele lange bespreking en ernstige oorweging hier af (op?) Noorde toe. Pa en Ma is baie bang om as twee bejaardes alleen die lang pad te vat, en Pa het die plan gekry om 'n pruik, dreadlocks met kraletjies in, en 'n karos te dra vir die rit. Ma lag net saam, en wonder wie sal glo dat sy saam met 'n sangoma sal ry. Ek ry saam omdat ek graag weer die mense sal wil sien, en nie op hierdie "avontuur" wil uitmis nie.

By Marika se salon, het Pa toe 'n pruik opgepas. Nou wel nie dreadlocks nie, maar so 'n mooi donker bob met ligte punte. Ons het behoorlik gelê van die lag, en besluit om die gevaar en die pad maar so kaalkop te trotseer.

Eerste stop: Delareyville. Eerste probleem: Kimberley. Ons soek na die afdraaipad om weer uit Kimberley te kom. Om in te kom, is maklik, soos internet. Die padpredikante wys almal hul letters na die Johannesburg kant toe. Mens moet seker daaruit aflei dat ons van die Suide af, nie so graag wil weet waar Johannesburg sit as wat die geval andersom is nie.

Elk geval, ons arriveer toe darem op die plaas, maar heelwat later as wat ons wou. Op Strydenburg het Pa ietsie geëet wat nie so lekker sit op sy maag nie, maar ons gaat voort.

Die nuwe plaas wat Cor aangeskaf het nadat die ou familieplaas ge-eis is, is sommer 'n plek met baie potensiaal. Nefie Ignus het ook al die kwaliteite van 'n vooruitstrewende boer, en sal dit nog ver bring as hy so aanhou. Sy sussie, Cornel, is net so 'n raakvatter. Vir Marien het ons nie gesien nie, want sy's nou getroud, en woon en hou skool op Welkom.

Ons kuier en eet asof dit die laaste kans is wat ons daarvoor sal kry. Dis so lekker om so welkom te voel! Die kuier loop glad en maklik, want ons is mos ou bekendes al sien ons mekaar selde.

Die twee weduwees, Tannie Nelie en Elsje woon ook op die plaas. Tannie Nelie saam met Ignus in die plaasopstal, en Elsje en haar seun Kobus in die tweede ou kliphuis. Baie mooi reggemaak. Mense, so 'n lot kan gesels! En kosmaak! Ons gaan slaap elke aand teen middernag.

Die omgewing het baie reën gehad. Die meeste sedert 1974, sê die mense. Die veld is pragtig, en grasse staan draadhoogte. Die beeste kan nie voorkom met die weiery nie. Alles is groen en die boerebloed bruis in ons are.

Toe ons verder moet ry, moet daar eers foto's geneem word. Omdat ons almal op die foto wil wees, word Gladys, die huishulp nadergehark om die knoppie te druk. Na haar opdrag van GAAP, lag ons so, dat almal skrefiesoë het. Die foto is op elkeen se kamera vasgelê. Reg vir die nageslagte.

Volgende stop: Randfontein, by Ma se enigste eie suster, Tannie Bettie. Sy het ook verhuis en weduwee geword sedert ek laas by haar gekuier het.

Sy sit met 'n gipsvoet in 'n rolstoel, en dis duidelik dat sy nog nie haar bestuurslisensie vir die gevaarte het nie. Die arme voet bly kort-kort in die slag. Nig Joame kom ons innerlike versterk, en ons kuier of ons sopas van die dorslandtrek af kom. Isak en Klein Isak gesels saam. Ons wonder oor die verkiesing, en oor die toekoms, die rugby, krieket, sokker en 2010. Ons drie is maar skepties oor die ekstra verkeer op die paaie.

Kyk, so sonder pruike en ander vermommings het ons dit wel gemaak, maar die bestuursvernuf van veral die taxibestuurders het ons hare by vele geleenthede laat rys. Pa se kar is hoeka van die senuweeagtige soort wat aan die skree gaan as 'n voorwerp of voertuig te naby aan hom kom. Eerste skree was in Kimberley (taxi-bussie) en later meer gereeld. Hoe digter die area se bevolking, hoe senuweeagtiger raak die kar.

Ek het die voorreg om saam met Tannie Bettie in die kamer (op dieselfde bed) te slaap. Ek was net nie daarop voorbereid dat sy meer as die helfte van ons slaaptyd gaan gesels, en vir die res redelik luidrugtig slaap nie. Ek lê uil-oog en wag vir die oggend.

Net na ontbyt is ons weer weg - Vanderbijlpark toe. Ma se half-suster Sara woon daar, en is 'n kankerlyer. Sy is baie bly om ons te sien, en baie hartseer. Haar emosionele toestand is nog baie broos. Doris, wat na haar omsien, kan die trane ook nie terughou as sy na die haarlose kop van haar vriendin kyk nie. Ons probeer moed inpraat en skerts, en die atmosfeer word geleidelik bietjie ligter. Sarie kry egter swaar - dit kan mens sien.

Ek besluit om toe te sien dat Sarie by 'n ondersteuningsgroep uitkom, en ook meer inligting oor haar siekte kry, sodat sy kan terugbaklei. Ek glo mens moet eers emosioneel wen, en dan kan jy lekker terugbaklei en nog wen ook!

Volgende stasie is Cor en Sandra, eienaars van die Delareyville plaas, se slaapplek. Totdat Cor aftree, woon hy en Sandra in Elsje se meenthuis in Vanderbijlpark. Ek dink dis 'n baie unieke situasie waar die familie elkeen in die ander se eiendom woon. Genadiglik kom hulle oor die weg!

Hier kuier ons weer tot vroegdag. Ons drie reisigers is nou al redelik suf, maar wat uithou en wakkerbly, is ons. Weer eens kry ek 'n slaapmaat. Cornel deel my bed. Ons lag en giggel totdat Juffrou Sandra ons kom stilmaak, en toe lag ons so dat sy maar saamlag.

Die oggend toe ons moet omdraai, voel Pa olik. Hy's sommer bleek en uitgewas. Toe kom dit uit dat hy die laaste paar dae redelik baie bloed verloor het as gevolg van 'n bloeiende maag. Ons besluit om sommer reguit hospitaal toe te ry - in Mosselbaai. Op die manier kom ons nie by neef Gert en Anien en hulle kinders uit nie. Ons is darem gerus dat dit met hulle redelik goed gaan.

Halfpad op pad terug, verander ons van plan, en gaan slaap by broer Gert oor op Graaff Reinet. Ook maar goed, want ons is moeg, en die pad word nogals lank. Die padwerke en groot hoeveelhede vragmotors op die pad laat ons terugverlang na die dae van goederetreine en passasiersmotors. Nou wemel dit van goederevragmotors en taxi-bussies. Die paaie ontgeld dit, en die herstelwerk is moeilik.

Pa se bloeiery hou nie op nie, en ons mik weer vir die hospitaal. Ma maak 'n afspraak by die huisdokter in Da Nova, en ons is op koers.

Na 'n blaaskans in die hospitaal, is alles darem nou weer normaal. Pa voel beter, Ma het uitgepak en reggepak en amper begin rus. Hulle is nou weer op pad terug Graaff Reinet toe, want daar is gemsbokke gekoop wat nou afgelewer sal word. Rustelose mense! Maar dis my mense en my bloed!

Aan al die ver familie - kom kuier liewer by ons. Ons taxi's onthou nog dat daar eens op 'n tyd padreëls was, ons weer is genadiger, ons lug is skoner en die see roep ons elkers weer terug. Die padpredikante wys ook almal die rigting na ons kant toe aan. Julle hoef nie in die truspieëltjie te probeer lees wat op die agterkant van die bord geskryf staan nie.

Gaat julle wel, tot volgende keer.