Wednesday, January 21, 2015

Die Hond-gevoel van 'n Alzheimer-kind

Die Hond-gevoel

Wanneer is dit die regte tyd om ‘n geliefde wat aan Alzheimer se siekte ly, na ‘n plek van versorging te stuur?

Hierdie vraag word so dikwels gevra, en tog is daar geen duidelike antwoord nie. In ons geval (letterlik en figuurlik) het die besluit homself geneem.

My ma ly aan Alzheimer se siekte, en ons het in dieselfde huis gebly. Ma was relatief gemaklik om te versorg en omdat sy stillerig van geaardheid is, was sy nooit vir ons ‘n verleentheid nie. 

Toe die fisieke aftakeling egter begin, het dit ‘n perd van ‘n ander kleur geword. 

Skielik kom Ma nie meer winkels toe gaan nie, want sy kan nie so ver loop nie.  Sy weier om gemaklike skoene aan te trek, want dan lyk haar voete so groot en so lank.  ‘n Loopapparaat het in die huis gehelp, maar sy wou om die dood nie strate toe met die karretjie nie – en kerk toe: glad nie. Die menses al vir haar lag, was haar verweer. 

Op ‘n keer het sy wel ingestem om met die karretjie dorp toe te gaan, maar toe wou sy opsluit hakskoene aantrek.  Selfs ék het gedink die mense gaan vir ons lag. Op die ou end is ons toe darem dorp toe met gemaklike skoene en die karretjie.  Haar Rolls Royce is van dié soort met ‘n sitplekkie ook.  So, sy kon plek-plek gaan sit as die bene te lam word.  Ongelukkig is die Rolls Royce nou nie so ‘n goeie plaasvervanger vir ‘n  rolstoel nie, want as Ma gestoot wil word, moet sy haar voete in die lug hou.  Dít is glad nie so gemaklik as mens reeds ‘n lamheid in die bene het nie.

Hierdie goedjies kon ons almal nog soort van hanteer.

Min het ons geweet wat  voorlê. Op ‘n dag val Ma van die rusbank af waar sy gelê het. Sommer net so, val sy af.  Ek en die huishulp kan haar nie optel nie, want dis nou dooie gewig wat daar lê. Ma is met kussings en wat nog gemaklik gemaak, en moes toe maar daar lê totdat Manlief huis toe kom. Ons het gedink dis ‘n geïsolerde geval, maar ons was verkeerd. Die nuwe patroon was dat Ma val.

Ma val in die hysbak (trappe is lankal nie meer ‘n moontlikheid nie), Ma val in die badkamer. Ma val van die toilet af. Ma val van die bed af. Ma val later tot drie keer op een dag.  Ons probeer keer, maar dis nie altyd moontlik nie,  selfs al is ek aan haar sy.  As die val kom, dan kom hy. ‘n Wildvreemde man wat saam met familie hier aankom is darem een keer in die gelukkige posisie om te sien Ma gaan val, en haar betyds te vang.

Ma is later vol blou kolle en pyne. Op ‘n wonderbaarlike manier het sy nog niks gebreek nie.  Ek bedoel nou soos ‘n heup, of ‘n been, of ‘n rib of so iets. Ma is so broos, dit breek my hart.

Op Nuwejaarsdag net na ete, is ek besig om die vuil skottelgoed kombuis toe te dra toe ek ‘n slag en ‘n gil agter my hoor.  Ek is omtrent drie treë van Ma af, maar dis drie treë te ver en drie leeftye  te laat, voel dit vir my.

Nadat ons Ma opgehelp en tot op ‘n gemakstoel gekry het, kla sy dat sy seerkry as sy diep asemhaal.  Ek is bang dat Ma nou ‘n rib gekraak of gebreek het.  Sy het baie hard geval.  Sy was die een oomblik nog besig om die plekmatjies aan tafel bymekaar te maak, en die volgende oomblik lê daar twee stoele omgeval, en Ma se kop het die teetrollie weggestamp.  Alles op die harde teëlvloer van die eetkamer.

Ons neem Ma hospitaal toe.  Daar is niks gebreek nie,  maar ai, dit voel so sleg om haar so in pyn te sien lê.  Die ergste is eintlik dat sy nie mooi weet hoekom sy in die hospitaal is nie.  Ma ken hospitale, en sy het al baie tyd daar deurgebring met haar hartprobleme. Sy is verward.  Elke keer as ons vra hoe dit gaan, sê sy dit gaan baie beter, dankie. 

Sy stel ons voor aan haar suster, wat van Gauteng af hier kom vakansie hou het, en met hartversaking in dieselfde hospitaal beland het, so drie dae voor Ma se opname.  Ma weet egter nie wie die vrou in die rolstoel by haar bed (kotkante op) sit nie.  Sy vertel dat sy die vrou hier anderkant by ‘n huis ontmoet het.  Dis nou nie ons huis nie, maar ‘n ander huis.  Toe kom hulle somer saam-saam hospitaal toe. Die hele geskiedenis van hoe haar suster kom kuier het, en díe se moeite om tot hier te kom, al die huisgaste, die kuiery, en die susters se woordelose samesyn is weg. Dis ‘n vreemde vrou wat nou hier saam met haar in die hospital sit. Selfs Tannie Bettie is sprakeloos, en dít wil gedoen word.

Ek en my broers besef dat dit nie so kan aangaan nie.  Met Ma vir nou veilig in die hospitaal, begin ons in alle erns na ‘n oplossing soek. 

Daar was voorheen tuisversorgers, nog deur oorlede Pa gereël, maar dit het nie so goed uitgewerk nie.  As Ma die versorger in die huis laat bly, voel dit vir haar die vrou is haar gas, en wil sy die heeltyd onthaal. Sy kan dit nie meer doen nie, en dan voel sy  sleg.  As die vrou toegelaat word om haar te help, is sy oor dieselfde kam geskeer as ‘n huishulp, en dan mag sy nie in die huis slaap, bad of aan tafel eet nie. Ma kom uit die apartheids-era, en niks sal daardie diepgewortelde manier van doen verander nie.

Dan is daar nog die paranoia.  Ma sluit gedurig alles.  Almal is potensiële diewe en aanranders, moordenaars of verkragters.  Ons koerante en nuusberigte is hier van geen hulp nie.  Dit versterk Ma net se wantroue.

Terwyl ek nog koorsig soek na oplossings en assesserings en onderhoude probeer reël (meeste mense is nog met vakansie) bespreek my twee broers die saak daar eenkant in die karoo.  Hulle begin neig na die siekeboeg-gedagte. Ons kom telefonies ooreen om laasgenoemde deegliker te ondersoek.

Ek is betrokke by ACVV Huis Elsjé, ‘n tehuis vir die versorging van Alzheimer-lyers.  My Pa het die gebou opgerig en toe aan die ACVV geskenk.  Die tehuis is na my oorlede sussie, Elsjé, vernoem. Dalk sal Ma tuis voel.

So gebeur dit toe dat ek Ma op die dag van haar ontslag uit die hospitaal, sommer reguit na Huis Elsjé neem.  (Manlief se gemoed laat hom in die steek, en hy volg ons ongesiens vanaf die hospitaal tot by Huis Elsjé. Ek en Ma dink ons is alleen)  Sy word opgeneem in die tweede laaste beskikbare bed. Ek het darem vooraf tyd gehad om te reël dat die bestuurder van Huis Elsjé, Mnr Gert Meiring, Ma in die hospitaal besoek om homself te vergewis dat Ma regtig gereed is vir Huis Elsjé. Ek het ook  haar (gemerkte)klere, toiletware, ‘n paar portrette en so aan in haar kamer te gaan sit sodat sy nie so vreemd sal voel nie.

Ma is ewe gedwee toe ek aan haar verduidelik dat ek nie meer mooi genoeg na haar kan kyk nie, en dat hier ‘n span mense is wat kan help keer dat sy nie weer seerkry nie. Sy aanvaar dit, maar wil sedertdien elke keer as ek daar kom, weet wanneer sy dan kan huis toe kom. 

Ek moet myself dan daaraan herinner dat Ma die laaste tyd ook nie meer tuis gevoel het by die huis nie.  Voor Kersfees het sy vir ‘n volle twee weke lank elke dag twee tasse gepak het, want, het sy geredeneer, ons het tog met ‘n kar hierheen gekom, en ons sal dan seker weer met ‘n kar huis toe gaan.  Ek het aangeneem sy verwys na die huis waar sy grootgeword het. Sy het my tot vervelens toe gevra of my pa ooit in hierdie huis was, of hy die snaakse huis gesien het.  As ek dan vir haar sê dat hulle vir tien jaar hier gewoon het voor Pa se dood, was sy kwaad omdat ek dan nie weet  wat sy bedoel nie.  Sy het nie aanvaar dat Pa oorlede is nie. Sy het egter die gordyne herken.

Ek verduidelik elke keer weer dat dit nie veilig is by die huis nie.  ‘n Vriendin het al vir haar gaan kuier, en broer Gert en sy gesin was ook al hier vir ‘n besoek, maar Ma onthou dit nie.

Ek wéét dat Ma hier die allerbeste behandeling kry wat moontlik is.  Daar is genoeg versorgers, etes word dieetkundig uitgewerk en voorberei, medies word sy soos porselein opgepas, en daar is ook aktiwiteitskoördineerders wat  met groot kreatiwiteit en ywer sorg dat verveling, die groot vyand, nêrens vastrapplek kry nie.


Hoekom voel ek dan soos ‘n hond? Hierdie ding wat ons skuldgevoelens noem, het geen logiese faset nie. Dis ‘n onding.  Maar hy sit.  Hy maak nes in jou lewe met die doel om te bly.  Niemand kan jou van hom verlos nie. Miskien sal Tyd die ding doen?  Intussen loop ek maar met die geveg in my binneste: Ma se versorging versus my gevoel van verlies en onbevoegdheid. Maar Ma se versorging  en welsyn moet altyd wen.