Sunday, April 19, 2015

Djammer hom die pond

Ek hou so nou en dan nabetragting oor alles wat is, en oor wat eintlik moes wees.  My hart is seer as ek sien hoe welsynsorganisasies sukkel om hul dienste voort te sit en die ouens wat hulp nodig het, te help.  Staatsubsidies kom net nie by nie, en vrywilligers om onder andere fondse in te samel is nog skaarser as hoendertande.

Die ou storietjie wat my pa my kleintyd vertel het, kom toe weer by my op.

In die jare na die Tweede Wêreldoorlog, het die mense baie swaar gekry - soos nou weer.  Die oorsake was net anders, maar dis 'n ander dag se storie.

My oupa was geseënd met 'n goeie sakebrien, en kon redelik maklik oor die weg kom.  Na die Anglo-Boere-oorlog het hy byvoorbeeld vir voornemende delwers in die destydse Wes-Transvaal kleims afgehardloop, want anders as ek, was hy nogals 'n atleet.  Hy kon Engels verstaan ook - in daardie jare het dit hom laat uitstyg bo Jan en Alleman.  So kon Oupa vir mense wat dit moeiliker gevind het om liggaan en siel aanmekaar te hou, op 'n manier help om ten minste 'n dak oor hulle koppe te kry.  Destyds is hulle bywoners genoem, en het hulle ook plaaswerkies vir die boer gedoen totdat hulle 'n eie boerderytjie op die been kon bring.

Soos in die meeste boeregemeenskappe van daardie tyd, was daar 'n Jood of 'n Indiër wat die winkel gehad het.  Hier is ruilhandel gedoen: Tant Sannie bring eiers en botter in, en kan dan koffie en suiker daarmee "koop", en so aan.

Baie mense het ook "op die boekie" gekoop.  Hierdie skulde is dan na 'n oes of ander meevaller terugbetaal, en soms afgeskryf.

So kom dit toe dat 'n bywoner-oom van 'n buurplaas, te sterwe kom, en die boekie is vol, en daar is ook nie genoeg eiers of ander produkte  om te ruil vir die begrafnisklere nie. Die tannie en 'n klompie kinders moes "respektabelik" gemaak word vir die begrafnis - in swart.  So staan die tannie voor die swart material en rondtrap, want daar is geen manier waarop sy daarvan kan koop om die rouklere te maak nie.

Die een na die ander boer wat al beter daaraan toe is, kom maak ook hul draaie by die winkel.  Eg soos ons mense is, verwyl elkeen 'n tydjie by die nuwe weduwee en simpatiseer met betraande oë. Maar dis waarby dit bly - tot groot ontsteltenis van Amod, die winkeleienaar.

Op 'n stadium het sy bloed gekook, en maak hy sy geldlaai oop, haal 'n pond daaruit en gee dit vir die tante.  'n Pond was baie werd in daardie jare, en die tannie kon dit goed gebruik.  Terwyl hy die geld vir haar gee, sê hy toe sommer vir die omstanders: "Djammer, djammer! Djammer hom die pond, man"

Vir my voel dit dat ons weer daar is.  Almal is jammer, almal betreuer die omstandighede, almal treur saam, maar bitter min steek hande uit die moue en doen iets daaraan. As ons nie 'n os gekoop of 'n vrou getrou het wat ons aandag en tyd nodig het nie, het ons 'n ander rede wat ons van ons naastediens af weghou. Moet ons weer wag dat 'n "volksvreemde" die boodskap bring? Wat sou Jesus doen?