Saturday, April 7, 2012

Gesinsgeweld

Daar het 'n verskriklike ding in ons gemeenskap gebeur wat my weer eens onder die indruk gebring het van die groot gevaar wat gesinsgeweld inhou.  Dis so 'n onnodige verskynsel - ek bedoel daar is hulp om elke hoek en draai, mense!  Praat, kry hulp, red lewens.  En dwelms,  ai tog, ek wens ons kon dit net wegwens.


Ballade van ‘n ma

Dit was ‘n gewone dag

Met sonskyn, werk en lag.

Toe kom jy in -

Jy raas en skel;

Jy stamp en stoot.

Die kinders huil

En ek voel vuil.



Daar is ‘n pikswart wolk

Wat om jou wese kolk:

Kinderkoppie teen die muur;

Name gegraveer in hartjies klein;

en ek wat nog wil keer,

word summier grond toe gestuur



Ek kan nie meer;

Ek wil nie meer.

Ek sal nie meer

Kom ek om, dan kom ek om,

Maar vir jou sal ek keer.



Dit is ‘n gewone aand

Soos elke einde van die maand.

Daar’s een verskil –

Jy lê daar stil….

Ek moet hier uit

Jou woede is gestuit.



In die lig van die maan

Drup die bloed soos ‘n traan

Die mes was skerp

Die lem was glad

Nou moet ek praat

Dat die mense kan verstaan.



Ek kon nie meer;

Ek wou nie meer.

My  straf lê voor –

Die tyd sal leer

Maar die kinders se seer

Het ek vir altyd gekeer.





Te laat

Dit was ‘n Saterdagaand

Soos elke einde van die maand

‘n Bietjie tik, ‘n bottel dop….

‘n Man soek nou vrede

En ‘n lêplek vir sy kop



By die huis, net ‘n kille ontvangs

En eise, vrae, nood

Geen lêplek sag, geen kinderlag

Net maar ‘n geneul, gekerm en verwyt

Ewige stryd om brood



Tik en dop leer soek net vergelding:

Hier’s  te veel monde, te min geld,

geen rustigheid om te peins oor my wonde.

Maak  stil daai lawaai - selfs met geweld

‘n Man moet mos sy gesag laat geld



Alles vaag

Alles rooi

Te veel gekerm, te min respek

Wat hier makeer is die roede

Om uiting te gee aan die woede



Ek sien die mes, ek skrik vir jou oë

Die brandpyn van die lem  in my bors

Wat gaan aan? dit kan nie wees

Vreemde jy  buig oor my met bebloede mes

Dis bo my begripsvermoeë



Ek’s dan lief vir jou

Vir jóú’t ek als gelos –

My huis, my kinders, en my vrou…

Jou oë brand in my siel

Wie kon dit voorsien?



Alles vaag,

Alles dof,

Te vroeg my laaste skof.

Net een gedagte –

Dit is te laat.