Friday, February 27, 2015

Nasionale Melktertdag

Nasionale Melktertdag

Vandag is dit Nasionale Melktertdag.  Ja, dis reg: Nasionale Melktertdag.

Ek glo ons is die enigste land ter wêreld wat ‘n tert so vereer. Dit kan mos net ‘n land met ‘n baie ernstige siening van die lekker dinge in die lewe wees wat aan iets soos ‘n dag vir die Melktert kan dink; of aan ‘n Nasionale Braaidag met al sy variasies.

Ons is ernstig oor die dinge wat by ons lippe verbyglip binnetoe.  (Soms sou dit beter swwe as ons so waak oor di twat deur die lippe uitgaan)  Kyk maar net na al die kosprogramme.  Dis Masterchef, Kêrels wat kook, Come dine with me, South Africa (en ander plekke), Kokkedoor, noem maar op.  DieTV-base sal nie met hierdie programme aanhou as die kykerstal nie groot genoeg is nie.

Ek vind geen fout daarmee nie.  Ons is immers geskape met die vermoë om te kan PROE.  Ons het hier plaaslik selfs ‘n fees ter ere van eetgoed: Die PROE Mosselbaai fees. Wys jou net.

Vele kerke, skole en  welsynsorganisasies is ook op hierdie manier pannekoek vir pannekoek, koesister vir koesister gebou. Eetgoed lê ons voorwaar na aan die hart.  Ons liefde vir lekker eet hou ook ‘n klomp mediese praktisyns aan die werk en aan die lewe. Om van die farmaseutiese maatskappye nie te praat nie.

Van babatyd af word ons getroos, beloon, kalmeer met ietsie lekkers in die mond.  Ooms bly selfs wakker in die kerk met klein pienk lekkertjies. “Ouderlingspilletjies”het ons dit destyds genoem. Ek wonder of mens steeds ouderlingspilletjies kry.

Ek dwaal af.  Die enigste ooreenkoms tussen ouderlingspilletjies en melktert, is dat Kenani (ACVV Mosselbaai) se melktert vandag pienk is.  Pienk omdat ons ook graag ‘n bydrae tot die bewusmaking van borskanker wil maak.

Dit bring my by ‘n ander eienskap van ons geliefde volkie.  Ons versuip die swaarkry behoorlik met lekkerkry – gee ons net ‘n halwe kans. As ons dit nie op ‘n sosiale manier kan saamdoen nie, maak ons grappe oor die ellende in en om ons.

So is daar meer as genoeg “donker” grappe wat ons help oorleef met  Eskom se beurtkrag.

Selfs oor siektes word daar grappe uitgedink.

Ons rasse-ding wat maar net nie wil gaan lê nie, kry dieselfde behandeling. Hier werk dit net nie, want dit is asof hierdie kwessie net al hoe nader aan die nerf en al hoe kwesbaarder word.  Ek kan nie verstaan waarom dit nou juis so ‘n sensitiewe saak moet wees nie.  Ons is tog almal op die een of ander manier anders as almal om ons – selfs ons naaste familielede toon die een of ander eienskap wat eie aan hom/haar is, maar ons hou almal van eet.

Daar is ook grappe oor vloede, aardbewings, verspoelings, verloorwedstryde, politieke leiers en politieke “wanna-be’s”. Ouderdom en verwante probleme loop ook onder die gelykmaker, die grap, deur.
Nadat die Rhodesiërs lank lank gelede, voor Zimbabwe, na ons land uitgewyk het, is hulle “when-we’s” genoem omdat hulle so teruggehunker het na hul land van melk en heuning. ‘n Tipiese voorbeeld sou wees dat so ‘n inkommer sou sê: “When we were in Rhodesia ……”

Terug by melktert.  Melktert het saam met die slawe uit Maleisië van destyds voet aan wal gesit. Ons het dit as volksbesit totaal oorgeneem.

Selfs in melktert is daar variasies.  Jy kry die melktert waarvan die kors eers gebak word, en die vulsel dan in die gebakte kors geskep word. (Skoonma se resep).  Dan is daar diegene wat die kors en die vulsel saam bak. My ma se resep is so, want dan word die eierwit ook gaar.  Nog ‘n variasie is waar die kors met beskuitjies en botter gemaak word. En dan vir die kitsresep der kitsresepte: die een waar die kors met beskuitjies en botter gemaak word, en die vulsel hoofsaaklik kondensmelk bevat.  Amper vergeet ek: my skoonsus se melktert kry bietjie klapper ook in. En daar is nog die korslose melktert ook.  Almal is melktert, almal is lekker, almal maak vet, almal kry kaneel oor, en almal word vandag vereer.


Geniet teetyd met ‘n lekker stuk melktert – sommer net om die lewe en die dag te vier.  Overgezet synde: Viva, Melktert! Melktert, Viva!

Thursday, February 26, 2015

Marietjie Knoetze: Bright Spark

Marietjie Knoetze: Bright Spark

Bright Spark

Bright Spark

Die jaar 2015 begin toe mos toet-en-taal anders as wat ek verwag het. 

Om mee te begin werk my en Nig Elsabé se plannetjie om ons ma’s te verras met ‘n wonderlike kuiergeleentheid toe nie so goed uit nie.  Ek bedoel, alles wat mens kon reël, is gereël, en in daardie opsig was dit ‘n sukses.  Die uitdaging lê toe by die twee sussies self.

Met die eerste kuierslag, by ons huis, was hulle bly om mekaar te sien.  Hulle het uitgevra na mekaar se welstand, en toe is die gesprek verby.  Tannie Bettie, ‘n diabeet, sit op haar stoel en slaap, terwyl ma haar breiwerk vra om te brei. So sit die tweetjies langs mekaar en swyg. Elkeen op haar eie planeet. 

Ons ander kuier ‘n hond uit ‘n bos uit, maar die enigste tekens van opflikkering by die twee sussies, is wanneer ons tee of koffie aandra.  Ons onthou om versigtig te wees met die eetgoed, want Tannie Bettie hou niks van diabetiese kos en peuselgoed nie.

Aand se kant reël ons om op Kersdag weer saam te kuier.  Weer by ons huis, weer sonder veel sukses. Ons plan is om op ‘n ander dag by hul vakansiebestemming in Gouritzmond te gaan kuier. Dit sal sommer ‘n bietjie afwisseling vir ons ma’s ook verskaf.

Op 27 Desember word Tannie Bettie in die hospitaal opgeneem met hartversaking.  Ma volg op 1 Januarie nadat sy weer eens geval het.  Nou kan die kuier nie eintlik meer as vakansie aangesien word nie.  Elsabé se kinders doen darem nog hul ding, en geniet die warm see en ander jongmensaktiwiteite. My eie Willie se maters kom darem ook tot sy redding.  Hy is meer as 10 jaar ouer as Elsbé se kroos.

Die twee niggies is nou op Ouma Patrollie.  Dit kuier tussen die twee sale deur, en tussenin was ons slaapklere en probeer by ‘n dokter of iemand uitvind wat om te wagte te wees.  Die oumas self is nie van veel hulp nie. My ma is tevrede met alles, en haar suster is ontevrede met alles.

Met een besoektyd kom ek in Ma se saal, en daar sit Tannie Bettie in ‘n rolstoel by haar.  Ma stel ons voor aan hierdie vrou.  Hulle het glo so ‘n paar dae gelede by ‘n huis, nou nie ons huis nie, maak sy dit duidelik, ontmoet, en toe kom hulle sommer so saam-saam hospitaal toe. 

Vir die eerste keer waarvan ek weet, is  my Tannie Bettie met die kostelike woordeskat sprakeloos.  My ma weet nie wie sy is nie!

Uiteinde van die vakansie is toe dat Elsbé-hulle se vriende uit Rustenburg nou by ons kuier, want hul kar het gebreek, en hulle kan nie terug nie. Hul vakansieverblyf is ook  nie meer beskikbaar nie. Elsabé se mense moet weer werk, en hulle kan nie langer bly nie.  So, nou word Koos en Alet ons vriende, en ons weet nie of Tannie Bettie betyds ontslaan gaan word sodat sy saam met hulle kan teruggaan Gauteng toe nie.

Dis ‘n moeilike sakie vir Koos en Alet.  Hulle wil graag vir Elsabé en Gustav help, maar aan die ander kant is die pad Noorde toe baie lank met ‘n siekerige en onvergenoegde mens as passasier. My tannie Bettie is ‘n DIVA.

Dit werk toe so uit dat Koos se kar padvaardig is voordat Tannie Bettie reisvaardig is.  Elsabé vlieg weer hierheen om haar ma by te staan, want Tannie Bettie kla dat sy nie “infrastruktuur” hier het nie.  My besoeke en wassery registreer nie op haar skaal van toereiikendheid nie. Sy’s reg ook, want ek is nie so manipuleerbaar soos my liewe niggie nie. Ek dra nie “onwettige” snoeperye aan nie, en na my mening is die hospitaal se kos baie aanvaarbaar en gesond.

Lang storie kort, Ma word toe na ontslag in Huis Elsjé opgeneem, en Tannie Bettie kan ‘n week later saam met Elsabé per vliegtuig terug Noorde toe.

Ek het nou al ‘n lekker agterstand by die ACVV opgebou, en spring dadelik in.  As ek moet eerlik wees, is dit nie net plig wat my op my tone hou nie, maar ook die gemis by die huis.  Dis nie so eenvoudig om jou ma in ‘n versorgingseenheid te gaan aflaai nie.  Helfte van my hart het ook daar agtergebly, en nou proe ek daai skuldgevoelens soos gal hier agter in my mond. Rede sê dat ek nie aan my ma se versorgingsbehoeftes kan voldoen nie, en Satan sê ek’s te sleg. Die feit dat Ma elke keer wat ek besoek, gereed is om saam met my huis toe te gaan, maak dit nie makliker nie.  Ook nie die feit dat haar goedjies elke keer ingepak is, en sy reg is om te gaan nie.  Sy voel mos nou baie beter.

Bedags hardloop ek tussen die diensvertakkinge van ACVV rond, en probeer so om iets vir iemand te regverdig.  Dis glad nie logies nie, ek kan dit nie verklaar nie, want ek kan dit nie verstaan nie.  Ek weet dat daar op hierdie stgadium nie ‘n beter plek is vir Ma nie, maar…..

Elk geval, daar was ‘n probleem met stormwater tussen die crèche en die aftree-oord, en ons het ‘n sloot aan die kleuterskool se kant laat bou om die water van die grensmuur af weg te lei. So op ‘n afstand lyk dit of die besigheid werk, maar ek is ‘n maatskaplike werker, en ek moet seker maak. 

Aan die Sandkasteel se kant van die muur lyk alles reg en goed.  Nou wil ek seker maak dat die muur aan die ander kant ook droog is.  In my effektiewe bui vergeet ek twee dinge.  Die eerste is dat ek bril dra, en die tweede is dat daar ‘n elektriese veiligheidsheining bo-op die muur gespan is.

Die uiteinde van die “ter plaatse ondersoek op voetsoolvlak”,  is dat die bril en die heining ontmoet, en ek soos ‘n blaar in die wind verby Tossie, wat agter my staan, trek, en soos ‘n sak aartappels agter haar met Moeder Aarde kennis maak. Tossie skrik haar ook in ‘n ander bloedgroep in, want sy weet dat ek  al talle rugoperasies en ‘n nekoperasie ondergaan het, en NIE MAG VAL NIE.

Willie en sy pa is baie jammer vir my, en dra my behoorlik op die hande.  Rachel se reaksie was: “Dit was nou nie Ma se slimste move nie, maar sekerlik die brightste” Ai my kind, jy weet hoe om my uit die jammerput te kry!  My familie en vriende noem my nou die “bright spark” en ek dink ek verdien die titel.

Hier sit ek nou, weke later en bestekopname doen:
1.       Tannie Bettie is veilig (maar erg ontevrede) terug in haar versorgingsoord in Randfontein;
2.       Joamé (Elsbé se kleinsus) het Ouma geword van ‘n mooie ou dogtertjie;
3.       Elsabé en familie is op gereedheidsvoet vir Joamé se jongste (Sakkie) se troue;
4.       Ouma Bettie se uitrusting vir die okkasie het sy uitdagings gebring, maar dis gereed vir die groot dag;
5.       Ma is veilig in Huis Elsjé, en sy pas goed aan.  Sy is nie meer elke dag gereed om huis toe te gaan nie, en sy sê die mense daar is baie goed vir haar;
6.       Ma bekommer haar nie meer oor alles wat sy moet betaal nie, want haar kantoor (Huis Elsjé se personeel) hanteer alles namens haar;
7.       Ek sit met ‘n rugstut wat die pyn heel draaglik maak, en skryf ‘n blog.


Ek sou met reg kon sê: “Ende gut, alles gut” , maar moet ek so vervlaks moeilik leer?