Tuesday, October 27, 2009

Die "redo KVO"

Ek het 'n tydjie gelede begin valerig voel. Energievlakke bietjie laer, entoesiasme bietjie minder, behoefte aan rus 'n bietjie meer, en so aan. Op 'n dag besluit ek toe om myself te bederf met een van Mossie se lekker facials. Te lekker. Miskien sal dit my weer laat opflikker...









Dit is toe ook 'n lekker bederf, soos net Mossie kan. Terwyl ek nog so lekker op die masseertafel lê, (Mossie se facial sluit 'n lekker nek- en skouermassering in) kry ek toe 'n pyn op die bors - kompleet 'n angina-aanval. Ek kan dit nie glo nie, ek het dan 9 jaar gelede 'n 4-vat omleiding gehad. Alles moet mos nou reg wees?









Mossie en haar ma wil my met mag en mening huis toe neem, maar nee, wat, ek's O.K., en sal self huis toe ry. By Manlief se kantoor voel ek rêrig goor, en bel hom om my asseblief huis toe te neem. Hy skrik hom byna morsdood. Die huis is net meer as 'n kilometer van die kantoor af. Maak nie sin nie.









Tuis besluit hy toe sommer dis nou tyd om die kardioloog weer te sien. Kardioloog stem in om my sommer in die hospitaal te sien. Dan moet ek ook sommer 'n angiogram laat doen, sodat ons kan vasstel wat presies verkeerd is. OK, probleem is net, dit was 12 Augustus 2009, en Willie sou op 13 Augustus op George Lughawe arriveer vir sy kuiertjie uit Taiwan. 10 dae... Watter ma wil dan in die hospitaal lê? Beslis nie hierdie een nie!







Ek is wel in die hospitaal opgeneem, in die hoë sorg eenheid vir waarneming. Teen my sin, maar nie teen my beterwete nie. Nadat hulle op George geland het, kom loer Willie by my in. Beslis nie die verwelkoming wat hy verwag het nie! Hy't 'n vriend uit Taiwan saamgebring. Peter verstaan glad nie wat nou aangaan nie. Hy verstaan darem bietjie Engels, maar weet g'n snars van ons gebruike, gewoontes of eienaardighede nie. Arme mens!





Ek besluit om huis toe te gaan - sonder angiogram. Die ma in my is baie sterker as die pasiënt in my. Ek verduidelik mooi aan die kardioloog waarom ek so angstig is om huis toe te gaan, en hy gee toestemming nadat ek belowe het om na die kuier weer in te kom sodat ons die sakie kan afhandel. Jippie!!



Die angiogram is toe die voorloper vir 'n tweede vatomleidings-operasie, 'n "Redo-KVO". Die vorige omleidings van 9 jaar gelede (amper op die dag) is nie meer oop nie. Die bloed moet omtrent leopard-crawl om die hart met suurstof en wat nog te bedien. Die situasie vra duidelik vir 'n verdere KVO. Dokter verduidelik dat die risiko's nou heelwat meer is as wat dit 9 jaar gelede was: Ek het 'n derde rugoperasie gehad, my nek by C2 gebreek in 'n motorongeluk, 'n dubbele mastektomie en rekonstruksie-operasies gehad, is nog op anti esterogeenbehandeling vir borskanker, en het ook helaas, 9 jaar ouer geword. Overgezet synde: die herstelperiode mag dalk langer en moeiliker wees as laaskeer.



Vandag is dit 6 weke later. Alles het wonderlik goed afgeloop. Ek het 3 dae langer in die hospitaal gebly, maar ek hou by met die stappery, en geniet dit oor 'n honderd. Aanvanklik het die rugpyne my gefolter. Snags kon ek nie lekker slaap nie, want die geraamte het gestry teen die rugslapery (borsbene moet vasgroei, en sy-slaap is uit!), en natuurlik teen die gestap. Lank voordat ek naby asem uit kon kom, het die gebeentes gekners en gekraak vir 'n plek in die eerste span. Hinkepink, sonder my getroue kierie (mag nie op die arms druk nie, en die kierie maak die versoeking baie groot) het dit maar broekskeur gegaan.


Gelukkig het 'n baie bekwame rumatoloog in ons area kom woon, en hy is op die hoogte van die heel nuutste navorsing oor pyn, chroniese pyn en pynverligting en -bestuur. Ek het van hom te hore gekom, en 'n afspraak gemaak. 'n Deeglike konsultasie en vier inspuitings later werk my hande weer loslitlekker, en stap ek soos enige ander mens. Die pyn is nie heeltemal weg nie, maar ek kan dit uitstaan. Oor 'n week gaan ek vir die opvolgkonsultasie: skielik het ek bewus geword van ander pynplekkies en kwinte en kwale wat voorheen in die skadu van die erge pyn was. Nou raak ek gulsig. Dalkies kan hierdie ongemaklikheidjies ook koers kry.......



Pa waarsku dat ek nie die pyn moet ignoreer nie. Pyn is waarskuwings wat sê daar's iewers fout, en dis nou tyd om versigtig te leef en te dink oor elke beweging. Dis alles waar, maar ek het mos nou al die waarskuwings gekry, ter harte geneem, daarvolgens geleef (nou nie dat mens dit kwaliteit-lewe kan noem nie) en nou wil ek met groter gemak en genot deur die lewe gaan. Ek sal hopelik nie onverantwoordelik met die nuutgevonde beweeglikheid omgaan nie. Ek weet ek is nie 'n gimnas, 'n ballerina of 'n langafstand atleet nie, maar Boetie, nou's dit lekker om drie kilometer per dag te kan stap, en te kan weet dat hierdie plesier glad nie eens 'n beweging op die sondeskaal veroorsaak nie. Bonus op bonus.



Ai, is ons nie gelukkig om 'n Vader te hê wat ons in hierdie wêreld geplaas het tussen mense wat Hy met allerhande gawes geseën het nie. Dokters, professore en verpleegsters, beraders en terapeute en wonderlike vriende wat die lewe met ons deel, die donker plekkies verhelder en glimlaggies of skaterlagte na ons gesigte bring.



Dis lekker om te lewe, o ja dit is! Ek het nie geweet my hart pla weer nie, maar nou kan ek duidelik 'n verskil voel. Ek is weer lus vir die lewe, en sien kans vir elke dag se uitdagings. Dis wonderlik - ouer of te not, ek juig oor die lewe!