Monday, May 18, 2009

Kroniek van die Kondensmelkblik

Die eerste gewaarwording van die naderende stryd het soos N.P. van Wyk Louw se donker wense om die grense van my denke begin flikker. Eers was dit net sulke sporadiese flitse; later het dit aanhoudend geflikker, soos 'n warmwordende neonlig, en al duideliker geword.Uiteindelik was dit onteenseglik daar.

Ek was lus vir kondensmelk.

Ek het Wilskrag nadergeroep. Ek moet immers nog 'n klomp gewig verloor ter wille van mobiliteit en gesondheid.

Soos dit gaan met verbode vrugte, het Soetlus van krag tot krag gegaan terwyl Wilskrag begin verkrummel het. Wilskrag wou nie toegee nie, maar die sluwe Soetlus het hulp ingeroep: beelde van dik strome gladde, soet kondensmelk wat verleidelik krul, drome van 'n kondensmelkblik-trompoppie wat 'n brigade van die wonderlikste kondensmelkterte aanvoor, geure van die allersoetste eet- en drinkgoed....

Wilskrag kon slegs met beelde van Immoboliteit, Vet, Skaamte en Naarheid terugveg. (Almal negatief) Voorwaar 'n ongelyke stryd!!!

Die geveg het sy hoogtepunt op 'n Dondrdagmiddag bereik. Ek was alleen tuis, met tyd op hande. Soetlus het Ledigheid en Oorreding vir haar kant gewerf.
"Daar's drie blikke kondensmelk in die spens..."
"Niemand sal weet nie..."
"Watter skade kan 'n bietjie kondensmelk dan nou doen?"
"Kondensmelk se oorsprong kan teruggevoer word na die enigste volledige voedsel"

Arme Wilskrag begin wankel onder die aanslag - soos alte dikwels in sulke gevalle gebeur. Soetlus, aan die ander kant, word net verder gevoed en versterk deur hierdie wroegery.

Wilskrag gee nie in nie. Plan staan nader, en gee raad. "Laat ons op hierdie geskiedkundige dag vir Soetlus en haar trawante 'n les leer wat hulle nooit sal verget nie" Wilskrag gee in - swak en uitgeput.

'n Blik word oopgesny - nie die tradisionele twee gaatjies vir suig nie, nee heel OOP. Die deksel kom onder ander afval in die asblik. Ek gaan sit by die tafel. My laaste wapen is 'n teelepel. Nee, dit is nie fel genoeg om Soetlus uit te wis nie. Die teelepel moet eers wag. Hierdie saak is te ernstig vir die juniors.

Ek drink die kondensmelk soos water - nee, soos goeie rooiwyn. Ek rol dit op my tong; druk die soetheid teen elke oppervlak van my mond vas, en sluk met behaaglikheid. Ek volg die vordering van die soete verleiding tot daar waar dit lêplek kry.

Nou word die slukke groter en Gulsigheid steek kop uit. Teen die helfte van die blik begin Naarheid saggies om aandag smeek. Plan en Wilskrag druk deur! Oorreding vra vir "Time out". Wilskrag wyfel, maar staan vas.

Met nog net genoeg kondensmelk vir twee koppies soet koffie, is Wilskrag se fut uit, en Oorreding staan nou sterk. "Dit sal lekker wees om so 'n ou soet koffietjie met Willem te deel wanneer hy huis toe kom..."

Willem! Die soet towerkrag is gebreek! Skuldgevoel spring uit! "Willem mag nie weet nie!!!"

Nou moet die teelepel help. Die laaste aks van 'n druppel word uitgekrap en opgeëet. Nou word die leë blik ook diep in die asblik weggesteek. So-ja, 'n beker bitter koffie om Soetlus se val (of was dit nou oorwinning?) te vier.

Plig onderbreek die nabetragting. Wat eet Willem vanaand? Naarheid pleit swakheid, maar Plig maak geen toegewings nie. Plig wen, en ek begin kosmaak. Willem sal honger wes, maar hoe gaan ek eet???

Ek sit toe maar net by. Willem eet lekker, en ek kry nog 'n kompliment ook oor die heerlike kos. "Honger maak beslis die beste kok." Dis Skuldgevoel se stem.

So 'n ruk na ete begin Willem eers kombuis toe, en later spens se kant toe dwaal. Hy's seker lus vir 'n koekie. Sy stem ruk my terug na die vaal gevoel onder Skuldgevoel se streng hand. "Marietjie, waar's die kondensmelk? Ek maak vir ons koffie."

Kalm bly! Daar's nog twee blikke kondensmelk oor. "Dit staan seker net op 'n ander plek."

Toe nie so maklik nie.
"Nee, daar's 'n blik weg." Ek en die hele weermag is uitgeboul. Die verhaal van die stryd tussen die Sluwe Soetlus en die Weerlose Wilskrag moet uit. Soos die liedjie sê "Hy moes vra, en ek moes praat"

Nou volg ek maar die AA se leiding: Ek ken ongelukkig nie al 12 stappe nie, maar pas die waarvan ek weet, toe.
Openbare belydenis
Erkenning van swakheid
Een dag op 'n slag - sonder kondensmelk.

Soetlus is vir eers geblus, en Wilskrag is stadig maar seker besig om van die vernedering te herstel.

Twee blikke kondensmelk staan op die rak...