Tuesday, September 6, 2011

Nog in Kimberley

Ons kleinnigie Lenie, wat ook ons kleinste niggie (ver onder die outydse vyf voet lank) is, is ook 'n platjie van formaat. Sy vertel hoe sy en 'n blinde vriendin, Erika, jare gelede ook in Kimberley gaan inkopies doen het. Dit was in die dae van die eerste ATM'e. Hoewel Erika 'n tjek kon teken as Lenie haar hand na die regte plek lei, en Lenie dan die geld by 'n kassier kon trek (vir die sekermaak dat die bedrag reg uitgetel word), besluit Erika die dag dat hulle van die kitsbank gebruik gaan maak. Die besluit het meer verreikende gevolge gehad as wat een van die tweetjies besef het.

Die eerste ATM'e was nie so gebruikersvriendelik as mens 'n lengtebeperking gehad het nie. Die skerm waar mens die volgende opdrag kon lees, was baie hoog. Wat die twee vriendinne nie besef het nie, was dat mens dit kon vertstel om, baie soos 'n motor se truspieëltjie, 'n bietjie toegankliker te wees. Soos dit seker maar moes wees, was die kliënt voor hulle lank van gestalte.

Lenie het glad nie geweet hoe die "BOB-bank" werk nie, maar is immer gereed om te leer. Erika het glo geweet. Sy kon "lees" en het gereeld boeke op band uitgeneem om in pas te bly met die wêreld om haar. So kom die tweetjies uiteindelik ook voor in die tou. Erika sê vir Lenie om die kaart in die gleuf te druk. Dis doenbaar. Nou fluister sy haar geheime nommer in Lenie se oor. Lenie tik dit in.
 Niks.
Erika sê vir Lenie om de instruksies te lees. Lenie kan die skerm nie sien nie, dis te hoog.
Erika het reeds 'n plan. Sy sal buk, en Lenie moet dan op haar rug staan sodat sy kan 'bykom' om te lees. "TRANSAKSIE GEKANSELLEER TYD VERSTREKE"

Terwyl die ry agter hulle, sowel as die kring van toeskouers om hulle groei, probeer hulle nog 'n paar keer. Die opklimmery neem elke keer net te lank. Telkens is die transaksie onsuksesvol en word dit gekanselleer.

Onwillig om die geheime nommer met vreemdes te deel, het hulle maar weer by die teller gaan geld trek vir die inkopies.

Die aankope is altyd oor twee dae versprei. Op dag een is daar met Erika se lysie na die drie supermarkte gegaan om elke item se prys te kry. Die volgende stap was om te bepaal watter item by watter supermark de goedkoopste was, en dan drie lysies op te stel. Een vir elke supermark. Op dag twee is daar dan by al drie die winkels gaan koop.

Op die dag van die ATM was die twee vriendinne op hul stukke. Nadat hulle die straat oorgesteek het van die een winkel na die ander, vra Erika waar Lenie haar donkerbril gekoop het. Lenie het dit by die vorige winkel, nou aan die oorkant van de straat, gekoop. Erika wil ook 'n donkerbril hê, en terstonds word die straat weer oorgesteek.

Lenie moet nou vir Erika 'n mooi donkerbril uitsoek. Lenie wil hê dat Erika die brille moet aanpas om te voel watter een gemaklik sit. Dit is nie wat Erika beplan het nie. Sy wil die bril hê om so tussen haar vingers vas te hou soos die heldinne in die boeke wat sy so graag lees (luister). Sonbril gekoop, moet Lenie nou help met die vashouery. Dit moet 'n stylvolle vashouery wees, wat by 'n heldin sal pas. Lenie help en gee raad. Hulle besluit dat Erika haar pinkie in die lug moet hou, en die bril net so liggies moet vashou - nie vasklou nie, en soms liggies daarmee speel.

Weer oor die straat. In die volgende winkel is hierdie bril nou behoorlik in die pad. Erika "kyk" mos met haar hande. Met net een beskikbare hand voel sy regtig half blind. Daar is egter vir alles 'n plan. Erika moet 'n mooi kettinkie kry sodat die bril ook om haar nek kan hang. Apteek toe vir die kettinkie.

Hier moet ek weer bietjie halt roep om ietsie meer van Erika te verduidelik. Haar blindheid het nie haar identiteit geword nie. Vir haar was haar blindheid 'n klippie in haar skoen - 'n ongemaklikheid waarmee sy moes saamleef. Dit was net nog 'n hindernis waaroor sy moes kom in haar lewenspad. Haar uiterlike voorkoms het nie haar blindheid ooglopend uitgestal nie, en uit haar geselskap kon mens nie maklik agterkom dat sy effens anders moes kyk nie. Die apteker was nie bewus van haar blindheid nie.

Lenie kom toe agter dat hulle te min geld het, en bied aan om sommer gou nog te gaan onttrek. Erika sou met die inkopietrollie in die apteek wag. Met haar terugkeer bars Lenie uit van die lag. DIe apteker lyk verward. Hy het geen idee waarom die vrou met die trollie hom so totaal ignoreer nie. Sy draai glad haar rug op hom. Erika staan met trollie en al, sonbril liggies in die hand, pinkie in die lug, vir die kaal muur en kyk. Haar rug is na die apteker gekeer, maar sy staan ewe nonchalant met die bril en speel.

Nadat Lenie aan albei verduidelik het wat aan die gang was, en hulle die vriendskap met 'n lekker saamlag verseël het, kon daar toe voortgegaan word met die aankoop van die ketting. Met die wegstap sê Erika: "Nou kort ek nog net 'n potlood vir my oor."

'n Kimberleyse dag om te onthou

Ek lees nou-die-dag 'n staaltjie van die mannewales wat 'n reisende slang by 'n inkopiesentrum in Kimberley veroorsaak het. Dit was skreeusnaaks, en ek kon die verwarring in my verbeelding gadeslaan. Die skrywer was baie grafies in sy/haar beskrywing. Jammer my geheue is so vol gate dat die outeur se naam deur een geval het. Skoonveld weg!

Elk geval, ek het die storietjie net soveel as my liewe man geniet. Dit gebeur nie aldag dat hy vir my 'n leesdingetjie aanbied nie.

Dink net: Die klante kom elke met sy eie gedagtes en bedenkinge met leë beursies en vol (of halfvol) inkopiesakke op die parkeerterrein aan. Elkeen wil so gou as moontlik van sy las ontslae raak en by sy/haar volgende bestemming uitkom. Ons raak mos so betrokke by ons eie sake dat dit 'n redelike groot affêre vat om ons aandag te trek.

Reeds besig om die middag se karweiery van kinders draai vir draai te beplan, of besig om die spyskaart vir die ete vanaand te vervolmaak, word die aandag wreed en sonder waarskuwing wegetrek na meer onmiddellike sake. 'n Paar mense gil uit volle bors en almal word terugeruk na dieselfde wêreld waar die ander mense ook beweeg.

'n Statige en rysige dame draai tiekie op haar stiletto's, die man wat reeds jare in sy boep belê, raak eensklaps luid van 'n klomp wind ontslae, twee van die sterkste hoëproesters by die plaaslike oefentempel help mekaar soos ballerinas op 'n ander oom se bakkie en gil soos dogtertjies.

Dit alles gebeur omdat slang se kind wil wegkom uit sy (nou te) warm ryplek onder Toeks se motortjie.

In my geestesoog sien ek dat al die "belangrike" sake wat almal tot dusver so onbetrokke gehou het, nou van hul dringendheid verloor.

Te danke aan die einste glansende paradysbewoner wat mens soms na donkertes toe lei, sien ons mekaar weer raak . Ons lag saam, ons deel 'n paar verligte woorde met 'n totale vreemdeling, ons help Mev. van Aansien deur haar uit haar floute van die (nou) lewelose slang af op te help en bietjie af te stof; om weer oor die weg te kom op haar haklose stiletto's, en weer 'n bietjie waardigheid terug te kry. So word 'n gewone dag vol van sleurwerk en remmende verpligtinge skielik omtower in 'n dag om te onthou.

Dit vra net een insident.