Wednesday, November 24, 2010

Kleintyd aangeleer

Wie was nog nooit stomgeslaan deur 'n kleinding se vindingrykheid nie?

Gister het ons ons Bybelstudie vir die jaar afgesluit.  Selfs aan ons kant van vyftig geld die skoolvakansies nog steeds. Miskien selfs meer as voorheen, want nou is dit ons hoogtepunt wanneer ou kennisse, en veral nuwe nasate kom kuier.  Maande vooraf word die spyskaart reeds uitgewerk, en alles wat vooraf gedoen kan word, word vooraf gedoen.  Teen die tyd dat die gaste opdaag, is ons stokflou, maar dan kan ons KUIER.

Die ou klein mensies neem ons heeltemal oor.  Daar hoef nie eers 'n bloedband te wees nie. Ons is mal oor kindertjies. Gee ons 'n halwe kans om van hulle te vertel, en jy kry ons nie weer stil nie!

Bettie moes gister se Bybelstudie open.  Sy lees toe vir ons 'n handgeskrewe boekie, die handewerk van haar 8-jarige kleindogter voor. Die hele Kersverhaal soos wat sy dit verstaan. Dit was kosbaar.
Die engel het aan Maria verskyn terwyl sy besig was om appels te pluk.  Elke gedagte is met prentjies toegelig.
Die ster het eers bokant Herodus se paleis gaan stilstaan, en dis hoe die wyse manne by hom uitgekom het. Hy het hulle toe na Bethlehem gestuur. Josef en Maria het getrou, en toe Maria die nag na Jesus se geboorte in die stal by die Kindjie wakkergebly het, het Josef gaan slaap.

Dit wys dat kinders van kleins af meer oplettend is as wat ons soms besef of verwag.

Klein Philip, Catrien se 5-jarige klein Vrystatertjie, het onlangs saam met sy ouers na 'n nuwe dorp verhuis. Die bure is uiteraard almal vreemd.

Toe daar 'n sjinese oom aan die deur kom klop, het Philip aangeneem dis een van die nuwe bure. Die oom vra toe kos, en Philip sê hy moet net so 'n bietjie wag, hy gaan gou-gou sy ma roep.

Ongelukkig kon hy haar toe nie in die hande kry nie, en toe hy weer buite kom, is die oom besig om in die vullissakke rond te krap op soek na kos.
Philip klim toe maar oor die tuinmuur, en help die oom om in al die sakke vir kos te soek - hy kry dan nie sy ma sodat sy die oom kan help nie.

Die tuinman het Philip daar kom wegneem en gesê dat hy nie met vreemde mense in die sakke kan rondkrap nie, want vreemde mense kan hom kwaad aandoen.

Hiervan wou die klein mannetjie net niks weet nie, want die oom is honger, en hy het hom net gehelp om kos te soek.

'n Mens hoef nie heldersiende te wees om te weet dat Bettie se kinders hul doopgelofte van die begin af nakom en hul kinders in die Here se weë grootmaak, of dat Catrien se dogter altyd kos en tyd het vir honger mense wat haar pad sou kruis nie.

Leef ons almal elke dag so dat die kindertjies maar ons voorbeeld kan volg?

Saturday, November 13, 2010

Antoinette se Beroerte

Ons hier in Danabaai is omtrent almal so regs van veertig.  Nee, laat ek maar eerlik wees, so regs van vyftig jaar oud.


Dit is mos nou maar so dat mens op hierdie leeftyd al meer in die omgewing van brille en pille rondbeweeg.  Die groot maandelikse uitdaging is om die kruideniersrekening en die apteekrekening teen mekaar op te weeg. Na elke verhoging in die brandstofprys, is die kruideniersware duurder, en kos dit mooi beplan om die apteker te betaal. Nader aan die einde van die jaar, is die mediese fonds uitgeput, en moet ons weer van die kosrekening afknyp om vir doktersbesoeke en medisyne te betaal. Niemand wil willens en wetens in die Feestyd siek word, of erger nog, in die hospitaal beland nie. Hoe dan gemaak met die kleinkinders, die kinders, ander familie en vriende wat wil kom kuier?


So kom en gaan die seisoene en so leef ons hier teen die Suidkus met al die getye van die lewe saam.  Soms hoogwater, soms laagwater, en so aan.


Antoinette woon ook hier, en moet ook maar soos ons almal rekening hou met die getye en seisoene. Wat haar besonders maak, is dat sy haar naam, wat "Beyond Praise" beteken, waardig is op al die terreine van die alledaagse bestaan. So sing sy in die koor, dien op die kerkraad, neem deel aan ons eie konserte, maak kos en bak koekies, werk vir die sopkombuis, en is sy boonop 'n regte platjie en vol omgee vir haar medemens.


Een Sondag, voor die diens in die konsistorie, voel Antoinette so 'n bietjie dronkerig...duiselig, maar sy steur haar nie te veel daaraan nie. Neem net kennis daarvan. Hier in die regterkantste jare raak mens mos meer bekommerd as jy NIKS makeer nie, want dan moet jy mooi om jou rondkyk voordat jy seker is of jy maar kan ontspan.


Toe Dominee begin preek, raak sy meer bekommerd, want sy kom toe agter dat haar oë nie lekker fokus nie. Sy sien twee predikante, en altwee ewe dof...


Sy besef dat dit 'n beroerte kan wees.  Beroerte! Sy moet hier uit! Sy moet by 'n dokter kom! Die hospitaal! Hoe om van voor in die kerk tot agter by die deur te kom, skep 'n probleem. Die alternatief is om verby die preekstoel en deur die konsistorie uit te gaan - dis hoe sy ingekom het.


Tertius. Op 'n manier moet sy haar man,Tertius, se aandag op haar dilemma en haar toestand vestig. Hoe? Dink, Antoinette, dink. Sy wil nie die hele diens ontwrig nie, en Tertius luister aandagtig na die preek. Sy is nogal bang om alleen te probeer opstaan. Sy begin sweet.


Langs haar sit die seun wat by hulle loseer. Hy kom naderhand agter dat iets aan Antoinette 'n bietjie snaaks is, en probeer om haar aandag te trek. Onopsigtelik, natuurlik.


Antoinette is in haar eie dilemma vasgevang, en nie so oplettend soos altyd nie. Sy het ook nie veel aan die diens nie, want haar gedagtes is verstrengel in 'n stryd om oorlewing.


Uiteindelik dring dit asof van ver af tot haar deur dat iemand aan haar stamp. Dis die loseerder: "Tannie, wat is fout met Tannie se bril?"


Haar bril? Antoinette haal die bril af - dit het net een lens!


As elke beroertepasiënt maar so vinnig kon herstel.


As die ekonomie maar so vinnig uit die resessie kon kom.


As is verbrande hout, maar ons kan darem 'n bietjie hitte put uit die lekkerte van die oorvertel en die lag wanneer ons dit weer herkou en rustig nabetragting hou.


Viva! regs van vyftig, Viva! Viva, vele nuanses, Viva!

Saturday, November 6, 2010

Briewe van Ester 2

My geliefde Rachel,

Dit is vandag so 'n mooi sonskyndag, dat ek my verlustig aan die geure en klanke en kleure wat van die straat af opstyg na my sitplek hier op die daktuin waar ek die meeste van my dae deurbring. Ek voel regtig geseën om dit te kan beleef.

Daar was egter ook tye wat nie so rustig was nie. Ek het mos in my vorige brief laat deurskemer dat Mordegai se ore wawyd oop was ten tye van my voorbereiding om die koning te ontmoet. Hy was baie besorg oor sy kleine Hadassa (dis my Joodse naam), wat hy naby sy hart grootgemaak het. Ek dink sy vaderlike instink is die rede waarom hy die dreigende onderstrominge onder die poortwagte raakgehoor het.

Wat hy gehoor het, was dat Bigtan en Teres, albei poortwagte en paleisamptenare, onder mekaar begin mor het dat hulle darem nie na waarde geskat word nie. Hulle het ontevrede geraak met die posisie wat hulle in die hiërargie van amptenare beklee het, en het mekaar so aangepraat dat hul bitterheid die oorhand gekry het. Dag na dag het hulle vir mekaar vertel tot watter mate hulle onderskat en ondergewaardeer word deur die koning. Volgens hulle was die koning nie net sy rykdom nie, maar sy hele bestaan aan hulle te danke. Hulle was op stuk van sake die manne wat verhoed het dat die vyand deur die poorte beweeg om die koning leed aan te doen. Dit was hulle wat hul eie lewe en gemak opgeoffer het tot voordeel van die koning. En wat kry hulle daarvoor? Nee, die toedrag van sake was onaanvaarbaar – totaal onaanvaarbaar. Hulle was ook ontevrede met die lot van koningin Vasti.

Ai, dit is ongelukkig nog deur al die eeue so dat (vermeende) veronregting nie ongestraf wil bly nie. Of daar nou meriete in die gevoel van veronregting is of nie, maak nie saak nie. Die gevoel van ontevredenheid gedy onder aanmoediging, en later is daar net 'n kleine vonkie nodig om 'n grote vuur aan die brand te steek.

So het Mordegai gehoor hoe die twee begin saamsweer om die koning te vermoor. Hulle kon geen ander uitweg uit hul situasie sien as om van die koning ontslae te raak nie. Soos in baie gevalle, het hulle ook nie die saak verder deurdink nie. Hulle was onverbiddelik daarop uit om van die onmiddellike bron van hul frustrasie, die koning, ontslae te raak. Net 'n moord, en niks anders nie, sou hulle tevrede stel. Daagliks het hul frustrasie hoër en hoër opgevlam onder die wind van hul eie negatiewe gedagtes en gemor.

Mordegai, altyd die vader, was doodbekommerd oor die gevolg wat so 'n daad op my toekoms sou hê. Onthou, my volksverband was nog steeds, op Mordegai se aandrang, 'n geheim. As die koning nou onraad vermoed, en agterkom dat sy lewe deur sy eie amptenare bedreig word, en my geheim ook nog moet uitkom, kan niemand voorspel wat die koning se reaksie sou wees nie. Ek bedoel, Vasti se oortreding was slegs dat sy nie voor die feesgangers wou paradeer nie, en sy is haar koninginstatus kwyt.

Arme, bekommerde Mordegai het hierdie dinge met my gedeel, en my aangeraai om die koning daarvan te vertel. Dit sou my posisie geen kwaad doen as die koning se lewe deur my toedoen gespaar sou word nie. En ek het mos nou guns in die koning se oë gehad – die bekendmaking sou eerder ter harte geneem word as dit van my af kom, as wanneer Mordegai, wat nog onbekend was aan die koning, self sou probeer om die koning te waarsku. Daar kon dalk meer samesweerders wees, en hulle sou die saak so kon verdraai dat Mordegai se bedoelinge dalk in twyfel getrek kon word. Niemand sou die koning kon kwalik neem as hy sou dink dat Mordegai net witvoetjie soek by die koning nie, en dat hy om eie belang stories aandra nie.

Ek was intussen nog steeds gehoorsaam aan Mordegai, selfs al was ek nou in so 'n bevoorregte posisie.

Ek het die berig aan die koning oorgedra, en ook gesê dat my voog, Mordegai, dit eerstehands in die stadspoort gehoor het.

Soos jy jou kan voorstel, was dit nie vir die koning maklik om so iets van sy poortwagte, wat tog aangestel is ter wille van sy veiligheid, te glo nie. Hy het die gerug egter nie net afgemaak as 'n storie nie, en ondersoek na die saak laat instel. Dit was 'n gespanne tyd vir Mordegai, wie se geloofwaardigheid op die spel was, en vir my ook.

Die ondersoek het aan die lig gebring dat die berig waar was, en die twee samesweerders is skuldig bevind, en aan die galg opgehang. So het dit dan gekom dat Mordegai die koning se lewe gered het.

Al hierdie dinge is in die annale van die koninkryk neergeskryf, en sou vir ewig daar geskryf staan. Die koning was self teenwoordig by die opskryf van hierdie storie, en sou dit onthou.

Dit was gelukkig vir myself en vir Mordegai dat hierdie saak so afgeloop het, want daar was nog 'n slang in die gras….

Haman,die seun van Hammedata, 'n Agagiet, was ook onder die paleisamptenare. Hy was 'n baie ambisieuse man, en sou enige iets doen om homself en sy eie belangrikheid te bevorder.

Ja, jy herken sy naam. Dit is inderdaad dieselfde Haman wie se huis nou my huis is. Hy het ook baie kere op hierdie selfde dak gesit en sy oë oor die stad laat gly. Anders as ekself, was hy egter nie tevrede met sy plek in die lewe nie, en het hy met mag en mening altyd hoër en hoër gebeur. Hy kon net nooit tevrede voel met sy posisie in die koninklike huishouding nie.

Vandag is dit nog net so. Daar is baie mense wat voel dat hulle nie na waarde geskat word nie, dat hulle misgekyk word, dat hul talente en hul bydraes tot die samelewing geringgeskat word. Sulke gedagtes is 'n vrugbare teelaarde vir jaloesie, nyd, en soos met Bigtan en Teres, selfs moordgedagtes….

Nou is my goeie bui van vanogend sommer daarmee heen. Ek het heeltemal in die verlede verstrengel geraak. Ek moet nou eers weer iets aktiefs doen om my eie gedagtes te suiwer, en sal op 'n volgende keer meer uitbrei oor die weg wat Haman geneem het om homself en sy eie eer te bevorder.

Ek dink ek gaan 'n paar vye pluk, en myself met die soet heerlikheid bederf.

Ek onthou 'n ou seën wat oor die gehoorsames aan die Here uitgespreek is. Dit is opgeteken in Deuteronomium28:1 – 8. Ek wil dit graag met jou deel.

"As jy goed luister na die Here jou God en jy gehoorsaam al sy gebooie wat ek jou vandag gee, en jy lewe daarvolgens,sal die Here jou God jou oor al die nasies van die aarde stel.

As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.

Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld.

Jou nageslag sal geseën wees, en die opbrengs van jou lande en die aanteel van jou diere, jou kalweroes en jou lammeroes.

Jou oesmandjie en jou knieskottel sal geseën wees.

Jy sal geseën wees waar jy ook gaan.

Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.

Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy jou gee."


 

Jou mede-begenadigde

Ester