Wednesday, September 2, 2009

Mousse-koek

Die Verjaarsdag “mousse-koek”

Tydsberekening: Nogal ‘n term wat baie belangrik is in ons Westerse samelewing. Ons leef mos hoofsaaklik gehoorsaam aan ons horlosies. Hoe anders kon dit nie wees nie….

Ten tyde van ons verblyf in Namibië, was daar ‘n belangrike vergadering om die verskaffing van broodnodige behuising in die Caprivi te fasiliteer. Die prinse (tradisionele leiers / stamhoofde) is lank vooraf kennis gegee, en uitgenooi na die vergadering, met breedvoerige verduideliking waarom hul bydraes by hierdie vergadering vir hul mense sooo belangrik was.

Op die betrokke oggend trek die afvaardiging uit Windhoek douvoordag weg met ‘n klein vliegtuigie. In die volksmond is hierdie vliegtuigies herdoop na “kotskoetse” omdat hulle so maklik deur wind en lugstrome rondgeskommel word met voorspelbare uitwerking op die passasiers.

10 uur het gekom en gegaan, met slegs die Windhoekers by die afgespreekte terrein. Hier van 12 uur se kant af het die prinse en hul gevolge drupsgewys begin arriver. Teen 3 uur die middag was nagenoeg almal daar.

So tussen die opening van die vergadering deur kon een Windhoeker dit nie meer hou nie, en hy sê toe iets soos: “You people don’t have time.” Die probleem was dat die vliegtuigie nie te laat weer kon opstyg nie, want Eros Lughawe lê binne in ‘n woongebied, omring deur berge, en landings na donker is baie gevaarlik, en word daarom nie toegelaat nie.

Een van die oudstes reageer toe met iets soos:”No, my Friend, you don’t understand. We have time – you people don’t have time, you have watches.” Hoe waar is dit nie…

So was my tydsberekening met Willie se kuier uit Taiwan ook maar swak. Twee dae voordat hy en ‘n Sjinese vriend sou arriver, word ek in die hospitaal opgeneem met onstabiele angina. Die laaste plek waar ek wou wees – en dit nogal in die hoë sorgeenheid waar besoekers beperk word.

Ek’s toe darem net een dag na sy aankoms voorwaardelik ontslaan, en was tuis vir ons verjaardae.

Toe wil ek ‘n koek bak vir my eie verjaardag. Willem se verjaarsdag het ons met Willie se plaaslike vriende by die Kuierbos gevier.

Die aand voor my verjaarsdag bak ek toe die deftige sjokoladekoek. Ek het mos van daai fênsie flip-floppanne met patroontjies. My koek sou soos ‘n roos lyk, en die versiersuiker wat ek daaroor sou strooi, sou al te pragtig lyk.

Die koek kom toe pragtig, en die toetspen kom skoon uit en als. Ek is egter te moeg om te wag totdat die koek afgekoel het, en laat staan dit toe om die volgende oggend (my verjaarsdag) uitgegooi en “versier” te word.

So gemaak, en koek se kind lyk baie aptytlik. Dit word kantoor toe geneem, want ons werknemers en kollega voel soos familie, en ons vriende loer ook gedurig daar in. Willie help hoeka om kaartjies te ontwerp, en Peter (die Sjinees) hou alles fyn dop.

Sekretaresse maak tee, en die koek word gesny. Wat ‘n verleentheid. Die koek is nie heeltemal gaar nie. Plek-plek is die deeg nog sommer slap – soos gesmelte sjokolade.

Vriend Johann wil weet of dit ‘n flop is, (watter verwagtinge koester diè wat my ken tog nie?) en of dit so moes wees. Catrien, my lojale vriendin help hom reg. “Nee, man Johann, dis ‘n sjokolade-mousse koek.”

Johann weet egter van eetgoed, soos meeste manne, en kap terug met: “O, hy mousse so wees.

Rou of gaar, skaars soos my gebak is, is daai hele sjokolade mousse-nie koek opgeëet, en wou die haarkapster van langsaan sommer die resep ook nog hê.

Volgende keer sal ek betyds begin bak en seker maak my gebak is, wel, geBAK.

Die stomme sjinese vriend dink seker ons eet alles maar so halfgebak…