Tuesday, February 9, 2010

Hittedrome

Dis warm. Dis rêrig warm - sommer baie warm hier in die Suidkaap. In ons geweste is temperature bo 30'C heel ongehoord. Vandag styg die kwik sommer tot by 38. Ons is nie hieraan gewoond nie, en dit help ook nie eers om te weet dat dit anderkant die berg, by Oudtshoorn, nog warmer is nie.

As hier kraaie was, het hulle nie net gegaap nie, maar van hul sitplekke afgeval, want hulle sou vas slaap. Ek dink hoeka hulle kruip iewers koel weg.

Sal ons dan altyd kla - oor dit en oor dat of oor die ander ding? Altyd kry ons iets wat nou nie juis 100% in ons kraal val nie. Ja-nee, geen salf te smere aan ons ondankbare lot nie.

Het hom! Daar's baie dinge waaroor ek op hierdie dag bly is. Ek's bly ek is nie swanger nie. Daardie laaste paar weke in die hitte is mos nou glad nie vir fyne brose ou mensies nie. Nee, daai tyd wys die staalonderbou van elke nuwe mamma se mondering sy volle sterkte.

Ek is bly dat ek nie 'n Karooboer is wat daar in Graaf Reinet se wêreld vandag in 46'C op 'n trekker of agter die skaap moet dapper wees nie. Broer Gert is een van hulle. Ai, die man is 'n boer in murg en been. Vir hom is daar niks mooier as groen landerye, en niks lekkerder as plant en ploeg nie. Nou nie dat mens in die Karoo vreeslike gesaaides aantref nie, maar kleinvee het ook 'n gewoonte om te eet, en lusern groei nie sommer wild nie - veral nie as dit so droog is nie.

Nog 'n rede om op jou trekker te wees, is daardie brak kolle op die plaas. Vir kinders lyk dit na die feëtjies se dansplekke, maar vir 'n boer lyk dit na 'n vermorsing van goeie spasie. Plan: Breek die grond,(waar die feëtjies laas gedans het), wag vir die reën, voeg 'n suur by (daai kolle is nou vir jou brak, hoor! Feëtjies se voete sweet alkalies) en plant iets wat bruikbaar is.

Dit hou mens produktief besig in hierdie tye van droogte en hitte. Dit hou Boere naby aan hul Skepper, want sonder Sy ingrype en reën, help alles net mooi niks nie.

Maar mens! As daardie eerste swaar druppels val - dan verander alles in 'n sprokiesland. Vooraf kom die geur van nat grond mos so op die windjie aangedryf. Daar is nog nie parfuum wat soveel emosies en verwondering kan vasvang as daardie eerste reënruik nie. Die ruik van reën maak die deure van die geheue wyd oop. Kleintydse ervarings en verwondering neem weer besit van jou grootmens-wese. Onthou spoel oor jou met die lafenis van ervaring van vorige droogtes wat gebreek is, en die lekkerkry van die nuwe spriete wat asof uit die niet verskyn.

Intussen het die gedreun van die weer ook weer die wete van God se almag kom inskerp. Wie kan onverskillig staan as die weer se magtige dreuning oor die dorre aarde rol? Wie raak nie effens bang as daar al baie water geval het, en die weer steeds dreun nie? Wie kan met eerlikheid sê 'n opregte Hoëveldse donderslag het hom nog nie laat wip van die skrik nie?

En dan die simfonie van reëndruppels op 'n sinkdak. Die ritme, die nuanses van die veranderende volume, nou sag... dan harder... weer sagter... gerusstellend die verskillende note van reën op verskillende oppervlakke. 'n Sinkdak het mos die manier om die reën luidkeels te verkondig.

Die geluid van hael is weer heel anders. Hard, kortaf, dreigend! Die wolke wat aanrol met daai groengrys kleur sorg vir bangheid. As daar nog sterk wind ook by is, weet mens al klaar - die skade gaan groot wees! Soms gaan die storm met geringe skade verby, en sak die sagte reën uit soos balsem. Ander kere bly die littekens van die storm vir seisoene sit.

Waarop word ons in hierdie hittegolf voorberei? Vir seker sal die huidige temperature nie net so onverpoos kan voortduur nie? Daar moet mos 'n verandering kom. Gaan dit reën wees? 'n Windstorm? Koue front? Dis die wonder van menswees. Daar is 'n ritme in alles, daar is altyd verandering, daar is oral verrassings, daar is genade.

Friday, February 5, 2010

Kom ons lewe

Ons ou klompie hier in Danabaai het in die laaste tydjie onder swaarkry deurgeloop. Nie net ek en Manlief nie, maar in ons hele vriendekring het sake skeefgeloop. Geliefdes is weggeneem, ongenooide siektes het hul verskyning gemaak, die ekonomie knyp, die Suidklaap is 'n droogterampgebied.......

So kan ek aangaan, maar dis nie my doel vir vandag nie. Vandag wil ek God se liefde en sy Almag deel. Hy sê "Julle het nie, omdat julle nie vra nie." en "Julle vra en julle kry nie, omdat julle verkeerd vra".

Is ons skuldig aan kinderagtige "Ek sal self"-gedrag? Ja, ons is, want ons wil nie afhanklik wees en ons nietigheid erken nie. Magteloosheid is mos 'n aanklag teen ons menswaardigheid, en eie belangrikheid. Tog staan ons meestal magteloos wanneer wanneer ons swaarkry. Ons het geen verweer nie. Ons het geen antwoord by die sterfbed, die graf, die droefheid van 'n naasbestaande, of die siekbed van 'n baba nie. Ons kyk met stomme hulpeloosheid na mekaar, en kan in ons menswees slegs onsself en ons gebede vir mekaar aanbied.

God kan genees. Hy kan heelmaak. Hy ken die hoekoms en die waaroms, die verlede, die hede en die toekoms is vir Hom geen geheim soos vir ons nie. Hy word nie vasgevang binne die grense van tyd en plek nie. Hoe kan ons Hom dan bevraagteken?

Hy weet hoe lank hierdie droogte sal duur. Hy weet wat die uiteinde daarvan sal wees. Ons het 17% water in die dam wat ons dorp van water moet voorsien. Ons probeer water bespaar, maar hoeveel kan ons bespaar? Hoeveel liters word daagliks deur verdamping verloor? Hoe lank kan ons die ou watertjie rek? Nie lank genoeg nie.


Dan verootmoedig ons onsself weer voor God. Ons kom weer tot die insig dat ons regtig net maaksels van die Grote en Ware God is, en dat daar niks van ons planne, berekeninge, voornemens, skure-bou en watter plannetjies ookal kan kom as Hy dit nie eerste gewil het nie.

Ons mense laat my dink aan 'n spannetjie kuikens wat ewe vernaam oor die werf rondstap en kossies soek. Wanneer daar egter 'n vreemde geluid of 'n skaduwee oor hulle val, hol hulle vir 'n vale om onder die beskerming van Moeder Hen se vlerke te kom. Nie lank nie, of hulle peul weer ewe manmoedig uit om hul eie paadjie te probeer loop.

Dis mos ook so met klein kindertjies. In 'n vreemde winkelsentrum het Ma al haar dae om Kleinboet onder oë te hou. Om vir hom te sê sy's bang hy raak weg, maak geen indruk nie. Hy weet mos waar hy is... Hier. As hy egter die gedagte kry dat Mamma dalk weggeraak het, is dit 'n ander storie. Hy verander ook vinnig van plan en rigting as hy self agterkom dat hy nie presies op bekende terrein beweeg nie, of as 'n vreemde mens te na aan hom kom. Dan is Ma se bene 'n veilige vashouplek.

Ons maak ook so met God. Ons kom lekker op ons eie reg terwyl ons eintlik weet Hy's daar, eintlik naby, maar sodra ons iets vreemds gewaar, besef ons eers ons het alweer weggedwaal. Dan breek ons amper ons bene om vinnig genoeg weer in sy Skuilte te kan kom.

Ons is neergeboë voor ons God. Ons word platgedruk deur ons skuld en sondebesef. Ons raak weer nederig. Dan neem iemand 'n foto met haar selfoon, en in die hemelruim is die beeld van 'n herder met iets soos 'n lam in sy arms. Is dit 'n teken, is dit net 'n spel van lug en lig op die oog? Is die foto gedokter? Maak dit saak as die uiteinde van die bespiegeling daarop neerkom dat God Homself met ons bemoei?

Hy is nie afhanklik van reën nie, Hy het ons gebede nie nodig nie, as ons swyg kan Hy selfs die klippe laat uitroep - Is Hy dan nie ook in staat om die lug te buig en 'n Beeld vir ons op film vas te lê nie? Kan Hy nie soos van ouds 'n wolk so groot soos 'n man se hand laat verskyn en die droogte totaal breek nie?

Hoe gemaak wanneer ons verbruikers nie meer vir ons diens kan betaal nie, wanneer uitstaande debiteure net meer en meer word, en krediteure in dieselfde situasie as onsself net harder brom en ongeduldiger eis? Gee, gee, gee, en nogmaals gee. Wat kan God in hierdie mensgemaakte krisisse doen?

Hy kan ALLES doen. Geen depressie, resessie of val van markte kan Hom van stryk bring nie. Voordat daar markte en ekonomieë bestaan het, was Hy daar, en het Hy die hele Skepping gemaak - uit niks. Ook ons heilige ou geldjies en die begrip van geld, armoede, rykdom, ekonomie en volhoubaarheid ken Hy deur en deur. Soos Hy die natuur-elemente bestuur, en dit net Hy is wat weet presies wanneer, waar en hoeveel dit gaan reën, so bestuur Hy ook ons ou wêreldjie se ekonomieë, ons wêreldleiers se denkrigtings, ons uitvindings en die aanwending daarvan.

Kom laat ons nie moedeloos raak nie, maar laat ons hoër kyk as ons eie strukture - kom ons slaan ons oë op - hoër as die berge, na waar ons hulp is. Ons hulp is by Hom te vinde wat so magtig is dat Hy ons sonnestelsel tussen sy vingers kan vashou, maar ook 'n verkluimde kuikentjie se gepiep kan hoor, en selfs die getal van die hare op ons kop ken. Hy ken die DNS van elke virus, maar Hy ken ook die omvang van Sy hele skepping. Sal Hy dan nie weet wat die beste vir ons is nie?

Hy ken ons skelmste begeertes - so ook ons grootste behoeftes. Hy ken ons swakheid en ons valsheid, maar ook ons angstigheid en ons nederigheid voor Hom. Hy weet dat ons ons vaskyk teen die konkrete, die hier en die nou; dat ons kan terugkyk om uit die verlede te probeer leer, maar dat ons insig ver te kort skiet. Hy ken ons edele voornemens, maar Hy is ook totaal bewus van ons swakheid as dit by die uitvoer daarvan kom. Hy hoor ons boetedoening, ons smekinge, ons dankgebede en ons intrede vir mekaar. Hy kan sekerlik vir ons lag, maar, glo dit maar, HY HET ONS LIEF.

So lief, dat Hy keer op keer weer neerbuig om ons te red van ons eie vooruitgang en ons eie slimheid en belangrikheid. Hy kom deur sy Woord om ons te leer om net op Hom te vertrou, om alles wat ons nodig het van Hom te vra, om net maar sy gebooie te onderhou en lief te wees vir Hom en vir mekaar. Sien dis die Geheim van die Lewe.

Geen wonderfontein van ewige jeugwatertjies of moeti om elke siekte te oorwin nie. Geen belegging wat ongelooflike dividende lewer nie, geen bemagtigingsaksie wat armoede van die planeet af gaan wegvee nie, geen geleerdheid wat jou in staat sal stel om die heelal te regeer of te verstaan nie. Net kinderlike geloof in God, 'n vaste geloof in sy Teenwoordigheid ook in my lewe, hoop op 'n hereniging met Hom en die wie se tyd voor myne verbygegaan het in die Hiernamaals, en onvoorwaardelike Liefde vir my Skepper, my medemens, en die hele skepping. Respek vir elke atoompie se plek in hierdie wonderlike Skepping. Dis die Geheim van die Lewe.

Kom ons lewe! Dis nie so moeilik nie, dit vra net dat ons met die oë en ore van die geloof kyk, en dat ons die liefdesgebod as maatstaf vir ons doen en late gebruik, en dat ons ons Hoop in alles op die Here van alles plaas.