Friday, April 15, 2011

40 JAAR GETROUD: PLAGIAAT

Hierdie brief het my vriendin se man vir haar op hul veertigste huweliksherdenking gegee. Dit sê alles oor die resep vir 'n goeie lewe....

AAN MY VROU, MA VAN MY KINDERS EN OUMA VAN MY KLEINKINDERS.

Dit is 40 Jaar! Nou waar het dit eintlik begin - op die plaas Merino in die Heilbron distrik, op Vereeniging stasie, of in die inry "The sound of music" met cepacol keelseer "sweets"? Waar dit begin het is nie van belang nie. Wat wel van belang is, is die gevolg daarvan. Dit het gebeur in die klipkerk op Heidelberg.

Die familie het die badkamer beset, en ek het nie gebad nie, maar dit is ook nie van belang nie, want jy het dit nie eers agtergekom nie. Met Oom Jordaan se Chev Constantia het ek dit byna nie gemaak nie. Daar was die belofte gemaak wat vandag nog vars en nuut is. Die gevolg hiervan kan bladsye se skryf beslaan.

Met die vertrek na die wittebrood het ek darem R7-00 in my sak gehad. Daarna moes ek nagdiens, en jy in die dag werk, maar dit het nie die uitbreiding van die gesin laat skade ly nie. Dikwels was daar halwe brode gekoop, en ander luukshede was daar maar min. Die Volkswagen (kewer) het ook nie altyd saamgewerk nie, en moes daar gereeld geloop of gestoot word.

Van die woonstel in Heidelberg tot in die huis sonder deure op Kinross - maar ons het oorleef. 'n Druiwemandjie vol avokadopere was op 'n keer ons hoofgereg (3 maaltye). Die geyser het gebars, en ek moes dit self regmaak - val deur die plafon tot in die bad. Daarna moes die Volkswagen se masjien oorgedoen word en die enigste plek was in die kombuis, waarmee jy natuurlik nie saamgestem het nie. Jy kan nie stry nie, dit was die moeite werd.

Nou het die dae maande geword, en die maande jare. In November word Dollie gebore en nou was ons drie. Twee jaar later kom Hantie en is ons toe vier. Nie ver agter haar nie, kom Karen. Daarvandaan is dit na die spookhuis op Goedemoed waar dit heelwat beter gegaan het met die goedkoop vleis, groente en melk. Op 'n koue dag in Aliwal Noord word Daleen gebore. Sy was nommer vier, en nou is ons ses, en ons het besef dat hef-aan lê voor.

Die maan het nie elke nag geskyn nie, en geld vir rose was daar ook nie, alhoewel ek seker was dat daar meer maanskyn-aande was as donkermaan. Dit het met ons baie goed gegaan, maar ons het dit nie elke dag besef nie en het dit soms as vanselfsprekend aanvaar. Deur hierdie tye het ons aan die belofte in die klipkerk vasgehou. Jy was en is nog dieselfde meisie wat ek op die stasie gaan haal het.

Ons het van mekaar verskil, maar op die regte manier, en liefde was altyd die werkwoord. Groot besluite het ons geneem, maar eers nadat ons Leiding gevra het. Ons is geseën met die mooiste en liefdevolste dogters, en al wou ek graag 'n seun gehad het, sal ek nie een van hulle verruil nie.

Vandag het die veertigste jaar verbygevlieg, en ek weet nie hoeveel daar oor is nie. Dankie vir al jou liefde, geduld en verdraagsaamheid, maar die een wat uitstaan is die liefde. Ook vir die wonderlike ouma wat jy is.

Mag die eerste sonsopkoms van die een-en-veertigste jaar en jare wat voorlê die voortsetting wees van 'n tyd vol liefde, gesondheid en geluk. Ek bid en vertrou dat ons soos in die verlede in die toekoms net soveel onverdiende Genade van die Here sal ontvang.

Liefde is die grootste geskenk wat jy kan ontvang en daarom bevestig ek dit op hierdie VIERDE DAG VAN MAART TWEE DUISEND EN SEWE.

LIEFDE

(EK KAN NIKS HIERBY BYVOEG NIE, BEHALWE: WAT 'N VOORREG OM VRIENDE SOOS DIE GESIENE MAN EN SY BEKWAME VROU TE KAN Hê. VIVA DIE HUWELIK EN VRIENDSKAPPE!!!)

Friday, April 8, 2011

Magog - Skinderstorie oor 'n dooie

Magog was sy bynaam. Dit was 'n baie gepaste bynaam, verseker sy familie my.

Magog het gestam uit 'n gewone ordentlike Afrikaanse familie met die tradisionele Christelike waardestelsel en beginsels. Magog se "andersheid" het juis in sy oortuigings gelê.

Magog het hom min gesteur aan reëls en regulasies, wette en ordonansies, protokol en etiket. Om die waarheid te sê, hy het elkeen van die bogenoemde as 'n uitdaging gesien.

Sy naasbestaandes vertel dat hulle nie juis kan sê watter van die wette, reëls of beginsels Magog nie gebreek het nie. Hulle kon definitief nie aan iets wat vir hom onaantasbaar sou wees, dink nie.

Daar was volgens sy eie oortuiging net twee goed wat 'n mens moes doen - die res was opsioneel. Die twee moete in sy lewe was dat hy moes eet, en dat hy dan weer van die oortollige moes ontslae raak. So maklik soos dit.

Hy was nie juis 'n gereelde gas by familiebyeenkomste nie, en het nie as 'n reël by spesiale familiedae en ander funksies uitgekom nie. Dit was mos opsioneel. Wanneer hy egter wel by sulke geleenthede sou opdaag, was dit opspraakwekkend!

Hoewel Magog miskien glad nie op die hoogte was van gebeure en so aan in sy familie nie, het gerugte en stories betreffende Magog se doen en late baie gereeld by sy mense uitgekom. Hulle het kopgeskud, gewonder na wie hy sou aard, heimlik gewonder of die soort lewe dalk so aanloklik kon wees as wat dit soms lyk, en dankbaar saamgestem dat daar darem net een Magog in die familie was.

Hoe sy stomme ouers alles sou verwerk, was 'n hartseer saak, en daarom was almal maar dankbaar-tevrede dat die twee reeds "vooruitgegaan" het.

Op 'n dag kom daar 'n berig deur dat Magog oorlede is, en uit die kerk in die klein boeregemeenskappie begrawe sou word. 'n Wonderwerk, maar ook effe ongelooflik.

Dis dan ook geen wonder dat Magog se begrafnis 'n grote, en baie goed bygewoon, was nie. Almal wou net kom seker maak.....

Toe die gerug die rondte begin doen dat Magog se laaste woorde was dat hy gereed en tevrede is om te gaan, was almal meer as verstom en verbaas!

Hulle wou, maar kon nie glo wat hulle hoor nie, en die ergste was, dat hulle nie kon uitwerk hoe en op watter manier Magog by daardie tevrede oorgawe uitgekom het nie. Daar is gefluister en gewonder, en vraend rondgekyk, maar almal moes maar wag vir dominee.

Dominee se afskeid van Magog was 'n roerende een - vol lof aan die Here en danksegging daarby! Want sien, in sy laaste dae het Magog, so op sy eentjie, met miskien 'n paar insette van 'n gewaardeerde vertroueling, of meer waarskynlik: direkte ingreep van Bo, tot die besef gekom dat sy lewenskeuses toe nie enduit so lekker gewerk het nie. Magog het opreg berou gekry oor die wandade waaraan hy regtig skuldig was; oor die snaakse dinge wat sy reputasie andersins in goeie mense se gedagtes laat kruip het; oor die moontlike onskuldiges wat deur sy reputasie, wat in elk geval meters groter was as hyself, op 'n dwaalweg gelei is. Hy is met die dominee se medewete, met 'n afgelosde skuldlas begrawe - daarom die vreedsaamheid in sy gemoed.

Die vraag bly egter. Wat het met Magog gebeur dat hy so drasties omgedraai het? Niemand weet nie. Almal wat regtig vir hom omgegee het, of vir sy gesinslede, is egter nederig dankbaar.

Soos Magog se lewe vol vrae was, is hy ook weg met baie vrae. Die verskil is net dat die vrae nou andersom is. As Magog besef het die wye pad lei na nêrens, moet dit die moeite werd wees om op smalle weg te bly....

Magog se grafsteen pryk met sy doopname - die Magog van die aarde het net hier gebly. Toe hy 'n ontmoeting met Jesus gehad het, was hy weer gereed om opnuut gebore te word....