Wednesday, March 31, 2010

Die gesiene man en die buffel

Ons het 'n goeie en groot vriend. Kom ons noem hom maar Herklaas. Hy spot altyd dat hy 'n gesiene man in die dorp is, en dus nie allerhande lawwighede of onbetaamlikhede kan aanvang nie. Sy vrou, Sophie, is weer die teenoorgestelde. Sy sal enige iets doen vir die pret. Selfs op 65-jarige ouderdom met net haar onderklere aan in 'n rotspoeletjie by die see gaan sit, omdat sy warm kry, en nie haar baaibroek byderhand het nie.

Maklik om te sien dat 'n naweek saam met hierdie twee mense tot baie pret en plesier kan lei. Om van binnepret nie eens te praat nie!

Sowat twee weke gelede, is ons klompie dan ook na die vakansieplaas by Gouritzmond om bietjie te ontlaai. Heerlik.

Ons is so rustig as wat ons in jare nie was nie - soveel so, dat die manne sommer bereid is om lawwe gunsies vir ons te doen. Almal wat al onder stresvolle omstandighede soos in die nadraai van 'n resessie, geleef het, sal weet dat mans nie gewoonlik gou so ontspanne raak nie. Nouja, Manlief en Herklaas het onderneem om vir Sophie 'n mooi bossie dekriet (in saad) te pluk. Sy wil dit in 'n pot sit vir versiering. Die mooiste dekriet groei natuurlik in die wildkamp....

Ons twee dames verwyl die rustige oggend op die stoep - al turende oor die see, terwyl ons tussendeur sorg dat daar 'n eetdingetjie sal wees wanneer die mans terugkom uit die veld.

Min het ons geweet dat ons nie net uitgerus sou wees na die naweek nie, maar totaal vernuwe - sonder die bossie dekriet.

Met etenstyd het die manne kom aansit, en ewe doodluiters begin Herklaas te vertel van sy ondervinding in die veld. Hy en Manlief het besluit om aan weerskante van die pad te soek vir mooi dekriet. Elkeen aan sy eie kant, terwyl die bakkie in die pad bly staan - hulle was darem nou nie van plan om sommer in een dag fiks te raak ook nie! Wyl hy nou so aan die een kant van die pad na al die plante kyk, en soek vir die perfekte pol dekriet, het hy al hoe verder van die bakkie af beweeg. Toe hy weer om 'n bossie kom en opkyk, kyk hy vas in die groot 'gesig' van een van die twee buffelbulle op die plaas.

Herklaas sê dat hy besluit het om om te draai, en terug te stap bakkie toe. Wanneer 'n man so naby aan 'n buffel kom, is daar glo so 'n klein mannetjie in sy binneste wat sê dat dit nou tyd is om te gaan. Herklaas sê dat hy so in die wegbeweeg 'n keer of wat opgekyk het, en gesien het dat die bakkie nou darem baie vinnig nader kom. Nie dat hy eintlik bedoel het om te hardloop nie....

Manlief se weergawe strook toe ook goed hiermee. Toe hy so 'n keer rondkyk, sien hy net hoe Herklaas met redelike spoed op die bakkie afpeil. Onbewus van die teenwoordigheid van Mnr. Buffel, kon hy nou nie raai wat vir Herklaas so op hol het nie, en besluit toe maar om self haastig terug te keer bakkie toe. Mnr. Buffel het glad nie so 'n klein mannetjie wat hom aanspoor tot wegbeweeg nie, en het blykbaar rustig aanhou herkou. Seker ook maar gewonder oor die snaakse gedrag van die tweebeen-spesie.

Terug aan tafel, besluit ons vier toe dat 'n man eers 'n gesiene man is as jy op kort afstand deur 'n buffel 'gesien is'. Dit doen wondere vir 'n man se selfbeeld en hy sien vir baie meer dinge in die lewe kans na so 'n ontmoeting.

Toe ek en Sophie later die middag met die vullis na die munisipale asgate toe ry (daar is nie vullisverwydering op plase nie), was ons erg verstom toe Herklaas ewe doodluiters agter op die bakkie klim ('n gewone gesiene man doen dit NOOIT nie) om saam te ry. Op ons verbaasde navraag na die rede vir hierdie ongewone optrede, was sy kalm antwoord dat ons tog seker nie gedink het dat ons self die vullis kan aflaai nie.

Ek is seker hierdie insident sal nog nes kry in die verhale wat aan kleinkinders oorvertel sal word. Die spoed sal miskien met tyd bietjie groter word, en die afstand tussen Oupa en die Buffel sal seker bietjie kleiner word - so in die gees van visvang- en ander vertellinge.

Ek en Sophie kan nie genoeg kry van die geleenthede om die grootmenswêreld so 'n bietjie opsy te skuif en die lewe weer deur baie jong oë te aanskou nie. Wie't nou gedink dat ouer word noodwendig met minder pret gepaard gaan? Die beeld van twee groot manne op vol spoed, sal in ons gedagtes altyd 'n glimlag, en soms selfs 'n skaterlag optower!