Friday, October 12, 2012

OOR GRYS HARE, VALS TANDE EN ANDER GEHEIMPIES

As ek maar geweet hoe moeilik dit is om na "etlike jare" weer in die stroom van werkende en aan-die-gang mense te kom!

Ek het mos so ewe ingewillig om voorsitter van die plaaslike tak van die ACVV te word.  Ek is baie opgewonde oor die ACVV, want ons is die oudste welsynsorganisasie in die land.  Mens kan maar sê die moeder van alle welsynsorganisasies in Suid Afrika. Ek het net nie heeltemal mooi nagedink oor die omvang van my besluit nie.

Moet my nie verkeerd verstaan nie.  Ek is glad nie spyt daaroor nie!  Ek voel baie bevoorreg om hier te kan wees.  Dis net dat al die rompslomp van ons samewerking met staatsdepartemente, munisipaliteite en ander groot instansies so 'n bietjie bydra tot my groterwordende arsenaal van "geheimpies".

Met elke nuwe vorm wat voltooi moet word om 'n diens moontlik te maak, kan ek behoorlik voel hoe 'n klompie hare stokstyf spring en met die terugvalslag silwer-wit-grys word.

Elke keer as 'n nuwe bevestiging van my identiteit gesoek word om ons kommunikasievermoë uit te brei, kraak 'n tand.

Met elke nuwe vertraging wat ons beleef in ons strewe om 'n diens te lewer, val sekere onnoembare dele van my anatomie sommer net daar plat. 

Wanneer 'n storie so swak uitgedink is dat die stok waarmee ek dit aanvoel ook begin krom trek van pure verleentheid, kom daar so 'n taaiigheid oor my.

Dis nou my geheimpies.  

Vandag het ek agtergekom dat ons almal maar met ons troetelfrustrasies sit.  Soos ons ouer word, word die klompie geheimpies wat daardeur veroorsaak word, ook al hoe meer. Dis net daar wat ek besluit het - ek gaan nie krom loop onder hul las nie.

Ek word ouer.  Ek leer moeiliker as 'n paar dekades gelede. Die tegnologie groei onder my uit. My geduld met mense wat hulself benadeel word minder. Knaende negatiewe pole maak my suur.  'n Onlustigheid om die sonkant van die lewe raak te sien pynig my in my diepste gebeentes. Noorsdorings, wat moeite doen om onaangenaam te wees, kan ek nie staan nie.

Ek kan nog aangaan, MAAR

My vreugde wanneer 'n ouerlose kind by pleegouers geplaas word en blom omdat hy nou gaan boer, gee my onmeetlik meer vreugde as al die ou geheimpies saam.

Die lekkerte wanneer 'n ouer persoon een van ons residensiële fasiliteite as "my huis" beskou, maak elke vormpie wat ingevul moet word, die moeite werd.

Die moontlikheid om 'n diens uit te brei na 'n suksesvolle fondsinsamelingspoging laat my hart jubel.

Die vreugdes wat ek daagliks beleef is BAIE MEER as die frustrasies wat so maklik in die jassak glip.

Die grootste lekkerte is egter die entoesiasme wat onder die vrywilligers en die werknemers gedy.  Niks kom by die goedvoel wat mens beleef wanneer jy met sulke mense kan saamwerk, saam beplan, saamstoei en saam feesvier nie.

Dankie ACVV, vir die groot lekkerte.  

Wednesday, October 3, 2012

MY VOORTGESETTE STRYD TEEN DIE KONDENSMELKBLIK

Ek sukkel mos al lankal met hierdie soet tand van my.  Jy onthou mos, daai kondensmelk-soettand.  Ek het sal mens maar sê, begin aanvaar dat elk nou maar elke dan en wan weer in 'n paar blikkies van die satynagtige romerige soetigheid sal moet belê.  Ek begroot al daarvoor....

Tot iewers in verlede week.  O, wat 'n allerverskriklike aand was dit nie.  Ewe openlik en rein van gewete geniet ek 'n blik kondensmelk terwyl ek, manlief en Willie voor die TV uitspan.  Niemand maak eers meer opmerkings daaroor nie, want ek is nou maar eenmaal lief vir kondensmelk, en dis my sonde.

Nadat die blik totaal leeg eenkant toe geskuif is, tel Willie dit op en begin lees op die etiket.  Wat lees hy? Hy kyk na die voedignswaarde en so aan van sy ma se sonde.  Lees die kilo-joule waarde hardop vir my, maar dit be-indruk my glad nie.  Dit klink glad nie so erg nie.

Toe skakel Meneer dit vir my om na kalorieë.  Ek dink mos nog in kalorieë! Mamma, Ma het sopas meer as eenhonderd dae se voorgestelde kalorieë ingeneem.

Wat? Jy speel seker?

Nee, Mamma.  een blik kondensmelk bevat 324,570 kalorieë, en die daaglikse aanbevole aantal kalorieë vir 'n aktiewe (let wel AKTIEWE) volwassene is ongeveer 3,000 kalorieë.

Ek het dadelik die allerverskriklikste hoofpyn gekry, en stoei nou nog met hom. Daai blikke kondensmelk staan nog steeds op die rak - en nou koggel hulle my.

My gekose sonde lyk nou nie meer so skadeloos nie.  Ek is nou bang vir kondensmelk. Ek loop draaie om die spens, en kyk links as ek by hul staanplek verbygaan.  Ek is nou soos iemand wat bang is vir spoke - die goed bly heeltyd in my gedagtes.  ek is nie seker dat ek rehabiliteerbaar is nie, maar sover hou die vrees my darem op 'n soort van 'n afstand van die kondensmelk af.

As die aantal kalorieë begin vervaag, kom Willie se volgende woorde weer by my op.  "Dit is nou ook nie asof  Ma se liggaam oortollige kalorieë net so kan ignoreer nie, hoor.  Dit word maar soos by enige ander mens op 'n manier gestoor" Dis nou sy ordentlike manier om te sê "DIT GAAN SIT OM MA SE MIDDELLYF"

Met die resessie, die styging in pryse van net mooi alles, waspoeier wat ons klere in elk geval laat krimp, en sjampoe wat "extra body and volume" waarborg, kan ek dit nie bekostig om weer ligweg en gemaklik met kondensmelk om te gaan nie.  My vrees is dalk net my redding.

Wyse Ouma Ella het egter meer as vyftig jaar terug al raakgesien dat ek te dom is om bang te wees. Ek hoop dat ek die domgeit nou al ontgroei het.

Ek is so bang ek  kry binnekort weer 'n aanval van dapperheid , want dan val ek dalk weer 'n blik of wat aan en vernietig hulle met smaak.

Ai tog!