Wednesday, November 24, 2010

Kleintyd aangeleer

Wie was nog nooit stomgeslaan deur 'n kleinding se vindingrykheid nie?

Gister het ons ons Bybelstudie vir die jaar afgesluit.  Selfs aan ons kant van vyftig geld die skoolvakansies nog steeds. Miskien selfs meer as voorheen, want nou is dit ons hoogtepunt wanneer ou kennisse, en veral nuwe nasate kom kuier.  Maande vooraf word die spyskaart reeds uitgewerk, en alles wat vooraf gedoen kan word, word vooraf gedoen.  Teen die tyd dat die gaste opdaag, is ons stokflou, maar dan kan ons KUIER.

Die ou klein mensies neem ons heeltemal oor.  Daar hoef nie eers 'n bloedband te wees nie. Ons is mal oor kindertjies. Gee ons 'n halwe kans om van hulle te vertel, en jy kry ons nie weer stil nie!

Bettie moes gister se Bybelstudie open.  Sy lees toe vir ons 'n handgeskrewe boekie, die handewerk van haar 8-jarige kleindogter voor. Die hele Kersverhaal soos wat sy dit verstaan. Dit was kosbaar.
Die engel het aan Maria verskyn terwyl sy besig was om appels te pluk.  Elke gedagte is met prentjies toegelig.
Die ster het eers bokant Herodus se paleis gaan stilstaan, en dis hoe die wyse manne by hom uitgekom het. Hy het hulle toe na Bethlehem gestuur. Josef en Maria het getrou, en toe Maria die nag na Jesus se geboorte in die stal by die Kindjie wakkergebly het, het Josef gaan slaap.

Dit wys dat kinders van kleins af meer oplettend is as wat ons soms besef of verwag.

Klein Philip, Catrien se 5-jarige klein Vrystatertjie, het onlangs saam met sy ouers na 'n nuwe dorp verhuis. Die bure is uiteraard almal vreemd.

Toe daar 'n sjinese oom aan die deur kom klop, het Philip aangeneem dis een van die nuwe bure. Die oom vra toe kos, en Philip sê hy moet net so 'n bietjie wag, hy gaan gou-gou sy ma roep.

Ongelukkig kon hy haar toe nie in die hande kry nie, en toe hy weer buite kom, is die oom besig om in die vullissakke rond te krap op soek na kos.
Philip klim toe maar oor die tuinmuur, en help die oom om in al die sakke vir kos te soek - hy kry dan nie sy ma sodat sy die oom kan help nie.

Die tuinman het Philip daar kom wegneem en gesê dat hy nie met vreemde mense in die sakke kan rondkrap nie, want vreemde mense kan hom kwaad aandoen.

Hiervan wou die klein mannetjie net niks weet nie, want die oom is honger, en hy het hom net gehelp om kos te soek.

'n Mens hoef nie heldersiende te wees om te weet dat Bettie se kinders hul doopgelofte van die begin af nakom en hul kinders in die Here se weë grootmaak, of dat Catrien se dogter altyd kos en tyd het vir honger mense wat haar pad sou kruis nie.

Leef ons almal elke dag so dat die kindertjies maar ons voorbeeld kan volg?

Saturday, November 13, 2010

Antoinette se Beroerte

Ons hier in Danabaai is omtrent almal so regs van veertig.  Nee, laat ek maar eerlik wees, so regs van vyftig jaar oud.


Dit is mos nou maar so dat mens op hierdie leeftyd al meer in die omgewing van brille en pille rondbeweeg.  Die groot maandelikse uitdaging is om die kruideniersrekening en die apteekrekening teen mekaar op te weeg. Na elke verhoging in die brandstofprys, is die kruideniersware duurder, en kos dit mooi beplan om die apteker te betaal. Nader aan die einde van die jaar, is die mediese fonds uitgeput, en moet ons weer van die kosrekening afknyp om vir doktersbesoeke en medisyne te betaal. Niemand wil willens en wetens in die Feestyd siek word, of erger nog, in die hospitaal beland nie. Hoe dan gemaak met die kleinkinders, die kinders, ander familie en vriende wat wil kom kuier?


So kom en gaan die seisoene en so leef ons hier teen die Suidkus met al die getye van die lewe saam.  Soms hoogwater, soms laagwater, en so aan.


Antoinette woon ook hier, en moet ook maar soos ons almal rekening hou met die getye en seisoene. Wat haar besonders maak, is dat sy haar naam, wat "Beyond Praise" beteken, waardig is op al die terreine van die alledaagse bestaan. So sing sy in die koor, dien op die kerkraad, neem deel aan ons eie konserte, maak kos en bak koekies, werk vir die sopkombuis, en is sy boonop 'n regte platjie en vol omgee vir haar medemens.


Een Sondag, voor die diens in die konsistorie, voel Antoinette so 'n bietjie dronkerig...duiselig, maar sy steur haar nie te veel daaraan nie. Neem net kennis daarvan. Hier in die regterkantste jare raak mens mos meer bekommerd as jy NIKS makeer nie, want dan moet jy mooi om jou rondkyk voordat jy seker is of jy maar kan ontspan.


Toe Dominee begin preek, raak sy meer bekommerd, want sy kom toe agter dat haar oë nie lekker fokus nie. Sy sien twee predikante, en altwee ewe dof...


Sy besef dat dit 'n beroerte kan wees.  Beroerte! Sy moet hier uit! Sy moet by 'n dokter kom! Die hospitaal! Hoe om van voor in die kerk tot agter by die deur te kom, skep 'n probleem. Die alternatief is om verby die preekstoel en deur die konsistorie uit te gaan - dis hoe sy ingekom het.


Tertius. Op 'n manier moet sy haar man,Tertius, se aandag op haar dilemma en haar toestand vestig. Hoe? Dink, Antoinette, dink. Sy wil nie die hele diens ontwrig nie, en Tertius luister aandagtig na die preek. Sy is nogal bang om alleen te probeer opstaan. Sy begin sweet.


Langs haar sit die seun wat by hulle loseer. Hy kom naderhand agter dat iets aan Antoinette 'n bietjie snaaks is, en probeer om haar aandag te trek. Onopsigtelik, natuurlik.


Antoinette is in haar eie dilemma vasgevang, en nie so oplettend soos altyd nie. Sy het ook nie veel aan die diens nie, want haar gedagtes is verstrengel in 'n stryd om oorlewing.


Uiteindelik dring dit asof van ver af tot haar deur dat iemand aan haar stamp. Dis die loseerder: "Tannie, wat is fout met Tannie se bril?"


Haar bril? Antoinette haal die bril af - dit het net een lens!


As elke beroertepasiënt maar so vinnig kon herstel.


As die ekonomie maar so vinnig uit die resessie kon kom.


As is verbrande hout, maar ons kan darem 'n bietjie hitte put uit die lekkerte van die oorvertel en die lag wanneer ons dit weer herkou en rustig nabetragting hou.


Viva! regs van vyftig, Viva! Viva, vele nuanses, Viva!

Saturday, November 6, 2010

Briewe van Ester 2

My geliefde Rachel,

Dit is vandag so 'n mooi sonskyndag, dat ek my verlustig aan die geure en klanke en kleure wat van die straat af opstyg na my sitplek hier op die daktuin waar ek die meeste van my dae deurbring. Ek voel regtig geseën om dit te kan beleef.

Daar was egter ook tye wat nie so rustig was nie. Ek het mos in my vorige brief laat deurskemer dat Mordegai se ore wawyd oop was ten tye van my voorbereiding om die koning te ontmoet. Hy was baie besorg oor sy kleine Hadassa (dis my Joodse naam), wat hy naby sy hart grootgemaak het. Ek dink sy vaderlike instink is die rede waarom hy die dreigende onderstrominge onder die poortwagte raakgehoor het.

Wat hy gehoor het, was dat Bigtan en Teres, albei poortwagte en paleisamptenare, onder mekaar begin mor het dat hulle darem nie na waarde geskat word nie. Hulle het ontevrede geraak met die posisie wat hulle in die hiërargie van amptenare beklee het, en het mekaar so aangepraat dat hul bitterheid die oorhand gekry het. Dag na dag het hulle vir mekaar vertel tot watter mate hulle onderskat en ondergewaardeer word deur die koning. Volgens hulle was die koning nie net sy rykdom nie, maar sy hele bestaan aan hulle te danke. Hulle was op stuk van sake die manne wat verhoed het dat die vyand deur die poorte beweeg om die koning leed aan te doen. Dit was hulle wat hul eie lewe en gemak opgeoffer het tot voordeel van die koning. En wat kry hulle daarvoor? Nee, die toedrag van sake was onaanvaarbaar – totaal onaanvaarbaar. Hulle was ook ontevrede met die lot van koningin Vasti.

Ai, dit is ongelukkig nog deur al die eeue so dat (vermeende) veronregting nie ongestraf wil bly nie. Of daar nou meriete in die gevoel van veronregting is of nie, maak nie saak nie. Die gevoel van ontevredenheid gedy onder aanmoediging, en later is daar net 'n kleine vonkie nodig om 'n grote vuur aan die brand te steek.

So het Mordegai gehoor hoe die twee begin saamsweer om die koning te vermoor. Hulle kon geen ander uitweg uit hul situasie sien as om van die koning ontslae te raak nie. Soos in baie gevalle, het hulle ook nie die saak verder deurdink nie. Hulle was onverbiddelik daarop uit om van die onmiddellike bron van hul frustrasie, die koning, ontslae te raak. Net 'n moord, en niks anders nie, sou hulle tevrede stel. Daagliks het hul frustrasie hoër en hoër opgevlam onder die wind van hul eie negatiewe gedagtes en gemor.

Mordegai, altyd die vader, was doodbekommerd oor die gevolg wat so 'n daad op my toekoms sou hê. Onthou, my volksverband was nog steeds, op Mordegai se aandrang, 'n geheim. As die koning nou onraad vermoed, en agterkom dat sy lewe deur sy eie amptenare bedreig word, en my geheim ook nog moet uitkom, kan niemand voorspel wat die koning se reaksie sou wees nie. Ek bedoel, Vasti se oortreding was slegs dat sy nie voor die feesgangers wou paradeer nie, en sy is haar koninginstatus kwyt.

Arme, bekommerde Mordegai het hierdie dinge met my gedeel, en my aangeraai om die koning daarvan te vertel. Dit sou my posisie geen kwaad doen as die koning se lewe deur my toedoen gespaar sou word nie. En ek het mos nou guns in die koning se oë gehad – die bekendmaking sou eerder ter harte geneem word as dit van my af kom, as wanneer Mordegai, wat nog onbekend was aan die koning, self sou probeer om die koning te waarsku. Daar kon dalk meer samesweerders wees, en hulle sou die saak so kon verdraai dat Mordegai se bedoelinge dalk in twyfel getrek kon word. Niemand sou die koning kon kwalik neem as hy sou dink dat Mordegai net witvoetjie soek by die koning nie, en dat hy om eie belang stories aandra nie.

Ek was intussen nog steeds gehoorsaam aan Mordegai, selfs al was ek nou in so 'n bevoorregte posisie.

Ek het die berig aan die koning oorgedra, en ook gesê dat my voog, Mordegai, dit eerstehands in die stadspoort gehoor het.

Soos jy jou kan voorstel, was dit nie vir die koning maklik om so iets van sy poortwagte, wat tog aangestel is ter wille van sy veiligheid, te glo nie. Hy het die gerug egter nie net afgemaak as 'n storie nie, en ondersoek na die saak laat instel. Dit was 'n gespanne tyd vir Mordegai, wie se geloofwaardigheid op die spel was, en vir my ook.

Die ondersoek het aan die lig gebring dat die berig waar was, en die twee samesweerders is skuldig bevind, en aan die galg opgehang. So het dit dan gekom dat Mordegai die koning se lewe gered het.

Al hierdie dinge is in die annale van die koninkryk neergeskryf, en sou vir ewig daar geskryf staan. Die koning was self teenwoordig by die opskryf van hierdie storie, en sou dit onthou.

Dit was gelukkig vir myself en vir Mordegai dat hierdie saak so afgeloop het, want daar was nog 'n slang in die gras….

Haman,die seun van Hammedata, 'n Agagiet, was ook onder die paleisamptenare. Hy was 'n baie ambisieuse man, en sou enige iets doen om homself en sy eie belangrikheid te bevorder.

Ja, jy herken sy naam. Dit is inderdaad dieselfde Haman wie se huis nou my huis is. Hy het ook baie kere op hierdie selfde dak gesit en sy oë oor die stad laat gly. Anders as ekself, was hy egter nie tevrede met sy plek in die lewe nie, en het hy met mag en mening altyd hoër en hoër gebeur. Hy kon net nooit tevrede voel met sy posisie in die koninklike huishouding nie.

Vandag is dit nog net so. Daar is baie mense wat voel dat hulle nie na waarde geskat word nie, dat hulle misgekyk word, dat hul talente en hul bydraes tot die samelewing geringgeskat word. Sulke gedagtes is 'n vrugbare teelaarde vir jaloesie, nyd, en soos met Bigtan en Teres, selfs moordgedagtes….

Nou is my goeie bui van vanogend sommer daarmee heen. Ek het heeltemal in die verlede verstrengel geraak. Ek moet nou eers weer iets aktiefs doen om my eie gedagtes te suiwer, en sal op 'n volgende keer meer uitbrei oor die weg wat Haman geneem het om homself en sy eie eer te bevorder.

Ek dink ek gaan 'n paar vye pluk, en myself met die soet heerlikheid bederf.

Ek onthou 'n ou seën wat oor die gehoorsames aan die Here uitgespreek is. Dit is opgeteken in Deuteronomium28:1 – 8. Ek wil dit graag met jou deel.

"As jy goed luister na die Here jou God en jy gehoorsaam al sy gebooie wat ek jou vandag gee, en jy lewe daarvolgens,sal die Here jou God jou oor al die nasies van die aarde stel.

As jy luister na die Here jou God, sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk.

Jy sal geseën wees in die stad, jy sal geseën wees in die oop veld.

Jou nageslag sal geseën wees, en die opbrengs van jou lande en die aanteel van jou diere, jou kalweroes en jou lammeroes.

Jou oesmandjie en jou knieskottel sal geseën wees.

Jy sal geseën wees waar jy ook gaan.

Die Here sal jou vyande wat jou aanval, vir jou laat vlug. Hulle sal uit een rigting teen jou opruk, maar in talle rigtings voor jou uit vlug.

Die Here sal die seën beveel om oor jou te kom, oor jou graanskure en oor alles wat jy aanpak. Die Here jou God sal jou seën in die land wat Hy jou gee."


 

Jou mede-begenadigde

Ester

Thursday, October 21, 2010

Briewe van Ester aan Rachel 1


My liewe Rachel,

Ja, ek het 'n baie opwindende en buitengewone lewe. Hier sit ek nou op die dak van my "eg koninklike huis" en terugdink aan my jare hier in die dorp Susan. Hierdie huis was vroeër mos die eiendom van Haman…..
Ek kan skaars glo dis my lewe wat deur my herinneringe voor my geestesoog afspeel. Ek dink daar sal nog dikwels sprokies oor hierdie soort lewe geskryf word. Die verskil is net, my storie is die waarheid.
Ek was mos 'n weeskind. My ouers is dood toe ek nog baie klein was, en ek is toe,volgens ons Joodse gebruik, deur my neef, Mordegai, wat baie ouer as ek was, as sy eie kind aangeneem en grootgemaak. Ek was baie gelukkig in Mordegai se huis, en hy was baie goed vir my. Die mense was almal gaande oor my skoonheid – ja, ek was 'n baie mooi meisie, en mense het maklik van my gehou. Ek was ook gehoorsaam aan Mordegai.    
Mordegai was die seun van Jaïr, my pa (Abigajil) se broer. Jaïr was weer die seun van Simi, my oupa, en hy was 'n seun van Kis uit die stam van Benjamin. Dis hier waar ons verwantskap sy oorsprong het. Jy is vernoem na jou oergrootjie, die skone Rachel, wat Jakob se vrou en die moeder van Josef en Benjamin was.
My grootste avontuur het begin toe ek in die koninklike paleis hier in Susan kom woon het. Alles in Koning Ahasveros se paleis was eg koninklik. Elke enkele item moes net die beste, die mooiste en van die hoogste gehalte wees. Ook reg so, want hy was op stuk van sake 'n baie groot en belangrike koning. Sy word was wet, en sy geringste begeerte was 'n bevel.
Maar, laat ek eers vertel hoe ek onder die koning se aandag (en oë) gekom het. Dis al klaar soos 'n sprokie…
Die koning het 'n groot fees gehou om sy grootheid ten toon te stel. Dit was in die derde jaar van sy bewind, en al sy hoë amptenare en ander in sy diens is na die fees genooi. Nou moet jy onthou dat Koning Ahasveros oor eenhonderd sewe en twintig provinsies regeer het. Sy koninkryk het gestrek vanaf Indië in die Ooste tot by Kus in Afrika. Julle moderne mense sal seker praat van Ethiopië. Die land het ook op 'n tyd as Nubië, en Abbisinië bekend gestaan. Die mense van Kus was swart van kleur, en het van die vroegste tye as akrobate die monde laat oophang. Hulle was baie gewild by die feeste wat deur die farao's gehou is waar hulle vermaaklikheid verskaf het. Ek dink hul vermoeëns is deur sommiges as towery beskou….
Ek val myself alweer in die rede. Vergeef tog Rachel, want ek is oud, en my gedagtes dwaal maklik.,
O ja, die partytjie! Dit was 'n fees der feeste! Geen geld of moeite is ontsien om die koning se mag en rykdom ten toon te stel nie. Elke belangrike persoon was daar – 'n regte "who's who" geleentheid. Van die leëroffisiere van Medië en Persië af was al die hooggeplaastes teenwordig.
Eers is al die rykdom uitgestal vir almal om te bewonder – 'n hele ses maande lank!! Daarna is 'n onthaal vir 'n week lank in die paleistuin gehou en almal, groot en klein, was welkom. Oe, dit was 'n feestelikheid soos jy jou nie kan indink nie. Daar was behangsels van wit en bloedrooi linnedoeke wat met pers linnetoue deur silwerringe aan marmerpilare vasgemaak. Silwer- en goue rusbanke het oral op 'n plaveisel van vier soorte kosbare klip rondgestaan. Wyn is bedien in goue bekers van verskillende ontwerpe, en daar was 'n oorvloed van kos en koninklike wyn – soos 'n mens van so 'n vername koning kon verwag.
Die koning se opdrag was dat niemand gedwing moes word om te drink nie, maar die paleisbediendes moes aan elkeen bedien waarvan hy gehou het.
Intussen het Koningin Vasti die vroue in die paleis onthaal. Hier het dit net so spoggerig gegaan. Jy weet mos dat ons nie gemengde partytjies gehou het nie. Die vroue het die beeldskone koningin bewonder, oor hul mans, kinders en bediendes gesels,'n bietjie geskinder, en daar was selfs hier en daar 'n venynigheidjie te bespeur. Alles baie feestelik, en baie beskaafd!
Nou-ja, soos dit met sulke feeste gaan, bly die moeilikheid mos ook nie weg nie. Op die sewende dag, toe die koning al baie vrolik was van die wyn, wou hy nog meer spog. Hy wou met die skoonheid van Koiningin Vasti ook spog, en het sy sewe paleisbeamptes geroep, en hulle beveel om die koningin, met haar kroon en al die fyn klere en juwele aan, te bring sodat hy vir al sy amptenare kon wys hoe mooi sy is.
Koningin Vasti het geweier. Sy sou nie soos 'n besitting uitgestal word nie – en veral nie op die sewende dag as omtrent almal al te veel gedrink het nie.
Die koning was woedend en verneder. Hoe durf Vasti dit waag om sy bevel te verontagsaam, en dit nogal voor al sy hoë amptenare? 'n Dronk man aanvaar nie vernedering nie, en 'n magtige dronk man se vergelding het nie perke nie. Wat toe gebeur het is dat hy sy adviseurs gevra het wat hy nou moes doen. Hierdie adviseurs was regsgeleerders en ander hoës (ook getroude mans).
Die adviseurs, wat verteenwoordigend van die provinsies was, het toe gekoukus en tot die slotsom gekom dat hulle vrouens nou ook respek gaan verloor vir hulle, en koningin Vasti se voorbeeld gaan volg, en dat hulle dan in die oë van hulle onderdane ook bespotlik gemaak sou word. Dit sou nie deug nie – 'n voorbeeld sou van Vasti gemaak moes word…
Hulle het toe vir die koning aanbeveel dat koninging Vasti nooit weer voor die koning mag verskyn nie, en dat die koning haar as koninging vervang deur iemand wat haar beter sou gedra. Hulle het verder aanbeveel dat hierdie bevel 'n onherroeplike wet van Medië en Persië sou word.
Dit is toe ook so gedoen. Briewe is na al die provinsies gestuur, na elke provinsie in sy eie skrif en na elke volk in sy eie taal. In hierdie briewe het gestaan dat elke man moet baas wees in sy eie huis en moet optree volgens die gebruik van sy volk.
Die koning se woede het later, heelwat later, afgekoel, en hy het na koningin Vasti verlang. Hy het weer sy amptenare bymekaar geroep en hierdie keer was hul raad dat hy vir hom al die mooi meisies moet laat soek. Uit elke provinsie moes die amptenare die mooiste meisies na die vestingstad, Susan, stuur. Hier sou Hegai, die paleisbeampte oor die koning se vrouens, oor hulle toesig hou. Hierdie meisies moes dan skoonheidsbehandeling ontvang waarna die koning vir hom 'n nuwe koningin moes uitsoek.

Die koning het gedink dis 'n baie goeie plan en so 'n bevel uitgevaardig. 'n Groot klomp meisies het in die stad Susan bymekaar gekom en is onder die sorg van Hegai geplaas. Ek self is ook na die paleis toe.
Hegai het baie van my gehou en ek was vir hom mooi. Hy het my sommer dadelik die nodige skoonheidsbehandeling laat kry en die regte dieet laat volg. Ja, daar is geen steen onaangeroer gelaat om ons op ons mooiste en beste te laat vertoon nie. 'n Totale "make-over" was elke kandidaad se beloning.
Ek is ook na die beste deel van die vroue kwartiere verskuif, en het die sewe beste kamerpersoneellede tot my beskikking gehad.
Ek het vir niemand vertel dat ek 'n Jood is nie omdat Mordegai my verbied het om dit te doen. Mordegai, my besorgde voog, het elke dag op en af gestap voor die vroue kwartiere om uit te vind hoe dit met my gaan en vas te stel wat met my gaan gebeur.
Hierdie skoonheidsbehandeling het 'n jaar geduur! Ja, regtig: ses maande met mire-olie en die ander ses maande met aromatiese kruie en ander skoonheidsmiddels. Ons is ook opgelei in die etiket en protokol van die tyd. Dit sou nie deug dat die nuwe koningin ook 'n verleentheid vir die koning kon wees nie. Nee, daar is seker gemaak dat ons presies sou weet hoe om ons in enige situasie te gedra. Om 'n koningin te wees, is nie net glans en plesier nie, hoor! Ons moes ook iets van die politiek en die koning se regeerstyl weet, sodat ons kon saampraat.
Na afloop van die jaar het elke meisie 'n beurt gekry om voor die koning te verskyn. Wanneer dit haar beurt is om na die koning se paleis toe te gaan, kon elke meisie alles saamvat wat sy wou. Elke meisie is in die aand na die paleis, en die volgende oggend na die tweede stel vrouekwartiere waar Saäsgas die toesighouer oor die byvrouens was. As sy eers hier was, kon 'n meisie nie weer voor die koning verskyn, behalwe as hy haar ontbied het nie. As jy by Saäsgas se groepie uitgekom het, moes jy weet jy't nie die eerste prys – om die volgende koningin te word - gewen nie.
Toe dit my beurt was om voor die koning te verskyn, het Hegai my voorgesê wat ek van die koning kon vra. (Ek was mos sy gunsteling onder die meisies, en hy het my spesiaal goed voorberei op my onderhoud met die koning.) Ek het niks meer gevra as wat hy voorgestel het nie.
My verskyning voor die koning was in die maand Tebet, die tiende maand van die sewende regeringsjaar van koning Ahasveros. Die koning het meer van my gehou as van enige van die ander meisies, en het my gekroon as koningin in die plek van Vasti.
Ons het weer fees gehou – hierdie keer om my as nuwe koningin te vereer. Al die amptenare en onderdane se verpligtinge is verminder en die koning het geskenke uitgedeel met koninklike vrygewigheid. Die hele koninkryk was in feestelike vakansiestemming, en het na hartelus meegedoen aan die verrigtinge!
Ek kan nie vir jou beskryf hoe dit gevoel het om skielik so belangrik en so gesog te wees en so op die hande gedra te word nie. Dit was byna te goed om waar te wees. Ek het egter onthou hoe en waarom die "vakature" vir koningin ontstaan het, en het die hele tyd geweet dat my nuwe posisie van die koning se goedgesindheid en tevredenheid afhanklik was. Dan was daar ook nog my geheim – ja, my Joodskap was steeds geheim.
Dit is hoe ek in die paleis beland het.
Dit is egter nie al wat in daardie jaar gebeur het nie. In my volgende brief sal ek vertel wat Mordegai agtergekom het terwyl hy so begaan was oor my welstand, en voor die paleis gewaak het.
Aangesien hy elke dag in die omgewing van die vrouekwartiere was om 'n ogie oor my te probeer hou, het hy baie grepe van gesprekke en brokkies nuus te hore gekom.
Nou gaan ek eers rus, wanr ek het nie tred gehou met die tyd nie. Ek was so verdiep in my eie gedagtes, dat die dag onder my uitgeglip het.
Mag dit met jou goed gaan, en mag die Here jou pad gelyk maak.

Ester (Hadassa).

Thursday, August 19, 2010

Kommissievergadering

Ek en Willem het by sy ouers gaan kuier, en omdat die afstand so groot is, het ons besluit om sommer van die geleentheid gebruik te maak om by alons kennisse in daardie geweste aan te doen - nog 'n rondte so in die tradisie van Vader Cloete.

Met die terugkeer, slaap ons op 'n klein dorpie oor. Vir aandete gaan ons saam met die familie na die plaaslike gastehuis waar ons tydens 'n vorige besoek al baie familiêr geraak het met die eienaars - sulke gawe mense.

Met die intrapslag - dit was 'n baie koue Hoëveldse aand - mik ons geselskappie sommer dadelik vir die deel van die restaurant waar die kagel heerlik brand. Die snoesigheid van die kaggelvuur, en die gedagte aan 'n lekker glasie sjerrie om die bloed warm te kry voor 'n heerlike ete laat die bewerige lywe amper gloei van lekkerte.

Net voordat ons die deure oopstoot om in te gaan na waar 'n redelike groot groep mense gesellig sit met glasies "verwarmers", kom twee van die manne uit om ons voor te keer.

"Ons is jammer, maar julle kan nie vanaand hier inkom nie, ons hou vergadering", sê Nommer Een. Ek is al klaar tuis, en neem aan Meneer maak 'n grappie, en daarom bied ek ewe luimig aan om die notule te hou. Tot my verbasing lyk dit asof die man nie mooi verstaan wat nou met my aangaan nie.

Dis toe regtig 'n vergadering wat 'n aanvang neem.

Die ander tafels is in die koue, want daar moet mos vir die somer ook voorsiening gemaak word. DILEMMA.

Na 'n bietjie boere-onderhandeling word ons tot die warm vertrek toegelaat op voorwaarde dat ons nie sal kla as ons nou die besprekings ter ore kom nie. Ons kry ons eie tafel, en aanvaar alle voorwaardes. Niemand het gesê dat ons nie gehoor mag word nie...

Met verloop van tyd kom ons agter dat hierdie 'n kommissievergadering is van die plaaslike gemeente. Die kommissie moet geld insamel om die kerkterrein op te knap. Daar was ook 'n veldbrand wat die terrein nog meer onvriendelik maak vir die be-oogde potjiekoskompetisie.

Sonder dat ons dit so bedoel het, word ons toe deel van die kommissievergadering - veral toe 'n neef van Willem ook later daar aankom met planne en bydraes.

Eerste om in te val was de manne in ons geselskap. Elkeen kan 'n bydrae lewer, of 'n plan ondersteun.

Ek moet nou bely: ek was lank op verskeie kerkrade as diaken, en later ook as ouderling (vrouderling), maar nog nooit het ek so 'n gesellige vergadering beleef soos hierdie plattelandse ene nie.

Die kommissielede is almal in goeie luim. Om die koue te verdryf word 'n bottel OBS asook 'n groterige kan wyn sirkuleer, en elkeen is intens betrokke by die bespreking en beplanning.

Van die items wat bespreek is, was die grootte van die stalletjies - minstens 4mx5m; die verskillende stalletjies: 'n waterstalletjie, ander eetgoed, handwerkies, houtwerk, "quad-bike baan", windbuksskiet, kuttel-verspoegkompetisie en alles waaroor mens kan dink.

Met die bespreking van die laasgenoemde kompetisie kon ek nie meer stilbly nie, en wys die vergadering toe hier van my hoek af op die gepaste benaming (veral in kerkgeledere) vir die soort kompetisie. Volgens my sal kerkmense nie praat (of erger, adverteer, van 'n bokdrolverspoegkompetisie nie. Na my beste wete is die beskaafde naam vir daai missies, kuttels. Uit ondervinding kan ek darem saamstem dat koedoe-kuttels verder trek as springbokmis, as gevolg van die groter gewig. Ek weet ook dat 'n snor die spoegaksie kan belemmer, maar wil myself darem nie te slim hou nie, ek is "after all" 'n vreemdeling in hul midde. Ek word bedank vir my deelname, maar my woord maak nie indruk nie.

Ook 'n biertuin word beplan. Die voorsitter sê dat hy aan die ringkoppe van die Kerkraad genoem het dat daar een van twee keuses was: Of die besoekers en deelnemers word toegelaat om eie drank in te bring - vir gebruik met die ete (potjiekos), of die kommissie moet self drank verkoop. Na deeglike oorweging het die Kerkraadslede besluit dat hulle net sowel die fondse verder kan styf deur self drank te verskaf - dis mos alles ten bate van die opgradering van die Kerkterrein.

Later word pryse en die fyner detail van die dag beplan. Kondensmelkspuite vir diegene in die 18- ouderdomsgroep kan 'n vet wins toon. Aangesien daar ook mense in die 18+ groep (die uwe ingesluit) is wat van kondensmelk hou, kan daar aan diesulkes 'n mengsel van vodka en kondensmelk in 'n spuit verkoop word - groter wins. Die biertuin kan op die ou einde ook 'n aantal van die kompetisies se pryse ook verskaf.

Die oorspronklike planne wat beraam word om die roet van die veldbrand weg te blaas, en om die grassies weer te laat uitspruit was op sigself inspirerend genoeg om die aand die moeite werd te maak. Ai, die platteland, my hart se land!

Op 4 September gaan hierdie Potjiekoskompetisie plaasvind. As jy jou iewers in die Noord-ooste van ons land bevind - besoek hierdie okkasie vir 'n baie stimulerende ervaring. Ek is so jammer dat ek nie weer die tog kan aanpak nie.

Vir nou is die herinnering aan hierdie vergadering sommer lekker genoeg om my deur 'n klomp koue aande te help.

Wednesday, July 21, 2010

Vleis 2010

Ons familie se vleislus vlam mos elke jaar met die naderende koue ernstig op. Terselfdertyd begin ons saans so koud kry, verveel die lang aande ons elkeen by sy eie huis, en kan ons aan geen rede dink waarom ons nie karoo toe kan gaan nie.
Oupa en Ouma maak reg vir die groot kuier.
Die volgende geslag maak solank allerhande planne vir die verwerking van die vleis - goeie rookskerm vir die GROOT KUIER. Stories en staaltjies, kwinkslae en allerhande gevatte sêgoed word afgestof en blink gevryf vir die okkasie.

Die derde geslag se aandag is op heel ander plekke. Die niggies is op die oomblik baie anti-vleis. Eet vegetaries, gril vir die reuk van vleis, en sal liefs nie die hande daaraan waag nie. Hierdie jaar het die tweetjies liewer op die dorp gebly - veilig ver van die banale werk en lekker naby die beskawing van flieks, maters en TV.

Rachel, die enigste getroude niggie kon dit nie maak nie, want daar is 'n spertyd vir die een of ander groot projek by haar werk. Verder woon hulle 8 ure se ry van die plaas af - 'n naweek is net te kort.

Die neefs se oë blink by die gedagte aan die jag. Om met vleis te kan werk, moet daar eers gejag word! Die beeste en die vark is in die voorafgaande week geslag sodat die vleis kan ryp word, maar springbokke en koedoes moet gejag word.
Skaapvleis bêre ons vir die res van die jaar.

Hierdie jaar het Stefan met die louere weggeloop. Hy het die grootste koedoe geskiet.
Oupa se groot reël is - geen gekweste dier word gelos nie, en daar mag nie sonder 'n knaldemper geskiet word nie, want hy wil nie die diere verskrik nie.

Nou is ons terug, met genoeg om aan te kou(vleis, biltong, droë wors, sosaties) en te herkou (herinneringe) tot volgende winter...

Nuwe Stadion in Kaapstad


Rachel was ons gids in Kaapstad. Ons het alles bekyk - van die reuse vuvuzela tot die spik-splinternuwe stadion. Gelukkig vir ons was die vuvuzela stil, en die skares reeds huis toe. Ons plaasjapies skrik maklik vir 'n gedreun en 'n gezoem en 'n gewoel om ons.
(Rachel is baie trots op haar stad)

Selfs die parkeerterrein was leeg. Die Moederstad is darem regtig 'n lus vir die oog.


Kyk dan net so!
Posted by Picasa

Monday, May 24, 2010

Duidelik gesien!

Ons was vir 'n naweek op toer deur ons pragtige streek. Die plan was om die Baviaanskloof en die Langkloof te verken, en daarna sommer deur te skiet Graaff Reinet toe vir 'n week se produktiewe tydsbesteding.

Die vierstuks van ons, Manlief, ekke, Sophie en Herklaas die Gesiene Man, trek toe hier weg. Gewapen met genoeg padkos vir 'n week, braaigoed vir 'n maand en drinkgoed vir die woestyn, was ons gereed vir alles!

Die eerste dag se trek deur die Langkloof was mooi, tenspyte van die droogte en 'n onlangse vuur wat van die boorde verniel het. Ons was al almal tevore in die Langkloof, en dit was dus meer 'n kwessie van 'n blye weersiens as van 'n ontdekkingsreis. Ons eerste nag se rus was 'n sprokie in die lemoenboorde by Kudu Kaya. Hoewel die lemoene nog effens groen was, het ons met ons gasvrou se seën, tog 'n paar van die geler lemoene in die een boord uitprobeer, of ge-"test drive". Die lemoene was verrassend lekker. Glad nie so suur soos ons verwag het nie.

Ons het ons bedenkinge gehad oor die moontlikheid van 'n goeie nagrus, aangesien hierdie streek nie verniet baie naby aan die Baviaanskloof is nie, en die bobbejane 'n lekker vrug ken as hulle hom sien. As voorsorgmaatreël het ons al ons eetbare bagasie dus binne in die chalet toegemaak, en probeer om die braaiplek so bobbejaanproef as moontlik te laat toe ons gaan slaap.

Ons het heerlik gekuier met die boer wat kom inloer het om die border-kollie, wat ons tot nou toe begelei het, huis toe te neem. Ai, niemand kan darem kuier soos ons ou boerevolkie nie. Maak nie saak of ons al voorheen die oë op mekaar geslaan het nie, as ons net eers die "start"-knoppie kry, is daar byna geen keer aan ons gesels en staaltjies uitruilery nie. Ek wens soms dat mens sulke gewoontetjies in 'n museum kon bewaar vir die nageslag. Lekker bly lekker. Geborge bly geborge. Kuier bly koning!

Kort nadat ons gaan inkruip het, en my man se legendariese vermoë om vas te slaap voordat sy kop op die kussing beland, ons weer eens verbaas het, hoor ek hoe Herklaas vir Sophie gerusstel: "Ons hoef ons nie oor die bobbejane te bekommer nie, ou Willem se gesnork sal hulle ver weghou." As daar nou een eienskap is wat Willem se vermoë om gou aan die slaap te raak in die skadu stel, dan is dit sy luide en onverpoosde snorke. (Ek kan glad nie meer aan die slaap raak sonder "agtergrondsgeluide" nie). In ons Namibiese dae het die landmetersassistente altyd baie ordentlik gewag tot laaste om hul tente by kampeerplekke staan te maak. Hulle het dan behoorlik gekyk na die omgewing, hul berekeninge gemaak, en hul eie tente so ver as moontlik van Willem s'n opgeslaan - net om darem 'n oog opmekaar te kan hê voor die volgende dag se werk.

Herklaas was reg met sy voorspelling. Daar was nie eers een bobbejaanspoor naby ons blyplekkie vir die nag nie.

Die volgende oggend is ons redelik vroeg uit die vere om die Baviaanskloof (almal vir die eerste keer) te beleef. Wat 'n belewenis!!! Die natuurskoon het ons om elke draai opnuut met verwondering laat uitroep "Hoe wonderlik is ons God en Skepper tog nie!" Ons woorde is te min om te beskryf hoe die berge, klippe, plantegroei, die lug, wilde diere, waterstrome en droë dele, hoe alles verruklik mooi en groots is.

Ons het ook 'n bietjie respek vir motorvervaardigers bygekry, want waar ons gery het, wil ek tog nie loop nie.

Ek en Sophie het by sommige van ons stilhouplekke my kierie gedeel. Hoewel ek amptelik die krok in die groep is, was party dele se klim van so 'n aard dat klipspringer Sophie ook nuttig van die kierie kon gebruik maak. Met 'n afdraende help hy briek, en teen 'n opte uit, trek mens jouself so half en half teen die kierie op. Dit hou die gekreun en gesteun ook sommer in toom.

Ons was so in verrukking, dat ons almal vergeet het om foto's te neem. Ons het mekaar daarna vertroos met die feit dat geen amateurfoto reg kon laat geskied aan dit wat ons met ons oë aanskou en met ons wesens beleef het nie.

Herklaas (die bestuurder) het naderhand begin vrees dat ons nie ons slaapplek in Makkedaatsgrot voor donker sou bereik vir die nag nie. Ons het dit gemaak met 'n vinger sonlig te spaar!

Die aand om die kampvuur is daar gesels asof ons mekaar sopas ontmoet het, en nie meer as twintig jaar ken nie. Daar is wel nog nuwe staaltjies. Sien, ons was vir ongeveer 10 jaar nie in dieselfde dorp of selfs in dieselfde land woonagtig nie. In hierdie tyd het Herklaas en Sophie vir 'n paar jaar met hul motor-home getoer. Dis nuwe staaltjies vir my en Willem.

Met die vertellery het Herklaas se "gesienendheid" ook nuwe betekenis gekry. Op 'n slag was hulle twee aan't toere teen die Weskus langs. Hulle doen toe ook by Vredendal aan, en aangesien hulle al gehoor het van die streek se lekker soet druiwe en goeie wyn, soek hulle na 'n spesifieke kelder waarvan hulle gehoor het. Vreemd soos die plek nou maar vir 'n mens is met jou eerste besoek, kon hulle die kelder nie gou genoeg kry nie, maar Herklaas gewaar toe 'n drankwinkel waar die produk van die betrokke kelder geadverteer word. 'n Besluit word toe geneem dat dit seker net so goed sal smaak as 'n bottel wat by die kelder gekoop word.

Die "motor-home" word baie sekuur voor die drankwinkel se deur parkeer, en Herklaas klim uit om, pure gentleman, Sophie se deur vir haar oop te maak. Sy was egter redelik gretig om uit te klim, en haar deur was reeds oop, haar voet geswik en sy op pad grond toe toe hy om die voertuig kom. Herklaas probeer haar toe optel, of ten minste keer dat sy nie te hard val nie, en sy probeer om glad nie te val nie....

Herklaas probeer haar arms bykom, en sy gryp na Herklaas se broekspype - dis wat sy kon bykom. Soos dit toe moes wees, was daardie dag een van die dae dat hy 'n kortbroek met 'n rek bo-aan aangehad het. Die Weskus is mos warm as dit warm is!!

So kom dit toe dat Sophie op die sypaadjie lê met Herklaas se broek in haar hande, terwyl Herklaas bo-oor haar staan met reikende hande wat nie raakvat nie, en 'n broek wat ook nie meer bedek wat hy behoort toe te hou nie.

Na 'n kort gesprek tussen die twee, waar opdragte onder andere uitgeruil is, kom Sophie toe darem redelik ongeskonde weer op die voete, en Herklaas in sy broek. Sophie is dankbaar dat sy onderbroeke darem altyd heel is....

In die drankwinkel begroet 'n doodse stilte die tweetjies. Hulle is van kant tot kant deur die winkel om te soek wat hulle wou hê, terwyl die twee meisies wat daar werk, nie op of af, links of regs of na mekaar kyk nie.

Toe ons twee gryskopvriende buite kom, kon die twee winkelklerke nie meer nie, en het dit weergalm soos hulle lag.

Dit lyk mos vir my of dit nou 'n duidelike voorbeeld is van gesienendheid.

Die grotslapery is 'n storie op sy eie. Almal is nie ewe dapper om die nagtelike draaitjie te loop nie, almal slaap nie ewe vas nie, en 'n plankplafon wat sommer die volgende verdieping se vloer is, is ook nie klankdig nie. Rotsmure is nie net hard nie, maar as dit skielik teen jou slaapdowwe lyf kom, is dit deksels koud.

Ek sal net nog sê dat ons dik gelag, verkwik en in goeie luim op Hopewell aangekom het - gereed vir ons produktiewe week.

Groete van grot tot grot.

Tuesday, April 27, 2010

ALZHEIMERS AND THE EMOTIONS WE HAVE TO COPE WITH

ALZHEIMERS AND THE EMOTIONS WE HAVE TO COPE WITH

Marietjie Knoetze


 

When a loved one is diagnosed with Alzheimer's Disease, and the full implications of the diagnosis become apparent, the diagnosed person, as well as those close to him/her has to deal with a whirlpool of emotions.

In our society, where we are not since childhood encouraged to acknowledge and/or show our emotions, this can be, and mostly is a very traumatic and stressful situation, and can be compared to dealing with the death of a relative.

Many people had expected something along the lines of dementia before the diagnosis, but at the pre-diagnostic stage, it is still a bit vague, and other possibilities for the symptoms like forgetfulness, confusion, etc. are also considered. Once the diagnosis is made, however, that 'security blanket' of all kinds of maybes, rationalizations of strange behavior and hope that this too will pass, evaporates into thin air.

At first, a feeling of numbness and apathy may take hold of you. The shock, if you have some knowledge of the prognosis of the disease, can be too much to face, and for a while it may even be ignored in the closed circle of loved ones.

After a while in this void, a feeling of denial appears. All kinds of signs pointing away from the diagnosis may be observed, speculated upon, and believed by all parties involved. In this period, violent reactions can erupt should a well-meaning person try to convince the involved parties of the validity of the diagnosis and the need for pro-active planning.

Once this period of denial has passed, the involved parties may experience an intense anger. This anger may be guided towards the dementia sufferer for leaving them with extra responsibilities, towards the closest person to the affected person, towards the self (for not being able to see it earlier, or preventing it in some way), towards the medical profession, and even towards God for allowing something like this to happen to us. This is normal, and one should not try to negate these feelings, or even hide them, for that will prolong the grieving time, and probably waste valuable time in which something could have been done in slowing down the progress of the disease.

During or after this angry period, one can expect to start negotiating in order to change the situation. Thoughts like,

"I can resign from my job and spend more time with him/her, if You will make this disappear"

"I am willing to change my ways if this situation can be reversed,"

" I'll be the perfect partner/child if this could only turn out to be a nightmare."

Although the order in which these feelings occur, may vary from case to case, all of them mostly appear at some time. Following negotiations with God, or Some-one in control, during which process all kinds of admissions of guilt, or promises of some kind or other may be made, a time will come when acceptance of the situation will take place.

This does not mean that everything will now be hunky dory, and all negative feelings will just disappear. By no means! These emotions may re-occur at any given time, for example while the family is enjoying something that the person with dementia or Alzheimer's can no longer enjoy (guilt), or even when the situation in caring for the Alzheimer sufferer becomes more difficult, and family structures starts to disintegrate (guilt, anger, incompetence, helplessness).

Only after the diagnosis has been accepted, can meaningful and sensible planning take place for the long-term care of the Alzheimer Sufferer, and the adaptation to the situation by loved ones.

Again this does not mean instant tranquility for all concerned. As previously mentioned, people does not grieve according to strict rules. Some of the relatives might already have passed the point of acceptance while others may still be angry, denying or negotiating and blaming. This leads in many cases to discord in the family.

Should the carer, or person responsible for the decision making for the Alzheimer sufferer during such a time of turbulent feelings then decide on institutionalized care, major unhappiness can arise. If not understood and treated with love, understanding and tenderness, this can affect the Alzheimer sufferer very negatively indeed. Although the intellectual, motor and most other functions of the brain deteriorate, it does not happen simultaneous, and sometimes the ability to decode hidden emotions, and detecting friction amongst people in the vicinity can be very acute and accurate for a long time.

The only way we have to cope in these difficult circumstances, is to empower ourselves with as much knowledge about Alzheimer's Disease and research as possible, to acknowledge our own emotions, accept ourselves for who we are, make peace with the diagnosis, and the sufferer, and be as kind and loving towards each other as possible.


 


 

 

Wednesday, March 31, 2010

Die gesiene man en die buffel

Ons het 'n goeie en groot vriend. Kom ons noem hom maar Herklaas. Hy spot altyd dat hy 'n gesiene man in die dorp is, en dus nie allerhande lawwighede of onbetaamlikhede kan aanvang nie. Sy vrou, Sophie, is weer die teenoorgestelde. Sy sal enige iets doen vir die pret. Selfs op 65-jarige ouderdom met net haar onderklere aan in 'n rotspoeletjie by die see gaan sit, omdat sy warm kry, en nie haar baaibroek byderhand het nie.

Maklik om te sien dat 'n naweek saam met hierdie twee mense tot baie pret en plesier kan lei. Om van binnepret nie eens te praat nie!

Sowat twee weke gelede, is ons klompie dan ook na die vakansieplaas by Gouritzmond om bietjie te ontlaai. Heerlik.

Ons is so rustig as wat ons in jare nie was nie - soveel so, dat die manne sommer bereid is om lawwe gunsies vir ons te doen. Almal wat al onder stresvolle omstandighede soos in die nadraai van 'n resessie, geleef het, sal weet dat mans nie gewoonlik gou so ontspanne raak nie. Nouja, Manlief en Herklaas het onderneem om vir Sophie 'n mooi bossie dekriet (in saad) te pluk. Sy wil dit in 'n pot sit vir versiering. Die mooiste dekriet groei natuurlik in die wildkamp....

Ons twee dames verwyl die rustige oggend op die stoep - al turende oor die see, terwyl ons tussendeur sorg dat daar 'n eetdingetjie sal wees wanneer die mans terugkom uit die veld.

Min het ons geweet dat ons nie net uitgerus sou wees na die naweek nie, maar totaal vernuwe - sonder die bossie dekriet.

Met etenstyd het die manne kom aansit, en ewe doodluiters begin Herklaas te vertel van sy ondervinding in die veld. Hy en Manlief het besluit om aan weerskante van die pad te soek vir mooi dekriet. Elkeen aan sy eie kant, terwyl die bakkie in die pad bly staan - hulle was darem nou nie van plan om sommer in een dag fiks te raak ook nie! Wyl hy nou so aan die een kant van die pad na al die plante kyk, en soek vir die perfekte pol dekriet, het hy al hoe verder van die bakkie af beweeg. Toe hy weer om 'n bossie kom en opkyk, kyk hy vas in die groot 'gesig' van een van die twee buffelbulle op die plaas.

Herklaas sê dat hy besluit het om om te draai, en terug te stap bakkie toe. Wanneer 'n man so naby aan 'n buffel kom, is daar glo so 'n klein mannetjie in sy binneste wat sê dat dit nou tyd is om te gaan. Herklaas sê dat hy so in die wegbeweeg 'n keer of wat opgekyk het, en gesien het dat die bakkie nou darem baie vinnig nader kom. Nie dat hy eintlik bedoel het om te hardloop nie....

Manlief se weergawe strook toe ook goed hiermee. Toe hy so 'n keer rondkyk, sien hy net hoe Herklaas met redelike spoed op die bakkie afpeil. Onbewus van die teenwoordigheid van Mnr. Buffel, kon hy nou nie raai wat vir Herklaas so op hol het nie, en besluit toe maar om self haastig terug te keer bakkie toe. Mnr. Buffel het glad nie so 'n klein mannetjie wat hom aanspoor tot wegbeweeg nie, en het blykbaar rustig aanhou herkou. Seker ook maar gewonder oor die snaakse gedrag van die tweebeen-spesie.

Terug aan tafel, besluit ons vier toe dat 'n man eers 'n gesiene man is as jy op kort afstand deur 'n buffel 'gesien is'. Dit doen wondere vir 'n man se selfbeeld en hy sien vir baie meer dinge in die lewe kans na so 'n ontmoeting.

Toe ek en Sophie later die middag met die vullis na die munisipale asgate toe ry (daar is nie vullisverwydering op plase nie), was ons erg verstom toe Herklaas ewe doodluiters agter op die bakkie klim ('n gewone gesiene man doen dit NOOIT nie) om saam te ry. Op ons verbaasde navraag na die rede vir hierdie ongewone optrede, was sy kalm antwoord dat ons tog seker nie gedink het dat ons self die vullis kan aflaai nie.

Ek is seker hierdie insident sal nog nes kry in die verhale wat aan kleinkinders oorvertel sal word. Die spoed sal miskien met tyd bietjie groter word, en die afstand tussen Oupa en die Buffel sal seker bietjie kleiner word - so in die gees van visvang- en ander vertellinge.

Ek en Sophie kan nie genoeg kry van die geleenthede om die grootmenswêreld so 'n bietjie opsy te skuif en die lewe weer deur baie jong oë te aanskou nie. Wie't nou gedink dat ouer word noodwendig met minder pret gepaard gaan? Die beeld van twee groot manne op vol spoed, sal in ons gedagtes altyd 'n glimlag, en soms selfs 'n skaterlag optower!

Tuesday, February 9, 2010

Hittedrome

Dis warm. Dis rêrig warm - sommer baie warm hier in die Suidkaap. In ons geweste is temperature bo 30'C heel ongehoord. Vandag styg die kwik sommer tot by 38. Ons is nie hieraan gewoond nie, en dit help ook nie eers om te weet dat dit anderkant die berg, by Oudtshoorn, nog warmer is nie.

As hier kraaie was, het hulle nie net gegaap nie, maar van hul sitplekke afgeval, want hulle sou vas slaap. Ek dink hoeka hulle kruip iewers koel weg.

Sal ons dan altyd kla - oor dit en oor dat of oor die ander ding? Altyd kry ons iets wat nou nie juis 100% in ons kraal val nie. Ja-nee, geen salf te smere aan ons ondankbare lot nie.

Het hom! Daar's baie dinge waaroor ek op hierdie dag bly is. Ek's bly ek is nie swanger nie. Daardie laaste paar weke in die hitte is mos nou glad nie vir fyne brose ou mensies nie. Nee, daai tyd wys die staalonderbou van elke nuwe mamma se mondering sy volle sterkte.

Ek is bly dat ek nie 'n Karooboer is wat daar in Graaf Reinet se wêreld vandag in 46'C op 'n trekker of agter die skaap moet dapper wees nie. Broer Gert is een van hulle. Ai, die man is 'n boer in murg en been. Vir hom is daar niks mooier as groen landerye, en niks lekkerder as plant en ploeg nie. Nou nie dat mens in die Karoo vreeslike gesaaides aantref nie, maar kleinvee het ook 'n gewoonte om te eet, en lusern groei nie sommer wild nie - veral nie as dit so droog is nie.

Nog 'n rede om op jou trekker te wees, is daardie brak kolle op die plaas. Vir kinders lyk dit na die feëtjies se dansplekke, maar vir 'n boer lyk dit na 'n vermorsing van goeie spasie. Plan: Breek die grond,(waar die feëtjies laas gedans het), wag vir die reën, voeg 'n suur by (daai kolle is nou vir jou brak, hoor! Feëtjies se voete sweet alkalies) en plant iets wat bruikbaar is.

Dit hou mens produktief besig in hierdie tye van droogte en hitte. Dit hou Boere naby aan hul Skepper, want sonder Sy ingrype en reën, help alles net mooi niks nie.

Maar mens! As daardie eerste swaar druppels val - dan verander alles in 'n sprokiesland. Vooraf kom die geur van nat grond mos so op die windjie aangedryf. Daar is nog nie parfuum wat soveel emosies en verwondering kan vasvang as daardie eerste reënruik nie. Die ruik van reën maak die deure van die geheue wyd oop. Kleintydse ervarings en verwondering neem weer besit van jou grootmens-wese. Onthou spoel oor jou met die lafenis van ervaring van vorige droogtes wat gebreek is, en die lekkerkry van die nuwe spriete wat asof uit die niet verskyn.

Intussen het die gedreun van die weer ook weer die wete van God se almag kom inskerp. Wie kan onverskillig staan as die weer se magtige dreuning oor die dorre aarde rol? Wie raak nie effens bang as daar al baie water geval het, en die weer steeds dreun nie? Wie kan met eerlikheid sê 'n opregte Hoëveldse donderslag het hom nog nie laat wip van die skrik nie?

En dan die simfonie van reëndruppels op 'n sinkdak. Die ritme, die nuanses van die veranderende volume, nou sag... dan harder... weer sagter... gerusstellend die verskillende note van reën op verskillende oppervlakke. 'n Sinkdak het mos die manier om die reën luidkeels te verkondig.

Die geluid van hael is weer heel anders. Hard, kortaf, dreigend! Die wolke wat aanrol met daai groengrys kleur sorg vir bangheid. As daar nog sterk wind ook by is, weet mens al klaar - die skade gaan groot wees! Soms gaan die storm met geringe skade verby, en sak die sagte reën uit soos balsem. Ander kere bly die littekens van die storm vir seisoene sit.

Waarop word ons in hierdie hittegolf voorberei? Vir seker sal die huidige temperature nie net so onverpoos kan voortduur nie? Daar moet mos 'n verandering kom. Gaan dit reën wees? 'n Windstorm? Koue front? Dis die wonder van menswees. Daar is 'n ritme in alles, daar is altyd verandering, daar is oral verrassings, daar is genade.

Friday, February 5, 2010

Kom ons lewe

Ons ou klompie hier in Danabaai het in die laaste tydjie onder swaarkry deurgeloop. Nie net ek en Manlief nie, maar in ons hele vriendekring het sake skeefgeloop. Geliefdes is weggeneem, ongenooide siektes het hul verskyning gemaak, die ekonomie knyp, die Suidklaap is 'n droogterampgebied.......

So kan ek aangaan, maar dis nie my doel vir vandag nie. Vandag wil ek God se liefde en sy Almag deel. Hy sê "Julle het nie, omdat julle nie vra nie." en "Julle vra en julle kry nie, omdat julle verkeerd vra".

Is ons skuldig aan kinderagtige "Ek sal self"-gedrag? Ja, ons is, want ons wil nie afhanklik wees en ons nietigheid erken nie. Magteloosheid is mos 'n aanklag teen ons menswaardigheid, en eie belangrikheid. Tog staan ons meestal magteloos wanneer wanneer ons swaarkry. Ons het geen verweer nie. Ons het geen antwoord by die sterfbed, die graf, die droefheid van 'n naasbestaande, of die siekbed van 'n baba nie. Ons kyk met stomme hulpeloosheid na mekaar, en kan in ons menswees slegs onsself en ons gebede vir mekaar aanbied.

God kan genees. Hy kan heelmaak. Hy ken die hoekoms en die waaroms, die verlede, die hede en die toekoms is vir Hom geen geheim soos vir ons nie. Hy word nie vasgevang binne die grense van tyd en plek nie. Hoe kan ons Hom dan bevraagteken?

Hy weet hoe lank hierdie droogte sal duur. Hy weet wat die uiteinde daarvan sal wees. Ons het 17% water in die dam wat ons dorp van water moet voorsien. Ons probeer water bespaar, maar hoeveel kan ons bespaar? Hoeveel liters word daagliks deur verdamping verloor? Hoe lank kan ons die ou watertjie rek? Nie lank genoeg nie.


Dan verootmoedig ons onsself weer voor God. Ons kom weer tot die insig dat ons regtig net maaksels van die Grote en Ware God is, en dat daar niks van ons planne, berekeninge, voornemens, skure-bou en watter plannetjies ookal kan kom as Hy dit nie eerste gewil het nie.

Ons mense laat my dink aan 'n spannetjie kuikens wat ewe vernaam oor die werf rondstap en kossies soek. Wanneer daar egter 'n vreemde geluid of 'n skaduwee oor hulle val, hol hulle vir 'n vale om onder die beskerming van Moeder Hen se vlerke te kom. Nie lank nie, of hulle peul weer ewe manmoedig uit om hul eie paadjie te probeer loop.

Dis mos ook so met klein kindertjies. In 'n vreemde winkelsentrum het Ma al haar dae om Kleinboet onder oë te hou. Om vir hom te sê sy's bang hy raak weg, maak geen indruk nie. Hy weet mos waar hy is... Hier. As hy egter die gedagte kry dat Mamma dalk weggeraak het, is dit 'n ander storie. Hy verander ook vinnig van plan en rigting as hy self agterkom dat hy nie presies op bekende terrein beweeg nie, of as 'n vreemde mens te na aan hom kom. Dan is Ma se bene 'n veilige vashouplek.

Ons maak ook so met God. Ons kom lekker op ons eie reg terwyl ons eintlik weet Hy's daar, eintlik naby, maar sodra ons iets vreemds gewaar, besef ons eers ons het alweer weggedwaal. Dan breek ons amper ons bene om vinnig genoeg weer in sy Skuilte te kan kom.

Ons is neergeboë voor ons God. Ons word platgedruk deur ons skuld en sondebesef. Ons raak weer nederig. Dan neem iemand 'n foto met haar selfoon, en in die hemelruim is die beeld van 'n herder met iets soos 'n lam in sy arms. Is dit 'n teken, is dit net 'n spel van lug en lig op die oog? Is die foto gedokter? Maak dit saak as die uiteinde van die bespiegeling daarop neerkom dat God Homself met ons bemoei?

Hy is nie afhanklik van reën nie, Hy het ons gebede nie nodig nie, as ons swyg kan Hy selfs die klippe laat uitroep - Is Hy dan nie ook in staat om die lug te buig en 'n Beeld vir ons op film vas te lê nie? Kan Hy nie soos van ouds 'n wolk so groot soos 'n man se hand laat verskyn en die droogte totaal breek nie?

Hoe gemaak wanneer ons verbruikers nie meer vir ons diens kan betaal nie, wanneer uitstaande debiteure net meer en meer word, en krediteure in dieselfde situasie as onsself net harder brom en ongeduldiger eis? Gee, gee, gee, en nogmaals gee. Wat kan God in hierdie mensgemaakte krisisse doen?

Hy kan ALLES doen. Geen depressie, resessie of val van markte kan Hom van stryk bring nie. Voordat daar markte en ekonomieë bestaan het, was Hy daar, en het Hy die hele Skepping gemaak - uit niks. Ook ons heilige ou geldjies en die begrip van geld, armoede, rykdom, ekonomie en volhoubaarheid ken Hy deur en deur. Soos Hy die natuur-elemente bestuur, en dit net Hy is wat weet presies wanneer, waar en hoeveel dit gaan reën, so bestuur Hy ook ons ou wêreldjie se ekonomieë, ons wêreldleiers se denkrigtings, ons uitvindings en die aanwending daarvan.

Kom laat ons nie moedeloos raak nie, maar laat ons hoër kyk as ons eie strukture - kom ons slaan ons oë op - hoër as die berge, na waar ons hulp is. Ons hulp is by Hom te vinde wat so magtig is dat Hy ons sonnestelsel tussen sy vingers kan vashou, maar ook 'n verkluimde kuikentjie se gepiep kan hoor, en selfs die getal van die hare op ons kop ken. Hy ken die DNS van elke virus, maar Hy ken ook die omvang van Sy hele skepping. Sal Hy dan nie weet wat die beste vir ons is nie?

Hy ken ons skelmste begeertes - so ook ons grootste behoeftes. Hy ken ons swakheid en ons valsheid, maar ook ons angstigheid en ons nederigheid voor Hom. Hy weet dat ons ons vaskyk teen die konkrete, die hier en die nou; dat ons kan terugkyk om uit die verlede te probeer leer, maar dat ons insig ver te kort skiet. Hy ken ons edele voornemens, maar Hy is ook totaal bewus van ons swakheid as dit by die uitvoer daarvan kom. Hy hoor ons boetedoening, ons smekinge, ons dankgebede en ons intrede vir mekaar. Hy kan sekerlik vir ons lag, maar, glo dit maar, HY HET ONS LIEF.

So lief, dat Hy keer op keer weer neerbuig om ons te red van ons eie vooruitgang en ons eie slimheid en belangrikheid. Hy kom deur sy Woord om ons te leer om net op Hom te vertrou, om alles wat ons nodig het van Hom te vra, om net maar sy gebooie te onderhou en lief te wees vir Hom en vir mekaar. Sien dis die Geheim van die Lewe.

Geen wonderfontein van ewige jeugwatertjies of moeti om elke siekte te oorwin nie. Geen belegging wat ongelooflike dividende lewer nie, geen bemagtigingsaksie wat armoede van die planeet af gaan wegvee nie, geen geleerdheid wat jou in staat sal stel om die heelal te regeer of te verstaan nie. Net kinderlike geloof in God, 'n vaste geloof in sy Teenwoordigheid ook in my lewe, hoop op 'n hereniging met Hom en die wie se tyd voor myne verbygegaan het in die Hiernamaals, en onvoorwaardelike Liefde vir my Skepper, my medemens, en die hele skepping. Respek vir elke atoompie se plek in hierdie wonderlike Skepping. Dis die Geheim van die Lewe.

Kom ons lewe! Dis nie so moeilik nie, dit vra net dat ons met die oë en ore van die geloof kyk, en dat ons die liefdesgebod as maatstaf vir ons doen en late gebruik, en dat ons ons Hoop in alles op die Here van alles plaas.