Saturday, July 9, 2011

Spiere en ander bulte en knoppe

Vanoggend na my heerlike warm stort, beland ek met die afdroogslag voor die spieël. Dis nou een ding wat ek nie sommer gereeld of aspris doen - om poedelkaal voor die spieël te staan - nie. Daar is genoeg geldige redes vir hierdie huiwering om die naakte werklikheid in die oë te staar. Ek meen, ek is nie meer 25 jaar oud nie!

In elk geval, die stoom was my vandag genadig. Dit wat ek gesien het, was soos die dowwe beeld in die raaisel. Net genoeg om die nuuskierigheid te prikkel.

My gedagtes neem toe weer hul eie koers. Begin vergelyk my bo-arms, waar ek hulle nou aspris uitstrek soos 'n voël met nat vlerke, met dié van die ystermanne wat ons gereeld op TV sien.

So deur die stoom is die verskil nie te groot nie. Nie in grootte nie, maar wel in fermheid, moet ek darem erken. Waar die ysterman se bulte ferm gestop is met die sterkste spiermateriaal, is my hamme (of soos Merriam Sekotho dit beter beskryf, my "steaks") losweg gestop met korrelrige vetweefsel.

Troos my brein homself toe so: Na nog sowat twintig jaar is ek en Ysterman weer in dieselfde bootjie - hy sal dan ook net waag om sy bo-arms deur die stoom te bekyk. Sien vet bly staan - behalwe as mens hard daaraan werk om daarvan ontslae te raak. Spiere vergaan as mens nie hard werk om dit te behou nie. My aweregse logika sê dus dat ons oor twintig jaar albei na leë hangende velle gaan kyk, en verlang na 'n goeie plastiese sjirurg!

Ek mag dalk selfs beter daaraan toe wees en steeds volgestopte "steaks" met my saamdra - ag, behoede my tog daarvan. Dan liewer die leë velletjies.
Volgende keer mag ek dalk die moed hê om verder as dit te kyk.