Tuesday, March 24, 2009

SEISOENSWISSELING

Ek weet nie of dit met almal gebeur nie, maar hierdie jaar bly ek vashaak by die gedagte aan seisoenswisseling: verandering, veroudering, hergeboorte, vernuwing, ontwikkeling en agteruitgang in die lewe. Dit het tot my begin deurdring tydens die hittegolf van laas.

Ek het 'n sterk suspisie dat my bewuswording van die seisoenswisseling (dis amper herfs) ietsie te make het met die Herfs wat in my lewe aanbreek. Soos my fisieke begin (watwo begin... dis al lankal nie meer pure perd nie!) verander en agteruitgaan, begin my geestelike sy meer en meer ontwikkel en gedy. As dit "oudword" is, beteken dit dat ek gereed is daarvoor. Oudword is nie 'n lekker gedagte nie, maar die clichè sê met reg: Die enigste teenvoeter vir die ouderdom is om vroeg te sterf. En wie wil dit sommerso doen?

Vanoggend het ons weer Bybelstudie gehou, en vandag se onderwerp was die Klaagliedere van Jeremia. Nie dat dit so morbied was as wat dit mag klink nie. Ons klompie herfsmense, van wie nog net ek en Willem nie grootouers is nie, kan baie opgeruimd en positief saamdink, en die ligter kant van die lewe maklik raaksien - selfs met Jeremia. Dis baie snaaks as die stram vingers nie gou op die plek in die Bybel kan kom nie, en nog snaakser as Marina na 'n lange soektog uiteindelik die plek het, net om die Bybel weer te laat toeklap as sy van pure verligting haar Bybel in die lug rondswaai!!

(Ek hoef dit seker nie uit te spel dat ons 'n hele oggend lank kan Bybelstudie hou nie - dis nou nadat ons die innerlike eers met koffie, tee, rooibostee en koekies op standaard gebring het.)

Terug by Jeremia se Klaagliedere sien ons onsself en ons land wat swaar gebuk gaan onder allerhande ellendes, van misdaad tot ekonomiese krisisse en onbetroubare politieke leiers. Ons sien jong mense wat die land verlaat om elders 'n heenkome, 'n toekoms en geluk te gaan soek, in Jeremia se sug. Dan besef ons saam met hom dat ons gesondig het, en onsin kwytraak voor die Here. Ja, ons word selfs aangekla dat ons te veel terugpraat wanneer die Here ons betig. (Die Klaagliedere het vir my van die mooiste prosa wat mens maar kan kry) Ons besef dat die Here nie vergewe het nie, omdat ons nie opreg is nie. Voordat ons heeltemal in sak en as gaan sit, kom ons ook tot die wonderlike besef dat ons net moet opkyk, (al word Jeremia se oë moeg van opkyk sonder dat hy hulp sien kom) en opreg om vergifnis moet vra, moet glo, en dat die Here wel vir ons uitkoms sal gee.

Ons wonder of die Here ons straf, en of ons die gevolge van ons eie kollektiewe wandade dra. Dan kom ons tot die gevolgtrekking dat ons moet lewe as boodskapdraers en afskynsels van die Ewige Regverdige maar ook Genadige God.

Saam besluit ons om ons naaste te vergewe vir alles wat hulle ons aangedoen het - in werklikheid, of in ons verbeelding. Ons besluit om die minste te wees in verskille met ons geliefdes,(hulle kan soms so onmoontlik wees) ons kinders (hulle kan ons soms so seermaak) en ons medemens (hulle is soms so onverstandig en net pleinweg verkeerd).

Ons deel die teorie met mekaar dat baie emosionele steurnisse en sielkundige afwykings herlei kan word na een of ander onreg wat ons gely het, en waarvoor ons nog nie vergeef het nie. Let wel, die draer van die onvergewensgesindheid is die lyer onder die las van die wrok. Soms weet die onvergeefde nie eers van die kwessie nie - hy ly dus geen skade nie, terwyl die wrokkige les opsê onder maagsere, paranoia, depressie en wat nog. Nie dat al hierdie toestande reaktief of vingerwysings is nie - ons weet mos al van genetiese faktore en chemiese wanbalanse en die dinge. (Van siektes en rare verskynsels weet ons groepie sommer baie)

So kyk ons na ons middeljarige, herfslyfies en -gesiggies, en in plaas van plooie en rolle sien ons ervaring, belewenisse, onthou (baie vergeet), begrip en aanvaarding. Ons sien 'n storie van lief en leed, van geluk en berou, van die botter en die wors. Ons is wandelende advertensies vir die lewe en al sy fasette.

Ons kan ons huise begin stroop van al die onnodige "nice to haves" wat ons vroeër so sonder ophou vergaar het. Ons soek nou eenvoud, rustigheid en dienlikheid in ons huise, ons meubels, ons klere en ons siele. Ons is soos die bome wat die ekstra blare kan afgooi omdat ons nie meer koelte hoef te maak nie, maar plek moet maak vir die son om ook deur ons te kan skyn op ander, wat rondom ons (lekker dik) stamme leef.

Ja, die herfs is voorwaar 'n wonderskone seisoen met al sy ryk en warm kleure, sy sagte blaretapyte en die stroopsoet vrugte van die na-somer. Dis 'n tyd van voorbereiding vir die winter wanneer ons kaalgestroop en eerlik in die oë van ons naaste en ons Meester sal staan. Vir my is dit nou, en ek is innig dankbaar vir die genade daarvan.

2 comments:

Cornay said...

Ek het nou eers Tannie se post vir my ma'le en Bennie se ma'le gemail. Ai, ek kan julle groepie sien! Tannie inspireer my. Mooibly! Corne

absolutwillie said...

Pragtige stukkie die, Mammie! Ek stem saam met Corne - beslis inspirerend :0) Ek is geseënd om ouers te he wat voor my en saam met my wandel in die Gees!