Monday, December 14, 2009

Daar word in die bos gekap...

Ons was vanoggend, 14 Desember 2009, by 'n begrafnis. 'n Goeie vriendin se gawe man het baie skielik gegaan. Sowat 'n week gelede het hy begin olik voel, en is met kanker gediagnoseer, ge-opereer, en oorlede. Wat 'n skok om weer eens te besef hoe stoflik ons is en hoe tydelik ons aardse verblyf is.

Omtrent 'n maand gelede was Attie nog hier by ons om sy opwinding te deel oor die voorgenome toer wat hulle na Namibië, en meer spesifiek Hentiesbaai, toe wou aanpak. Attie was 'n ywerige hengelaar, en het selfs die voorblad van 'n hengeltydskrif gehaal met een van sy vangste!

Na sy aftrede het Attie aanhou huise bou vir mense in die omgewing. Attie Cowley se huise was altyd iets besonders. Goed gebou, en geen moeite is ontsien om die eienaar se wense te verwesenlik nie.

Vir Attie was dit nie altyd maklik om vreemde versoeke te verstaan nie, en soms kon die voornemende huisbewoner nie mooi verstaan as hy die nadele van 'n voorstel aan hulle probeer verduidelik nie. Hy was egter een van daardie mense wat nie ophou soek het na die goue middeweg tussen die kliënt se droom en die konkrete moontlikheid nie. Dit het hom baie ure en "buite-die-boks-denke" gekos, maar sy kliënte is altyd tevrede gestel. Hoeveel bouers is daar wat lewenslange vriendskappe met hul kliënte sluit?

Sy weduwee, Bettie, was sy lewe. Op haar beurt is sy weer die moederfiguur vir elke verdwaalde, elke verwerpte, en elke eensame op die lewenspad. Sy was geborge in hul huwelik, en uit hierdie posisie kon sy na elke hartseer verhaal luister, en vir elke hongere was daar altyd hulp - maak nie saak of dit fisiese of geestelike honger was nie.

Dit is seker van die redes waarom daar vanoggend byna meer mense by die begrafnis was as wat Sondae in die kerk is.

Nog redes is dat Danabaai se mense besondere mense is. Hier word daar tyd gemaak om by mekaar uit te kom, en om mekaar se laste te help dra. Soos Hennie (seun van Bettie en wyle Attie) gesê het: hy het daadwerklike christenliefde hier gesien.

In die Feestyd is dit baie hartseer om afskeid te neem van 'n sterk boom in die bos. Ons sal sy koelte mis, maar die herinnering sal bly vassteek. Die anderkant van hierdie gemis, is die geleentheid wat ons as gemeenskap kry om ons geloof en liefde uit te leef. Dankie aan ons hemelse Vader wat weet dat ons nie net nodig het om versorg te word nie, maar soms ook nodig het om ander te versorg. Dankie dat ons soveel Liefde ontvang dat ons genees word wanneer ons daardie Liefde kan uitdeel.

No comments: