Tuesday, February 9, 2010

Hittedrome

Dis warm. Dis rêrig warm - sommer baie warm hier in die Suidkaap. In ons geweste is temperature bo 30'C heel ongehoord. Vandag styg die kwik sommer tot by 38. Ons is nie hieraan gewoond nie, en dit help ook nie eers om te weet dat dit anderkant die berg, by Oudtshoorn, nog warmer is nie.

As hier kraaie was, het hulle nie net gegaap nie, maar van hul sitplekke afgeval, want hulle sou vas slaap. Ek dink hoeka hulle kruip iewers koel weg.

Sal ons dan altyd kla - oor dit en oor dat of oor die ander ding? Altyd kry ons iets wat nou nie juis 100% in ons kraal val nie. Ja-nee, geen salf te smere aan ons ondankbare lot nie.

Het hom! Daar's baie dinge waaroor ek op hierdie dag bly is. Ek's bly ek is nie swanger nie. Daardie laaste paar weke in die hitte is mos nou glad nie vir fyne brose ou mensies nie. Nee, daai tyd wys die staalonderbou van elke nuwe mamma se mondering sy volle sterkte.

Ek is bly dat ek nie 'n Karooboer is wat daar in Graaf Reinet se wêreld vandag in 46'C op 'n trekker of agter die skaap moet dapper wees nie. Broer Gert is een van hulle. Ai, die man is 'n boer in murg en been. Vir hom is daar niks mooier as groen landerye, en niks lekkerder as plant en ploeg nie. Nou nie dat mens in die Karoo vreeslike gesaaides aantref nie, maar kleinvee het ook 'n gewoonte om te eet, en lusern groei nie sommer wild nie - veral nie as dit so droog is nie.

Nog 'n rede om op jou trekker te wees, is daardie brak kolle op die plaas. Vir kinders lyk dit na die feëtjies se dansplekke, maar vir 'n boer lyk dit na 'n vermorsing van goeie spasie. Plan: Breek die grond,(waar die feëtjies laas gedans het), wag vir die reën, voeg 'n suur by (daai kolle is nou vir jou brak, hoor! Feëtjies se voete sweet alkalies) en plant iets wat bruikbaar is.

Dit hou mens produktief besig in hierdie tye van droogte en hitte. Dit hou Boere naby aan hul Skepper, want sonder Sy ingrype en reën, help alles net mooi niks nie.

Maar mens! As daardie eerste swaar druppels val - dan verander alles in 'n sprokiesland. Vooraf kom die geur van nat grond mos so op die windjie aangedryf. Daar is nog nie parfuum wat soveel emosies en verwondering kan vasvang as daardie eerste reënruik nie. Die ruik van reën maak die deure van die geheue wyd oop. Kleintydse ervarings en verwondering neem weer besit van jou grootmens-wese. Onthou spoel oor jou met die lafenis van ervaring van vorige droogtes wat gebreek is, en die lekkerkry van die nuwe spriete wat asof uit die niet verskyn.

Intussen het die gedreun van die weer ook weer die wete van God se almag kom inskerp. Wie kan onverskillig staan as die weer se magtige dreuning oor die dorre aarde rol? Wie raak nie effens bang as daar al baie water geval het, en die weer steeds dreun nie? Wie kan met eerlikheid sê 'n opregte Hoëveldse donderslag het hom nog nie laat wip van die skrik nie?

En dan die simfonie van reëndruppels op 'n sinkdak. Die ritme, die nuanses van die veranderende volume, nou sag... dan harder... weer sagter... gerusstellend die verskillende note van reën op verskillende oppervlakke. 'n Sinkdak het mos die manier om die reën luidkeels te verkondig.

Die geluid van hael is weer heel anders. Hard, kortaf, dreigend! Die wolke wat aanrol met daai groengrys kleur sorg vir bangheid. As daar nog sterk wind ook by is, weet mens al klaar - die skade gaan groot wees! Soms gaan die storm met geringe skade verby, en sak die sagte reën uit soos balsem. Ander kere bly die littekens van die storm vir seisoene sit.

Waarop word ons in hierdie hittegolf voorberei? Vir seker sal die huidige temperature nie net so onverpoos kan voortduur nie? Daar moet mos 'n verandering kom. Gaan dit reën wees? 'n Windstorm? Koue front? Dis die wonder van menswees. Daar is 'n ritme in alles, daar is altyd verandering, daar is oral verrassings, daar is genade.

1 comment:

absolutwillie said...

Dankie Mamma! Hierdie stukkie roer poeletjies hoop diep binne my siel.