Friday, July 25, 2014

Wat het van my ma geword?

Sedert twee jaar na my pa se afsterwe, bly ek en my man in dieselfde huis as my ma.  Dit het na die beste oplossing gelyk toe ons agterkom dat sy nie meer alleen kan bly nie. Miskien is dit steeds die beste oplossing, al twyfel ek soms daaroor.

My ma ly aan Alzheimer's, en die siekte is stadigaan besig om haar identiteit op te vreet, en 'n vreemdeling in haar liggaam agter te laat. Ek hou myself op die hoogte van nuwe navorsing, ondergaan opleiding in die hantering van persone met demensie, behoort aan Alzheimer Suid Afrika, en is selfs op die beheerraad van 'n huis vir die versorging van Alzheimerlyers. Tog gebeur dit soms, wanneer ek dit die minste verwag, dat hierdie moedertjie van my my so verbaas, dat ek na my asem snak.

Op 'n manier beleef sy my as kompetisie as dit by huishouding kom. Ek is glad nie kompeterend van aard nie, en weet nie mooi hoe om op te tree nie.

Skielik is sy ook erg gesteld daarop om aandag en komplimente te kry.  Sy is altyd baie goed versorg, trek nog mooi aan, en sy is 'n baie mooi vrou. Ons is baie trots op hierdie deel van haar wese. Maar sy voel dat sy nie genoeg aandag kry nie.  Sy is waarskynlik kleindogtertjie-bang vir die wye wêreld, en soek voortdurend bevestiging dat sy nog saak maak. In die proses versmoor sy ons.

Dis net asof sy in die laaste tyd voel dat sy afgeskeep word, en nie meer raakgesien word nie.  Die rede is waarskynlik dat sy nie meer vriende oor het nie, omdat sy hulle nie kan onthou nie, en omdat sy nie meer sinvol kan gesels nie. Dit is hartseer.  Selfs vriende wat haar probeer bel, slaag nie, omdat haar luitoon so mooi klink, dat sy dans totdat dit ophou, en dan probeer antwoord.  Sy het dus altyd "missing calls" op haar foon.

Aan die ander kant is òns vriende ook baie skugter, en om dieselfde redes, en ons raak ook ge-isoleer. Ons kan nie eintlik saans uitgaan sonder ma nie, en vriende voel ongemaklik in haar geselskap. Ons kan haar gelukkig nog bederf met 'n lekker musiekkonsert en so aan.  Musiek word vir haar al hoe belangriker - veral lekker Boeremusiek, want dan onthou sy hoe my oupa konsertina gespeel het, en ballroom, want sy en pa het so mooi en so lekker gedans.

Dit was aanvanklik vir my baie moeilik om na haar te kyk buite die moeder-dogter konteks. So 'n emosionele betrokkenheid maak dit moeilik om rasionele besluite en gevolgtrekkings te maak. Ek weet dit, maar ek val telkens in die slaggate.  Ek vergeet te dikwels dat ons rolle nou omgeruil is.

Vroeër die week moes ek haar dokter toe neem, omdat sy gekla het van 'n pyn in haar bors, en geweldige steekpyne in haar een oor. Ter voorbereiding van die doktersbesoek, en om te voorkom dat ons weer sommige simptome vergeet, het ek die lysie van simptome in haar dagboek neergeskryf, sodat sy 'n volledige beeld aan die dokter kon voorhou.  Sy het my gevra om saam met haar in te gaan, maar gewaarsku dat ek net nie te veel moet praat nie. Vir my was dit 'n eerste. Ek het nie gedink ek praat te veel nie.

So gesê, so gedaan.  Ek het haar laat vertel wat haar kwel, en toe sy na die ondersoekbed gaan, net die laaste twee simptome ook genoem. (Goeie bedoelings - dis mos waarmee die pad na die hel geplavei is)

Volgende oomblik kry ek 'n klap en 'n vermaning omdat ek te veel praat.

Daardie klap was net wat ek nodig gehad het om my subjektiewe betrokenheid bietjie opsy te skuif.  Die klap het gehelp dat ek nie meer so verskriklik kwaad word as Ma snaakse goed, soms skadelik, aanvang nie. Dis al asof ek nou na haar kan kyk soos wat ek die ander Alzheimer-lyers sien.  Dit voel amper makliker om geduldig te wees, en kalm te bly wanneer haar gedrag alles wat ek van haar geken en geglo het, verraai. Dis asof die siekte begin deurskemer, en my emosies ook tru-staan. Dis asof ek vir die eerste keer aanvaar dat my ma se brein besig is om te sterf, en dat sy nie meer in beheer is van haar gedrag nie; dat sy terugkeer na kindwees, en so hanteer moet word.

Gister het sy R40-00 se kompos by 'n straatsmous gekoop, en R1,800-00 daarvoor betaal.  Sy het ook 'n hele beesbinneboud in 'n konka water gekook en gekook en gekook totdat dit later heeltemal oneetbaar was. Waar ek voor die klap sou probeer verduidelik en pleit dat sy tog nie die deur vir vreemdes moet oopmaak nie, al sê hulle dat hulle oorlede Pa goed onthou (haar swakpunt), het ek nou gereël dat iemand anders eers op die kringkamera sal kyk wie by die deur is, en dan oopmaak of nie, na gelang van die geval. Voorheen het ek op haar (afgestorwe) breinfunksie probeer staatmaak om haar gedrag te reguleer. Nou het dit tot in my onderbewuste deurgedring dat dit onmoontlik is.  Sy het nie meer die vermoeë om te onderskei nie. Punt.

Ek is nie heeldag tuis nie, en tot dusver het Ma vir Jubilance (die huishulp) oortuig dat sy die mense (smouse, bedelaars, inlopers, elkeen wat die "kodewoord: die oorlede oom" ken) wat aan die deur klop, jare lank al ken, en dat hulle goeie mense is.  Van gister af is Juby nou ook bemagtig om haar man te staan en in belang van ons voortbestaan op te tree. (Let's hope)

Ek het ook gereël dat etes tuis afgelewer word, en daarom die behoefte aan 'n gekokery gestaak. Die besparing op ons vleis-en elektrisiteitsrekening sal ruim voorsiening maak vir die koste van die gekookte etes. Terselfdertyd ondersteun ons Kenani en die ACVV. Totdat dit anders bewys word, glo ek dis 'n wen-wen situasie. (Dis net die Wimpy wat Willem se skelm etery daar sal mis).

Ek onthou hoe ek 'n paar jaar gelede baie vies was vir 'n buurman wat na my mening sy vrou onderdruk het, net om later uit te vind dat sy ook in die vroeë stadium van Alzheimer se siekte was.  Hoe onverstaanbaar dit ook mag klink, daardie aanvangstye is baie moeilik vir die naasbestaandes, omdat die siekte net plek-plek kop uitsteek en almal half onkant betrap. Later, wanneer die siekte meer uitgesproke raak, is dit makliker om die situasie te beheer, en raak die gedagte aan inrigtingsversorging  makliker verteerbaar.

Ek sien by die naasbestaandes van Huis Elsjé se inwoners dat die skuldgevoelens altyd 'n mag is om mee rekening te hou.  Ons dink altyd dat ons tot meer en beter in staat is as wat ons lewer, maar op 'n manier is dit dalk ook 'n tipe grootheidswaan, en moet ons uiteindelik erken dat ons almal feilbare mense met beperkinge is.

Op die ou end is die liefde, onvoorwaardelike liefde, al wat nodig is.  Liefde vir die ma wat ek onthou, en liefde vir myself ook.

Op die ou end moet ek deur die bril van herinnering na haar kyk sonder om te verwag dat sy bo haar vermoeë moet optree.  Niemand sal van 'n kwadrupleeg verwag om hekkies te spring nie, niemand sal verwag dat iemand met Down se sindroom 'n doktorale tesis moet skryf nie; tog verwag ons dat iemand met Alzheimer se siekte met volle breinkapasiteit, en "sosiaal aanvaarbaar" moet funksioneer.

Ons bly komplekse, moeilik begrypbare wesens. Met of sonder Alzheimer's. Dis slegs met baie genade moontlik om te oorleef in hierdie doolhof wat ons die lewe noem. Hier waar ons probeer sinmaak van die onverstaanbare, waar ons die onmeetlike probeer evalueer en takseer, beheer en manipuleer. Hier waar ons dit vir onsself baie moeilik maak.

Op die ou end is daar Geloof, Hoop en Liefde, waarvan die Liefde die vernaamste is.

2 comments:

Anonymous said...

The story and blog you have published is very interesting as well as informatics, Thanks for sharing such type of informatics thing.
Media Transfer App

Miami Party Rentals said...

"Fantastic web-site you possess there.Water Slide Rentals Miami, Event Planning Miami,
Dance Floor Rental Miami, Miami Food Machine Rentals, Bounce House Rental Miami, Jump House Rentals Miami, Miami Movie Screen Rental, Kids Party Rentals Miami"